Vlymskerp
 


Komediante hou daarvan om met Renée Zellweger se kenmerkende gesigsuitdrukkings die gek te skeer, maar daar is niks komiekliks aan hierdie formidabele aktrise nie, skryf Margaret Gardiner

VERTAAL DEUR HANNELIE DIEDERICKS

Renée Zellweger is slank en soepel - van die plomp meisietjie in Bridget Jones’s Diary is daar niks oor nie. Soos Jennifer Aniston sit haar klere styf aan haar gespierde maar fyn lyfie, maar vir Renée gaan dit nie oor sexy lyk nie, eerder oor snit en ontwerp. Vandag het sy ’n grys Carolina Herrera-oorvourok aan met Christian Louboutin-sandale en ’n yslike David Yurman-ring (maar, verseker sy my met daardie heserige stem, alles is “recycled”). Haar vel is melkwit. Haar hare wat lyk of hulle ’n wil van hul eie het, is dunnerig en is selde “gedoen” wanneer sy die media te woord staan. Komediante hou baie daarvan om Renée na te maak – met bolwange, skrefiesoë en getuite lippe. Maar jy gaan aan die kortste end trek as jy dink sy is ’n nar. Sy lyk dalk weerloos en spot gemaklik met al haar tekortkominge, maar moet haar nie vlak kyk nie. Sy is vlymskerp met staaldraad in haar ruggraat. As sy haar vererg, sal sy sonder om enigiets van haar vriendelikheid te verloor, skielik kiertsregop sit, jou vaspen met haar blou oë, haar mond tuit en presies vir jou sê wat sy dink. Sy kan haar man staan. Ook toneelspeel, sing, dans. Én sy het ’n Oscar. Met al ons gelag en gesels in die Four Season’s Hotel in Beverly Hills het sy oor een onderwerp geswyg. Sy was tjoepstil oor die gegons in die skinderblaaie dat sy ’n verhouding met Bradley Cooper het. (Bradley is die ster van The Hangover en gaan as Face in The A-Team te siene wees). Sy straal van geluk, maar ek kry die indruk dat dit nie die liefde is wat haar so laat gloei nie. Sy is op ’n plek in haar lewe waar sy gelukkig is met haarself - en dis tog waarna ons almal streef.

Jy werk vreeslik hard, maar het darem onlangs in Europa gaan vakansie hou ...

Ek het in Januarie ’n fliek voltooi en ’n paar ander is uitgereik, toe besluit ek dis tyd vir vakansie. Ek en ’n paar vriende het eers ’n restaurant in East Hampton oopgemaak – iets wat ek nog altyd wou doen. Natuurlik het ek nie besef waarvoor ek my inlaat nie. Ons het van die verbouings self gedoen, en ek het lank met ou stukke hout en toiletsitplekke in my motor rondgery. Ek het graag margaritas by dié restaurant op die strand gaan drink en toe die branderplankryereienaar besluit om warmer waters te gaan soek en die plek te sluit, het ons dit gekoop. So, eintlik het ek dit om selfsugtige redes gedoen. Daarna het ek lank by my familie gekuier en toe is ek Parys toe saam met vriende wat in die modebedryf werk. Dit was heerlik. Ek het nog nooit kans gehad om Parys regtig te ervaar nie, want ek werk gewoonlik wanneer ek daar is. Dit het my brandstof gegee vir alles wat voorlê.

Hoe hanteer jy al die aandag, veral van die media?
Dis altyd daar. Die omvang neem net toe as daar iets wonderliks of iets tragies gebeur, maar dis altyd daar. Wonderbaarlik genoeg raak ek nou gewoond daaraan, of dalk aanvaar ek dit net. Maar dit pla my nie meer so erg soos voorheen nie. Ek het ’n snaakse weersin daarin gehad. Ek kon glad nie verstaan waarin hulle so belang stel nie, dis so onnatuurlik. Daar is niks natuurliks daaraan as iemand in jou tuin wegkruip en hom verbeel jy sien hom nie (lag). Ek het geleer om aan te gaan en my ding te doen. Verloor die minste, is my leuse. As jy gaan verloor, verloor die minste.

Voel dit soms vir jou of al die goeie ouens al gevat is?

Ek sal eers op ’n sielkundige se bank moet gaan sit en ’n uur lank hieroor moet praat, want ek dink nooit daaroor nie. Ek is gelukkig met wat in my lewe aangaan. As almal net gesond is, is ek tevrede. Dit is nogal interessant dat my tydge-note se lewens op die oomblik heeltemal verander. Hulle vertolk nou ook ander lewensrolle, en ek nie, en dit is nogal vir my vreemd. Mense kyk op verskillende maniere na die fases in ’n vrou se lewe. Maar ek is gelukkig met my lewe, en dit het niks te doen met iemand in my lewe, of wat ’n potensiële rol in my lewe kan speel nie.

Is dit makliker om in jou twintigerjare met mans uit te gaan as wanneer jy veertig is?

Ek weet nie, ek dink nie so nie. As jy twintig is, sukkel jy nog met soveel dinge, jy probeer nog vassstel wie jy werklik is, en jy het nog nie duur lewenslesse geleer nie. Teleurstellings is die eerste keer ook soveel pynliker. Die beste antwoord is dat ek nie tyd het om hieroor te tob nie, dankie tog.

Het jy ooit deur ’n fase gegaan dat jy ’n man gesoek het om vir jou te sorg?

Dis snaaks! My ma was van baie jonk af op haarself aangewese - sedert sy 14 is, bestaan haar lewe uit avontuur. Sy het my altyd aangespoor om eerlik met myself te wees en vas te stel wat my gelukkig maak. Die fokus was op wat ek wil doen en nie om ’n man te soek om vir my te sorg nie. Daarin stel ek nie belang nie. Maar ek stel wel daarin belang om dinge te deel. Alles verloop nie altyd glad nie, en dit sou lekker wees om die moeilike tye met iemand te deel.

Sou dit anders gewees het as jy nie geld gehad het nie?
Onthou, ek het nie altyd geld gehad nie, maar ek het nooit gevoel ek het iemand nodig om na my om te sien nie. Ek het ’n pa en hy doen sy werk goed. Ek het nie nog een nodig nie.


Het jou benadering tot jou werk verander namate jy ouer geword het?
Ek is nie meer tevrede met dinge soos dit is nie. Ek is nou op soek na iets met kreatiewe substansie waarop ek my stomp tande kan slyp. Ek is gereed om iets aan te pak wat op ’n nuwe manier uitdagend en bevredigend is. Die afgelope paar jaar was baie interessant, maar ek is gereed vir iets nuuts. Dis tyd om op ’n nuwe manier te groei, maar ek weet nog nie hoe nie. Ek sal iets kreatiefs wil doen, maar nie noodwendig toneelspeel nie. Dis nogal interessant om in hierdie stadium van jou lewe met iets nuuts te begin. Ek wil nie uitwei nie, want daar is niks so vervelig soos iemand wat heeltyd praat oor wat hy gaan doen en nooit daarby uitkom nie.

Jy het al genoem dat jy ’n notaboekie het waarin jy alles neerskryf waaroor jy dankbaar is. Jou jongste inskrywing?
My skoonsuster het onlangs gesondheidsprobleme gehad en moes ook ’n groot operasie ondergaan. Maar alles het goed afgeloop. Daaroor is ek dankbaar.


Wil jy steeds ’n ma word?

Ek dink dis wonderlik dat vroue deesdae soveel opsies het. Die tydperk waarin vroue swanger kan raak, is nou heelwat langer as jare gelede. Ek dink nie spesifiek oor kinders en swangerskap nie. Ek weet nie of dit deel van my lewe gaan wees nie, maar ek leef my lewe - of ek swanger is of nie. Dis soos om te wag en sien wat in die volgende episode gaan gebeur. Ek is nie obsessief daaroor nie, en gaan gewis nie ’n kind kry net om te sê ek het dit gedoen nie. Ons sal sien wat gebeur.

Kan jy oor die moontlikheid van ’n derde Bridget Jones-fliek praat?

Ek weet regtig nie daarvan nie. Toe ek onlangs van ’n vliegtuig afklim en my selfoon aanskakel, was daar ’n klomp boodskappe en gelukwensings oor die derde Bridget Jones-fliek. Maar tot dusver het niemand my gebel nie.

Sal jy weer ekstra gewig aansit vir die fliek?

As dit die moeite werd is en die draaibroek is buitengewoon goed, sal ek dit oorweeg.
Vertel ons van jou skoonheidsgeheime. Dit lyk of jy vyf keer per week gim toe gaan? Ses. Ek oefen vir my algemene en spirituele welstand. Ek moet ten minste ses keer per week gim toe gaan omdat ek nie andersins sal weet hoe om al die snaakse dinge wat elke dag met my gebeur te hanteer nie. Dit is my private tyd, dit gee my energie en hou my gebalanseerd. En natuurlik help dit om ’n mens goed te laat lyk – die denim se ritssluiter kan darem tot bo toetrek (lag).

Hoe sou jou perfekte dag lyk?
Die weer moet soos vandag wees. ’n Sonskyndag met ’n tikkie herfs in die vars, koel briesie. Op ’n dag soos vandag voel ek altyd asof enigiets moontlik is: Ek sou iets skryf waarop ek trots is, ek sal ’n idee kry vir ’n inspirerende, kreatiewe projek en tyd daaraan bestee. Ek sal ’n telefoonoproep kry wat my gelukkig maak. Ek sou liefde wou beleef. Ek sal wil gaan slaap met die gedagte dat niks verkeerd is nie. Dít klink vir my na ’n goeie dag.

 
2010-06-29
back

 
 

 


  

  


 


 



 

  


Contact Caxton Magazines on
(011) 889 0600
or
click here
to go to the website.

Subscription queries: 011 473 8700