Raam jou foto’s deur Cornel Dunn. Foto’s: Johan Wilke
Ses riglyne vir jou foto’s
Om prente netjies te hang kan ’n uitdaging wees. Die prys van raamwerk sal jou waarskynlik eweveel frustreer. Hier is ’n paar planne om die proses minder pynlik te maak.
- Beplan jou rangskikking voor jy daardie hamer gryp. Dit kan dalk tydrowend wees maar op die lang duur is dit die moeite werd. Teken die buitelyne van jou rame op goedkoop papier na en plak met maskeerband teen die muur. Nou kan jy die spykers deur die papier kap en die prent presies hang waar dit moet wees.
- Een van die gewildste maniere om jou foto’s uit te stal bly nou maar die wit-swart galery. Nie net skep wit en swart ’n tydlose voorkoms nie, maar jy kan kleurfoto’s in wit-swart laat druk en so ’n eenheid skep tussen toeka se foto’s en jou eie.
- Nog ’n manier om ’n eenheid tussen klein, effens vergeelde en verweerde kiekies van jare gelede en vandag se
tegnologiese wonderwerke te skep is om soortgelyke rame in verskillende groottes vir die uitstalling te gebruik. Gaan kyk by die kettingwinkels – jy behoort baie goedkoop daarmee weg te kom. - As jy op rame in een kleur besluit, kan jy avontuurlustig met vorms te werk gaan. Gebruik gerus vierkante, reghoeke en sirkels saam. Kombineer ook gewone rame met rame wat ’n bietjie versier is vir groter trefkrag.
- ’n Versameling kleurryke rame lyk vars en vrolik maar in hierdie geval moet die foto’s wit-swart of sepia wees.
- Nog ’n gewilde tendens deesdae is om alfabetletters tussen die foto’s te hang – die voorletters van die familie, natuurlik! Dis ’n baie interessante visuele kombinasie.
Hier is oulike maniere om jou foto’s te raam:
Muurpapier

Foto: Johan Wilke. Foto’s in rame: Johan Wilke
Op hierdie grafiese muurpapier is die rame sommer klaar “opgehang.” Al wat jy hoef te doen, is om jou foto’s, prente of selfs gunstelingaanhalings agter die “glas” in te skuif.
#rrwenk: Voeg ’n beeldskone lamp by en ’n stoel waarvan die bekleedsel op die rugkant bedruk is met ikoniese internasionale tydskrifvoorblaaie, en jy het ’n eenvoudige hoekie omskep in ’n buitengewone ruimte met besonder interessante fokuspunte.
Lees ook: Skep ’n fokusmuur
Muurplakkers

Foto: Johan Wilke
Dié raampies is van die muurplakkersoort en kan maklik verwyder word sodat jy gereeld jou uitstallings kan verskuif en verander. Skep ’n unieke voorkoms deur foto’s, klein skilderytjies of selfs spieëls in die rame te sit.
#rrwenk: Die elemente in die hoekie is eenvoudig, maar heelwat tekstuur soos koper en fluweel laat die ruimte warm vertoon.
Lees ook: Slim planne vir kopstukke
Onthougoed verewig

Foto: Johan Wilke
Hierdie antieke buighoutstoel laat my aan kleintyd se etenstye dink: Ons gesin saam met Ouma om ons geelhouttafel …
Ek het aan die stoel ’n ereplekkie in my woonkamer gegee en dit vol kosbare herinneringe gehang. Twee van my ouma se mengbakke wat ek al jare saamsleep, asook die doilies wat deel is van die onthou-prentjies in my kop, het ook uitstalruimte gekry. Ek het hierdie buighoutstoel geërf, maar soortgelykes is nog geredelik by antiekwinkels te kry. Haal jou eie stukkies onthou uit jou kop, kas of pakkamer en skep ’n hoekie vol warmte.
#rrwenk: Die teksture – hout, tou, papier en gare – skep ’n hoekie vol warmte en herinneringe.
Découpage

Foto: Johan Wilke
Hier het ek die muur ’n baie sagte avokadogroen geverf en dit toe met vuilblou aksente afgerond. Skokrooi découpage-rose is die fokuspunt.
Die kassie met die detail op die laaie kom netso uit ’n winkel, maar jy kan die laaie van soortgelyke kassies maklik tuis op dieselfde manier versier. Pak slegs die voorkante aan die laaie met muurpapier, verf met vernis en skuur die randjies versigtig om ’n verweerde, rustieke voorkoms te skep.
#rrwenk: In hierdie komposisie is die blompatrone op die kassie, die blompot en die muur herhaal.
Lees ook: Kleur in jou huis
Knyperbord-kuns

Foto: Johan Wilke
Die agtergrond is ’n sleutelelement om hierdie uitstalling tot sy reg te laat kom. Sonder tekstuur gaan dit nie goed lyk
nie. In hierdie geval het ek ’n besondere muurpapier as agtergrond gekies, maar verftegnieke kan ewe doeltreffend wees.
#rrwenk: Met knyperborde kan jy gereeld jou foto’s verander.
Lees ook: Kies plakpapier só
Spelenderwys
Hoe groter jou verbeelding en hoe lekkerder jy speel, hoe beter die eindproduk! Gebruik optelgoed of items wat jy in
die huis het om jou eie fotorame of -houers te prakseer. Hangers, dryfhout, rivierklippies en houtblokkies lyk pragtig en kan as geskenkies vir die Kerskous gebêre word.
Materiale wat gebruik kan word:
- Plakkers
- Muurpapier
- Dryfhout
- Hangers
- Ou vensterrame
- Glasbottels
- Gemonteerde wasgoedpennetjies
- Sjabloonwerk (stencils)
#rrwenk: Wanneer jy jou foto’s uitstal, is dit altyd veilig om die foto’s met ’n waterbasis-vernis te bedek of om dit
te lamineer. Indien die oorspronklike foto kosbaar is, druk liewer ’n replika op jou rekenaar uit.
Knyperhangers

Foto: Johan Wilke. Foto’s in hangers van Still Picture Photography
Ek het hierdie hangers by Ikea in Ierland raakgeloop, maar jy kan netsowel gewone knyperhangers vir broeke of rompe hiervoor inspan. Foto’s van Still Picture Photography.
Lees ook: 10 wenke vir ’n Feng Shui-huis
Dryfhoutstories

Foto: Johan Wilke
Gebruik twee stukke dryfhout, tou, drukspykers en foto’s om ’n mooi storie te vertel.
Klippiekuns

Foto: Johan Wilke
Draai draad om ’n klippie en druk jou foto tussen die boonste regop draadjies in. Sakpas én maklik!
Lees ook: Raam dit!
Houtblokkies

Foto: Johan Wilke
Koop houtblokkies by ’n ysterwarewinkel en plak foto’s daarop. Dis sommer speelgoed vir die kleingoed ook!
Lees ook: Flair met vorms
#rrwenk: Beplan jou rangskikking voor jy dit ophang. Dit kan dalk tydrowend wees maar dit is die moeite werd.
Lees ook: 7 dinge wat op elke balkon moet wees