Ek word elke jaar baie opgewonde as dit tyd word vir die Oscars. Die seremonie kan soms effens lank en vervelig wees (ek weet julle dink ook so!), maar waarvan ek eintlik hou, is die rooitapyt-deel voor die seremonie. Ek is mal daaroor om te sien wie dra wat, en wat hulle met hul hare en grimering gedoen het. Almal doen meer moeite vir hierdie geleentheid, en die resultate kan soms baie inspirerend wees. Ja, ek weet hulle het die geld en tyd vir persoonlike afrigters, dieetkundiges, ontwerpersklere en professionele haar- en grimeerkunstenaars, maar ons kan steeds ‘n bladsy of twee uit hul boeke steel. Hier is my vier gunsteling-voorkomste van die jaar en hoe om maklik self daardie glansryke voorkoms by die huis te kry. Foto’s: Elite.
Zoe Saldana
Ek weet nie hoe julle voel nie, maar ek het gedink dat Zoe Saldana se pers Givency-blinkertjierok haar baie beter gepas het as haar onlangse blou-fase. Die fokus van hierdie voorkoms was definitief haar oë.
Kry Zoe se voorkoms. Kies ‘n onderlaag wat goeie dekking bied, want jy het ‘n vleklose vel nodig vir dié een. Probeer lalu Renew Sheer Flawless Finish Foundation (R139). Wend Bobbi Brown Long-Wear Cream Shadow in Beach Bronze (R225) net bo die vou van jou oog aan, en maak die kleur sterker nader aan die wimpers. Trek die hoek van jou oog versigtig na jou slape, rus met jou elmboog op ‘n plat oppervlak, en trek met Bourjois Felt-Top Very Long-Lasting Eyeliner in Nior (R89,95) ‘n lyn teen jou boonste wimpers. As jy wil, kan jy die punte aan die buitekant effens laat opdraai om die kat-oë effek te kry. Wend ‘n paar lagies Maybelline The Colossal Volum’ Express Mascara in Glam Black (R99,95) aan. Die lippe is baie eenvoudig, maar maak seker jou lippe is in ‘n goeie toestand deur ‘n lagie Uriage Lip Care for Damaged Lips (R89,95) aan te wend voor jy ‘n lagie Almay Pure Blends Lipgloss in Nude (R99) aansit.
Kate Winslet
Kate Winslet se uitdagende Yves Saint Laurent-rok en onmisbare Tiffany-nekstuk het geen kompetisie van haar grimering nodig gehad nie, dus het sy dit subtiel gehou. Hierdie voorkoms kan ook vir die dag gebruik word. Dis ‘n fantastiese manier om kleur te dra. Kate het met donkerrooi/mauve gegaan, maar jy kan eksperimenteer met groen, bruin, donkerblou, of selfs die groot kleur vir die winter: pers.
Kry Kate se voorkoms: Begin met Maybelline Dream Satin Liquid Air—Whipped Air Brush Finish Foundation (R144,95). Gebruik Benefit Creaseless Cream Shadow/Liner in Stiletto (R215) op die vou van jou oog. Skakeer dan ‘n lyn van Clarins Mono Eyeshadow in Perfect Plum (R195) in na aan die wimpers en effens na bo. Om die oë verder te beklemtoon wend ‘n lagie van Bourjois Volume Glamour Ultra Volume Mascara in 06 (R89,95) aan die wimpers. Rond die voorkoms af met ‘n neutrale lipkleur soos Lancôme L’Absolu Rouge Lipstick in 354 (R315).
Sandra Bullock
Oscar-wenner Sandra Bullock het van kop tot tone soos ‘n regte Hollywood-ster in haar Marchesa-rok gelyk. Haar grimering het haar rok perfek gekomplementeer, en daardie lippe het almal gaande gehad.
Kry Sandra se voorkoms: Begin met Revlon se PhotoReady Makeup (R185). Haar oë is baie eenvoudig, tog het dit trefkrag. Krul eers jou wimpers, en wend dan twee lagies Maybelline Great Lash Mascara in Very Black (R79,95) aan. Trek met L’Oréal Contour Khol in Carbon Black (R89,95) ‘n lyn aan die binnekant van jou boonste ooglid en op die haarlyn van die onderste ooglid. Jou wenkbroue moet vir hierdie voorkoms perfek wees. Borsel en vul die wenkbroue in met Mavala Eye-Lite Eyebrow Pencil in Café (R84,95). Haar lipstiffie is ‘n kombinasie van rooi en pienk. Die beste weergawe wat ek gekry het, was Rimmel Moisture Renew Lipstick in Rose Passion (R79,95). Rond die voorkoms af met ‘n tikkie lalu Duo Blusher in Radiant (R69) van die appel van jou wang tot by die haarlyn.
Rachel McAdams
Rachel McAdams het soos ‘n feëprinses in haar ligte Elie Saab-rok gelyk. Sy het ook die pastelkleure gebruik vir haar grimering en het ligpienk vir haar oë gekies. Soos met Zoe se voorkoms het jy ook ‘n vleklose vel hiervoor nodig.
Kry Rachel se voorkoms. Gebruik Clarins Everlasting Foundation (R335) vir ‘n vleklose vel. Vir die Monet-geïnspireerde oë begin met Estée Lauder Double Wear Stay-In-Place Shadow Creme in Blush Pink (195) op die vou van jou oog, en sprei dit effens na buite na jou slape toe. Pienk oogskadu kan ‘n mens soms laat lyk of jy ‘n ooginfeksie het, wend daarom Kango Aqua Eyeshadow Powder in Slate (R35) oor die pienk aan die buitenste hoeke van jou oë aan in ‘n < en > vorm. Dis sal jou oë ook groter laat lyk. Rond jou oë af met ‘n laag Max Factor Masterpiece Waterproof High Definition Mascara in Waterproof Black (R119). Die lippe is weer eens baie eenvoudig. Al wat nodig is, is ‘n lagie Yes To Carrots C Me Shine Lip Gloss in Rose Bliss (R29,99).