Ná die laaste skoot van ‘Egoli’ geskiet is, het Brümilda van Rensburg nie met ’n botteltjie Rescue Remedy onder die komberse ingeklim nie. Dit was vir haar maar die begin van die vurige, fantastiese nuwe speelvak haar lewe. Deur Linette Retief. Foto’s deur Leana Clunies-Ross
Toe die Egoli-kamera die eerste keer op haar fokus, sê Brümilda van Rensburg, het sy gehuil, want dit was asof almal op haar “gegil en geskree” het, en sy’s nie iemand op wie jy moet gil en skree nie. Agttien jaar en 4 689 episodes later, nadat haar laaste toneel geskiet is, het sy weer gehuil. Dié keer omdat daar niemand meer oor was om te gil en skree nie. En in die jare tussenin het Brümilda van Rensburg ’n leeftyd van hoogtepunte, laagtepunte, wysheid en wonder ingepas soos nét sy kan.
VIR DIE ENKELES wat dalk die afgelope dekade en ’n half op ’n ander planeet was: Egoli was meer as net Suid-Afrika se eerste sepie. Dit was ons land se eerste kennismaking met ’n soort magiese mikrokosmos; ’n kombinasie van karakters wat elke aand hul buitewêreld in jou binnekamer ingebring het met alles van dood in die familie tot moord en misterie, van liefdesdriehoeke tot korporatiewe oorlog. En natuurlik, altyd maar altyd, drama. Die een woord waarmee jy Egoli kon opsom, was ”drama”. En die gesig wat van die eerste episode tot die laaste toneel drama verbeeld het, is en bly onteenseglik Louwna Voster, oftewel Brümilda. Die drama was ook nie altyd net agter die kameras nie. Meer as 18 jaar lank was dit ’n daaglikse werklikheid wat op alles kostuum wat nie pas nie, of wee o, wee, ’n manlike medester wie se kitssonbrandroom onder die kameras begin smelt.

‘Wat het ek uit Egoli geleer? Honderdduisende bladsye dialoog en geduld en geduld en geduld. ’n Aktrise word betaal om te wag’
|
Afgesien van haar status as deurwinterde en bekroonde aktrise, was en is Brümilda altyd onberispelik professioneel. Van kla en kerm is daar nie sprake nie. Van leer wel, kom jy agter uit haar skertsende antwoord wanneer jy vra wat sy uit Egoli geleer het. “Honderdduisende bladsye dialoog en geduld en geduld en geduld. ’n Aktrise word betaal om te wag.”
In Brümilda se geval, vermoed jy, het sy nie op beter dae gewag nie. Sy het die tyd gebruik om hulle te skep. Ná al die jare wat sy Egoli geëet, geslaap en gedroom het, wonder mense oor haar planne vir die toekoms. Watter vensters het oopgegaan toe die Egoli-ateljees se deure in Highlands North vir die laaste keer toegemaak het? Wat ’n vraag. Wat vir vele mense die einde van hul persoonlike beskawing sou wees, is vir Brümilda ’n briljante nuwe begin.
Jy hoef ook nie eens vir haar te vra om ’n voorsmakie te kry van alles wat sy met soveel oorgawe doen nie – oorgawe synde ’n sleutelwoord wanneer dit kom by enigiets wat me. Van Rensburg aanpak. Jy kan eintlik net by haar webwerf inval en jou sitplekgordel vasmaak vir ’n reis na bestemmings wat die meeste mense in ’n dosyn leeftye nie sal sien of ervaar nie. Kliek jy in by www.brumilda.com het jy kuber-kuierplekke te kus en te keur … Tuisblad, Brümilda- info, Foto’s, CV, Dramakursusse, Funksies, Make-overs, Projekte, Werkwinkels, ACT … Wat net weer bevestig: Brums, soos haar vriende haar noem, het nie met die botteltjie Rescue Remedy onder Club Duvet gaan inklim ná die laaste Egoli-skoot geskiet is nie.
Sy het die oomblik aangegryp en is besig om van iets wonderliks iets uitsonderliks te maak vir almal - van ma’s, pa’s, oumas en oupas tot tieners en tjokkertjies. Sy is pas klaar met The Power of Three, ’n internasionale rolprent wat deur drie vroue, insluitend Brümilda, gekonseptualiseer en uitgevoer is, en waarin sy die rol van die Suid-Afrikaanse Olivia vertolk. Soos sy dit stel: “Ek kon op ’n baie diep vlak aansluiting vind by die karakter – ’n ouer vrou wat, ondersteun deur vriendskap, die moed kry om op allerlei vlakke opnuut te begin en wat die vreugde ontdek daarvan om haarself te vier. Ek was verslaaf die oomblik toe ek dié sin van Olivia lees: ‘I am fifty, fierce and fabulous!’”
|
Het jy geweet ...
- Wanneer het Brümilda besluit om ’n aktrise te word? Met haar geboorte, toe almal hande klap en bly was oor haar aankoms.
- Sy het al in 35 professionele toneelstukke, 26 TV-vertonings en 9 rolprente opgetree.
- Haar gunstelingrolle was Blanche in A Streetcar Named Desire en Portia in Shakespeare se Die koopman van Venesië.
- Sy het twaalf jaar se moderne en klassieke dansopleiding.
- Sy is ’n taalfoendi wat Afrikaans, Engels, Duits en Frans magtig is.
- Sy het al talle toekennings gekry, onder meer: Ludwig Binge-toekenning vir Toneelspel, Fleur du Captoekenning vir Cassandra in The Oresteian Trilogy, Loerie-reklametoekenning vir stemwerk, DALRO-toekenning vir haar rol as Portia in Die koopman van Venesië, ‘n Artes vir haar rol in Die binnekring, People’s Choice-toekenning as Suid-Afrika se gewildste aktrise, Reach for the Stars-toekenning in 2002, Rapport/City Press – Prestige Woman-toekenning, YOU/Huisgenoot – Most Stylish Woman (2005).
Egoli-feite
- Egoli was Suid-Afrika se eerste sepie.
- Die eerste episode is op Maandag 6 April 1992 op M-Net uitgesaai.
- Op 3 Desember 1999 was Egoli die eerste Suid-Afrikaanse program in enige genre wat 2 000 episodes behaal het.
- Ná 18 seisoene sal die laaste, 4 689ste episode op Woensdag, 31 Maart 2010 uitgesaai word.
- Net vier akteurs – Christine Basson, Shaleen Surtie-Richards, Brümilda van Rensburg en Hennie Smit het in elke seisoen van die program verskyn. l Die reeks sal deur ’n Egoli-fliek opgevolg word.
|
En dit was maar die begin van die vurige, fantastiese nuwe speelvak in Brümilda van Rensburg se lewe. Sy het onlangs ’n TV-drama meesterklas by Oprah Winfrey se skool aangebied en is genooi om dit weer te doen. Sy was in Japan, is op pad Thailand toe en haar stem is op GPS Garmen gelaai. “So,” lag sy, “nou kan jy saam met my rondrits.” En sy het ’n stuk of 18 kinderstories op CD opgeneem, die eerste fase van haar Nunu-kinderprojekte. Haar dramaskool gaan van krag tot krag, en haar internasionale akteursagentskap doen goed, want haar studente werk in die bedryf en pluk die vrugte van hul opleiding.
Maar steeds is dit nie al nie. “Daar’s een of twee projekte waaroor jy nie mag praat nie, maar nuusbrokkies glip tog uit,” sê sy geheimsinnig.
“Soos die Egoli-fliek?” pols ek, waarop sy swyg soos ’n minsame sfinks, maar uiteindelik tog ’n brokkie of twee laat val. Dit gebéúr, dis aan die gang. Dit bevat bestaande intriges en karakters wat bestaande kykers én Egoli-nuwelinge tevrede sal stel. Die rolbesetting word een van die dae bekend gemaak en die rolprent open in Junie. Ja, ons kan uitsien na ’n hele klompie bekende gesigte – en ’n opwindende en belowende nuwe gesig. Plus, vir die rekord, dié keer was sy ook agter die kameras betrokke; haar akteursagentskap het ’n hele klompie byspelers vir die produksie verskaf.
En drome vir die toekoms? Sy sal graag saam met ’n goeie geselskap weer op die verhoog wil wees. En sy is baie opgewonde oor die flieks wat deesdae in Suid-Afrika gemaak word en wat wêreldwyd so goed vaar. Gegewe al haar verkreë wysheid en ’n nuwe wêreld wat voorlê, wonder jy wat Brümilda haar sonderlinge voorsprong gee. Natuurlik is dit die talent wat sy in oormaat het en wat sy op elke vlak inspan om vir ’n oomblik, ’n uur of ’n leeftyd ’n bietjie glans in mense se lewe te bring.
Uiteraard is dit ’n dissipline wat skrik vir niks. ’n Bereidheid om die wonder in alles raak te sien, en ’n les uit enigiets te leer. En ’n vermoë om altyd haar selfbeheersing – en die warm hart wat daaragter klop – te behou. Tog, die iets wat alles saambind, die sleutel wat deure en vensters vir Brümilda van Rensburg bly oopmaak, is vermoedelik steeds daai ding wat Ma Freda haar geleer het: “Gedra jou voor mense, my kind. Jy het geen verskoning om nie goeie maniere te hê nie.”
|

‘Wat my gedra het – deur dik, dun, vrees en vreugde - is die goeie maniere wat my ma Freda my geleer het’
|
Brokkies ...
- Lekkertes: Tulpe, skaapboud, U2, aromaterapie, sonsondergang by die see, goeie fliek/DVD/teaterstuk, e-posse, ’n lekker bad.
- Flieks: Dangerous Liaisons, The Shawshank Redemption, Notting Hill, Forrest Gump.
- Boeke: The Da Vinci Code van Dan Brown, Roald Dahl se kortverhale.
- Liedjies: U2 se “With or Without You”, Beyoncé se “All the Single Ladies”, Kurt Darren se “Kaptein”.
- TV-program: Discovery Channel.
- Vakansieplek: Plettenbergbaai. l Reise: Londen, Amsterdam.
- Kos: Gerookte salm.
- Persoon: Jesus Christus.
- Wat weet niemand van jou nie? Dat ek ’n goeie maaltyd kan kook.
- Wat is die grootste ding wat jy tot dusver vermag het? Om myself te aanvaar soos ek is.
- Jou grootste wens? ’n Kind.
- Jou skaamste oomblik? Om iets nie te weet nie.
- Jou grootste droom? Om in ’n toneelstuk saam met John Malkovich op te tree.
- Waarin voel jy die mooiste? My nighties.
- Jou beste eienskap? Om te gee tot ek niks meer kan gee nie.
- Jou slegste eienskap? Om te veel te gee.
- Waarvan hou jy die minste aan jouself? My hande.
- Jou grootste voorliefde? Om ’n dag deur te bring saam met iemand vir wie ek lief is.
- Wat is jou beste skoonheidsgeheim? Water, appels en roompies.
- Die beste raad wat jy nog gekry het? Leer jou woorde vir die volgende dag.
- Watter raad het jy vir akteurs wat die dapper wêreld van sepies wil betree? Moenie. Trou liewer ryk.
PRODUKSIE SUZANNE VENTER EN HANNELIE DIEDERICKS; STILERING SUZANNE VENTER; ASSISTENT ANZELLE HURTER; GRIMERING PIERS BRAYBROOKE MET GRIMERING VAN IMAN; HARE KAREN VAN WYNGAARD MET OSIS-PRODUKTE; SWART ROK BEAUTIFUL MAVERICK BY THE SPACE; OORBELLE ATTITUDE; RING TINSEL |