Wonderwerk van 'n verbintenis

Ilse Salzwedel
Ilse Salzwedel
Foto: Verskaf deur kykNET
Ilse Salzwedel

Chris Barnard en Katinka Heyns is ongetwyfeld van die voorste vertellers van eg Suid-Afrikaanse stories. Dink maar aan prente soos Fiela se Kind, Paljas en die TV-reeks Amalia. Hul jongste prent, Die Wonderwerker, is gegrond op die lewe van Eugène Marais. Artikel en foto deur Ilse Salzwedel.


























Katinka Heyns
– klein, fyn en steeds met daardie onmoontlike blou oë - wag my by hul plaashek in. Ek gaan haal my storie op die plaas naby Nelspruit omdat dit een van die min kere is wat sy en Chris vanjaar in dieselfde provinsie is.


“Ek het in 2011 in 14 verskillende beddens geslaap,” vertel sy later oor ’n koppie tee. Baie van die vreemde plekke was natuurlik ter wille van Die Wonderwerker, haar en Chris se rolprent wat op 7 September landwyd uitgereik is. Die fliek is gegrond op die lewe van Eugène Marais en in die Waterberge verfilm, baie naby die plek waar die gebeure in die prent hulle ’n eeu gelede afgespeel het.


Haar oë is so ’n bietjie soos die blou van die see by Onrus, haar hartsplek en vir ’n klomp maande van die jaar die plek wat sy “huis” noem. Vir Chris is huis hierdie plasie. Soms is hulle saam op een plek, dikwels nie.


“Chris is ’n hermiet, ’n kluisenaarskrap. Hy het die stilte van die plaas nodig; hy is glad nie sosiaal nie. Ek weer moet tussen mense wees, daar waar ek kan lag en gesels sonder om te voel ek maak hom ongemaklik daarmee. En, vreemd soos dit klink, ek het die klank van die see nodig. Die see voed my. Die onophoudelike gedruis werk weer nie vir Chris nie.”


Hulle weet party mense dink dis vreemd dat hulle apart woon, maar dis hoe dinge vir hulle werk.


“Toe ek in 1969 saam met Hermien Dommisse aan Jannie Totsiens gewerk het, het sy vir my gesê dis moontlik vir twee mense om elkeen op sy eie eiland te woon, solank dit net in dieselfde see is,” vertel Katinka. “My mentor, Truida Louw, het weer eendag vir my gesê dis nie moontlik vir twee mense om heeltyd vas te dans nie. Jy moet kan two step, en selfs later kan tango. Jy móét op jou eie ook kan dans maar dis belangrik dat julle dieselfde musiek hoor.


“Ek en Chris hoor dieselfde musiek, maar ons is nie dieselfde instrumente nie. Hy is ’n ou basviool,” skater sy.


“En jy ’n simbaal,” terg hy terug.


Hulle praat elke dag twee maal oor die foon. “Die gesprek tussen ons hou nooit op nie. Ons het kreatief so een geword dat ek nie eens daaroor dink dat ons nie bymekaar is nie,” sê Katinka. “Ek dink jy leer jouself net soveel beter ken wanneer jy op jou eie asemhaal. Maar ons het ’n sielsverbintenis.” Chris, ’n man van baie min woorde, knik hier en daar sy kop. Sy noem hom Kroon, en kyk kort-kort in die onderhoud liefdevol na hom. Die band tussen hulle is voelbaar.


Van die twee is Katinka die live wire, Chris die skynbaar onverstoorbare, stil man. Maar moenie sy stilte verkeerd lees nie - daaronder skuil ’n vlymskerp sin vir humor. Hulle is vanjaar 34 jaar getroud, en sy vertel laggend hoe sy deur die jare moes leer om soms stil te bly om hom praatkans te gee.


“Ons ken mekaar so goed. Chris het nou die dag die mooiste ding oor my gesê: ‘Sy snap my werk nog voor ek dit geskryf het.’ Is dit nie die lieflikste kompliment nie?”


Wat is die geheim van hul gelukkige vennootskap, op en weg van die silwerdoek? Hulle kyk vlugtig na mekaar, en Chris antwoord eerste. “Dit was nie altyd maanskyn en rose nie, hoor. Maar ons het altyd baie re-spek vir mekaar as kunstenaars gehad. Ek is dankbaar dat ek my draaiboeke vir haar kan gee. Ek weet dis in veilige hande. Ons baklei oor baie ander goed, maar nooit oor werk nie.”


Hulle het mekaar in 1969 ontmoet, nog voor Katinka met die rolprentmaker Koos Roets getroud is. “En sy het haar daardie eerste aand sommer lekker vir my vererg, hoor,” sê Chris en hy lag. Katinka onthou dit ook. “Ek en Koos wou ’n fliek maak van Pa, maak vir my ’n vlieër, Pa, en wou dit met Chris bespreek. Toe sê hy so ewe ‘bring eers die geld, dan kan ons praat’. Hoe arrogant, het ek gedink.”


Albei was getroud toe hul kreatiewe paaie met die maak van Phoenix en kie. gekruis het. Met die vervaardiging het die dinge tussen hulle net gekliek.


“Dit was nie sonder pyn en verlies nie,” sê Chris. “En ook nie ’n mutual admiration society nie – ons huwelik is beslis nie net ’n professionele vennootskap nie.”


“Nee, beslis nie, beaam Katinka. “Daar was van die begin af ’n vonk tussen ons, ’n elektrisiteit. Ons kon oor enigiets gesels. Ons was albei lief vir letterkunde, vir stories. Ek glo die samewerking en die wedersydse respek het dit versterk. Soms sluit ’n mens maar net met iemand ’n sielskontrak.”


Hul kreatiewe vennootskap het deur die jare ontwikkel. “Dis moeilik om te weet waar begin regisseur en waar eindig skrywer, want ons vertel eintlik maar saam die storie. Maar Chris kan so ekonomies skryf, sonder om enigsins integriteit in te boet.”


“Dis maar die lesse wat die joernalistiek my geleer het: wat is prioriteit, wat is oor-bodig, waarop moet jy fokus?” sê Chris.


“Ek raak maklik in detail verstrengel, maar Chris pak vir my die bedding waarin ek kan ‘plant’ soos ek lekkerkry.”


Chris se rustigheid anker haar. “Ek was maar ’n rustelose gees, maar ek raak rus-tiger. Ek het vroeër te veel gewerk, en nooit tyd gemaak vir mense nie. Ek is miskien ’n bietjie nuuskierig, ’n sigeuner wat voort-durend agter stories aanhardloop, ’n storievraat. Maar ek is nou 64, en wil ook nie meer soos ’n maniak werk nie.” Waarop Chris blitsig antwoord: “Ag, jy gaan nooit ophou werk nie.”


En sy terugskerts: “Dis oor jy nooit ophou skryf nie. En ek móét iets met jou stories maak.”
Tog, ná ’n goeie vriend en vroeër vanjaar haar broer se dood, weet sy nou hulle betree ’n “nuwe seisoen”. Sy en die vier seuns bekommer hulle oor Chris (73) wat so afgesonderd en alleen bly.


“En ek wil nou nie meer hê daardie tydperke wanneer ons nie saam is nie, moet so lank wees nie. ’n Mens wil ook nie eendag spyt wees oor tye wat jy nie daar was vir iemand nie.”


Hoekom ’n fliek oor Eugène Marais?


“Marais was ’n merkwaardige man, en sy lewe het ons albei aangegryp,” vertel Chris. “Dit was reg van die begin af een van die raakpunte tussen ons. Ek sê altyd Katinka sou smoorverlief gewees het op Marais as sy in sy tyd moes geleef het,” skerts Chris.


Marais se lewe was kompleks. “Jy kan nou ook nie ’n fliek maak oor alles nie en ek moes gaan soek na ’n episode waarvan ek ’n storie kon maak,” vertel Chris. “Dis gegrond op die waarheid, maar ek kon my verbeelding laat gaan. Noem dit historiese fiksie.”


Katinka moes intussen haar nuuskierigheid bedwing. “Ons het ’n heilige ooreenkoms dat ek nooit lees terwyl Chris skryf nie. As jy die teks stukkie vir stukkie lees, het dit nie die volle impak nie. ’n Mens lees dit mos net een maal vir die heel eerste keer.” Toe sy die teks vir die eerste keer lees, het sy “lekker gelag en lekker gehuil”. Maar dit moes ’n hele paar jaar lê terwyl sy geld vir die projek gesoek het. Die oorspronklike teks is mettertyd hier en daar geskaaf. “Ons seun, Simon, se jeugdige insig het ook tot ’n paar veranderings gelei,” vertel Katinka.


Met Die Wonderwerker wou hulle “met opset Marais se donker kant onderspeel,” vertel Chris. Hy was soveel meer as sy verslawing. “Hy moes vir die mense van daardie tyd en omgewing baie vreemd gewees het: iemand wat in die Waterberg-kontrei tussen ’n trop bobbejane gewoon het. Hy het ’n byna mitiese karakter geword.”


Voeg daarby dat hy altyd soos ’n Brit aangetrek het, agt jaar tussen ’n trop bobbejane gewoon het, en altyd op soek was na ’n “onverklaarbare, goddelike sisteem” in alles, selfs termietneste, en jy kan jou indink wat die eenvoudige boere van dié dokter gedink het.


“Maar hulle het ook baie lief vir hom geword. Hy was ’n showman, ’n kindervriend, ’n storieverteller, ’n baie charismatiese mens, maar terselfdertyd natuurwetenskaplike en kunstenaar. Hy was sy tyd baie ver vooruit.”


Die Wonderwerker verwys na Marais se vermoë om skynbaar ongeneeslikes te genees. “Hy het mense gehipnotiseer, of soos die mense van daardie tyd gesê het, ‘gemesmeraais’. Mesmer was die Europeër wat met hipnose begin eksperimenteer het en dis waar die woord ‘mesmeraais’ vandaan kom,” verduidelik Chris.


Een van Marais se “wonderwerke”, wat ook in die prent uitgebeeld word, was die geval van tant Jossie van Deventer (gespeel deur Sandra Kotze) wat twaalf jaar lank verlam was, en weer kon loop ná Marais haar gehipnotiseer het.


“Die storie het natuurlik soos ’n veldbrand versprei en so het hy die ‘wonderdokter’, of die ‘mesmeraaiser’ geword.”


Chris kyk eers ná die finale afronding na die prent en Katinka vertel dat sy asem op-gehou het oor hoe hy oor die eindproduk gaan voel. “Ek wou kyk of hy darem ’n bietjie aangedaan is, maar daar sit hy, uitdrukkingloos, presies soos nou. Later, toe snuif hy ’n bietjie, en toe ek weer sien, is hy bewoë.”


Chris glimlag, nie juis verleë nie. “Ek was skoon aangedaan dat dit iets was wat ek ge-skryf het. As akteurs bykom en vlees en bloed gee aan wat nog net op papier be-staan, kry ’n storie ’n ander dimensie.”



      



     


 


DIE ROLVERDELING



Chris het die rolle geskryf met sekere akteurs in gedagte. Die Wonderwerker was ’n kans om weer saam met baie van die mense te werk met wie hulle al ’n jare lange pad stap, soos Dawid Minnaar (Eugène Marais), Marius Weyers (Gys van Rooyen), Elize Cawood (sy vrou, Maria), en die akteurspaar Cobus Rossouwen Sandra Kotze. Erica Wessels is ook in die prent. Dis net vir die rol van Jane Brayshaw waarvoor hulle niemand in gedagte gehad het nie. Maar Anneke Weidemann (onder) het die rol haar eie gemaak en Chris en Katinka kan nie uitgepraat raak oor haar talent nie.


“Ons het oudisies gedoen met die room van dramastudente van al die universiteite maar hulle het almal Jane ‘gespeel’.


Om te wéés is deurslaggewend, veral op film, en dit kon Anneke regkry,” sê Katinka. Sy lag toe sy vertel dat Anneke se oudisie sommer langs die snelweg naby die Kaapse lughawe plaasgevind het. “Ek kon haar net nie op ’n ander tyd sien nie. Ek moes iewers heen vlieg, en sy moes toe maar van die Universiteit Stellenbosch se mediese skool af soontoe ry. Ek het hoendervleis gekry toe ek sien wat sy kan doen, en geweet dis die laaste, belangrike blokkie van die legkaart.”


Sy lag en vryf oor haar arms. “Hoendervleis is altyd vir my ’n goeie teken. Sy het net daardie iets, daardie vonk, waarna ons gesoek het. ”

Kommentaar
Wees eerste om kommentaar op die artikel te lewer.
Jy moet ingeskakel wees om kommentaar op die artikels te kan lewer. Indien jy nog nie 'n aanlyn-profiel het nie, kan jy hier een skep

Caxton Tydskrifte moedig vryheid van spraak aan en ‘n verskeidenheid standpunte word hier weergegee. Die menings van die gebruikers van rooirose.co.za is hul eie en nie noodwendig dié van Caxton Tydskrifte nie.
Caxton Magazines
Digital Media and Marketing Association (DMMA)
Developed by Digital Platforms
© 2014 Rooi Rose | Alle regte voorbehou | Terme en voorwaardes