Dit gaan nie goed met Emma in ‘7de Laan’ nie, maar vir Bertha le Roux is 2010 ’n blomjaar. Sy is dolgelukkig en daar is twee nuwe babas op pad. Deur Suzanne Venter. Foto’s deur Leana Clunies-Ross
GRIMERING PIERS BRAYBROOKE; HARE SADIQUE RYKLIEF; PRODUKSIE HANNELIE DIEDERICKS; STILERING SUZANNE VENTER; KLERE STUTTAFORDS; JUWELE SASS DIVA
Bertha le Roux lyk blosend gelukkig met skop in haar maag en klop in haar hart. Daar is twee nuwe babas op pad vir haar en haar man, Karel Wahl - een in Mei en een in Julie. “Ons wil nie hê die driejarige Kiana moet alleen grootword nie en is baie opgewonde oor die winterbaba wat ek verwag. En in Mei kom die ander ‘baba’ – ons bring ons eie onderneming op die been, Baby B, ’n Afrika geïnspireerde klerereeks vir babas en kinders,” sê Bertha wat die rol van Emma in die gewilde sepie 7de Laan vertolk.
En ja, die swangerskaap gaan in 7de Laan ingeskryf word! Bertha is baie bly daaroor. “Met Kiana was Emma nie swanger nie en ek moes die hele tyd agter groot handsakke en goed wegkruip sodat die kykers nie my ronde maag kon sien nie. Dit plaas net onnodige druk op jou as jy by die werk nog oor jou figuur ook moet stres.” Ná al die drama met haar TV-geliefde, Dawid, gaan Emma besef dat sy swanger is met sy kind. Dit boonop net nadat hy haar gelos het en sak en pak terug is Australië toe. Ai! Wat gaan nou tussen Emma en Dawid gebeur? Gaan sy hom vertel? Gaan hulle weer bymekaar uitkom? Gaan die arme Emma ooit weer gelukkig wees? Kyk maar self of 2010 vir Emma ook so ’n goeie jaar soos vir Bertha gaan wees, want interessant gaan dit beslis word.
Die groot uitdaging Bertha is ’n sterk vrou, maar om swanger te wees het sy uitdagings. “Ek sien die meeste op na my voete wat so swel! Met die eerste swangerskap het hulle ’n nommer groter geword. Ons het naderhand die voetenent van die bed gelig en toe het ek darem soggens met enkels wakker geword, maar teen tienuur was hulle weer weg. Toegeswel.” En dan is daar natuurlik die ewige gewigskwessie ... Dis nie vir haar lekker as almal so op haar gewig fokus nie, maar sy besef dat dit deel van haar beroep is. “Ek is maar op en af, en ja, wat gewig betref, is ek seker maar die Oprah Winfrey van Suid-Afrika.” Met Kiana was dit anders. “Hierdie keer is daar ’n bietjie meer spanning omdat ek onlangs so baie gewig verloor het. Mense hou my dop. Veral as ek iemand lank laas gesien het en hulle gee my daardie once over-kyk. Dis nie lekker nie. Dit maak seer. “Ek kan my sommer maklik oor my gewig bekommer, maar ek het nou die regte riglyne en weet wat om te doen om my gewig te handhaaf. ’n Mens moet net nooit die illusie hê dat jy kan dieet tot jy maer is en dan is dit verby nie. Dit hou nooit op nie. Jy moet elke dag aan jou lyf werk en jou common sense gebruik as jy eet.” Die feit dat sy so baie gewig verloor het, het haar meer selfvertroue gegee. “Dis lekker as mense vir jou sê jy lyk goed. Aan die ander kant, as ek nie in hierdie bedryf was nie, sou my gewig nie so ’n issue gewees het nie. “Maar nou is ek passievol oor toneelspeel en my voorkoms is deel van die job. Daar is baie aktrises wat sukkel om werk te kry omdat hulle nie die regte look het nie. Dit veroorsaak geweldig baie stres. Daarom is ek dankbaar vir Danie en 7de Laan wat meer met mense met gewone lywe werk. As jy na ons spelers kyk, is daar iets van alles - mooi, maer, mollig, normaal. Almal is nie noodwendig oil paintings nie. Dis een van die groot redes hoekom die kykers hulle so maklik met die reeks kan vereenselwig.”
Baby B
Maar naas die soet en die suur van sepiester wees en die koms van ‘n tweede baba, is daar ook nog hul Baby B-klerereeks wat ekstra glans aan Bertha se mooi blou oë gee. Sy en haar man, Karel Wahl, is vuur en vlam oor dié klerereeks wat net ‘n kortkop voor die regte baba die lig gaan sien. “My ma, Griet, het saam met haar suster Corrie van Aardt vyf jaar gelede ’n projek in Zambië begin waar sy vroue oplei om naaldwerk te doen. Sy was ’n naaldwerkjuffrou en gaan steeds twee keer per jaar Zambië toe om nog vroue op te lei.” Ná Kiana se geboorte het Bertha agtergekom daar is ’n mark vir baba- en kinderklere met ’n Afrika-tema: “Baby B word in Mei bekend gestel. Die kleertjies word van kleurryke Katinga-materiaal uit Zambië gemaak; dit lyk soos shweshwe, maar die lap is sagter. “Die stikwerk word gedoen deur die Zambiese vroue, asook plaaslike vroue wat by ‘n soortgelyke projek in Roodepoort opgelei is. Op die manier skep ons sommer vir hulle ook werk. Die klere is prakties en omkeerbaar en gaan op die Internet te koop wees.” (Kyk solank by www.babyb. co.za)
Ma-wees kom natuurlik
Die voorlopige geboortedatum is 14 Julie, sê Bertha. Sy hoop dat dit soos met Kiana ook ’n watergeboorte gaan wees. Sy gesels opgewonde oor die vooruitsig om weer ’n nuwe baba in haar arms te hou: “Die kleinheid van alles omtrent ’n pasgebore babatjie is te wonderlik. Dis so interessant om te sien hoe jou kind van ’n pap baba tot ’n mensie ontwikkel. ‘n Mens vergeet net so maklik - ons gaan dalk nou weer heeltemal onhandig wees met die nuwe, klein lyfie. Met Kiana het ons besluit sy gaan nie breek nie, ons kan maar aan haar vat!” Maar sy klink nie te veel gepla nie. Vir haar is ma-wees ’n natuurlike proses: “Ek glo jy moenie jou te veel bekommer of jy altyd alles reg doen nie. Niks kan so sleg wees vir jou baba soos spanning nie - as dit uiters stresvol is om die regte dinge te doen, buig maar daardie lang lys van moets en moenies so ’n bietjie. En doen vorentoe jou bes. “Daar is in elk geval so baie mense wat kan help en nog soveel boeke ook. Maar moenie alles lees wat beskikbaar is nie! Dit sal jou net deurmekaarmaak. Slaan maar net die inligting na wat jy in daardie stadium nodig het.”
Watergeboorte
“Ek hou van ’n watergeboorte”, sê Bertha. “Die baba is in die baarmoeder in vloeistof, en dis baie traumaties vir hom om deur die geboortekanaal te gaan. Dis beter om uit te kom in ’n omgewing wat hy ken - van een vloeistof na ’n ander. “Die water is liggaamstemperatuur, en die baba kry nie die groot skok wat die blootstelling aan die skielike koue lug meebring nie. Die lou water verlig my spierpyne en krampe en help my ook om te ontspan. “Die baba haal onder water nog deur die naelstring asem en word onmiddellik op jou bors neergesit. Sodra hy begin asemhaal, word die naelstring afgesny. “’n Geboorte is maar altyd seer, maar enige ma sal vir jou sê: as die babatjie eers in jou arms is, onthou jy glad nie meer die pyn nie.”
En wat van Pa en Sussie?
Bertha vertel dat Karel ‘n groot rol in Kiana se lewe speel en haar regterhand sal wees as sy die baba moet versorg. Hulle was vyf jaar getroud voordat Kiana gebore is. Dis vir haar belangrik dat daar ’n gevestigde verhouding moet wees voordat daar kinders kom. “Dit is so ’n groot verandering en dis goed om in daardie wakker nagte te weet jou maat is daar vir jou.” Karel is baie betrokke by die swangerskap. Hy gaan saam ginekoloog toe, help haar as sy moeg is en gun haar ook ’n middagslapie terwyl hy vir Kiana besig hou. “Hy is dierbaar. Met jou tweede swangerskap is jou tyd minder buigbaar omdat daar reeds ’n kind is. Hy is baie oulik met Kiana en ek is mal oor die manier waarop hy vir haar wys dat hy lief is vir haar - hy is vol drukkies en soentjies. Hy doen soveel moeite om spesiale tyd saam met haar deur te bring.” Kiana weet dat ’n boetie of sussie op pad is en dat dié in haar ma se maag is, maar verstaan nie mooi nie. “Sy sal nou en dan na my maag wys en vir my sê, ‘Babatjie slaap’.” Bertha se ma, Griet le Roux, het uit ervaring geleer dat dit ’n uitdaging kan wees om aan twee kinders aandag te gee, maar sy is seker dat Karel en Bertha dit sal kan hanteer. “Hulle is baie gebalanseerd in die manier waarop hulle met hul kind werk. Bertha was van kleins af ’n groot voorstander van regverdigheid.”
My kind, kos en kreatiwiteit
Dis vir Bertha belangrik om ’n gesonde en gebalanseerde verhouding met kos by haar kinders te kweek. “Toe ons kinders was, het baie van ons ma’s geweier dat ons lekkers eet, maar ons was verplig om al die kos in die bord op te eet. “Eers later het ek weer aan een van my vriendinne gedink: daar was ’n kas vol lekkernye in hul huis. Hulle kon elke dag een item uit die kas kies en eet en sy was altyd so maer soos ’n riet! “Dis in die mens se aard om verbode vrugte te wil hê – as jy dit nie kan kry nie, gaan jy ’n obsessie daaroor ontwikkel. “Kiana eet elke dag ’n lekker en dis oukei. Op die oomblik is sy goed gebou en baie aktief en ek hoop dit bly so. Ek dwing haar ook nie om te eet nie. As sy nie wil eet nie, los ek haar, maar dit beteken nie dat sy die hele dag kan peusel en dan haar etes kan oorslaan nie.” Bertha glo ook daaraan om Kiana op verskillende maniere te beloon. “As ek haar vra om vir my iets te doen en sy doen dit sonder ’n gekla of wanneer sy haar goed gedra het, sal ek soms vir haar sê ons kan gaan verf omdat sy so mooi soet was. Of ek gee vir haar ’n lipglans en soms ’n lekker, maar nie altyd kos nie. “Ons dans ook graag saam. Ek probeer om elke dag iets kreatiefs saam met haar te doen.”
’n Oop kop
Dis vir Bertha belangrik om oopkop te bly, hetsy op sakegebied, toneelspel of ouerskap, wat vir haar ’n groot verantwoordelikheid is. “Jy moet dit met liefde benader. Jy moet aanpasbaar wees - don’t get stuck in your ways! As daar ’n probleem opduik, kry al die inligting en besluit watter oplossing gaan vir jou werk.” “Een ding wat Bertha ook goed weet, is dat jou kind doen wat jy doen en nie noodwendig wat jy sê nie,” voeg ma Griet by. Vir Karel en Bertha is onvoorwaardelike liefde vir hul kinders die belangrikste. “Jy moet maar op jou instink vertrou, en elke nou en dan sal jy van mening verander en dinge anders benader. Dis ’n konstante leerskool,” sê die mamma terwyl sy tevrede oor haar sexy boepie vryf.
|