Tot onlangs het die idee van mat grimering my laat dink aan Patsy van Ab Fab (1964), maar dinge het heelwat verander sedert die voorkoms byna vyf dekades die eerste keer in was. By die Lente/Somer-modevertonings het modehuise soos Gucci, Givenchy, Chloe en Ana Sui modelle met mat grimering by die loopplank afgestuur. Hulle het glad nie moeg en afgemat gelyk nie, inteendeel, hulle het stralend gesond en pragtig gelyk. Dié voorkoms gaan gróót wees hierdie somer en ons moet maar gewoond word daaraan. Moenie sê ek het julle nie gewaarsku nie! Hoewel ek net ‘n paar produkte as voorbeelde gebruik, is daar heelwat handelsname met mat skakerings. Wat jy ook al kies, moenie iets met blinkertjies gebruik nie! Hier is my wenke om die nuwe mat voorkoms te kry.
Gesig
Diegene met ‘n olierige vel, kan blotting sheets gebruik om van die glans ontslae te raak, en sit genoeg gedrukte poeier aan sodat jou vel heeltemal mat lyk. Ons hou van essence Pure Skin Green Tea Oil Control Paper (R39,99 van Clicks); Bobbi Brown Blotting Papers (R325); Charlie Face Makeup Compact Mineral Powder (R64,95) en Chanel Mat Lumiére Compact (R535). Danksy tegnologie, kan diegene met ‘n droë vel ook die mat voorkoms dra sonder om soos ‘n slang te lyk wat vervel. Die nuwe formules bevat bestanddele wat die vel bevog en voed. My gunstelinge is Rimmel Stay Matte Foundation (R99,95) en Maybelline Dream Matte Mousse Foundation (R144,95).
Oë
Weer eens help die nuwe tegnologie ons om pragtige mat oogskadu te kry wat heeldag aanbly en nie soos bordkryt lyk nie. Sterker pigmente beteken ook dat jy nie met ligte, uitgewaste kleure tevrede hoef te wees nie. Wees net versigtig met die aanwending. Om hierdie voorkoms modern te hou, gebruik donker skakerings na aan die wimpers, en skakeer na ligter tot onder die oogvou. Moenie ooit verby die oogvou gaan nie! As jy dit doen, het ek net twee woorde vir jou – Sue en Ellen! My gunstelingprodukte is Revlon Matte Eye Shadow (R89,95) en Bourjois Little Round Pot Matte Effect Eye Shadow (R79,95).
Lippe
Jou lippe gaan die meeste tyd in beslag neem. Mat lipstiffies het al baie verander, maar hulle is steeds geneig om droër as gewone lipstiffies te wees. Daarom is dit belangrik dat jou lippe in ‘n goeie toestand is. Ek gebruik eers ‘n waslappie of ou tandeborsel om van die droë velletjies op my lippe ontslae te raak. Doen dit nadat jygestort of gebad het sodat jou vel sag is en die dooie selle makliker afvryf. Sit dan ‘n titseltjie voedende lipsalf aan. Ek gebruik Elizabeth Arden se 8 Hour Skin Protectant (R135) elke dag. Blistex Natural Cooling Comfort Balm (R60) is ‘n goeie alternatief. As die room heeltemal geabsorbeer is, kan jy jou lipstiffie aanwend. Hier hoef jy nie ‘n lippotlood te gebruik nie, want die formules is droër en die kleur sal nie bloei nie. Dit sal ook natuurliker lyk sonder ‘n lyn aan die buitekant. Die beste mat lipstiffies wat ek kon kry, is MAC Lipstick (R145, in enige kleur denkbaar) en Revlon Matte Lipstick (R94,95) in tien skakerings.
Naels
Ek dra die nuwe mat naels al ‘n paar weke lank en is nou mal daaroor! Dit lyk nie net goed nie, maar dit is minder werk as die blink naels waaraan ons gewoond is. Die beste deel van dié voorkoms is dat jy nie al jou mooiste kleure se mat weergawes hoef te koop nie – jy hoef net een bottel te koop! ‘n Paar handelsname het ‘n mat bolaag bekend gestel wat jy net oor jou gunstelingkleur aanwend en siedaar! mat naels! Rond die voorkoms af deur seker te maak jou naelvelletjies en hande bly goed bevog. Ek gebruik Essie Matte About You (R150,95) en Tip Top Matt-nificent (R39,95 van Clicks).