Elaine Coetzee | rooi rose

’n Besoek aan die Geelberge (Huangshan)
Dis nog donker toe ons op die bus klim. Ek kyk vinnig op my slimfoon wat die weervoorspelling vir die dag inhou. Digte mis en reën, gevolg deur ’n groot, geel uitroepteken! Kan die ongeluk mens nou so tref? Die enigste dag wat ons het om die poskaart-mooi Geelberge in China te besoek en nul persent kans vir ’n uitsig. Wel, ons is nou reeds hier. Kom ons geniet dit in elk geval.

Daar aangekom, verstaan ek waarom mense ons daarteen gewaarsku het om hierdie tyd van die jaar te kom. Dis langnaweek, vakansietyd en die besigste toeristetyd van die jaar. Tog glo mens dit nie tot jy dit met jou eie oë sien nie.

Ons het voorspel dat dit gaan besig wees, maar só ’n skare het ons nie sien kom nie! Die aanvanklike idee was om met die kabelkarretjie op te gaan, en terug te stap. Maar die idee om drie ure in ’n ry te wag, staan ons glad nie aan nie. So ons besluit om op te stap.

Die voetpaadjie is gepak met mense, maar daar is verskeie paadjies en uitsigpunte om van te kies, en stelselmatig raak dit stiller soos wat almal hul eie roetes volg.

Na ’n paar vaste weke in die stad is dit heerlik om in die natuur te wees. Hier en daar waai die wind die mis stilletjies weg en klein boompies op berghange maak stadig maar seker hul verskyning. ’n Prentjie so reg uit ’n Asië-poskaart.

Ons stop twee keer by uitsigpunte, maar die sigbaarheid bly maar sleg. Die wolke bly ’n gordyn – toegetrek voor ’n wonderbaarlike uitsig wat só naby maar onbereikbaar is.

En toe gebeur daar ’n wonderwerk – by die laaste uitkykpunt. ’n Lekker sterk wind steek op en trek die digte gordyn reg voor ons oop: berge wat volg op berge en nog berge! Oneindige spitskoppies wat styf teen mekaar lê. Geen wonder Avatar is hier geskiet nie. Dis beautiful! Ek pluk gou my kamera uit en vang die prentjie vas voor hy weer verdwyn. Die paar minute met hierdie wonderbaarlike uitsig is een van daardie oomblikke waar niks anders saak maak nie. Dit hou nie lank nie, maar dit is so asem-snak mooi dat mens vir ’n klein rukkie heeltemal van al die mense om jou vergeet en dit wat jy voor jou sien geweldig waardeer.

Teen die tyd dat ons die kabelkarretjie terugneem (die ry darem toe heelwat korter) is die rit gevul met pragtige misterieuse uitsigte. Terugkom gaan ek terugkom, dis vir seker. Vandag was die voorprent – maar ek smag na ’n dag vol van daardie paar minute op die berg wat ek nie sommer gou sal vergeet nie.

The post ’n Besoek aan die Geelberge (Huangshan) appeared first on rooi rose.

Skape van die bokke skei
Ek leer sommer gou die Chinese het meer as een woord om hul nuwe jaar in te wei. Behalwe vir Chinese New Year staan dit ook bekend as Lunar New Year of Spring Festival. Die presiese datum word bepaal deur die maan se siklus – laat in Januarie of vroeg-Februarie. Nogal vreemd om jou nuwe jaar later in die jaar te begin, nê?

Die detail hieraan verbonde? Wel, volgens die Chinese diereriem is 2015 die jaar van die skaap. Indien jou geboortedatum dus onder hierdie diereriem val, is hierdie jóú jaar om te trou of ’n lotto-kaartjie te koop.

Verder word die inkopiesentrums, restaurante, skole en markte van kop tot toon versier met skape. Nou nie regte skape nie, maar wel klein, nagemaakte, wollerige weergawes wat die strate en winkelvensters vul. Skaap-teddiebere. Om presies te wees.

Dit was nie lank na die skapies hul verskyning gemaak het dat die Westerse mense begin vrae vra nie…

“Isn’t that a goat?” sê-vra my Skotse vriendin vir my.

Ja-nee, daai is ’n boerbok! Daaraan is geen twyfel nie.

Later gewaar ek ook ’n ram of twee in ’n winkelvenster. Skaap? Bok? Ram? Ken die Chinese dan nie die verskil nie? Vir die volgende paar weke word die koerante, webtuistes en kantoorgesprekke oorheers met dié onderwerp.

Die verduideling? Wel, dis eintlik heel eenvoudig. Die Chinese het net een woord om enige vorm van ’n skaap-agtige dier te beskryf: yáng. Dié woord is die algemene naam vir alle skape en bokke, maar daar word dan verdere onderskeid getref deur spesifieke name aan die diere toe te skryf. Shanyáng beteken bok en miányáng, skaap. As mens egter van skaapvleis praat, is dit yángròu. (Ròu is die woord vir vleis). As jy dus skaapvleis koop, kan jy dalk opeindig om bok te eet.

En natuurlik kan hulle glad nie verstaan waarom ons so ’n ophef daarvan maak nie.

Ek haal graag ’n opmerking aan uit ’n onlangse webwerf-berig:
“Ek het nog nooit voorheen só daaraan gedink nie; is dit werklik nodig om onderskeid te tref”, vra Chen Xufeng, ’n kantoorklerk in Beijing. En las dan by: “Ek verkies om ’n skaap-gelukbringer vir nuwejaar te koop. Hulle is ouliker en meer wollerig as ’n bok!”

Nou ja toe. Wie sou nou ooit kon dink dat ’n skaap soveel opspraak kon verwek hier in China?

Aanhaling verkry vanaf http://www.yingyu.com/

The post Skape van die bokke skei appeared first on rooi rose.

Sjanghai
Vyf maande gelede klim ek uit ’n kiwi-groen taxi. Nog effens jet-lagged na die lang vlug en iewers tussen slaap en wakker, soos wat mens voel na ’n skelm uiltjie-knip. Terwyl ek die deur oopmaak – en vir ’n oomblik twyfel of my voete dit heeldag in hierdie hakkies gaan hou – skiet my oë op na die futuristiese prentjie wat voor my afspeel.

Liewe hemel! Wolkekrabber op wolkekrabber, die een na die ander. Sommige netjies in rye gepak en ander soos sampioene wat oornag  hul verskyning in ’n oop gaatjie loop maak het. Hierdie is duidelik ’n kompetisie: Die hoogste Lego-torinkie wen ’n prys! ’n Stadsjapie het ek wel grootgeword, maar so iets reg uit ’n sci-fi movie het ek nog nooit in my lewe aanskou nie.  Tot my verbasing begin ek my eerste werksdag in die tweede hoogste gebou in die stad: die Jinmao-toring.

Hier is geen tekort aan hoë geboue in Shanghai nie

Sjanghai was aanvanklik ’n groot aanpassing. Soos een van my vriende sê: alles wat verkeerd is in die wêreld gebeur hier. Dis ’n geldgedrewe stad met ’n populasie van meer as 24-miljoen en besoedeling is tot die ergste graad (maar Beijing is erger – so troos die Sjanghaiers). Verblyf is onsettend duur en die gemiddelde Chinees kry swaar. Maar geleenthede is in oorvloed, publieke vervoer uitstekend, en die man op die sypaadjie wat daagliks sy kluitjie-stalletjie opslaan maak genoeg wins om na sy gesin om te sien. Hier is genoeg voete en Chinese hou van koop én eet. Daaraan is geen twyfel nie.

Vanuit ’n buitelander se perspektief is Sjanghai ’n fantastiese inleiding tot China. Hier is soveel om te doen dat mens ’n jaar hier kan woon en steeds voel of jy nog byna niks gesien het nie. Hier is beslis nie ’n tekort  aan eetplekkies, tuine, stalletjies, liggies, uitsigte, ongelooflike argitektuur en internasionale kuns en -konserte nie. Chinese kos is nie soos wat ons dit ken nie. Ek het sommer gou tot die wete gekom dat ’n chop suey en chow mein hier heelwat  anders klink én proe.  Elke Chinese stad en streek het hul eie spesialiteitskosse en-geure. Dis voorwaar enige foody se droom!

Húntun (kluitjiesop)

En die taal – o weë! Elke lettergreep het byna vier stemtone wat elkeen verskillende betekenisse dra. Toe my Easy Peasy Chinese CD al doodgeluister is en ek nog steeds net “hallo”, “koebaai” en “waar kom jy vandaan?”  kon sê, het ek met durf en daad  besluit om mandarynse lesse te neem. Nou kan ek immers al noedels en gestoomde rolletjies bestel sonder dat die plaaslike Chinees dink ek vra na ’n perd of selfoon.

Darem is hulle nice. Lag as ek my woordeboek oopmaak en wys wat ek nou eintlik bedoel het. Soos ek wegstap pomp die een Chinees die ander in die sy, skud haar kop, sug hard en sê: “Laowài!”

Ai, tog. Die buitelanders darem.

’n Chinees op pad om karton te herwin

The post Sjanghai appeared first on rooi rose.

Uit en tuis
“Hoe voel dit om na twee en ’n half jaar in Suid-Korea terug te wees in die land?”

My reaksie op dié vraag klink seker al teen dié tyd soos ’n gebreekte grammofoonplaat. Maar dis die eerlike waarheid. Genuine.

“Dis só lekker!”

Om my familie drukkies te gee. Om uiteindelik my suster se nuwe bondeltjie vreugde in lewende lywe te ontmoet (al die Skype sessies moes gehelp het, want sy het nie eers geboe of -baa tydens die eerste vashou nie.) Om maande se verlore geselsies met kosbare vriende in te haal. Om rustig langs die kus te ry en opnuut te besef hoe asem-snak mooi ons land is. Om spasie te sien. Om Afrikaans te praat. Om Suid-Afrika se ongelooflike diversiteit in ons strate te kan sien, in die kos te kan proe en in gesprekke te kan ervaar. Om heerlike, plaaslike wyn te koop en nie ’n arm en’n been daarvoor hoef te betaal nie.Om te sien dat kinders nog buite kan baljaar en nie 24 uur ’n dag voor ’n rekenaar vasgenael sit nie.

O, dis lekker om een-twee-drie in ’n supermark rond te drentel en met toe oë te kan sê waar wat op die rakke sal lê. Om die TV aan te skakel en te sien dat Noot vir Noot se vriendelike drommer steeds die tyd van sy lewe op die verhoog het. Om met ’n trotse hart die vriendelikheid van ons nasie van voor af opreg te waardeer.

Hoe heerlik is dit nie om die foon op te tel en só maklik verblyf te boek of ’n tafel by jou gunstelingrestaurant te bespreek nie. Om nie oor en oor aan iemand te verduidelik dat jy eintlik met “robot” “verkeerslig bedoel het nie. Dat “chips” Simba chips óf slaps chips kan beteken en dat ons hier ons grondboontjiebotter met stroop eet. Nee, nie maple syrup nie, maar goue stroop. Illovo s’n. Dis pure genot om by enige winkel in te stap en onmiddellik my skoengrootte te kry. Dis die klein dingetjies…

“So, gaan jy nou hier bly?”

Die opvolg-vraag.

Dis moeilik om te antwoord. Want ek is geweldig lief vir my land. En dis nie aldag maklik om so ver van jou familie te woon nie. En ek is uiters gelukkig hier.

Maar…diep binne my fluister ’n stemmetjie: jou reisjoernaal het nog hopeloos te veel leë bladsye wat volgeskryf moet word. Bly jy hier, haak jy vas. Die tyd om te beweeg, te ontdek, te beleef is nóú. Jy weet mos, vir jou is die lewe te kort om op een plek te woon.

Dan antwoord ek met ’n lang sug: “Dalk oor ’n paar jaar, maar nog nie nou nie.”

En as ek mooi luister, kan ek hoor hoe Asië roep. Saggies, maar hoorbaar.

The post Uit en tuis appeared first on rooi rose.

Kyoto – tradisionele Japan
Daar heers ’n innemende atmosfeer in die rustige systraatjie. Dit is stil hier. Ek verkies hierdie kalm, byna sussende woonarea bo die rumoerige middestad. Hier kan ek onversteurd deur die buurt stap en elke huisie met sy oulike houtdeurtjie in my eie tyd bewonder.

Ek en my reisgenoot is in Kyoto, Japan. Sneeuvlokkies maak hul verskyning in straatlampe se goue lig. Presies só wou ek hierdie land ervaar. Agter my word die stilte vir ’n oomblik onderbreek deur die ritmiese sukkel-geluid wat net ’n ou fietsketting kan maak. Tydsaam ry ’n Japannees verby, so asof hy nie trap om iewers uit te kom nie.

Geisha in Gijon-distrik

Minder as ’n week hier is hopeloos te kort. Die ou, bekende gevoel skop in: as ek maar net ‘n dag of twee langer kon bly. Maar bygesê, ’n jaar hier sal nie genoeg tyd wees om alles te sien wat wat te siene is nie. As voormalige hoofstad van Japan is Kyoto van hoek tot kant oortrek met tuine, tempels, tradisionele straatjies, puik restaurante, winkeltjies en markte. Hierdie is die tradisionele Japan – mooi Japan. Ryk aan geskiedenis en kultuur, fyntjies verweef in die Japannese se delikate leefwyse en fyn ingesteldheid.

Ons dae is vol geprop, maar die aande rustiger. Net soos vir die plaaslike mense, is ons hoofvervoermiddel ou fietse met groot mandjies. Die twee fietse was sommer by ons verblyf ingesluit. Daar is soveel detail en oulike afdraai-paadjies in Kyoto – ons wil niks mis nie. Buitendien is dit tog baie meer opwindend as busry, of om konstant na moltreinstasies te soek.

Ons ry fiets tot waar Philosopher’s path begin. Hierdie rustige paadjie, wat ’n ou professor wat daagliks hierdie roete gestap het gedenk, loop al langs ’n kanaal af en is geleë tussen ’n hele paar tempels, sommige meer bekend as ander. Ons trap fiets na Honin-in tempel en Koda-ji tempel.

Ons eet gedurig – die kos is smaaklik én interessant! Sasjimi en warm sake (japanse ryswyn) is net die regte medisyne vir ’n koue wintersaand. Dit is heel eenvoudig om kos te bestel in Kyoto. Soos een van die spyskaarte lui: We have menu another three languages!

Sasjimi

Ons besoek ook Kiyomizu tempel met sy kenmerkende oranje dakkies waar besoekers in rye staan om van die heilige water te drink. Dit is nogal iets om te sien. Maar dit is Ginkakuji – ’n zen tempel ouer as 500 jaar – wat my vir altyd sal bybly. Dit is prentjiemooi en rustig daar! Geweldig fassinerend om te sien hoe elke bossie, klip, dak en trappie daar geplaas is vir ’n sekere rede en op ’n spesifieke plek. Een ding is vir seker: wanneer dit by harmonie en balans kom, ken die Japannese hul storie.

Na my zen-ervaring voel ek dat groentee-roomys op ’n broodrolletjie aan die orde van die dag is. Ek maak ’n draai by ’n stalletjie voor die tempel se ingang, en besef eers na ’n paar happies dat ek my so pas in ’n lawwe toeriste-foefie vasgeloop het. (Darem ’n smaaklike een!)

Ginkakuji tempel

Aan die oostekant van die stad lê Sannensaka en Ninenzaka: twee noemenswaardige, historiese strate. Tradisionele houthuisies wat omskep is in winkeltjies en gastehuise lei na ’n steil opdraende waar die straatjies van bo af bewonder kan word.

Dan is daar nog die bamboeswoud, die stampvol kosmark, tweedehandse winkeltjies, en romantiese strate…ek kan vir ewig hieroor skryf.

Ek weet daar is ’n ander kant van Japan. Een met helder liggies, eksentrieke modes en robotte. Dalk is ek gelukkig genoeg om eendag terug te keer en ’n draai in Tokyo te gaan maak. Maar vir nou is ek doodtevrede met my herinneringe van Kyoto. Ek kan sonder om te blik of te bloos sê: hierdie stad het my hart gesteel!

Tradisionele straat in Zinensaka

The post Kyoto – tradisionele Japan appeared first on rooi rose.

Die voorreg om te kan reis
Dis vreemd om te dink dat dit eens op ’n tyd maande se beplanning geverg het om ’n ander land te besoek. Om nie eers te praat van die eindelose geduld wat reisigers moes gehad het om by hul destinasies uit te kom nie.

Soms droom ek van so ’n tydperk, en stel myself voor ek leef in ’n era waar inligting rakende roetes, verblyf en besienswaardighede ’n groter uitdaging was om te bekom.

Terwyl ek lugkastele rondom hierdie tydperk bou, vou ek verbleikte wêreldkaarte oop en teken ek met ’n potlood aan presies waar, wat en hoe lank. Dan vaar ek vir weke lank op die oop see, omring deur oneindige blou, terwyl ek reisnota’s en sketse maak oor my langverwagte destinasie. (Beskou my maar as ’n romantikus, want so eenvoudig kon dit nie wees nie.) Maar van een ding is ek seker: hoe langer mense wag vir iets om te gebeur, hoe meer waarde heg hulle daaraan.

Wie sou kon raai dat ons in die nabye toekoms tjoef-tjaf op ’n vlug kan klim, en jouself nog op dieselfde dag aan die ander kant van die wêreld bevind.

Ek wil terugkeer na ’n tyd toe mense reis nie as vanselfsprekend aanvaar het nie, en dit as ’n geweldige groot voorreg beskou het om van een land na die ander te beweeg. Hoe magical is dit nie om een kontinent te verlaat en ’n ander een te betree nie? Dit is ’n geweldige ervaring!

Alhoewel ek innig dankbaar is vir lae-koste lugrederye, woon-en-werk oorsee, en onbeperkte inligting wat op die internet beskikbaar is, kan ek nie help om ’n tikkie irritasie binne my te voel kweek wanneer mense oor reis praat asof dit nog ’n dag in die inkopiestrum is nie. Dit is dan die grootste seën om ’n ander gedeelte van die wêreld te kan sien.

Alhoewel ons wêreld byna in ’n oogwink in ‘n global village ontaard het, gee dit niemand ’n geldige rede om die onderwerp te hanteer asof dit iets is wat “almal deesdae doen” nie. Nee, die meerderheid van die wêreld se populasie het nog nooit, en sal moontlik nooit, die voorreg hê om ander lande te besoek nie.

Dis waarom afgewaterde frases soos “ek het dié of dáái stad gedoen” my wange ’n vurige, rooi gloed gee. Van wanneer af doen ’n mens ’n stad? Asof dit ’n aktiwiteit is wat jy in ’n oogwink afhandel en kan afmerk op ’n lysie. Been there, done that.

Ontdek ’n mens dan nie ’n stad stukkie vir stukkie nie? Jy leer ken ’n stad. Jy neem ’n stad in. Jy besoek eerste daardie gedeeltes wat jou die naaste aan die hart lê, en as jy ooit weer die voorreg het, keer jy later terug om nóg te sien. Dit is nooit, ooit gedane sake nie.

En ekskursies. Met ekskursies word die woorde “ding” en “ook” deesdae bygelas “Het jy ook die “vulkaan-ding” gedoen? Of die “apie-ding”.

Soos my rekeningkunde juffrou op hoërskool sou sê: Néé, néé, dubbel néé!

Dit was nie ’n ding nie en ek het dit nie gedoen nie.

Vir my was dit ’n onvergeetlike ervaring. Tydens die ekskursie het ek kort-kort gestop, my omgewing bewonder, diep asem gehaal, en ’n innige dankbaarheid ervaar dat ek kan lewe en hier kan wees. Ek het gesprekke met mede-reisigers aangeknoop en iets nuut van hulle land, kultuur of taal geleer. Ek het die tyd geneem om nou en dan rustig te gaan sit, en my gevoelens en gedagtes in my reisdagboekie neer te skryf. Ek het my kamera uitgehaal en foto’s geneem van dit wat ek later wil onthou en herleef.

Om my is mense wat in so ’n flat spin selfoon-foto’s neem, dat hulle nie eers agterkom hulle is op daardie oomblik besig om die hele ervaring totaal en al te mis nie. Maar hulle was “daar”, en dit is al wat tel. Sodra hulle terugkeer huis toe, word daar vir vriende en familie van die ongelooflike plek vertel, en volgende maand koop dié ook lae-koste vliegtuigkaartjies en gaan staan ook daar met hulle selfone, besig om te facebook update dat die spoeg spat.

Is dit dan waaroor reis gaan? Net om bewyse te lewer oor waar jy was en wat jy al gesien het? Daarmee wil ek nie geassosieer word nie, want dit is vir my ’n swaar pil om te sluk.

Ons behoort eerder reis as ’n massiewe voorreg te sien, en daagliks dankbaar te wees vir elke reisgeleentheid wat oor ons pad kom. Dit gaan nie daaroor om ’n plek te dóén nie, maar eerder om ’n plek met jou hele wese te ervaar.

“When you look at life through eyes of gratitude, the world becomes a magical and amazing place.” (Jennifer Gayle)

The post Die voorreg om te kan reis appeared first on rooi rose.

’n Aap maak ’n plan
Dit is -6°C buite. Die bergtoppe in die verte, skraal bome en houthuisies lê weggesteek onder ’n spierwit sneeukombers. Ek het grootgeword in sonnige Durban, en as ’n volwassene vir die eerste keer sneeu ervaar. Dit bly vir my betowerend om te sien hoe die die vlokkies sonder waarskuwing hul verskyning maak, en eers speel-speel in die lug wals voor hulle veertjielig op my jas kom lê.

Vir my is die sneeu verfrissend, ek sien dit nie gereeld nie. Maar op hierdie spesifieke plek woon daar ’n spesie wat jaar in en jaar uit die lang, ysige winters moet deurstaan. Die Japanse sneeu-apies.

Uniek aangepas tot hul weersomstandighede, is hierdie spesie die mees noordelik-woonagtige ape in die wêreld. ’n Kort vlug en drie treinritte later is ek is hier in Nagano, Japan, om hulle te bewonder.

Die stap na die apies is ’n onvergeetlike ervaring. Dis nie net die sneeu nie, maar alles wat daarmee gepaard gaan wat dit so ‘n besonderse avontuur maak. Die koue het eers binne-in my stapskoene geklouter, en later deur my snoesige wolkouse geklim. My vingerpunte is ysblokkies, my hele lyf styfgespan en saamgetrek in ’n poging om hitte te probeer behou. Hoe dieper ek die berge in stap, hoe digter raak die sneeu en hoe meer indrukwekkend raak die uitsigte.

Oor ’n houtbruggie, en nog ’n kronkelpaadjie, en dan is ek daar. Voor my is ’n prentjie identies aan ’n foto wat ek drie jaar gelede in ’n koffietafelboek gesien het. Daardie einste foto was die hoofbron van inspirasie vir my besoek aan Japan.

Dis ’n toneel uit ’n David Attenborough-natuurreeks. Iets so wonderbaarlik dat ek vir ’n oomblik geheel en al van my vriesende tone vergeet. Hierdie gedeelte van Japan is bekend vir sy natuurlike warmwaterbronne (onsens), en die apies het ’n manier gevind om die koue winters meer aangenaam te maak.

Rooigesig apies – grotes en kleintjies – sit in ’n stomende waterpoel in die middel van die berge omring deur ’n spierwit landskap, en ontspan asof dit hul laaste dag op aarde is!

Dit lyk soos Spa Land* vir ape. Dis kostelik! Die manier hoe hulle heel nonchalant so sit en ontspan, uitklim, en dan weer kom sit. Geen teken van ’n greintjie bekommernis in die wêreld nie.

Ek hou ’n groterige een dop. Luilekker leun hy agteroor teen die klippe, en soos Oupa op sy stoel, begin sy kop stadig maar seker sak. Net daar verslap hy in ’n rustige middagslapie! Van die ander is meer produktief en is druk besig om mekaar te versorg en liefkoos, bosluise te verwyder en mekaar se hare te streel.

Van die kleintjies het drie-drie, vier-vier in groepies saamgebondel, en sit soos ingerygde sardientjies styf teen mekaar op die klippe. Moederliefde, maar dis oulik!

Hoe slim is hulle nie, sit ek en dink. In hierdie yskoue weer (dit kan tot -14°C word) het die apies ’n manier gevind om dit vir hulself aangenaam te maak. Net soos mense, het hulle ook ekstra hitte, liefde en prettige aktiwiteite nodig om die lang, koue winters te deurstaan. Al wat in hierdie prentjie kort, is ’n beker warm sjokolade.

*Spa Land is een van die grootste spa’s in Suid-Korea. Dit is geleë in Centum City, Busan, en ’n populêre bymekaarkomplek vir Koreane gedurende die koue wintermaande.

The post ’n Aap maak ’n plan appeared first on rooi rose.

Langs ’n kokende vuurput
Nooit in my wildste drome het ek gedink dat ek naby ’n aktiewe vulkaan sou kom nie. Never mind een uitklim. Maar toe die geleentheid opduik, het ek nie ’n sekonde gehuiwer nie. Ek is nie een wat graag nee sê vir eens-in-’n-leeftyd-ervaringe nie, al fladder die skoenlappers ook hóé wild in my maag.

Plaaslike toergidse

Die ent op na die krater is vlugtig, maar steil genoeg om mens behoorlik uitasem te laat. Douvoordag is ek saam met ’n groep Nederlanders ’n paar kilometer hiervandaan teen ’n ander bult uit om die vulkaan eers van vêr af te bewonder. Mount Bromo het vanoggend byna onsigbaar agter ’n sluier donker wolke gelê, maar stadig maar seker saam met die oggendson sy verskyning gemaak.

Soos wat ek die paadjie na die krater stap, Google Earth ek ons huidige ligging in my gedagtes: Suidoos-Asië, Indonesië, Java-eiland. Die oostelike gedeelte van Java alleen huisves dertien vulkane! Mount Bromo se huidige status lui: “rusteloos”. Dis nou 2012. Hy het ’n jaar gelede sy laaste uitbarsting gehad, maar dit blyk dat hy vandag in ’n goeie bui is.

Bo gekom, skrik ek myself boeglam toe ek besef dat ek letterlik op die rand van die krater staan. ’n Paar treetjies van my af blaas wilde rookbolle onophoudelik vanuit ’n groot, donker mond. Dit is nou die definisie van ’n kettingroker – lag ek vir my eie grappie, gedeeltelik om my senuwees te kalmeer. Behalwe vir ’n klein, verspotte heining, is daar niks wat keer dat mens in die kolkende vuurput val nie. Vreesaanjaend!

Dis nie elke dag dat ek letterlik die aarde sien lewe nie. Nou praat ek nie van die groei en ontwikkeling van mense, diere of plante nie, maar die aarde sélf. Op hierdie dag sien ek dit met my eie oë. Moeder Aarde – sy léwe! Sy is aktief en haal asem. Sy reageer.

Die omringende landskap is ’n surrealistiese prentjie van vaal heuwels en hier en daar ’n groen bossie. Die oggendson waak rustig oor skakerings van bruin, terwyl ek myself moet knyp om te glo dat ek op daardie oomblik met my eie voete op ’n lewende vulkaan staan.

Die omringende landskap

Dit is so maklik om jouself met verloop van tyd in ’n veilige kokon toe te wikkel. Daar waar alles bekend en voorspelbaar is. Daar waar jy gemaklik voel, waar jy “hoort”. Maar tog is dit nodig om jouself van tyd tot tyd uit jou veilige spasie te wikkel, en jou voete op ’n meer uitdagende stukkie aarde te plaas. ’n Ontnugtering dat jy lewe en dat jou hart, op hierdie spesfieke tyd en plek, ritmies saam met Moeder Aarde s’n klop.

The post Langs ’n kokende vuurput appeared first on rooi rose.

Hemel op die Gili’s
Trawangan, Air en Meno. Saam staan die drietjies bekend as die Gili Eilande. Hulle lê knus langs mekaar in Indonesië, noordwes van Lombok.

Dit neem drie ure met die spoedboot van Bali na die Gili’s. Moenie dat die woord “spoedboot” jou flous nie, want dié rit is alles behalwe vinnig en gerieflik. In ’n oogwink tel die bootjie spoed op, klim op ’n groot golf, skiet vir ’n sekond of twee die lug in en bons dan met harde slae terug op die water. Onophoudelik.

Uiteindelik kom ons tot stilstand in Gili Trawangan – ook bekend as Gili T – se vlak waters. Die strand is vol gepak. Sonsoekers lê luilekker uitgestrek op lang, wit strandstoele. Agter hulle is rye strandkroeë en funky restaurante. Die stil, salige eiland-atmosfeer wat ons in gedagte gehad het, vind ons toe eers drie dae later op die ander Gili.

Die Gili Eilande is ’n besonderse gedeelte van Indonesië. Totaal en al afgesonder van die res van die samelewing, maak hulle hul eie reëls. En dit wérk. So word daar byvoorbeeld geen voertuie op enige van die eilande toegelaat nie. Met perdekarre en fietse kom en gaan elkeen waar hy wil wees.

Die plaaslike mense lewe eenvoudig in hul mini-paradys. Indien iets benodig word wat nie op die eiland bekom kan word nie, neem hul eenvoudig die passasiersboot na Lombok. Die Gili’s se tropiese waters, beeldskone strande en ’n verskeidenheid seelewe lok reisigers van regoor die wêreld om in die spotgoedkoop strandhutte te kom vakansie hou, snorkel en skubaduik.

Tydens óns besoek benut ons eilandlewe ten volle! Ons huur twee ou fietse en ry om die hele Gili T in ’n oggend terwyl ons kort-kort stop vir ’n swem, geselsie of versnapering. Ons snorkel drie keer op ’n dag, gaan duik en stap lang ente op die strand. Die weer is fantasties, die water ’n glansende turkoois, die sonsondergange onbeskryflik. As die lewe maar elke dag so kon wees…

’n Paar dae later verskuif ons na Gili Air: pa-ra-dys! Op hierdie eiland is tyd nie ’n kwessie nie. Dis asof almal teen ’n stadiger pas stap en met ’n rustiger stem praat. Hier word ’n snytjie roosterbrood ’n “jaffle” genoem. Mense word Mango of Gecko genoem, en wildvreemdelinge word as “my brother” of “my sister” aangespreek. Hier kan jy maar kaalvoet loop as jy wil, heeldag op die strand lê en enige uur van die dag kies om ’n middagslapie te neem. Niemand vra waarheen jy op pad is of wat op jou agenda is nie. Die mense hier is vriendelik, en glimlag van oor tot oor.

Een middag stap ons verby ’n middeljarige man op ’n fiets. Hierdie karakter ry so stadig dat ons skoon verbý hom stap. Hy is omtrent ‘n unieke skepsel met sy knoop-en-doop T-hemp, kopband en lang grys hare.

Soos almal op die eiland groet hy vriendelik en ons raak aan die gesels. Hy deel met ons dat hy vir dertig jaar lank ’n Switserse bankier was voordat hy besluit het om al sy besittings te verkoop en vir hom ’n plekkie hier te kom oprig. Hy het in die tagtigerjare hier kom vakansie hou, en droom al sedert daardie tyd om ’n eenvoudiger lewe hier te kom lei.

Hy wys vir ons die drie hutte waaraan hy die afgelope twee jaar bou. Een van die dae behoort hulle reg te wees vir uitverhuur. Dan deel hy ’n paar interessante stories oor die eiland en sy unieke bewoners.

Op Gili Air, waar daar geen sprake van polisie is nie, moet die gemeenskap hul eie plannetjies beraam om reg te laat geskied.

As ’n dief uitgevang word, hang die gemeenskap ’n bordjie om sy nek wat lui: “Ek is ’n dief.” So ’n persoon moet dan vir ’n week lank om die eiland stap met die vernederende woorde om sy nek, sodat almal kan sien wie en wat hy is.

Daar was ook ’n tydperk waar ’n skinderstorie die rondte gedoen het dat ’n bende van Lombok kinders ontvoer (nogal so ewe om hul organe te bekom). So raak ’n dogtertjie een middag weg, en die hele dorp is in rep en roer oor die verlore kind. Al die mans kom toe bymekaar en marsjeer al om die eiland met groot messe om sodoende die ontvoerders af te skrik.

’n Paar uur later kom die dogtertjie al gapend te voorskyn. Sy het in haar familiehuis op die badkamervloer aan die slaap geraak, en niemand het daaraan gedink om haar daar te soek nie!

Ons groet, en stap verder met die bebosde paadjie. Ek haal diep asem, gooi my kop agteroor, maak my oë toe, en verbeel myself ’n eenvoudige lewe soos die. Hierdie week, wat vir my soos ’n droomborrel in die paradys voel, is ’n ander se werklikheid, se realiteit. Dis hul léwe.

Gedagtes van my eie lewe terug in die stad maak vir my op daardie oomblik so min sin. Daar waar die gemeenskap se dae gedryf word deur geld, mode, sukses en tegnologie. Waar elke dag ’n rotteresies is. Waarna jaag ons nou eintlik?

Die vrae hardloop rond in my kop. Iewers tussen antwoorde soek, sien ek myself hier, reg hier. (Sonder ’n knoopkleur hemp – dis vir seker!) Maar miskien hier op Gili Air, eendag in die verre toekoms, met ’n ou fiets, my kamera en ’n strandhut of twee van my eie.

The post Hemel op die Gili’s appeared first on rooi rose.

’n Noue ontkoming
Daar is ’n geskarrel in die dorp. ’n Onrustigheid. Die Filippyners wat ek tot dusver teëgekom het is ’n vriendelike spul vol grappies. Nie vandag nie. Ek stap in by ’n winkeltjie wat iets van alles verkoop.

“Het jy gehoor?” vra die kassier. Die frons op sy voorkop sê vir my die saak is ernstig.

Hy beduie met sy oë na die hoop koerante op die vertoonrak. Ek lees die koerantopskrif: Super-tifoon op pad na Bohol.

Bohol. Die eiland waar ons op die oomblik is. ’n Kriewelrige rilling skiet by my ruggraat af. Ek kyk vraend na my reisgenoot, wat ’n ongemaklike laggie gee terwyl hy sy skouers optrek.

Die rivier die dag voor die storm

Ek vra rond. Die plaaslike mense is banger as bang. Hier in die Filippyne, waar tropiese storms jaarliks duisende mense se lewens eis, word die onderwerp nie ligtelik opgeneem nie. Ons nader ’n Amerikaanse man – al tien jaar woonagtig in Bohol – wat vertel dat hier ’n paar jaar gelede ’n tifoon was wat so erg gewoed het dat hy en sy familie vir dae nie hul huis kon verlaat nie. In sy hande is twee groot inkopiesakke gevul met kosvoorraad.

“As ek julle is, berei ek maar voor vir die ergste. Mens speel nie met super-tifone nie.”

Hoe nou gemaak? Berei voor? Wag en hoop vir die beste? Vlug?

“Ek hoor al die vlugte en passassiersbote is reeds gekanselleer,” noem die man terloops, asof hy my gedagtes kan lees.

Toe volg ons maar die plaaslike mense se voorbeeld. Ons koop genoeg water en versnaperinge (mens weet nooit), en stap dan mistroostig terug na Nuts Huts. Die afgesonderde houthutjies langs die rivier, wat nog tot ’n uur gelede die ideale plek was om vir ’n paar dae behoorlik af te skakel, lyk skielik nie meer so veilig nie. In my geestesoog sien ek reeds ’n wilde storm woed, palmbome wat skeef trek en massas water wat sonder genade by die rivier afstroom. Ek het al genoeg CNN en video’s op Youtube gekyk om die skrikwekkende gevolge van so ’n storm te besef.

Toe begin die gewag. Die ergste deel van die storm is veronderstel om ons môre-oggend omstreeks drie-uur te tref. Nodeloos om te sê, slaap ek vreeslik onrustig daardie aand. Keer op keer skrik ek wakker en luister angstig of ek al reëndruppels hoor en of die wind al ruk aan die tingerige grasdakhutjie. Ek was lanklaas in my lewe so gevul met vrees. Ek bid onophoudelik.

Ons Suid-Afrikaners ken nie hierdie tipe bang nie. In ons land lewe ons daagliks met ander soort vrese. Vrese dat jy deur inbrekers oorval word terwyl jy slaap. Vrese vir motorkapings en handsakdiewe. Maar tog (afhangende van die reputasie van jou woonbuurt en stad), is die kans groter dat dit nie gaan gebeur nie.

’n Tropiese storm is anders. Jy kan nie jouself gerusstel met die feit dat dit dalk nie gaan gebeur nie, want alle tekens wys dit is op pad. Die vraag is hoe erg die skade gaan wees. Ek is totaal en al magteloos teen Moeder Natuur en haar woeste winde wat dalk sou besluit om my hutjie van sy stelte af te waai.

Iewers in die vroeë oggendure, so tussen slaap-en-wakker, hoor ek reën wat saggies val. Heel verbasend sus dit my aan die slaap.

Toe ek weer wakker word is dit oggend, en ek lewe nog. Dankie, Vader. Ek stap na die restaurantjie om te hoor wat die dag vir ons inhou. Volgens die eienaar het die storm eers ’n wye draai gevat, maar hy kom vandag.

Dit reën bietjies-bietjies die hele oggend. Behalwe vir ’n grou hemel en ligte briesie, is daar geen tekens van ’n erge storm nie, maar ons wil nie die kans waag om buite gestrand te wees nie. Bordspeletjies, skaak en boeklees is ons voorland vir die grootste gedeelte van die dag.

Teen die middag is ons frustreerd. Wie sê die vroutjie se bron van inligting is betroubaar? Dalk is dit net ’n storie wat deur die loop van die oggend soos ’n veldbrand deur die dorp versprei het. Dis mos hoe dit gaan in klein dorpies. Dit lyk hoeka of dit besig is om oop te trek. Met geen internet tot ons beskikking nie, maak ons sommer self die afleiding dat die storm nou verby is. Dit is tyd om bietjie vars lug te kry.

Ons stap met die grondpaadjie af na die hoofpad. ’n Oulike padstalletjie met ’n netjiese ry blink potte kos trek ons aandag. Heel gesellig raak ons diep in gesprek terwyl ons smul aan Filippynse kokosneutbredie en pofrys.

Reën begin val tydens die storm

So diep in geselskap is ons – én verlig – dat nie een van ons die wolke weer stadig maar seker sien toetrek nie. Binne ’n paar minute begin die wind ruk-ruk aan die rooi Coca-cola tafeldoek, en toe breek daar ’n reënbui uit. O, gedorie, dit is hier!

Die idee om onder ’n lawwe sambreeltjie te sit terwyl ’n storm heers staan my nie vreeslik aan nie, so ons besluit om te hardloop. Ons betaal die vroutjie en maak onsself uit die voete. Soos kinders hardloop ons resies terwyl ons uitbundig lag van senuagtigheid. Modder spat teen ons op bene terwyl my klere al swaarder aan my lyf begin kleef. Ons hardloop dat die spoeg spat, ons hardloop vir ’n vale. Ek het laas teen hierdie spoed beweeg tydens ’n laerskool atletiekbyeenkoms.

Toe ons by die Nuts Huts restaurant kom, staan ons eers op die trappies om ons asems terug te kry. Ons is die enigste gaste. Die enigste twee onverantwoordelike siele wat dit in lewensgevaarlike weersomstandige sou buite waag. Toe sit ons weer, en wag.

En na so ‘n uur waai die storm toe oor.

Die storie agter die storie: Alhoewel my vertelling ’n gelukkige einde het, is dit vir my hartverskeurend, maar tog nodig, om te noem dat dit tragies uitgedraai het in ander gedeeltes van die land. Met winde wat gewoed het teen 280 km/h, was Tifoon Pablo (Desember 2012) inderdaad ’n kategorie vyf tropiese sikloon. Alle tekens het gewys dat hy sterk op pad was na die Visayas (waar Bohol geleë is), maar as gevolg van verskeie klimatologiese invloede het hy van rigting verander, en die eilande van Mindanao en Palawan eerder getref. Vloede en hoofsaaklik modderstortings het meer as ’n duisend mense se lewens geneem en ongeveer 900 000 haweloos gelaat.

The post ’n Noue ontkoming appeared first on rooi rose.

Batad se Rysterrasse
Die jeepney-rit (sien voetnota) van Banaue na die bergrug is steil en hobbelrig. My sitplekkie tussen bokse mineraalwater, aartappelskyfies en stringe 15ml-sjampoesakkies is nie die gemaklikste in die wêreld nie, maar ek sou op geen ander manier hierdie pad wou ry nie. Ervaringe soos dié dra by tot die heel beste herinneringe wanneer mens reis.

Vlugtige kyke van ’n Filippynse vroutjie wat oorkant my sit, trek kort-kort my aandag. Die paar kere wat ek haar oog vang, lyk dit asof sy ’n gesprek wil aanknoop, maar kyk dan eerder weer skaam by die venster uit. Uiteindelik skraap sy die moed bymekaar.

“Your country?”

“South Africa.”

“You come to see rice paddies? I take you tomorrow,” sê-vra sy.

Ek stem in. Maar dan moet dit vroeg wees. Ek het slegs ’n paar dae om hierdie area te verken.

Nadat ons haar footjie onderhandel het, loer ek by die venster uit. Ek is hier om Batad se ongelooflike 2000-jaar oue rysterrasse te sien, oorspronklik gebou deur die inheemse Ifaguo-stam, noord op in Luzon-eiland in die Filippyne.

Die jeepney kom rukkerig tot stilstand. Van hier af is dit veertig minute se stap na die klein gemeenskappie wat tussen die ryslappies woon. Die paadjie, ontoeganklik vir vervoermiddels, is die enigste manier van in en uit vir die inwoners van die gebied. Dit verg uiters goeie beplanning en ’n hegte gemeenskap om só te leef hier in die Cordilerra-berge.

Dan begin ons die kronkelpaadjie stap. Prentjiemooi uitsigte van die vallei kom in sig. My gedagtes is ver weg, soos dit dikwels gebeur tydens ’n ent se stap. En dan, na nog ’n paar draaie, lê dit skielik voor my. Dis asof iemand in ’n oogwink ’n massiewe skilderdoek voor my oopgerol het.

Dis Batad se formidabele rysterrasse – in hul volle glorie! Oneindige groen trappies van verskillende hoogtes lê uitgekerf in die berge soos ’n kolossale amfiteater. Die groen-en-bruin patroon word slegs onderbreek deur rooi dakkies wat lukraak versprei lê tussen die trappies. Heel onder, in die middel van die prentjie, lê die klein “dorpie”. So klein en verlore lê hy daar, dat dit lyk asof die massiewe trappe enige oomblik daarop kan aftuimel. Meer afgesonder kan mens seker nie kry nie.

Die volgende oggend wag ek sewe-uur met ’n koppie koffie in die hand vir Ellen. Half nege se kant daag sy daar op.

Laat dit gaan, dink ek by myself. Om betyds te wees is nie hierdie nasie se sterkste punt nie. As Filippino-tyd vir hulle kan werk, kan ek sekerlik vir ’n paar weke daarby aanpas.

Ellen gaan wys vir my hoe die klein gemeenskappie hier lewe. Ons stap verby netjiese

sink- en houthuisies, meeste van hulle staangemaak op houtpilare. Ek sien tradisionele hutte waar ou vroue onder afdakkies sit en tekstiele weef. Die inwoners groet vriendelik. Buite speel kinders en iewers in die verte blêr ’n radio. Die lewe hier is eenvoudig.

So stap ons al langs die nou klipmuurtjies wat die rysterrasse van mekaar skei. Sommige gedeeltes is nouer as ander. Hier en daar is die trappies baie styl, en moet ons hande-viervoet klim om balans te hou.

Die presiese wyse waarop hierdie rysterrasse beplan en gebou is om ’n natuurlike watervoorsiening-sisteem te bewerkstellig, is uitstaande.

Met hul kaal hande en eenvoudige gereedskap het die Ifuago-mense hierdie vlakke en kanaaltjies geskep. Die water van natuurlike bergstroompies en waterbronne is op so ’n wyse gekanaliseer dat dit van die boonste terrasse deurvloei na die laer vlakke.

Sommige van die muurtjies wat die terrasse van mekaar skei het reeds inmekaar getuimel, en ander begin stuk-stuk uitmekaar val. Vandag se jongmense wil niks weet van die platteland nie. Stadig maar seker beweeg hulle stad se kant toe, en instandhouding word oorgelaat aan die ouer generasies, wat nie altyd oor die nodige krag beskik om die werk behoorlik te doen nie. Dít en jare se erosie kan omskryf word as die grootste redes vir die stelselmatige agteruitgang van die terrasse.

Klein gemeenskappie wat tussen die terrasse woon

Later, terug by my gastehuis, sit ek lank buite en waardeer die hele uitsig weer van voor af. Dit gaan my verstand te bowe dat iets so funksioneel en prakties terselfdertyd so ongelooflik mooi kan wees.

Dit is ’n skildery of tapisserie – dalk ’n mosaïek? Of ’n toneelstuk wat die werklikheid weerspieël. Dis meer as net ’n mooi prentjie. Dit is ’n kunswerk.

*Jeepneys  is ou, Amerikaanse militêre jeeps wat in die Filippyne agtergebly het, volgens interessante temas in flambojante kleure opgetower is, en aangewend word as publieke vervoermiddels. Dit is nie ongewoon vir ’n jeepney-drywer om passasiers agterop (en selfs op die dak) toe te laat as die sitplekke binne reeds vol is nie. Hoenders en varke is ook altyd welkom.

The post Batad se Rysterrasse appeared first on rooi rose.

Jeju – eiland vol verrassings
Dis nie moeilik om te begryp waarom Jeju-eiland (plaaslik bekend as Jeju-do) die Suid-Koreane se trots én hul gunsteling vakansiebestemming is nie. ’n Onlangse besoek aan die vulkaniese eiland suid van die Koreaanse peninsula, het my aangenaam verras.

Met my hartsvriendin aan my sy – al die pad van Suid-Afrika gereis om vir my kom kuier – klim ons op ons 50-minute vlug van Busan na Jeju. Dis somervakansie in Korea. Die lug is drukkend en die son skroeiend. Al is die weer ook hóé bedompig, ons gaan dié eiland platstap vir die volgende vyf dae.

Sommer met die eerste oogopslag is ek vreeslik beïndruk met Jeju, wat geheel en al gevorm is deur vulkaniese ontploffings. Dis juis om dié rede dat dit in 2011 aangewys is as een van die Nuwe Sewe Natuurwonders van die wêreld. Die hele eiland is dan ’n vulkaniese museum!

Op die busrit vanaf die lughawe na Seogwipo, ons blyplek vir die volgende twee aande, loer ons na die toeristekaart wat ons op die lughawe gekry het.

“Hier is 368 oreums op die eiland,” lees my vriendin voor.

“Oe, indrukwekkend!” sê ek geamuseerd.

Nie een van ons het op daardie stadium die vaagste benul wat ’n oreum is nie, maar ons vind wel later uit dat dit ’n vulkaniese sone is wat wat gekenmerk word deur ’n groterige heuwel. Jeju is oortrek met oreums.

Elke paar kilometer gedurende die busrit gewaar ons ook eienaardige standbeelde van mannetjies met sampioenvormige koppe langs die pad. Na ’n rukkie se soek, lees ons iets raak daaroor: “Die hareubang, eie aan Jeju, is jare gelede uit vulkaniese klip gekap en langs ingange geplaas as ’n simbool vir beskerming en vrugbaarheid.”

Vir die soveelste keer is ek dankbaar vir ’n reisgids. As mens in ’n land rondtoer waar bitter min mense Engels kan praat, is jou inligtingsbronne beperk tot ’n toeristekaart, Rough Guide of Lonely Planet. Dink nou net watter raaisel hierdie mannetjies sou gewees het sonder ons wondergidse.

Keer op keer vind ek dit fassinerend om te sien hoe gedeeltes van ’n land so geweldig van mekaar kan verskil. Hoe elke streek, provinsie of eiland sy eie spesialiteite, plaaslike disse, fabels en natuurlike wonders oplewer.

Jeju het onmiskenbare Koreaanse trekke, maar is tog op ’n manier heeltemal anders!

’n Plattelandse atmosfeer en asemrowende natuurskoon is wat dié eiland so besonders maak.

Daar is nartjieboorde en tradisionele klipmure om landerye van mekaar te skei. Daar is ou dorpies waar inwoners nog in grasdakhuisies woon, en hul geld verdien deur plaaslike frambooswyn aan toeriste te verkoop. Kuslangs is die water ’n helder turkoois, sommige strande spog selfs met ’n palmboom of twee, en vakansiehuisies is vrolik getooi in dakkies van oranje en blou.

Dit is hoe Korea moes gelyk het voor die tyd van tegnologie en wolkekrabbers, dink ek by myself. Voordat die land so oorbevolk begin raak het. Die tyd voor die meeste Koreane begin stede toe trek het om vir reuse soos Samsung en LG te gaan werk.

Jeongbang waterval

Vir die volgende paar dae word ons telkens verras deur Jeju se geheime. Ons besoek Jeongbang – ’n waterval wat in die see uitstort – en Oedolgae, die “eensame rots”, wat kiertsregop in die oseaan uittoring.

Ons besoek ook die Yakcheonsa–tempel, wat ons asems geheel en al wegslaan. ’n Vriendelike monnik neem aan dat ons vlot Koreaans kan praat, en babbel voort terwyl hy ons op ’n toer neem deur die indrukwekkende vier-verdieping Buddhistiese tempel. Die hoofingangsportaal spog met vuurspuwende drake en rustende goue buddhas – onder ’n plafon bedek met skelpienk lotusblomme.

Die Yakcheonsa–tempel

Uitgevat in ons stapskoene en dik lae sonbrandroom, durf ons ook Hallasanberg aan – die hoogste punt in Korea. Die roete wat ons gekies het lewer asembenewende uitsigte van hoë klowe en woude wat verder strek as wat die oog kan sien. Ons het dit so ampertjies tot bo gemaak!

Die vorige middag het ons die Ilchulbon geklim – ’n kroonvormige berg gevorm deur opgehoopte vulkaniese as van meer as vyf duisend jaar gelede. Die steil trappies na die bo-punt was absoluut die moeite werd. Die pragtige uitsig oor die onderliggende dorpie, Seongsan, vorm met sonsondergang ’n merkwaardige prentjie!

Met ons laaste dag op die eiland besoek ons die Manjanggul-grot: ’n lang, ondergrondse tonnel van bykans nege kilometer waar daar eens kokende lava gevloei het. Skrikwekkend!

Die volgende oggend, na ons reeds die eiland verlaat het, ontvang ek ’n boodskappie van die gastehuiseienaar. Ons aandenkingsgeskenkies (nartjie-en kaktusgegeurde sjokolade) het daar agtergebly. Hy vra of hy dit vir ons moet bêre.

“Geniet jy en jou gesin dit maar,” stuur ek terug. Ek sal weer koop as ek terugkeer later die jaar.

The post Jeju – eiland vol verrassings appeared first on rooi rose.

Borneo se aap-mense
Die eerste ding wat ek in Borneo opmerk, is dat ons Afrikaners die woord “oerangoetang” dieselfde as die Indonesiërs uitspreek. Nie swaaiend en kakebeentergend soos die Amerikaanse orangutan nie, nee. Net soos in Indonesië, na-aap ons die dier wat dié naam dra deur ons lippe (sommer twee keer) behóórlik te tuit: OErangOEtang.

Ek wou spesiaal hierheen reis om hulle te sien. Borneo en Sumatra se digte reënwoude is die enigste twee plekke in die wêreld waar oerangoetangs nog natuurlik voorkom. Ek besef weereens met ’n skok iets wat ek vroëer gelees het: indien ontbossing en stroping voortgaan soos nou, sal daar binne vyf-en-twintig jaar geen oerangoetangs in die wildernis meer wees nie. Skokkend!

Dis nog ’n ver ent om te gaan nadat ek op die piepklein lughawe arriveer. Die paaie is sleg en die busritte avonture op hul eie. Vandag is ek ’n regte celeb hier in Ketapang omdat ek blank is, blou oë het en my kop nie met ’n doek bedek nie. Die inwoners sien selde só ’n prentjie. Ek glimlag vriendelik saam met hulle op foto’s – dankbaar dat hulle my welkom laat voel in hul gebied.

Na ek my reeds uitgetrapte sandale vir twee dae lank behóórlik flenters gestap het, vind ek uiteindelik ’n vroutjie wat Engels kan praat en ’n trippie kan reël saam met twee gidse.

Muslianto en Sofianto is vriende en kollegas. Hulle kom van dieselfde dorp wat aan die reënwoud grens. Voor ons op die ekskursie vertrek, gaan ons eers by Sofianto se huis aan sodat hy sy tandeborsel kan kry en vrugte uit hul tuin kan pluk om saam te neem. Sofianto se familie wil nie hê ek moet hulle toilet gebruik nie,want ek is “westers”. Maar Muslianto se kleine huisie het ’n beter toilet. Hy neem my soontoe op sy motorfiets.

Muslianto

Die reënwoud in Borneo is ekstra warm daardie dag. Die weervoorspelling het my om die bos gelei, want dit was nie die temperatuur wat so hoog was nie, maar wel die humiditeit. So bedompig dat die sweet reeds fyn druppeltjies op jou neus en voorkop vorm – nog lank voor jy regtig iets aktief aandurf.

Die woud is ruig en groen sover as wat die oog kan sien. Die boomtoppe strek hemelhoog. Die reuk van vars grond, klam varings en vreemde vrugte vul my neus. Dis asof ek weer van voor af leer hoe om asem te haal. Ons sintuie is op en wakker, veral ons ore – gereed en ingestel op bosgeluide. ’n Geritsel of geluid van enige aard kan ’n leidraad wees.

Iewers roep ’n rooiblaarapie en die sjwoei-sjwoei van ’n neushoringvoël (soos die kleurvolle een in Jungle Book) bring ons menigmale afwagtend en angstig tot stilstand. Die bospaadjies verdwyn net so vinnig soos wat hulle hul verskyning maak. Ek koes vir blare, takke en spinnerakke. Gelukkig het Muslianto ’n kapmes – hy kap paadjies oop so ver ons stap.

So hou dit aan vir twee volle dae! Ons keer net terug na ons versteekte boshuisie om te gaan eet en rus. Dan bundu-bash ons weer vir ure voort.

Kom ons rus bietjie. “Time for snack?” Muslianto is ’n gentleman. Hy maak vir my ’n blaresitplekkie sodat my kortbroek nie nóg vuiler word nie.”

Een van die vrugte wat die oerangoetangs graag eet

“Kyk, een van hulle het hieraan geproe,” sê Sofianto terwyl hy ’n taai, halfgeëte vrug optel en so ewe daaraan snuif-snuif asof hy hulle so gaan uitruik.

’n Paar meter verder gewaar hy ’n nes hóóg op in ’n boom, trek sy oë skrefies en knik dan sy kop. Ja-nee. Hulle het definitief gisteraand hier nes gemaak.

Die ure vlieg verby in die bos. Op ons staptogte gewaar ons gibbons en bebaarde drake, viooltjie-blou skoenlappers en giftige geel slange, kruikplante en Venus-vlieëvangers. Dis die einde van dag twee, en ons laaste stap voor ons more moet terugkeer. Nog geen oerangoetang in sig nie. Maar ons gooi nie tou op nie.

Dan breek daar onverwags ’n hewige reënbui uit. Ons soek skuiling onder ’n hangende rots. So sit ons vir ’n lang ruk terwyl ons water drink en ons asem probeer terugkry. Ons wag en wag. En dan spring Muslianto uit die bloute op.

“Oerangoetang! Oerangoetang!” fluister-roep hy.

“Shhhhhhhh!!!! “

Ons vergeet van die massiewe reëndruppels wat op ons neerstort en trippel saggies onder die rotsafdakkie uit. Ons oë soek verwild rond. Waar? Waar?

“Sien jy?”

“Nee, nee, nog nie.”

“Sien jy nou? Daar!”

En dan roer iets rooi-bruin tussen die immergroen blare.

“Volg my!” sê die opgewonde gids.

“Hati hati!” Versigtig!

En so volg ons haar…die pragtigste oerangoetang met sielvolle oë wat deur my kameralens verbasend baie soos die van my eie spesie lyk. Sy swaai en spring van tak tot tak. Haar wilde roesbruin pels beweeg rats hóóg in die boomtoppe.

En later…nog een. Hierdie keer groter. Hy is dadelik agressief toe hy ons gewaar. Ons koes vir boomtakke wat hy sonder moeite afbreek en in ons rigting slinger. Hulle is besig om hul neste vir die aand te bou. Oerangoetangs bou elke aand ’n nuwe nes in ’n nuwe boom. Hulle gaan hulle gang daarbo, pla niemand nie en kom net grond toe wanneer hulle moet.

Dit is omtrent ’n belewenis om hierdie twee te sit en dophou. Hulle hande werk slim en vinnig om hulle lêplekkies vir die aand voor te berei. Dit terwyl hulle te heerlik met mekaar “gesels”. Hoe ongelooflik is dit nie dat hierdie massiewe diere hulself so gemaklik hoog in die takke kan balanseer nie. Ek beskou hul vlytige hande, hul vastrap-voete en veral hul oë wat soveel emosie toon. Baba-oerangoetangs word tot op die ouderdom van ses of sewe jaar nog deur hul ma’s gevoed. Hulle toon die die langste afhanklikheid van hul ouers in vergelyking met enige ander dier op aarde. Fasinerend!

Is ons mense nie maar ook op ’n manier so nie? Ons bly onder ons ouers se dak tot ons skool verlaat, en eers dan begin ons ons eie nessies bou. Dit neem agtien jaar om ons te vorm, wysheid te leer en gereed te maak vir die grootmenswêreld. Dis ’n vreemde gevoel dié – om dieselfde eienskappe in ’n dier raak te sien.

So sit ons op ons hurke en hou die twee dop. Vir lank. Ons sit daar totdat ons asems bedaar en die modder op ons knieë stol. Eers dan besef ek hoe oortrek my bene van die muskietbyte is.

Ek is so dankbaar. Dat ons hulle kan sien – en nie sommer enige plek nie, maar hier waar hulle hoort. Dit is net voor sononder en die reën het intussen bedaar. Ek sit my zoemlens op my kamera om nog ’n foto te neem. Ek skrik. Dis die mannetjie – hy kyk my direk in die oë.

“Ons moet gaan,” sê Muslianto. Voor dit donker raak.

The post Borneo se aap-mense appeared first on rooi rose.

Om op die boonste trappie te kan staan…
Om ’n vakansie te beplan verg nie té veel inspanning nie. ’n Besoek aan die plaaslike reisagentskap, ’n paar neongeel stik-it notas in die nuutste Lonely Planet en ’n móét-sien-lysie later, en jy is so te sê reg om te vertrek. Maar om vir ’n geruime (soms onbepaalde) tyd die vreemde in te vaar, is bepaald ’n ander storie.

Jou kop moet reg ingestel wees. Jou sak – slim gepak. Idilliese idees oor eksotiese lande en fassinerende mede-reisigers wat jy om elke hoek en draai gaan ontmoet, word vir eers opsy geskuif. Daar moet plek gemaak word tussen jou ore vir vinnig en prakties dink. Jy word opnuut gedwing om volle verantwoordelikheid vir jou besluite te aanvaar. Daar is niemand om te blameer as jy jouself sielsongelukkig, verlore of onbekwaam bevind nie.

Jy wonder telkemale of jy die regte besluit geneem het. Kyk jy oor jou skouer, is alles bekend. Jou land, jou mense. Hulle wat jou aanvaar en onvoorwaardelik liefhet, maak nie saak wát nie. ’n Plek waar jy vir ewig sal hoort. Dié land van jou wat so ongelooflik divers en snak-na-jou-asem mooi is. Die idee van ’n beroep en standvastigheid fluister tergend in jou oor: draai terug, draai om!

Die vulkaan Bromo in Indonesië

Kyk jy vorentoe, is dit die onbekende waarna jy al so lank hunker. ’n Splinternuwe kontinent, geheimsinnige lande, mense wat die wêreld vanuit ander oë beskou, vreemde tale en eksentrieke disse. Plekke op aarde waar vulkane ontplof en apies in natuurlike sauna’s bad. Lande waar geweld ’n rare gebeurtenis is, maar waar tifone en aardbewings seisoenaal heers. Anderkant die water of “oorsee”, soos ons Afrikaners sê, lewe mense anders, glo hulle anders. In jou geestesoog sien jy jou oorlede oupa se aardbol op sy brons pootjie glinster, en jy besef skielik jou wêreldjie het te klein geword. Dis tyd…

Twee jaar later kyk ek terug, en kan byna nie glo dat ek ooit getwyfel het nie. Sommige mense noem dit “woon-en-werk-oorsee”. Ek verkies die term “slakkepas-toeris”. Om jouself genoeg tyd in ’n land te gun om werklik die mense en hul manier van dinge doen soveel as moontlik te begryp. Op watter beter manier kan ’n reisiger ’n nuwe land ervaar as om met die inwoners vriende te word, om ’n salaris daar te verdien en tydelik ’n lewe daar te probeer maak?

Die besluit om Engels in Korea te onderrig, het meer deure oopgemaak as waarvan ek ooit sou kon droom. Tussen kontrakte deur, is dit moontlik om maande lank te reis na ander lande in Asië wat nou slegs ’n klipgooi ver is.

Die tempel Guinsa in Korea

Thailand, Kambodja, Maleisië, Laos, Vietnam, Indonesië, die Filippyne, China, Japan. Sommige reeds besoek, sommige moes ek nooit verlaat het nie en ander nog op my emmerskop-lysie. Die sogenaamde “reisgogga wat byt”, waarna mense so dikwels verwys, se simptome vererger net hoe meer plekke mens besoek. Hoe verder jy reis, hoe vinniger kom jy agter dat jy eintlik baie minder weet as wat jy gedink het, en hoe meer neem jou nuuskierigheid toe. Nie lank daarna nie bevind jy jouself weer terug by Oupa se aardbol.

Ek reis graag na plekkies waarheen vriende en kennisse nog nie was nie. Op dié manier kan ek my eie opinie vorm oor ’n plek sonder vooropgestelde idees. Of dit nou ’n eenvoudige uitstappie is soos ’n besoek aan ’n versteekte tempeltjie in ’n Koreaanse vallei, of iets meer opwindend soos wilde oerangoetangs soek in Borneo se reënwoude – die idee is om te léwe, en te ontdek. Lewenservaring vereis nie ’n graad nie – dis ’n nimmereindigende persoonlike kursus waarvan jy permanent ’n student is.

’n Paar maande gelede bevind ek myself tussen tweeduisendjaar-oue rysterrasse in die Filippyne. So iewers tussen die groen ryslappies en styl trappies kom ek ’n uitasemde vyf-en-sewentig-jarige Australiese man teë.

“Ek moes”, sê hy, “hierdie uitstappie eintlik dertig jaar terug kom doen het. Miskien kon ek dit dan tot heel bo maak. Maar…dit bly steeds mooi”.

Die wêreld is te groot en kontinente te ver uit mekaar verwyder om alles in een lewe te probeer sien, dink ek by myself. Maar steeds, goed gedoen, Omie! Ek is die grootste aanhanger van mense wat op hul oudag nuwe avonture wil aanpak.

Maar dié moet ek moet tog erken: toe ek bo kom, is ek innig dankbaar dat ek nog die vermoë het om mý foto van die heel boonste trappie af te kan neem.

The post Om op die boonste trappie te kan staan… appeared first on rooi rose.