Vrydag 10 Junie 2011
Dit babbel en bruis in die geselskap van Christi Panagio en haar sus Elmien van Zyl. Die kwinkslae waai terwyl hulle onthougoed uit hul kleintyd oprakel en vertel met watter skeppende dinge hulle hulle nou besig hou. Jacqueline Leuvennink het saamgekuier.
Dis vakansietyd in die Kaap. Buite rafel alles uit in die wind. Die see, 'n uitgewaste, wapperende denimblou lap, is om alles gedrapeer. Die perfekte agtergrond vir iemand soos Christi Panagio. Sy kom met die geur van "sugar and spice and all things nice". Heilsaam en somers soos iets uit 'n strandhuis se blou-en-wit strepiesblik. Lang, songebleikte hare. Eilandbruin bene. Akwamaryn oë. En 'n glimlag wat enige onvolmaakthede beter as die beste onderlaag bedek. Eienskappe wat haar een van Suid-Afrika se gunstelingvoorbladnooiens maak. Christi was die afgelope jaar Garnier se haar-model – "die gesig op al die bokse", soos sy daarna verwys. Maar net soet op die rak sit en mooi lyk, is nie Christi nie. Glad nie. Sy gee langbeen-treë. Immer doenig. Altyd bekkig. Die fotosessie is saam met haar enigste sus, Elmien van Zyl, en dié se twee dogtertjies, Carmen-Leah (8) en Christi-Mari (5).
Die Van Zyls is heelpad uit Pretoria ingevoer en daar is 'n ligte opwinding in die lug. Hulle het 'n grondige rede vir 'n week se kuier by hul tannie in die Kaap. Sy moes vir die televisieprogram Pasella, vir wie sy soms as gasaanbieder optree, sê sy is jammer, maar haar sus is op besoek, verduidelik Christi hoe dinge staan. Dié susters beleef mekaar se geselskap soos 'n kleinood toegeknoop in 'n sakdoek. En Christi se lysie van dinge wat sy vir hulle beplan, rek by die oomblik langer. Hulle moet nog berg op en duine oor in die volgende paar dae. Daar is Kalkbaai se roomys en Tafelberg se karretjie en indringende om-die-koekblik-kuiers in nagklere wat wag. "Waar Christi is, is 'n partytjie," skud Elmien net haar kop, haar hande vol onderklere en wange bloesend van al die geskarrel tussen kinders en klere.
Sy het 'n regsgraad en dieselfde vars ongekunsteldheid as haar woelige jonger sussie. Altwee vertel gelyk van hul laerskooldae op 'n kleinhoewe in Johannesburg met sy halfkilometer lange druiweprieel, vye, appelkose en die seshonderd perskebome wat hul oupa eiehandig gesnoei het sodat hul pa hom in die sakewêreld kon uitleef. En hoe hul grootouers en ouers, Chris en Babs Botha, in hulle belê het. Ook hier is die kompos diep en met liefde ingespit. "Ons het glippertjiedruiwe gehad - as jy die vel druk, glip die hele binnekant uit," borrel Christi. Hulle proes gelyk. "Byna soos ons, jy hoef ons nie aan te por om te praat nie!" 'n Piepklein, vlugtige fronsie verskyn op die voorbladmeisie se gladde voorkop. "Dit bring my soms in die moeilikheid, mense kan jou half onskuldige spontaniteit misbruik. Ons albei se mans swyg liewer ... " Johan en Nico is volgens hul vroue ook van dieselfde rank gepluk en hou van mekaar se geselskap. "Vir my en Nico (aanbieder van die Survivor-reeks wat eersdaags begin), is die lekkerste ding by Elmienhulle die kuiers om die pizza-oond," vertel Christi.
"Dis betreklik chaoties en erg interaktief met almal wat gelyk help maak én eet. Die mans rol die deeg uit en gooi dit in die lug soos wafferse Luigi's terwyl dansmusiek hulle aanvuur." "Johan (prokureur in Pretoria) het nie verniet lank in Italië gebly nie," vul Elmien in. "Sy pa, Alex van Zyl, was ambassadeur daar." As kinders het die twee susters altyd dansies uitgewerk. "Enigeen met geduld moes kyk en klap." Ander dae was dit winkelwinkel of pop-pop. "Ja, jy het my pop aan haar wimpers opgetel en toe val dit uit!" verwyt Christi, terwyl die grimeerkunstenaar háár wimpers onder hande neem, gelukkig sonder ernstige gevolge. Elmien giggel net en herroep 'n latere tuisnywerheid-tuisnywerheidfase - "ons het vir die werkers zolle van teeblare gerol ... " Vandag speel hulle fluks voort.
"Christi het die naam Tierlantynkies (www.tierlantynkies.co.za) uitgedink vir die kuier-en-koopfees wat ek nou weer vanaf 31 Maart tot 3 April by Rasa Garden Café in Garsfonteinweg langs Woodlands-boulevard in Pretoria reël," lig Elmien my in. Haar helder oë vonkel, alles is 'n aardigheid. "Ek is só opgewonde. Daar was by die twee duisend voete by ons eerste een in Oktober verlede jaar en dit bring al ons belangstellings in dit wat mooi, anders en uniek is, bymekaar. Daar is van 'n kos- en deli-afdeling tot dekor en geskenke."
Hulle kan ure lank fyn besonderhede uitwerk vir 'n nuwe idee, geleentheid of onderneming. "Alles wat Christi aanbied, is mos mooi, oorspronklik en treffend - of dit nou konfyt, lint of 'n geselligheid is," prys Elmien haar suster. "Die lint wat sy verlede jaar by die mark verkoop het, was die tweede dag al uitverkoop. Jy weet nooit of dit Christi of die mooi lint is wat die ding doen nie," sê sy ondeund. "En vanjaar bring sy 'n nuwe reeks goed na die stalletjie!" "Die Suid-Afrikaanse mark is baie lojaal - hulle onthou my steeds as Karien van 7de Laan," probeer Christi verduidelik. En vertel hoe klein Carmen-Leah ook haar gewig wou ingooi by die algemene verkooplus in die familie deur met sywurms teen 50c een en R1 'n kokon by haar tannie se stalletjie handel te dryf.
Teen die einde sit ek toe daar tussen die wurms en die boks vol motte. Van die ouer mense het seker gereken die arme akteurs kry regtig swaar!" Sy het eers 'n jaar B.Com. bemarking gestudeer voordat sy drama aan die Method Acting Academy in Pretoria gaan doen het. Vandag is sy 'n regte san-van-alles wat daardie 1,8 meter-lyf die een oomblik internasionale model en die volgende oomblik eremoniemeester hou. "Maar met die modelwerk het ek uitsoekerig begin raak; ek staan nie meer in die tou nie." Haar liefde vir skeppend leef, het ook oorgevloei in 'n nuwe sakeonderneming, Little Miss Decorator, waar sy van troues en interessante partytjies tot ooievaarstees en binneversiering behartig.
"Toe my pa sestig word, het ons vir hom 'n partytjie met 'n 1950's tema by my huis gereël," vertel Elmien. "Ons het koekstanders met ou vinielplate gebou vir die kolwyntjies en het allerlei lekker dinge uitgedink om lewe in die aand te blaas," brei Christi geesdriftig uit. "Dit was die een aand wat hy kon wegkom met sy golden oldies!" Hul ma, Babs, was 26 jaar lank persoonlike assistent by die konsulterende ingenieursfirma CA du Toit. "Sy is 'n doener, 'n regte lysiemens en dit het aan ons afgesmeer," verklaar Elmien hul vinnige voetwerk. "Christi sal die skottelgoed was al weet sy die huishulp kom die volgende dag."
Pa Chris laat ook nie op hom wag nie. "Hy hou net so van verandering en dop byvoorbeeld graag die hele huis om – meubels word taks geskuif ("dié ding moet nou 'n bietjie dáár staan," boots een hom na). Ons sê altyd as hy begin verf, kan jy nie waag om stil te staan nie – jy eindig dalk in 'n ander kleur!" Hulle verskuif na die tafel wat Christi stileer het om saam met die dogtertjies vir 'n foto te gaan poseer. "Sommer met dinge uit my laai; ons hou daarvan om te werk met dit wat jy het," sê sy. "Die vis en skyfies is in papier met 'n koerantvoorkoms toegedraai – ons het dit van die Internet afgelaai," kom Elmien ook by. Die vier bymekaar is 'n prentjie. Geen ontwerpersfoute om oor huis toe te skryf nie. Die dogtertjies met dieselfde lenige windhondlyfies is fluks op pad om ook soos hul ouma - op haar dag 'n avontuurlustige George-soldoedie - die koppe te laat draai.
"Jy lyk mooi, Elmien," komplimenteer haar suster die grimeerkunstenaar se werk. "Sy dra gewoonlik omtrent nie 'n krieseltjie grimering nie." Hulle is maar net mekaar se grootste bewonderaars, lewer Elmien kommentaar hierop. "Sy dink my lewe is wonderlik en ek raak net so meegevoer met wat sy doen." Sy maak haar oë groot. "Ek moet net bieg ek kyk selde televisie." Christi trek haar skouers op. "Elmien is my enigste sussie. Sy inspireer my en baie ander mense met wie sy in aanraking kom. En die belangrikste: sy hou van my soos ek is, die mens ágter die kamera – selfs al praat ek te vinnig en soms te luid!"
"Ag, ek lag net heeltyd vir jou." Die fotosessie is afgehandel. Christi gooi haar hare oor haar skouer en kussings, kinders en koerante word blitsig opgepak sodat ons na die restaurant onder toe kan verskuif. Jy moet maar leef soos jy bedraad is en bedees wees, is nou nie eintlik sy nie, erken Christi 'n rukkie later saam met 'n slukkie vrugtesap. "Ek het báie energie." "Jy moet haar sien stap in die berge," sê Elmien. "Sy klim met daardie lang bene onder ons almal uit. As ek ná 'n uur hoogrooi in die gesig is, lyk sy steeds douvars." Die dogtertjies kom nestel teen hul tannie aan. "Haai julle, ons doen nou 'n professionele onderhoud." Elmien glimlag. "Hulle is gek na mekaar. Met Christi in die rondte kan ek net terugsit en kyk hoe sy hulle oorneem."
"Dis net sleg dat ek vandat ons in die Kaap is hulle nooit by die skool kan gaan haal nie," sê Christi. "Maar nou kuier ons darem langer tye, nè?" glimlag sy af op die koppies onder haar blad. Die feit dat haar sus se jongste boonop na haar vernoem is, was 'n "wen-wen situasie. Haar pa het gelukkig altyd van my naam gehou. Dis wonderlik om familie te hê wat jou omarm net soos jy is." C hristi en Nico het twee jaar gelede besluit om Kaap toe te skuif. "Ek is met 'n groot trou-toneel uit 7de Laan uit. Ons het die aand 'n afskeidspartytjie gehad en die volgende oggend sesuur het ons die pad gevat. Hulle het in Simonstad kom anker gooi. Daar waar sy met die weimaraners Gia en Diego langs die see kan gaan stap of draf en soms op 'n bergfiets spring om saam met Nico 'n ent teen die berg uit te ry. Dit het tyd geraak vir ratte wissel. "Hier is minder aggressie en groter kalmte. Ons is in 'n nuwe fase. Ek is tevrede daarmee om nou meer van 'n tuisteskepper te wees omdat ek die geleentheid gehad het om my uit te woed. Dis lekker om kos te maak (hoofsaaklik Grieks-Mediterreens) en soms net saam met Nico oor die see en berg uit te kyk wanneer ons Bybel lees en bid. Iemand moet tog bereid wees om soms die leer vas te hou. Ek hou van wat op my pad kom en is steeds vol planne, maar daar is nie iets wat my jaag nie."
Die afgelope jaar het 'n oes vol goue are opgelewer. Daar was 'n maand lange, begeerde besoek aan Nico se uitgebreide Griekse familie met genoeg tyd op hul eie op die eilande Corfu, Mykonos en Santorini. Alles konfyt-van-jou-vingers-aflek-lekker vir Christi wat sê die klank van 'n bouzouki doen dit vir haar. Sy was mal oor die kos, die musiek en die gulheid. Net soos wat sy steeds mal is oor haar Afrikaans- Griekse man met sy groot hart –"mense begin seker nou moeg raak daarvan om te hoor hoe gelukkig ons is". Hulle kan ure aaneen swem en met hul onderwaterkamera die seelewe verken, iets waarvan hulle die afgelope jaar heelwat gehad het. Die twee is pas terug van die Maledive waar Christi 'n Travel Log vir Glitterati moes gaan aanbied. Sy kon dus ook drie uit die vyf weke wat Nico as aanbieder van Survivor daar moes wees, aan sy sy wees.
Vandaar die bruin bene. En die lewensblyheid waarmee sy soos een met 'n voorskoot vol blomme na jou toe aangestap kom. 'n Stukkie van haar siel dryf nog rond in daardie "visuele droom" van 'n plek. "Dis die blouste, blouste water, die witste, witte strande en die skuinsste, skuinsste palms," probeer sy vergeefs haar ervaring van die skoonheid daar weergee. Dis 'n vrou wat graag met haar lyf na die son gekeer leef. "Ek is 'n son- en eilandkind. Dis my gelukkigste plek. En as ek nie daar kan wees nie, gaan fliek ek (iets oor 'n eiland!) en eet springmielies." Sou sy dit ooit oorweeg om aan iets soos Survivor deel te neem?
"H'm. Dis 'n ja en 'n nee. Daar is 'n kant van my wat baie daarvan sou hou. Ek en Nico was nog altyd groot aanhangers van die Amerikaanse reeks. Dis vir my realiteitstelevisie op sy beste. Maar deelneem? Ek is fisiek redelik sterk en ek hou van uitdagings. Maar ek dink die goggas wat so oor jou kruip terwyl jy slaap, sal my heeltemal knak." Dink jy daar is iets van jou wat dit sal ontbloot wat jy nie graag aan die wêreld sou wou wys nie? Haar antwoord kom weer soos goeie kos, ongekompliseerd en eerlik: "Hoewel ek goed met mense oor die weg kom, kan ek soms te hard probeer om 'n situasie te beheer. En ek sal ook moet oppas om nie te eiewys te wees nie. Ek dink albei hierdie eienskappe van my sal moontlik onder druk uitkom en dit kan óf vir jou óf teen jou in die Survivor-spel tel." Sy en Nico ken mekaar nou elf jaar, vyf daarvan as getroudes.
Anders as wat mense mag dink, was alles nie altyd so eenvoudig soos wat dit dalk lyk nie. "Dit neem mos twee mense wat bereid is om hulle te verbind én wat 'n ding wil laat werk. Toe hy in die Kaap en ek in Gauteng was, moes hy die eerste keer as akteur 'n meisie soen. Dit was maar vir ons moeilik. Ons moes eers daardeur werk." Vandag weet hulle dit gaan oor keuses. "'n Mens kan enige plek ontrou wees. Die sakeman op reis het net soveel versoekings. Dis 'n onvolwasse mens wat hom of haar daarmee ophou, een wat nog nie mooi gedink het nie." Sy glimlag. "Nico sê nog 'n mooi girl is net nog 'n mooi girl. Almal soen min of meer dieselfde. Jy moet liewer die een wat jy het, koester. Dan raak 'n leeftyd te kort om al die vlakke van 'n verhouding te ontgin."
Die seën op hul huwelik is vir dié twee gelowige mense nie 'n persoonlike kaartjie na selfverryking nie. Eerder iets wat hulle aanspoor vir die goeie. Christi het al klaar weer 'n naam uitgedink vir 'n projek waarmee hulle werkgewers wil aanspoor om beter huisvesting vir hul huishulpe te kry: Chic Shack Project! Genoeg om haar in jou span te wil hê.
.jpg)
Hare Kevin Epstein; Grimering Cheryl Parker; Rok Van Slate; Juwele Van Shimansky; Stilering Cornél Dunn