Hestrie Els het soos ’n rots agter Jurie gesit toe hy die beskuldigings van kindermolestering een vir een moes afweer. ’n Toets wat baie vroue nie sou slaag nie. Veral nie as hulle soos sy ’n keuse gehad het nie. Deur Ester van Zyl. Foto’s deur Ulandi Sanders
FOTO’S ULANDI SANDERS 072 348 4837; HARE REG, PLANET WAVES 012 997 2207; GRIMERING CAREN LEITA 082 689 0504
Bokka, gaan jy my los?” Jurie Els het Hestrie ’n keuse gegee. ’n Kans om die smerigheid van die saak waarin Robbie Klay hom van kindermolestering aangekla het, vry te spring. “Ek kon nie toekyk hoe Hes en die kinders ook afgetrek word in die slyk van snedige poniepersberigte, veroordelings en geskinder nie.” Die hofsaak het vir Hestrie ’n hoër dwarslat gestel as die aand in 2003 toe ons saam met haar gejuig het nadat sy in Parys die wêreldkampioenskap met ’n sprong van 2,06 m gewen het. Soos met elke probeerslag het sy daardie dag ook haar vreemde ritueel gevolg. Sy kon haar voor ’n sprong so fokus dat sy in haar kop die aanloop en wip oor die dwarslat met geslote oë en handbewegings kon maak. Dit het haar laat voel sy het beheer oor die sprong. Maar oor die sprong van haar lewe, die hofsaak tussen Jurie en Robbie, het sy geen beheer gehad nie.
Sy kon nie daarvoor oefen nie. Haar coach kon haar nie daarmee help nie. Gelukkig kon haar talent om te fokus haar dra om nie te knak nie. “Dit was moeilik om Jurie so te sien. Die ding het aan hom gevreet.” Sy het by haar man gestaan, al het die meeste Suid-Afrikaners hom verguis en veroordeel nog voor die regter sy uitspraak gelewer het. Van die eerste dag af het sy onwrikbaar aan sy onskuld geglo. Die eienskappe wat haar van die begin na hom aangetrek het, was sy eerlikheid, opregtheid en daardie sagtheid wat ongelukkig juis van hom die ideale teiken van sensasiesoekers en boelies maak. Hes het agter hom in die hof gesit en sy hand vasgehou as hulle uitstap. Dink wat julle wil, het sy gedink. Ek weet wat ek weet. Dertig uitmergelende dae lank het sy meer adrenalien beleef as in haar glorieryke atletiekloopbaan. Daarmee kon sy met grasie seil oor die hoogste dwarslat van haar lewe.
Soos ’n kampioen. ’n Kampioenvrou. “Jurie het my nog die oggend van die uitspraak laat belowe ek sal nie in die hof voor die media huil nie, maar toe die regter hom vryspreek, was alles net te veel.” Haar huwelik met Jurie was van die begin af in die kollig. Hulle is dan so ’n vreemde kombinasie? Die kampioen-hoogspringer en die Afrikaanse sanger wat as jong onderwyser Noot vir Noot gewen het en miljoene los gesing het met ’n stem wat hy self erken, nie juis die beste in die wêreld is nie. Van Coligny tot in die Kaap het dit oor hul troue gegons.
Die meisie van Coligny, wat skynbaar in Wes-Transvaalse nirwana geleef het saam met haar werktuigkundige man, was eens ’n medialiefling. Maar toe sy met Jurie Els trou, het die poniepers behoorlik begin galop. In kroeë in Coligny het Wes-Transvaalse boere met skuimkopbiere in die hand grappies gemaak oor die bruidegom wat kwansuis op die troue meer grimering as die bruid aangehad het. Oor teekoppies is met dun lippies voorspel die huwelik sal nie ’n jaar hou nie. Geelpersblaaie het basuin dit kan net ’n publisiteitsfoefie wees. Die ideale, omstrede paartjie wat koerante se sirkulasie kan opjaag. En Robbie se klag het hul storie tog so sappig gemaak. Jurie met die ewige glimlag. Sagte Jurie wat so graag mense gelukkig wil maak en help. Kolskoot Jurie. Want daar kon netsowel ’n teiken op sy voorkop gewees het. Twee jaar lank het “juries” by teekanne hul oordeel gevel: Beslis skuldig! Tot Robbie begin getuig het. Oeps ja, dalk is hy toe nie skuldig nie, moes teekanjuriste beken. Maar Hes het heeltyd geweet. Soms was sy kwaad oor Robbie haar gesin se geluksborrel kom bars het. Sy en Jurie het besluit om twee jaar as Sabbatstydperk in Nieu-Seeland te gaan woon sodat sy en Chrizette ook verblyfreg kon kry.
Die eerste jaar sou hulle aan hul outobiografieë skryf en die tweede sou Jurie toer tussen die Suid-Afrikaners in Australië en Nieu- Seeland. Vrede, rustigheid, uit die mediakollig. Dié droom het presies elf dae gehou nadat hulle in Nieu-Seeland aangekom het. Hestrie was nog besig om bokse uit te pak en het tussendeur op die Internet geloer wat in Suid-Afrika aangaan. Geskok het sy gelees Robbie beweer hy is deur “’n bekende in die vermaakbedryf” as kind gemolesteer. Nie sy of Jurie het die vaagste vermoede gehad na wie Robbie verwys nie. “Ek het sommer dadelik gedink dis ’n klomp twak, want as so iets met Robbie gebeur het, sou hy dit met my bespreek het. Ek was immers vir hom soos ’n vaderfiguur. Maar ek was ook woedend, want as iemand Robbie wel gemolesteer het, moet hy ontbloot word, het ek nog vir Hes gesê.” Jurie het ook oor die aantygings getwyfel. “Ek ken Robbie en sy ma en het vermoed dis dalk ’n publisiteitsfoefie. Ek het gedink hulle is weer besig met ’n plan. Want as jy die verhaal van jou molestering by skole en kerke gaan vertel, is dit goed vir jou verkope. Mense bespreek jou vir vertonings, want jy het ’n aktuele saak om oor te praat. Ek het gedink dis ’n herhaling van die vorige rondte. Toe hy op vyftien ’n buite-egtelike kind gehad het, het hy en sy ma dit omgedraai om sy loopbaan te bevorder.
Hy het landwyd by kerke en skole oor die gevare van tienerseks gepraat.” Toe kom die e-pos van Huisgenoot wat sê dis na hom wat Jurie is, wat Robbie verwys. “Ek was verstom oor die belaglike aantygings. Boonop wou Huisgenoot hê ek moet binne enkele ure kommentaar lewer, anders publiseer hulle die storie sonder my kant van die saak. Hoe kan jy halftwee die nag ’n verklaring uitreik oor iets wat jou gesin en jou lewe kan vernietig?” Jurie hou vol hy was nie gespanne oor die aantygings nie, want hy kon nie glo dat iemand die aanklag teen hom sou glo nie. “Ek het nie gedink die pers gaan hulle daaraan steur nie, want hulle ken mos vir Robbie. Ek het nie kon droom dit sou so ver gaan nie. Ek het geglo ’n interdik sou alles stilmaak. Soms kan ek steeds nie glo wat gebeur het nie. Die eerste keer toe ek hom gesien het, was hy ’n oulike seuntjie met ’n x-faktor wat ek besef het mense sal kan vermaak. ’n Klein Leon Schuster wat grappige liedjies gesing het waarop gehore dol was.
Ek het hom bekend gemaak en hy het voor my van ’n seuntjie in ’n man verander.” Die interdik teen Huisgenoot is nauurs by die regter se huis toegestaan om te keer dat Jurie se naam, reputasie en loopbaan skade ly sonder dat hy die kans kry om sy saak te stel. Jurie het daarna Suid-Afrika toe gevlieg. “Ek het nie slapelose nagte oor die saak gehad nie, want ek het die Huisgenoot-storie lyn vir lyn deurgegaan en daar was byna veertig leuens wat ek kon bewys. Ek het gereken as ek kan bewys hy jok so oor dinge, sal mense weet hulle kan hom nie glo nie.” Maar in die twee jaar se wag voor die Staat hom sou aankla, was daar vanselfsprekend kommer en ’n donker tyd van depressie. “Dit het in ’n stadium behoorlik gevoel of ’n swart wolk oor my kop hang. Ek kon net nie daarvan ontslae raak nie.
Ek het baie gebid, maar nooit gehuil nie. Een oggend was die wolk net weg. Ek het met Jason op my skouers by die huis uitgestap en die sonskyn op ons ervaar. Ek het gevoel hoe die donkerte van my wegskuif en ek het geweet ons gaan oukei wees,” vertel Jurie. Hestrie het ’n paar staatmakervriendinne se skouers natgehuil. Ook uit Suid-Afrika het vriende soos Paul en Lottie Vorster en die modeontwerper Simon Rademan, Lance James, Joanna Field, Caroline du Preez en ander lojale vriende liefde en steun gegee. Een oggend het Hestrie staan en stryk en na ’n geestelike TV-program geluister. “Skielik was daar ’n diep verlange na my ouers. Ek het vir hulle ’n lang, versoenende brief geskryf. Ek het al die liefde moontlik nodig gehad en ek wou hul liefde ook hê.” Robbie se aantygings het Hestrie verstom. “Ek het wel ’n rusie met Robbie oor die terugneem van ‘n motor gehad, maar ons het meer as ’n jaar daarna nog sy CDbekendstelling bygewoon. Daar was nie toe kwade gevoelens nie. Ek het gewonder: Hoekom nóú? Hoekom wag tot ons getroud is en daar kinders is en ons uit die land is?” Sy het gevoel die gelukkige gesin waarna sy nog altyd gesmag het, word bedreig. “Ek wou van kleins af net gelukkig getroud en ’n ma gewees het. Ek het mettertyd ervaar dat die baba wat ek in my eerste huwelik verloor het, God se wil was.
Op sewe weke het die dokter gesê hy kry nie ’n hartkloppie nie en ons moet tot nege weke wag. Daardie twee weke het ek myself belowe as die baba leef, sal ek my alles insit om die huwelik te laat werk.” Al was haar eerste huwelik nie ’n sukses nie, was dit nie noodwendig die motivering om die tweede huwelik tot elke prys te laat werk nie. Toe Jurie haar die keuse van vryheid gee, kon sy die maklike uitweg kies, maar sy is opreg lief vir hom. Dit was nie ’n kwessie van die huwelik maak werk nie. Die standvastigheid was reeds daar. “Nou kan niemand sekerlik meer aan ons liefde twyfel nie.” Dit het haar seergemaak dat Robbie kon sê hy voel bitter jammer vir my en my kinders as Jurie tronk toe sou gaan. “Hy het sonder ’n pa grootgeword. Hoe kon hy ’n klag indien wat my kinders van ’n pa sou beroof?” Sy het gewroeg oor hoe sy eendag vir Chrizette en Jason sou verduidelik as hul pa wel tronk toe sou gaan. Jurie sê hy was van die begin af, selfs met die hofsaak, nie bang dat hy tronk toe sou gaan nie.
Jurie en Hestrie het talle beloftes uit die Bybel gekry dat hulle oukei gaan wees. Hulle glo onwrikbaar dat God getrou is en dat die waarheid altyd sal seëvier. “Die gangetjie af na die selle loop reg uit die beskuldigdebank. Ek het menige dag in die hofsaak na die trappe wat afloop na die selle staan en kyk en in my hart geweet ek gaan nie daardie roete stap nie.” Elke dag wat die hofsaak gesloer het, het dit dieper aan die Else se begroting vir die saak gevreet. Jurie was bekommerd daar sal niks oorbly vir sy kinders se erfporsies nie, maar Hes se mening was dat die kinders eendag vir hulself kan sorg. “Dit is nou belangriker dat hulle ’n pa het. Ons hou al die berigte en getuienis vir hulle in plakboeke sodat ons die verskriklike twee jaar in ons gesin se lewe eendag aan hulle kan verduidelik.” Hestrie se drome om ná Jason se geboorte haar afrigter na Nieu-Seeland te laat kom en weer aan die Statebondspele deel te neem, is deur die hofsaak verpletter. “Die saak het elke greintjie motivering uit my gedreineer. Robbie het my droom fyn getrap.”
Seermaakgoed “
’n Mens verloor vriende langs die pad. Vriendskappe van 18 jaar sneuwel. Soos een van my beste pelle, Jaap. Hy het jare gelede my huis se restourasie bestuur terwyl ek aan die kus getoer het. Weke voor die hofsaak het ek hom gevra of hy ’n verklaring sal aflê dat ek op daardie tyd nie in die huis kon wees nie. Dit was ’n belangrike stukkie getuienis. Hy het belowe hy sal dit doen.” Maar in die middel van die hofsaak het die SMS soos ’n skoot koue water in die gesig gekom. Die groot pel wat in hoë kringe beweeg, het nie kans gesien om by die smerige saak betrokke te raak nie. “Jy is die enigste een tussen my en die tronk. Ek kan lewenslank sit as die waarheid nie uitkom nie! My kinders kan sonder ’n pa grootword,” het Jurie gepleit. “‘Jammer’, was sy verweer. Ja, dit was jammer. Dis dan wanneer jy weet wie ware vriende is. Maar God maak gelukkig ander deure oop en ek het ’n ander getuie opgespoor wat die verklaring kon aflê.” Sowel Jurie as Hestrie glo dat kindermolesteerders aan die pen moet ry, maar ná die ervaring waarsku hulle ook dat enige mens oop is vir so ’n aanklag. “Dis jou woord teen syne. Jy moet jou onskuld bewys en dis nie so maklik nie.” Wat wel opmerklik is as jy die saak met ander bekende seksskandale vergelyk, is dat dit net Robbie is wat beweer Jurie het hom gemolesteer.
“Dit was die ideale kans vir enige ander een om ook te kla. Dit laat jou dink … ” As hy in 1995, toe hy sy eerste goue plaat ontvang het, geweet het watter groot prys hy in die musiekbedryf sou betaal, sou hy meer aandag aan sy eie loopbaan bestee het en minder aan ander kunstenaars s’n. Mense wat hy destyds gehelp het soos Sonja Herholdt en Patricia Lewis het hom al via die pers aan die skeen gehap. Hoewel hy klaar vergewe het, gaan hy steeds voort met kriminele klagte van naamskending teen onder andere Sonja, Robbie en die joernalis Yolanda Barnard. “Ek het baie seergekry. Toe ek onlangs aan my biografie sit en skryf, het ek gedink hoe graag ek as seuntjie ’n ster wou wees. Ek het so hard gewerk aan daardie droom, maar dit het op 13 Februarie 2008 in duisende stukkies gebreek.” Vir hom lê daar harde werk voor om die stukkies weer aanmekaar te plak. Hy begin van voor af, maar ongelukkig sal die etiket van Robbie se aanklag altyd om sy nek hang. “Ek wil Suid-Afrikaanse kunstenaars na Australië en Nieu-Seeland laat kom vir toere en ’n platemaatskappy op die been bring.” En Hes, waarin lê haar hoop? “My hoop is hier voor my. My man en kinders. Hulle is meer werd as enige hoogspringrekord. Ek sou nooit die keuse kon maak om nie die pad saam met Jurie te stap nie.”
|