Artikel: Ilse Salzwedel
MEER SEXY
Kry jou eie lyf lief
1 Dr. Ann Kearney-Cooke, ’n Amerikaanse
sielkundige wat pasiënte help om probleme
met hul liggaamsbeeld op te los, sê ons leer
ander eintlik om krities na ons figure te kyk
as ons gedurig ons eie foute uitwys. Hou op
praat oor jou dik bobene / selluliet / boepmagie
voor jy later gemakliker is met kritiek
as met komplimente. Hoe meer jy van jou
eie lyf hou, hoe sexier sal jy voel. Beklemtoon
die mooiste dele van jou lyf, en maak
vrede met die res.
2 Dra altyd mooi onderklere.
3 Antropoloë verduidelik dat oermanne van
altyd af geswymel het oor ’n vrou met ’n
glansende vel, rosige lippe en ’n blos op die
wange – dit was die natuur se manier om te
wys sy is op haar vrugbaarste. Lippe is
sinoniem met soen, en soen word as een
van die intiemste dade beskou. Vestig die
aandag op jou soenbare mond deur altyd
lipglans aan te wend, en gebruik minstens
een maal per week ’n skropmiddel en masker
vir jou gesig.
4 Smeer soggens én saans room aan jou
hele lyf – dis nog ’n manier om vriende te
maak met die lyf waarin jy elke dag woon.
5 Wees sexy, al voel jy dit nog nie.
6 Verken jou lyf sodat jy jou maat kan vertel
presies wáár al jou skakelaars sit.… en laat hy jou lyf liefkry
7 Hou op om seks te vermy omdat jy
skaam is vir jou lyf. Die blote feit dat jou
man toenadering soek, beteken jou “figuurfoute”
is vir hom baie minder belangrik as
vir jou.
8 Onthou, sexy vroue wag nie “om in die
bui te kom nie”. Hulle skep die bui.
9 Goeie seks begin ure voor die daad.
Voorspel kan begin met sexy SMS’e, ’n stomende
e-pos, of ’n briefie in sy kosblik.
Vertel hom presies wat jy met hom wil
doen as hy vanaand by die huis kom.
10 Al gehoor van tantriese seks? Die doel
van dié antieke tegniek is om jul passie so
lank uit te rek dat albei so lank moontlik net
onder seksuele kookpunt bly, en al vyf sintuie
word daarvoor ingespan. Dit help nie jy
het die hele dag aan voorspel bestee as die
huis soos ’n oorlogsone lyk en klink nie.
Sorg vir ’n kalm, rustige atmosfeer vandat
hy sy voete oor die drumpel sit. En vir ’n
rustige, mooi plek iewers in jou huis.
11 Seks begin ook in jou neus. Geure soos
sandelhout, muskus en jasmyn is goed vir
die libido – bad saam in hierdie aromatiese
olies, of meng dit met ’n draerolie soos
amandelolie vir ’n sensuele massering, of
brand kerse met dié geure vir ’n romantiese
atmosfeer. Behalwe dié drie reuke, meen
gesondheidsghoeroe Patrick Holford, is
ilang-ilang, vanielje en patchouli ook net die
ding om jou maat mee te verlei.
12 Refleksoloë sal jou vertel dat die voete
verbind is met elke liggaamsdeel en orgaan.
Begin af en toe jou liefdespel met ’n goeie
voetmassering.
13 Probeer vanjaar elke ander vertrek in die
huis, en glip by ’n partytjie gerus saam weg
vir ’n vinnige vry (of dalk ietsie meer ... )
14 Lê lepel vóór seks, skryf Kenneth Ray
Stubbs, skrywer van The Essential Tantra (JP
Tarcher Putnam, 2000). Konsentreer op
die ritme van jou maat se asemhaling en
probeer later saam in- en uitasem. So word
julle een nog lank voor die seksdaad.
15 Die volgende stap is behoorlike oogkontak
– sonder dat julle aan mekaar raak – vir
minstens ’n minuut of twee. (Tantriese
gidse beveel aan dat julle kruisbeen oorkant
mekaar sit, maar doen wat vir jou werk.)
16 Eers hierna mag julle begin streel – maar
op al die ander plekke as die dele van die lyf
wat met seks geassosieer word. Kenners
meen die gemiddelde man trek dikwels aan
die kortste ent as dit by liefkosing kom
omdat ons vroue nie besef hoe baie erogene
sones hulle eintlik het wat wag om
ontdek te word nie. ’n Paar voorbeelde: die
“vlies” tussen sy duim en voorvinger (en dis
voorspel waarmee jy al aan etenstafel kan
begin) is baie sensitief vir aanraking. Sy
oorlelle, binnebeen, kuite en selfs die haksening
is almal … uhm, wel, ’n Achilleshiel,
mits jy reg vryf, knie en streel.
17 Maak jou bene tóé tydens die liefdespel,
ongeag die posisie, skryf seksskrywers Em
& Lo. Dit sorg vir meer plesier vir jou (en
ook vir hom.) Gaan loer by www.emandlo.
com vir die A-Z van boeke oor goeie seks.
18 Sê en wys presies waarvan jy hou. En as
jy te skaam is om dit van aangesig tot aangesig
te vertel, stuur ’n e-pos waarin jy jou
fantasie of begeerte beskryf. Jou man sal
jou sméék om te eksperimenteer.
19 En die maklikste manier om weer sexy
te voel? Slaap kaal, ook die nagte wat julle
nie seks het nie. (Goed, as jy dan eenvoudig
móét slaapklere dra, hou dit sexy.)
20 Doen dit net! Maak planne om die
spontaneïteit terug te kry wat daar aan die
begin van die verhouding was. Waag meer,
wys meer, gee meer. Jy sal ’n gelukkiger
man hê, en omdat seks endorfiene (goedvoelhormone)
vrystel, sal jy ook sexier lyk
en voel.
GESONDER
die basiese beginsels
21 Begin by die heel begin as jy vanjaar
gesonder wil wees: Was jou hande gereeld!
Leer jou kinders ook om onnodige kontak
met traprelings, hysbakknoppies en winkeltrollie-
handvatsels te vermy. (Bravo aan
Pick ’n Pay vir hul weggooibare ontsmettingslappies
by trolliestaanplekke!) As jy
jou hande vyf maal per dag deeglik was,
kan jy jou kanse om siek te word in 2009
met 50% verminder.
22 Dr. Andrew Weil word as Amerika se
ghoeroe op die gebied van alternatiewe
medisyne en ’n lang lewensduur beskou.
Sy topgesondheidswenk teen siektes soos
kanker, hartkwale, diabetes en Alzheimer
se siekte, is om meer omega-3-vette en
minder omega-6-vette te eet. Omega-3-
vette kom natuurlik voor in soja, lynsaad en
olierige vis soos sardyne, makriel en salm.
Nog goeie nuus is dat twee teelepels
lynsaad 7 van die 18 g vesel verskaf wat jy
per dag nodig het. Strooi dit oor jou kos of
slaai, of drink ’n goeie omega-3-aanvulling,
of lynsaadolie-kapsules. (Terloops, lynsaad
help ook om warm gloede te verminder.)
Verminder jou omega-6-inname deur minder
kos te eet wat in olie gaargemaak is.
23 Uit ’n studie wat navorsers tussen 1993
en 2006 aan die Universiteit van
Cambridge onderneem het, het dit geblyk
dat vier gesonde gewoontes jou lewe kan
verleng: as jy nie rook nie, matig drink, vyf
porsies groente en vrugte per dag eet én
gereeld oefen, kan die gemiddelde mens
tot 14 jaar by sy lewe voeg.
24 Jy weet antioksidante beveg vrye radikale
en help keer só hartkwale, kanker en
aftakelende siektes soos Parkinson en
Alzheimer se siekte. Jy weet dalk ook dat
antioksidante jou geheue beskerm, pyn verlig,
spierpyne verminder, moegheid keer en
blindheid (veroorsaak deur makulêre degenerasie
en katarakte) voorkom. Miskien
weet jy ook dat antioksidante plooie voorkom.
Maar wat jy dalk nog nie weet nie, is
presies watter voedingstowwe as antioksidante
gereken word en waar kry jy dit?
(Die heel beste is uit kos, maar andersins
kan jy gerus ’n goeie aanvulling drink.) Daar
is veral sewe antioksidante wat wetenskaplikes
gaande het oor hul helende kragte:
-selenium (in Brasiliaanse neute, en ook
deesdae by sekere ontbytpappe gevoeg)
- vitamien E (in sonneblomsaad, haselneute
en grondboontjiebotter)
- vitamien C (papaja, koejawel, soetrissie
en broccoli is ryk aan vitamien C)
- karotenoïd (in wortels, botterskorsie en
spinasie)
- isotiosianate (in broccoli, Brusselse
spruite en blomkool)
- polifenole (donker sjokolade, rooiwyn,
tee en koffie)
- ko-ensiem Q10 (maer beesvleis, hoenderborsies
en vis)
25 Kook met kruie
– dit bevat baie
gekonsentreerde
antioksidante (7 mg
roosmaryn bevat dieselfde
hoeveelheid antioksidante as meer as
700 g broccoli).
26 Wees kwistig met vars knoffel – dis ’n
natuurlike antibiotikum en anti-inflammatoriese
middel, en versterk so jou immuunstelsel.
27 ’n Appel per dag laat beslis die dokter
wag. Dis vol antioksidante, bevat vesel wat
cholesterol verlaag, verminder jou kanse
op Alzheimer se siekte en bevorder longgesondheid.
Dit doen ook wondere vir jou
metabolisme.
28 Begin jou dag met hawermout – dis
eintlik superkos, want dit hou jou bloedsuiker
stabiel vir ure, bevat stowwe wat jou
cholesterolvlakke verlaag en is goed vir jou
spysverteringstelsel.
29 As jy nie van pap hou vir ontbyt nie, eet
rogbrood. Dis bewys dit hou jou bloedsuikervlakke
tot tien uur lank stabiel.
30 Stadig maar met die kunsmatige versoeters
– die newe-effekte en invloede
hiervan moet nog eers oor minstens twee
generasies getoets word. Aspartaam word
met breinskade, epileptiese aanvalle en
inmenging met die hormoonstelsel verbind.
Drink eerder ’n bietjie suiker in jou tee.
31 Onthou, borskanker is nie net ’n Oktober-
siekte nie, maan dr. Carol-Ann Benn,
voorste borskankerchirurg. “Ondersoek jou
borste elke maand. En as jy ouer as veertig
is, gaan vir ’n jaarlikse mammogram.”
32 Laat toets asseblief vanjaar jou vastende
insulienvlakke. Doen dit soggens nog voor
jy tee of koffie gedrink of geëet het. As jou
vlakke bo elf is, is jy insulienweerstandig, en
is tipe 2-diabetes (’n onomkeerbare toestand)
waarskynlik jou voorland. Beroerte,
hartsiektes en vetsug word ook gekoppel
aan insulienweerstandigheid. Jou dokter sal
medisyne aanbeveel, maar gebruik gerus
Antagolin, ’n natuurlike produk wat beskikbaar
is sonder voorskrif, saam met die
voorskrifmedisyne. Stadig met die stysel en
suiker, en begin oefen.
33 Volg dr. Benn se reël van twee weke: Sy
sê niemand behoort langer as twee weke
met enige vreemde simptome rond te loop
voordat hulle ’n dokter raadpleeg nie.
MAERDER
Wees – of lyk– só maerder:
34 Jy weet al jy behoort elke dag minstens
twee liter water te drink om te keer dat jou
liggaam onnodig vog terughou. Maar het jy
geweet bosbessiesap (cranberry), in gelyke
dele verdun met water saam met jou ontkruie,
byt, laat opgeboude vog vinnig verdwyn?
Drink daagliks ook minstens 1 000 mg vitamien
C. Dit help om jou minder geswel te
laat lyk en sal jou immuunstelsel versterk.
35 Borsel jou lyf vóór jy stort met ’n sagte
borsel – dit help om van gifstowwe deur die
vel ontslae te raak, wat ook swelling en
waterophoping sal verminder.
36 Jy hoef nie porsies te weeg om gewig te
verloor nie. Volg net die 70/30-reël as jy
opskep: 70% groente, 30% proteïene.
37 Belê in ’n goeie, stywe broekie vir daardie
nommer waarin jy regtig op jou beste
wil lyk. (Jy’s in goeie geselskap: ’n gewese
Mej. Suid-Afrika het al in ’n tydskrifonderhoud
erken dat sy by haar ma die waarde
van ’n goeie step-in geleer het, veral nadat
sy ma geword het.)
38 Nog ’n klerewenk uit Ouma se kas: ’n
onderrok toor rolle weg.
39 Moenie ná sesuur saans stysel eet nie.
40 Natuurlik kan jy tussenin eet, maar eet
slim. Groentestokkies, neute, biltong en rou
neute en sade (geroosterdes bevat ekstra
vette).
41 Al gewonder hoeveel oefening per week
nodig is om jou maerder te maak? Wel, dis
309 minute per week, sê navorsers aan die
Universiteit van Pittsburg. En vir die heel
beste resultate behoort jy dit te verdeel
tussen ses dae, wat ’n oefensessie van 50
tot 55 minute per dag beteken. En wat is
die heel beste oefening vir gewig verloor?
Stap teen ’n stywe pas!
42 Lag meer – Britse navorsing het gewys
’n skaterlag kan help dat jy een tot twee
kilogram vet per jaar verbrand.
43 Weg met gaskoeldrank (ook die dieetsoort,
want dit bevat aspartaam, wat baie
ongesond is). As jy die borrelrigheid van
gaskoeldrank mis, meng suiwer vrugtesap
met mineraalwater met borrels of met
sodawater.
44 Die heel doeltreffendste manier om ’n
plat magie te kry, is om die spier wat jou
maag beheer, gereeld in te trek. Of jy sit of
staan, probeer jou transversis abdominis
deur jou naeltjie na jou ruggraat te trek.
Hou vir tien sekondes, en herhaal so dikwels
moontlik. Begin sommer jou dag daarmee,
terwyl jy nog in die bed lê, en herhaal
waar jy ook al sit of staan deur die dag.
45 Ons gee maklik R50 op koek en tee uit,
maar “het nie geld” as dit kom by dinge
soos ’n gesigbehandeling of pedikuur nie.
Bespreek een spa-dag elke twee maande
saam met jou vriendin, eerder as om mekaar
twee keer per week vir koffie te ontmoet
(dit hou ook sommer die kilogramme
in toom). Min dinge laat jou so begeerlik
voel soos ’n goed versorgde lyf, selfs al is
joune nie perfek nie.
46 Gooi weg jou stoel en sit op ’n oefenbal,
ook voor die rekenaar en TV. Dis uitstekende
oefening vir jou boud- en bobeenspiere.
47 Moenie ’n alles-of-niks benadering volg
nie. As jy een blokkie sjokolade eet, moenie
dink jy het nou klaar oortree en kan netsowel
die hele blok opeet nie.
48 Vat vier dae, en verander jou lewe. So
skryf selfhelp-ghoeroe en skrywer Martha
Beck in haar boek The 4 Day Win (Piatkus).
Sy sê jy het net vier dae nodig om jou kop
oor enigiets, ook dieet en kos, te verander.
Haar beginsel is eenvoudig: Voeg elke vier
dae ’n nuwe (maklike) doelwit by jou eetplan,
en pas dit vir vier dae lank toe voor jy
die volgende een bysit. Kies iets makliks,
soos om elke dag ’n groen groente te eet,
een lepel suiker minder in jou tee te drink
of nie ná ’n sekere tyd te eet nie. Ná 21 dae
gaan jy altesaam vyf nuwe patrone in jou
eetplan/leefstyl gevestig hê, en dan word
dit ’n lewenswyse. Beck het haar eie raad
gevolg en glo die afgelope vyf jaar sonder
enige dieet of spesiale pogings omtrent 12
kg afgeskud.
49 Beck meen ook dis moontlik om jou
aptyt “af te skakel”. Doen dit deur minder
geurmiddels by jou kos te gooi. Jou lyf roep
gouer halt met eenvoudiger kos, maar vet,
ekstra botter, geprosesseerde kos, souse
en komplekse smake laat ons agter die
smaak aan eet eerder as agter die honger.
Eet ’n aartappel sonder botter pleks van
skyfies as jy uiteet, of geroosterde hoender
eerder as gekrummelde hoender.
GELUKKIGER
Kies jou prioriteite
50 Doelwitte is jou eerste sleutel tot sukses.
Maar pasop dat doelwitte nie met
mekaar bots nie – as jy bevordering by die
werk wil hê en ure oortyd werk, moet jy
besef jy gaan nie baie gesinstyd of tyd vir
jouself hê nie. Sodra jy dit verstaan, sal jy
80% meer tevrede voel, skryf David Niven
in The 100 Simple Secrets of Happy People
(Capstone).
51 Vier dit as jy ’n doelwit bereik het.
Navorsing wys mense wat dit doen, is 50%
gelukkiger met hulself en wat hulle bereik
het as dié wat nooit stop om dit te vier nie.
52 Skakel die TV af. Jy het meer tyd vir
jouself, en navorsing het bewys dat ons
tevredenheid statisties gesproke met 5%
afneem vir elke uur per dag wat ons voor
die kassie bestee. Hoekom? Want ons
begeer meer: besittings, ’n mooier lyf, ’n
gelukkiger lewe. En met al die negatiewe
dinge op televisie, soos misdaad en geweld,
halveer ons ons kanse op geluk.
53 Oefening verlaag streshormone soos
kortisol, en laat endorfiene, of goedvoelhormone,
se vlakke styg. Swem, joga en stap is
die beste maniere om te ontspan. Te veel
kortisol kan jou ook vinniger laat gewig
aansit.
54 Asem in teen stres, sê dr. Andrew Weil.
Sy 4-7-8 asemhalingstegniek is ’n natuurlike
kalmeermiddel, en hoe gereelder jy dit
doen, hoe kragtiger word die uitwerking.
Doen dit minstens twee maal per dag, maar
moenie in die eerste maand meer as vier op
’n slag doen nie. (Dit kan jou aanvanklik
dalk effe lighoofdig laat voel.)
Dit werk so: Jy kan dit enige plek en enige
tyd doen, maar sit met jou rug regop terwyl
jy die tegniek aanleer.
-Plaas die punt van jou tong teen die tandvleis
net agter jou boonste voortande, en
hou dit daar dwarsdeur die oefening.
-Jy gaan uitasem rondom jou tong. Blaas
al jou asem uit deur jou oop mond – maak
’n whoosh-geluid. Maak nou jou mond toe,
en asem in deur jou neus terwyl jy in jou
kop tot by vier tel.
-Hou jou asem op vir sewe tellings.
-Blaas alles uit deur jou oop mond terwyl
jy weer die whoosh-geluid maak en tot by
agt tel.
-Herhaal altesaam vier keer.
55 Hou op om koerant te lees en TV-nuus
te kyk. Lees eerder die belangrikste nuus
van die dag aanlyn op ’n nuuswebwerf,
want daar het jy groter keuse oor wat jy wil
lees, en word jy ontstellende foto’s gespaar.
Jy kan ook heel ingelig bly met radionuus.
Lees eerder ’n opbouende boek of ’n goeie
tydskrif.
56 As jy sukkel om te slaap, probeer om vir
die laaste twee uur voor slaaptyd gedempte
lig of kerslig om jou te hê. Ons liggame vervaardig
melatonien om ons te help om te
slaap, maar kan dit nie doen as ons heeltyd
voor slaaptyd in helder lig of voor die rekenaar
of televisie is nie.
57 Maak jou huis jou hawe. Omring jou met
die goed waarvan jy hou: musiek, kerse,
mooi blomme, ’n vrolike tuin, skilderye,
gemaklike banke, kleurryke mure. Ons is te
geneig om heel laaste geld aan ons leefruimte
te bestee.
58 Kate Emmerson, bekende leefstylafrigter,
sê dis belangrik om jou dag op ’n positiewe
noot te begin. “Dit bepaal die atmosfeer
vir jou hele dag. Sê dankie vir die mooi
dag, bid of sê jou motto hardop.”
59 Help elke dag van jou lewe één mens
met iets – enigiets. “Dit sal nie net daardie
mens se lewe verander nie, maar joune
ook,” sê Kate.
60 Besef daar is sekere dinge waaroor jy
geen beheer het nie (soos die rentekoers,
spitsverkeer, jou baas se buie). Hoe gouer
jy dit aanvaar, hoe minder stres.
61 Verban die woord móét uit jou woordeskat.
Sodra jy voel jy móét iets doen, voel jy
skuldig as jy dit nie doen nie. En skuldgevoelens
lei tot stres. Sê eerder “ek wil” as
“ek móét” – so herprogrammeer jy stresvolle
en negatiewe denkpatrone.
62 Begin ’n dankbaarheidsjoernaal en skryf
elke dag vyf goed neer waarvoor jy dankbaar
is of wat jou gelukkiger laat voel. Wees
elke dag op die uitkyk vir iets nuuts: ’n lentebloeisel,
’n pittige koerantverkoper, goeie
gesondheid, ’n staatmaker-vriendin ... So
leer kyk jy na die lewe met ’n pienk bril.
LEER ORGANISEER
- dit maak alles makliker
63 Kry ’n groot swartbord of aantekeningbord
waarop jy jou gesin se skedule vir die
week kan aanbring. So weet jy met ’n enkele
oogopslag wie wanneer waar moet wees en
wie wat moet doen.
64 Steek jou trots in jou sak en vra hulp as
jy nie alles kan doen nie. Vra ’n vriendin om
’n kind op- of af te laai, of brood en melk te
koop as sy in elk geval by ’n winkel stop
voor sy na jou toe kom. Dit kan jou baie tyd
(en stres) spaar.
65 Leer delegeer – ’n goeie bestuurder is
juis die een wat nie alles self doen nie, maar
sy kollegas en juniors se talente en energie
inspan.
66 ’n Oorvol e-pos-inmandjie steel tyd en
energie, maan Kate. “Dit laat jou oorweldig
voel om elke keer in honderde e-posse vas
te kyk. Vee uit waarmee jy klaar is.” En
wees meer radikaal in 2009 met jou e-posse.
“Lees net twee maal per dag e-posse.
Stel ’n outomatiese antwoord op wat mense
inlig oor watter tye jy e-posse lees en op
hul e-posse sal reageer. As dit dringend is,
sal hulle jou bel.”
67 Moenie alles hou wat jy kry nie. “As jy
nie van ’n geskenk hou nie, gee dit weg. Dit
verander niks aan die bedoeling van die
gewer nie, en jy hoef nie skuldig te voel nie.”
68 Maak een klerekas skoon voordat die
kerkklokke 2009 inlui. “Dit sal jou die jaar
laat begin met meer ruimte – letterlik,” sê
Kate. “Gee weg wat jy lank nie gedra het nie
– dit sal jou ook goed laat voel. En as jy in
2009 gaan klere koop, vra jou elke keer
eers af of jy dit werklik nodig het. Sal dit
werklik waarde tot jou lewe toevoeg?”
69 Hou dagboek van belangrike datums en
gebeure, maar pasop vir te veel lysies. ’n
Lysie wat nie afgemerk word nie, kan jou
weer opsaal met onnodige skuldgevoelens.
70 En die topwenk vir 2009? Leer ’n nuwe
woord: “Nee!” Jy kompliseer jou lewe en
verdonker jou gemoed omdat jy te maklik
ja sê vir wat ook al, of dit nog werk is of
sosiale verpligtinge waarvoor jy nie regtig
lus is nie.
© rooi rose |