ronel nel | rooi rose

Neil Sandilands maak deurbraak oorsee
Ronel Nel het in 2012 met hom gesels …

Jy dink dalk dat jy Neil Sandilands ken – jy sien hom tog al die afgelope 22 jaar op Suid-Afrikaanse televisie. Maar daar lê veel meer onder die man se vel, en daar gaan nog meer in sy kop aan as wat jy sou vermoed. Deur Ronel Nel.

Neil het nie bekendstelling nodig aan televisiekykers, fliekgangers, toneelliefhebbers of beoordelaarspanele van rolprente en dokumentêre rolprente nie. Hy was jare lank die geliefde Bart in die sepie 7de Laan; die hoofspeler in die TV-reeks Orion, ook in Katinka Heyns se reeks oor die Anglo-Boereoorlog, Feast of the Uninvited; in Soutmansland, Konings, Meester, Carpe Diem, Unsung Hero, Jozi-H, Snitch, Jakhalsdans …

Dat die man ooit slaap, is ’n wonderwerk, derhalwe was die vier (of was dit sewe?) koppies koffie wat hy met die onderhoud gedrink het, geen verrassing nie.

“Ek is nou al ses jaar sober en is nie van plan om ooit weer daardie roete te volg nie. Dus is koffie nou my enigste ‘kruk’. Ek ken koffie! Swart en bitter soos my siel,” spot hy.

Maar Neil is nie net ’n akteur nie. Hy is, wat mense in die ou dae ’n “Renaissance-man” genoem het, ’n volronde kunstenaar. Tel dit maar op jou vingers af: rolprentmaker, regisseur, vervaardiger, redigeerder, akteur, kunstenaar, digter, sanger en liedjieskrywer (hy speel kitaar dat tot die hout begin huil).

En, wil ek byvoeg: denker-filosoof.

Ek het lank laas, indien ooit, ’n onderhoud met ’n “sepie-akteur” gehad waarvan die grootste gedeelte van die onderhoud oor die nihilisme van die groot filosoof Nietzsche, of die post-modernisme in Chomsky se werke gegaan het.

Geen wonder die beelde waarby Neil afgeneem is, is tekenend van die filosofiese tweestryd in die man se gees nie. Die beelde is pragtige bronswerke van een van Angus Taylor, een van ons voorste beeldhouers, en is getiteld: Co-presence (Apollonian – Dionysian) – wat te sien is by Pretoria se spog-inkopie- sentrum, die Irene Village Mall in Centurion.

Die twee beelde kyk stip na mekaar, takseer, weeg op, elkeen gereed om sy sprong te maak; elkeen gereed om op sy manier sy stempel op die aarde en sy mense af te druk.

Apollo was die Romeinse god van musiek en poësie, maar ook van oorlog. Dionisus was die Griekse god van die kunste – en van wyn. Die god van epifanie, “visioene”, en ’n toonbeeld van die sterflikheid van die mens wat, terselfdertyd, beteken ’n mens moet die lewe aangryp, beleef, kreatief daarin verkeer.

Die twee in kontras is eintlik een. Soos ’n spieëlbeeld van jouself, en selfs dan herken jy jou nie in die ander beeld nie.

Dit suggereer, volgens Dionisus, die geykte – maar ware – uitdrukking: Carpe diem. Gryp die dag.

Maar daar is steeds ’n interne dualisme, ’n verskeurdheid, in die stand teenoor mekaar, al verteenwoordig die twee beelde dieselfde entiteite.

Nou hoe bring jy dit by die méns Neil Sandilands uit?

Wel, as daar ’n lewende voorbeeld van carpe diem is, is dit hy. En van die dualisme wat daar tog in elke mens woed, al is dit onder die oppervlak. Sy skeppingsdrif – dis nie net ’n drang nie, die meeste van ons het dit – is aansteeklik en verbysterend.

Neil bring deesdae die meeste van sy tyd in Los Angeles, in die hart van Hollywood, deur. Nie om te kyk of hy ’n gelukkie tref en iemand hom dalk ’n werk as akteur aanbied nie. Hy wérk. En hy doen goed, dankie.

Hy het pas die redigering voltooi van ’n internasionale dokumentêre program wat handel oor posttraumatiese stres: Resolve, a guide to post traumatic growth. Hy was verlede jaar onder meer in Amerika, Australië, Kanada, Franse Polinesië en twee keer in Suid-Afrika vir verskillende dokumentêre projekte.

“Ek het in dieselfde strate as Matisse en Gauguin rondgeloop. Dié twee kunstenaars het albei dele van hul lewe op die Franse Polinesiese eilande deurgebring.”

As akteur was daar ook aanbiedinge, ja. Hy is tans in Suid-Afrika vir die verfilming van One Last Look deur die Emmy-vervaardiger Dan Jawitz. In die VSA is hy vasgemaak vir rolle in House MD, Kidnap & Rescue: Project Child Save (Discovery) en Depravity, ’n fliek deur die Franse regisseur Dimitri Sarassin.

“Maar nie alles wat ’n mens doen is ewe gesog nie. ’n Suid-Afrikaanse resensent het al geskryf dat ’n sekere toneelstuk steeds in die kol was ondanks my vertolking van die hoofkarakter. ’n Mens rol maar met die punches. Ek is nou in die stadium waar ek maar net die werk doen wat voor my is, soos N.P. van Wyk Louw gesê het. Na my beste vermoë.

“In my mees onlangse kortfliek speel ek die rol van ’n meth-verslaafde pa met Sheena McCann as die regisseur. Die rolprent, The Darkness is close behind, is in opdrag van die Amerikaanse Rolprentinstituut gemaak. Dit het pas ’n Award of Excellence gewen en is uitgenooi om in Maart by die Screen Directors Guild in Los Angeles vertoon te word.

Neil, en Albert Maritz as medevervaardiger, se onlangse dokumentêre reeks Impresario wat deur kykNET gebeeldsend is, het verskeie pryse losgeslaan.

“Die reeks handel oorwegend oor Afrikaanse akteurs, die problematiek van die dissipline binne die Suid-Afrikaanse konteks, sotlike bedryfskwessies en selfs meer spesifiek oor die psigiese implikasies daarvan op ’n akteur. Maar die beginsels geld die kunste in die breë.”

Hy is deurgaans besig om te werk aan die post-produksie van ’n dokumentêre reeks oor die legendariese Anton Goosen, wat hy as een van die voorlopers van goeie, oorspronklike Afrikaanse musiek beskou. Indien nie dié voorloper nie.

“Die Goosen-dokkie is iets wat ek en vriend Deon Meyer vervaardig, ek is regisseur en redigeerder, en ons is die afgelope twee jaar piecemeal daarmee besig.”

Neil is op 1 Mei 1975 in Randfontein gebore. In sy 36, byna 37 jaar op tuisbodem het hy ’n magdom dinge reggekry. Hy het een van die gewildste volksakteurs geword, het deurentyd in toneelstukke opgetree en word deesdae as een van ons land se beste “ernstige” akteurs beskou.

Een van sy vorige dosente aan die destydse Randse Afrikaanse Universiteit (nou UJ), het onlangs van hom gesê:

“Die dag toe dié klein mannetjie in my klas instap, toe weet ons dadelik almal van hom. En ek het tóé reeds vermoed: hier kan ons greatness verwag.”

Neil het destyds kommunikasiekunde studeer, maar het die kampus stormgeloop met verhoogstukke wat hy geskryf en opgevoer het. ’n Interessante begin van ’n akteursloopbaan, veral as jy in gedagte hou dat RAU destyds nog nie ’n kunste- en dramadepartement gehad het nie!

“Ek was reeds as skoolkind in Meester en Konings te sien, en het in standerd agt en nege basies net ge-act.”

Neil se lewe as akteur en later multigenrekunstenaar, het nogal op ’n snaakse wyse begin. Hy was op skool veral bekend as een van David Kramer se beste nabootsers!

“Ek dink steeds Kramer se Bakgat is ’n cult-album. As graadeenlaaitie het ek al die deuntjies geken van liedjies wat eintlik daarop ge-mik was om sosio-politieke kommentaar te lewer soos ‘Botteltjie Blou’, ‘Is jy Bang?’ ‘Krisjan Swart’.

As hierdie storie tot nou toe gelees het soos ’n curriculum vitae, is dit omdat jy net eenvoudig in die gesprek – en opleeswerk – stomgeklits word deur al die pyle wat dié betreklike jong akteur in sy koker dra. Vlymskerp, soos daardie kop wat nie vir ’n oomblik kan ophou dink, redeneer, beredeneer nie.

“Hoe eerlik moet ek wees?” vra hy ondeund op een van my vrae.

“Daar is mos so ’n rule of thumb wat iemand uitgedink het wat sê ons moet tog net nie te ingewikkeld raak vir die leser nie.

Ek het ’n hekel aan daardie soort sensuur en neer-halende ingesteldheid. Ek meen as ek eerlik probeer wees oor my ervaring, sal dit (dalk) tot die publiek spreek, pleks van hulle te oortuig dat ‘ek die lig gesien het’, of een of ander wysheid het, of ’n rolmodel is. Nog minder dink ek lesers se dag gaan beter wees as hulle ’n artikel moet lees oor my gunstelingkleur, of wat ek vanoggend vir ontbyt gehad het.

Is dit hoekom 7de Laan se Bart gewerk het?

“Ek reken so. Bart was blue collar. Ek dink nog altyd teater en film, selfs TV se beste karakters is blouboordjiewerkers.

Eenvoudige mense. Mense kon hulle met Bart vereenselwig omdat hy nie die konvensionele ‘held’ was nie. Hy het krake in sy make-up gehad. Bloot menslik. Dit beteken nie hy was ’n karikatuur nie, en dis die verskil.”

Is dit die soort rolle wat jy verkies? Hoe sien jy acting?

“As ek oor ’n rol twyfel, is dit altyd ’n goeie vertrekpunt. Ek sien dit as ’n uitdaging om by die menslikheid te probeer uitkom. Ek speel tans ’n ietwat onsmaaklike karakter, maar dis my werk om sy menslikheid te soek. Acting is ’n vreemde ding, ek is nie seker of ek dit heeltemal begryp nie, maar ek hou van die idee van ‘shape shifters’, amper magiese sjamaanse figure soos in antieke kulture. Dis individue wat ’n gawe het om deur karakte-risering ander mense bewus te maak van die fynere nuanses van menswees. Daar is natuurlik akteurs en vermaaklikheidsterre. Twee verskillende wesens, maar ek het al albei hoede gedra. Ek verkies om te dink dat ek akteur is – ek voldoen aan die kriteria – ek het ’n onvervulde ego en ’n vloeibare emosionaliteit en ek’s bietjie van ’n pelgrim, ’n reisiger. Ek het ongelooflik baie empatie met die menslike kondisie en ek voel ek kan deur acting ’n deur oopsluit waar andere liefs nie wil ingaan nie. Ek dink dus ek het ’n breër verantwoordelikheid as om bekend te wees omdat jy op TV is. Amper ’n oorontwikkelde super-ego, in die Freudiaanse sin. En volgens my is acting ’n edeler dissipline as die preekstoel of die politieke podium.”

“Daar is ’n persepsie dat jy moeilik is … “ waag ek.

“Dankie daarvoor. Ek sou bekommerd begin raak as jy my as ‘the man with the Fatherly smile’ gesien het. Daar is ook natuurlik iets soos ’n bevestigings-vooroordeel. Bloot deur die vraag te vra, steun jy die persepsie. Maar ja, ek is bewus daarvan. Al wat ek in my betoog kan aanbied, is dat ek met ’n standpunt na die tafel toe kom. Ek verabsoluteer nooit daardie standpunt nie. Ek is oop vir oortuiging, mits die teenargument rede behels en nie konvensie of mite of dogma nie.

En ek haat boelies. Dan verkies ek om moeilik te wees. Sean Penn is moeilik, Nelson Mandela was moeilik, om die waarheid te sê ek het feitlik deurgaans meer respek vir die moeilike kalante in die geskiedenis omdat dit durf moes verg om op te staan vir jou oortuigings.”

Wat is jou oortuigings?

“Wow, is jy seker? Wil jy nie eerder oor die Blou Bulle se nuwe truie gesels nie?

“My lewensbeskouing? Ek sien myself eerstens as deel van die kosmos, die universum. Laastens is ek toevallig ’n Afrikaanse witbooi van Afrika. Indien jy so na die mens-like kondisie kyk, kan jyself sien hoe weglaatbaar klein konsepte soos geslag of ras is. Tweedens dink ek die grootste probleem vandag is die miskenning van sosiale kontrak. Ek is vry om te maak en doen en dink sover as wat my vermoëns en talente my toelaat, mits ek nie die volgende persoon se reg om presies dieselfde te doen inhibeer nie. Dit kom neer op daardie Bybelse ding van ‘hê jou naaste so lief soos jouself’. Indien jy so na die wêreld kyk, is dit verskriklik erg om te sien wat om ’n mens aangaan. Ek voel skuldig as ek ’n sigaretstompie by die venster uitgooi. Laastens glo ek in die ‘oppergesag’ van die estetiese. Wat ek daarmee bedoel, is dat deur skeppend te wees ons moontlik die naaste kan kom aan ’n tikkie goddelikheid. Ons is veronderstel om die skepping mooi te maak met musiek, argitektuur, kos, literatuur, vorm, kleur, stories. As jy dit verstaan, sal jy weet wat ek van Wall Street, die JSE, korporatiewe instellings, franchises dink. En vreemd genoeg is dit die een ding wat ons almal gemeen het: Bart en Nietzsche weet albei intuïtief dat ’n sonsondergang prentjiemooi is. Daars ’n onmiddellike herkenning van die sublieme. Deur kreatief te lewe, kry ’n mens betekenis, dignity. Ek dink nou aan daardie Bob Dylan song ‘So many roads, so much at stake, so many miles – I’m at the edge of the lake, sometimes I wonder what its gonna take to find ‘dignity’.”

Op my vraag hoe dit in LA is, antwoord hy bondig: “Harde, harde werk. Die mense wat daar die top-echelons bereik, verdien dit. Hulle kry dit nie op ’n skinkbord nie. Maar dis ’n strekoefening. Los Angeles is die hoofaar van internasionale Kulturele Imperialisme, dit maak sin om dinge ’n bietjie te gaan uitkyk. Maar intussen moet ’n mens leef ook. Dis nie ’n gemaklike proses nie, maar ek glo dit ‘strek’ my. Ek leer. Hopelik sal die kennis my iewers vorentoe goed te pas kom. Maar ek verkies steeds om in Afrikaans te werk.”

Neil se oorgang tot die internasionale arena – wat uiteindelik ook gelei het tot sy trek na Los Angeles – het plaasgevind met sy deurbraakrol as Rijkhaart Jacobz in Proteus, ’n kunsfilm onder regie van John Greyson.

Dit het kritici en belanghebbendes laat regop sit. En die uiteinde: Neil het die onvermydelike sprong gemaak. Of sal ek eerder sê – ek begryp dat hy sou wou “strek”.  Nie net as akteur nie, maar as mens. Dat hy aanbeweeg het na ’n hoër, of dieper, betrokkenheid by sy burgerskap van die visuele en dramatiese kunste, is sigbaar. Hy’s fisiek baie leniger, daar is kreukels om sy oë wat, laas toe ons hom gesien het, nog nie daar was nie.

Maar daar is ’n selfversekerdheid oor die feit dat hy op die regte pad is, ook sigbaar, tasbaar in sy houding. Nooit ego nie. Net ’n wete dat die pad, die visuele pad, wat hy nou loop, die regte een is.

Mis hy Suid-Afrika?

“Dis erg. Om van Afrika te wees is ’n eiesoortige, unieke voorreg. My beroep en geskiedenis in Afrika is iets wat ek koester. Dit het my gevorm. Dis my Ma. Ek mis my vriende, die sin vir humor, die kos, die geure.

Nou hoe bring ek dit alles by Apollo en Dionisus uit? wil ek weet.

“Maklik,” sê hy. “My twintigs was Dionysian. Daar was ’n ongebondenheid, ’n vryheid. Ek het party gehou, soos Charlie Sheen het ek gedink ek het ‘tiger blood’. Maar die lewe het my ook ’n paar taai klappe gegee. Gelukkig het ek vroeër as Charlie uit my foute begin leer. My dertigs sou ek meen was meer ondersoekend, ek het my eie dissipline gedekonstrueer, ek het die status quo ondersoek, die apparatus wat die vinger klap en ons moet spring. Dit het my moeilik gemaak. Ek sou skat dis waar Apollo en oorlog inkom. Die strewe is natuurlik die middeweg, nie die ekstreme nie. Ek strek nou om daarby uit te kom. Ekwilibrium. Miskien maak dit my ’n beter akteur, want daar is nog heelwat te leer, maar ek sou laaik om te dink ek het die potensiaal om beter te raak met die menswees-ding.

“Ek dink dis genoeg. Ek moet op nou-nou op stel wees.”

So vinnig as wat hy gekom het, is hy weg. Ek’s ietwat sprakeloos.

The post Neil Sandilands maak deurbraak oorsee appeared first on rooi rose.

Ronel Nel: Dagboek uit Denmar
One Flew over the Cuckoo’s Nest. Dink aan Jack Nicholson met sy wille wenkbroue wat so van bó af manies op jou neermik en jy wéét sommer: Dít is mos hoe mal lyk.

Denmar. Weskoppies. Vista. Al daardie plekke waarvan mense so onder hul asems praat. Vantevore het ons oor kanker ook gefluister. In kleinletters. Onderkas. “Het jy gehoor? Kobus het kanker.” Sommer onlangs nog.

My tannie Dottie doen dit steeds. “Haai my kind. Ek hoor jou pa het kanker. Nou watse soort ís dit? Is dit van die vinniges? Hoeveel maande het hy oor?”

Hy’s klaar dood, tannie. Dit was agt maande, altesame.

Agt aaklige maande wat my hele lewe verander het. Ons hele familie s’n, trouens. Wat op die ou end tot my ma se dood gelei het, ook.

“O, regtig? My herre, hartjie. Nou wat het sý toe nou oorgekom?”

Hartversaking. Lewensmart, tannie Dottie.

“Tsk-tsk. Gelukkig darem net die hart.”

Darem nét die hárt? Wat beteken dít? Dalk bedoel sy die siel. Want dit is wat dit is. Mense gaan dood aan die seerste seer van die siel, tannie Dottie.

Dit is hoekom daar plekke soos Denmar is. Die “Weskoppies vir ryk mense”, soos my sielkundige, dokter William, dit noem. Kliniese sielkundige, want dit is net húlle wat in hospitale soos Denmar met ons sagtes se koppe mag werk.

Voor kanker was daar ander onnoembare siektes. Tering. Vigs. Melaatsheid.

Wat moes melaatses nou weer uitroep? “Onrein! Onrein!” soos hulle aangestap kom. Want mense het nie verstaan nie. Mense was nog altyd bang vir siektes, ongesteldhede, toestande wat hulle nie verstaan het nie. Mense is steeds. Bang. En vrees maak mense wreed.

Deesdae is Denmar so ’n plek van skaamte.

Die stigma. O, die stigma.

Wel. Ek was daar. “Het jy gehoor? Ronel is in Denmar.”

Die eerste vraag wat ek telkens gevra word, is: “So, wat sê hulle is fout? Wat is jou diagnose?” Dis natuurlik net die dapperes wat dit vra. Die res kyk jou net meewarig of stom aan, of het lankal reeds anderkant toe geloop. Weg.

Jammer, daar is toe geen formele diagnose nie. Geen “klas van malheid” nie. Ek is nié bipolêr, psigoties, dipsomanies, skisofrenies, alkoholies (hoewel ek my tydens “die krisis” soms wel erg vergryp het), depressief, psigopaties, enige -aties, -olies of -anies nie.

Dit was doodeenvoudig: Die lewe het gebeur.

Vuiste vol daarvan, en in ’n baie kort tyd. Ek kon my nie meer verweer en die houe wegkeer nie. Jy is die een oomblik nog besig om jou lewensbokshandskoene se veters weer vas te ryg, dan kom daar nóg houe, so van ver buite die periferie van jou sielsoog.

Dwaff!

En dis bliksems seer.

Daar wieg jy dan, al kopskuddend. En jy probeer so hard. Jy probeer só verskriklik hard om net ’n bietjie van jou fokus terug te kry. Net soos daardie wêreldbokskampioen George Foreman nadat die uitdager Mohammed Ali hom in die agtste ronde in Zaïre uitgeklits het. George het eers ’n bietjie regop probeer bly. Steierend. Uit op sy voete. En toe kantel hy om: reguit mat toe. Die “grootste sportgebeurtenis van die twintigste eeu”, word dit vandag nog genoem. The Rumble in the Jungle.

Wel, ek sal dit graag só op my CV wil aanteken: Die grootste sielsgebeurtenis van die 21ste eeu. Ronel Nel se Rumble in the Jungle. Maar dié keer aan die verloorkant: Gesig eerste, plat op die planke. “Losing face”, sê hulle dit so gepas op Engels.

My psigiater en sielkundige, Gert en William onderskeidelik, noem dit albei ’n “lewenskrisis”.

Almal van ons gaan iewers in ons leeftyd deur ten minste een, sê Wikipedia. En ek móét hulle glo, anders gaan ek regtig soos ’n loony voel. Sommige mense s’n is net harder, of swaarder, en sommige hanteer dit beter, of het wyer, sterker en groter onderskragingsmeganismes.

“Die mees ‘tipiese’ oorsaak van opname in ’n psigiatriese hospitaal is dikwels net algehele uitputting, lewensmoegheid, ’n sameloop van omstandighede wat só opgehoop het dat die mens nie meer beheer daaroor het nie,” sê dr. Gert Bosch van Denmar Psigiatriese Hospitaal in Pretoria.

“Dit beteken nie die pasiënt is ’n swakkeling nie. Dit is ’n doodgewone mens wat na ’n plek soos Denmar toe kom vir hulp; om gesond te word. En heel dikwels – die meeste van die tyd – is die persoon in ’n lewenskrisis. Sy of haar ondersteunings-meganismes het weggeval, interpersoonlike verhoudings het gekwyn, en derhalwe is daar ’n gevoel van sosiale verwerping.”

Dr. William Griffith, die kliniese sielkundige wat meestal in tandem met dr. Bosch werk, stem saam.

“Daar is dikwels ’n huiwering by mense – veral ons in ’n patriar-gale Suid-Afrikaanse konteks – om na ’n plek soos Denmar te kom omdat ons ons beroep op ’n eksterne krag, ’n God, om ‘die probleem’ op te los. Maar as jy na ’n hospitaal of dokter kan gaan met ’n gebreekte been, waarom kan jy jou nie na ’n dokter wend met jou seer siel nie?”

Mý krisis was dat my ondersteunings-meganismes – met ander woorde my familie, vriende, my finansies, en gevolglik en uiteindelik ook my gesondheid, die teiken en oorsaak van al my ellendes was. Binne twee, drie jaar het ek omtrent álles wat ’n mens méns maak, aan die dood afgestaan of heeltemal verloor. Op die alleraakligste maniere denkbaar – en sonder ’n kans om tussenin asem te skep, of dinge te probeer “fix”. En ek kon eenvoudig nie met alles tegelyk cope nie.

Denmar-toe was presies 48 uur ná Ma se begrafnis: 9 Julie 2011. ’n Bottel Jack en ’n bottel OBS later. En ontelbare glase witwyn. Geen kos vir omtrent twee, drie weke, maande, nie. Jare? Ek het oor ’n tydperk van twee jaar sowat 25 kg verloor. Stres en angs en pyn en ’n onvermoë om ’n hele wydverspreide familie-Nel plus my eie gesin en werk en tuiste en ander verpligtinge bymekaar te hou. Wat nog te sê ’n vriendekring.

Sowat drie jaar tevore is Pa op 7 Julie 2008 sewe uur lank geopereer vir kaakkanker – wat agt maande plus en 55 kg minus later in sy dood geëindig het. Die kaakkanker het beenkanker het beenmurgkanker geword en dit was al. Ironies is die vader van die Siel se Kunde, Sigmund Freud, ook dood aan kaakkanker, het ek later gehoor.

Derhalwe het Sigmund my Denmar toe gestuur: en die eerste keer toe ek deur daardie hekke stap, onthou ek, het ek gedink: Wow! Hogwarths! Ek voel ’n bietjie soos Harriet Potter! Want hiér lê iets magies.

Dit was groen, rustig, voëlryk. En skielik was alles stil. Alles. Die woedende wêreld was weg. Daar was selfs hennetjies wat rondpik met wollerige kuikens oral agter hul deftige behoe-ders aan. En ’n haan wat rondskrop en maak of die werf syne is. Met tafels onder digte bome waarom groepe mense onder die loof sit en gesels – en durf lag!

Wanneer laas het ek gelag? Was my derde klein besef.

Daar was niemand in straightjackets nie – en veral géén cuckoos wat à la Jack Nicholson en kie rondwarrel soos waansinniges nie. Inteendeel.

My siel, gees, hart, wat jy dit ook al noem, het onmiddellik haar hangmat gekry.

Die stormwind het opeens gaan lê. En dit het gebeur voordat enige dokter of geneesmeester nog ’n woord met my gewissel het, of enige pil nog oor my lip geglip het. Geen wonder die woorde “hangmat” en “heimat” grens so digby mekaar nie.

Hierdie is dalk net ’n Hogwarths vir die hart, tannie Dottie. ’n Saterdag vir die siel.

So, hierdie is dan die regte DENMAR. In hoofletters en hardop gesê.

Dag 1

Daardie eerste wrede ontwaking. Koffie met beskuit om 5 vm. Ek word onsag wakkergemaak, en dadelik in my roetine ingeboender – net sodat ek weer in die bed kan omdraai om 7 vm. my pilletjies te kan drink (aanvanklik en gewoonlik klein goedjies wat my kalm hou. Ek het, onthou, pas in Denmar ingeseil omdat die skepe van my gemoed op stormseë vaar).

“Die rol van die psigiater is om die diagnose te maak en die onmiddelike psigofarmakologiese ingryping te bewerkstellig. Pasiënte kom gewoonlik getraumatiseerd hier aan, en het medikasie nodig om hulle te stabiliseer. Dis maar net soos iemand ’n bloedoortapping nodig het ná ’n groot ongeluk met baie bloedverlies,” sê dr. Gert.

“Namate die pasiënt psigies stabiliseer, word die rol van die kliniese sielkundige al belangriker, want hy kry die woorde uit die pasiënt.”

Dag 1, 2, 3 en daarna

Ontbyt om 8 vm. ’n Goeie, groot ontbyt met lae-GI-opsies vir diegene wat dit so verkies (ek). Koffie om 10 vm. (Koffie is groot in Denmar.) Middagete om 12 midderdag. Bad of stort, of sommer albei deur die dag. Borrels is belangrik, het ek besef. Dit vou my toe soos ’n hand-soen (sic). Koffie om 3 nm. Aandete om 6 nm. Koffie om 9 nm. Mét toebies.

Res van Denmar-dae

Sien Gert en William daagliks – en dis nie net pille en praat nie. ’n Vertrouensverhouding word gesmee wat vér verby enigiets anders in jou lewenservaring tot nou toe strek. Dit het niks te doen met familiale liefde of erotika of met vriendskap nie. Dis ’n vertroue met jou innerlikste. Jou siel.

As die pasiënt, soos in my geval, so gelukkig is om in bekwame en keurige hande te beland, word daar baie delikaat met jou psige gewerk. Uiters fyn.

Al jou onsekerhede wat jy op die terapeut uithaal, word opsy gestoot, en hy, wat dit moontlik agt keer per dag moet verduur, kyk ver verby die woedende, verwoeste mens voor hom, en sien die verwonde. En bewerk wondere daarmee.

En die ander magician, die psigiater, doen sy alchemie. Toor met sy pilletjies en sy ore – luister fyn deur al jou woorde heen. Waar sit jou gees nou? Hoeveel milligram na links, na agter, na watter deel van die serebellum? Waar lê jy nou op die vyf asse van psigologie?

Wat sou Freud sê?

Die dag stap aan, en so besoek ek tussendeur die fisioterapeut. Myne was Pieter Blom, ’n blinde man met siende hande wat my spiere behendig soos Braille lees en die spanning interpreteer.

Daar is ander opsies. Leer ken jou kamermaat/s; slaap, want ek mag; neem deel aan sport- en ander ontknopings (nie ek nie); drink nog koffie (ja!); maak kuns (ek het nie); skryf (in my geval); leer ander mense ken (jip); drink weer koffie.

Musiek en gesond word dans hand aan hand. So sal elke blom op aarde jou kan vertel – nie net Jan nie. Elke liewe oggend in die eetsaal is ons begroet óf met John Denver se “Leaving on a Jet Plane” óf Roxette se “Dressed for Success”.

Hoe ironies is daardie teenpole in die titels.

Ek het my skootrekenaar daar gehad, want ek moes rooi rose se kunsteblaaie tussendeur skryf, onthou. Dat hierdie wonderlike tydskrif my nie ge-fire het in daardie tye nie, bly ’n getuienis van die kaliber mense wat aan die hoof staan.

Die oggend toe ek met sewe gesnyde CD’s vol nuwe musiek in die eetsaal instap en die kombuispersoneel hoor vir die eerste keer in twee jaar iets anders as John of Roxette, toe dans en jil die hele Denmar! (Ek belowe.) Selfs die hoenders het hul koppe skuins gedraai. Die eerste nuwe song was Johnny Clegg se “Scatterlings of Africa”.

Om die ander mense te leer ken, is een van die hoogtepunte en die grootste openbaringe. Almal doodgewone mense.

Kan jy nou meer, tannie Dottie? Jou buurvrou of -man was dalk al in Denmar, jy sal nooit kan raai nie. Of selfs dalk jou dokter, jou dogter of jou kleinkind. Want almal swyg daaroor.

Die “hulle” is toe ek en jy en ons. Onderwysers, polisiemanne (en -vroue), proffies, huisvroue, joernaliste (jip, ’n hele paar van ons), ’n paar akteurs (geen name, helaas). Kunstenaars, sangers, studente, trokbestuurders, kokke, kassiere, administrateurs, sekretaresses, ma’s, pa’s, selfs ’n paar skoolkinders wie se ouers hulle boelie om goed te presteer. Boere (’n hele spul!), haarkappers, dokters. Daar was selfs een digter.

My kamermaats het my dalk meer van oorlewing geleer as al die mense in my lewe pre-Denmar. Dit vat baie om die lewe te oorleef, glo my.

Ntombi* het die grootste en ruimste lag van alle mense wat ek nog teëgekom het. Sy is ’n grootkop by ’n maatskappy soos Vodacom. Aangestel pre-1994, mind you. Geen BEE-aanstelling was sy nie. IT-graad gekry goed voor die bemagtigingstelsel ingetree het – en baie trots daarop. Enkelma van twee, en sy pas haar broerskinders ook op, asook haar ouer moeder. Wie sou nie soms sielsmoeg word onder soveel druk nie?

Sondae is daar kerkdienste vir diegene wat gelowig is – en daar is baie.

My tweede kamermaat was Emmy*. Liewe Emmy het jare lank geglo sy is Liewe Jesus. Sy het dit vas geglo. Haar verjaardag is immers op 25 Desember en sy het die hele wêreld se laste op haar brose dog breë skouertjies gedra. Bi-polêre depressie is wel by haar gediagnoseer. Emmy is een van die mooiste en sagste mense wat ek in my lewe leer ken het.

Maar in 2004, op 26 Desember, ’n dag ná haar verjaardag en met die reuse-tsoenami wat Thailand getref het, het sy besef: Dis mos nou nie wat ek vir die wêreld wil hê nie?

And the penny dropped, soos hulle sê. Emmy is steeds lief vir Jesus, sy sit met omtrent sewe Bybels in haar kas en bid gereeld vir ons sondaars. Maar sy is nou oukei, net ’n mens met probleme soos ons gewones. En haar hart is steeds een groot vergewens-gesinde hemelbed.

Wilhelm, een van die jongmans wat op die Denmar-kampus rondloop en vriendelik gesels met elkeen wat hy teëkom, se Here is anders. Emmy het hom ’n Bybel aangebied (hy haal gedurig versies uit die King James aan en vra ons dikwels wat die groot woorde beteken) maar toe sy hom ’n Afrikaanse Bybel gee, weier hy verontwaardig: “Maar die Here het mos nie Afrikaans gepraat nie!” Gun hom dit. Elkeen het sy fantasieë.

Iris Malema* (geen familie van Julius nie) se wikkeldansie laatnag was ons slaaptyd-wiegelied. Eers die hande warm vryf sodat sy haar brein in die regte plek kry, terwyl sy haar nek rol en die werwels so saggies wraak neem op die ouerword van die lyf. Sy’s skaars 28. Skouers wat een vir een op en af rol en ons geliefde coconut-blom wat stadig begin “mmmm” op die eerste note van “The Wizard of Oz”. Nou dít het ons almal verstaan. We’re off to see the wizard …

Want Denmar is dan óns seer siele se plek van magic.

En so het dit gebeur dat ek, Emmy, Ntombi en Iris ingehaak die “Denmar Shuffle” uitgewerk het, heeltemal spontaan en sonder oefen.

Die shuffle was gewoonlik so kort ná tien te sien, óns nanag. Gang-af. Kompleet met pantoffels, nagkabaaie en japonne. Vol giggel en grap, vol breinpille en sielspyn, af in die lang gang, bed en droomland toe. Ná die laaste tee en toebies. Net soos die viermanskap in The Wizard of Oz: Die tinman sonder ’n brein; die leeu sonder moed; die strooiman sonder krag; en Dorothy wat haar huis verloor en verdwaal het. Iewers, weet ons, iewers anderkant daardie reënboog … Daar lê die moed, die krag, die wete en die rigting.

Selfs die nagpersoneel en die susters het dit geniet; geglimlag en selfs vir mekaar geknipoog.

Vandag nog in die Ibis-vleuel, hoor ek, doen die girls die Denmar Shuffle. “We’re off to see the wizards, the wonderful wizards of Oz” (ons het die wizards vervang deur ons onderskeie dokters se name, of die name van die lekkervoel-pilletjies wat ons moes drink, alles helaas, onnoembaar, hier.) Let op: Daardie “s” aan die einde van wizard is baie belangrik. Daardie allerbelangrike “s” verteenwoordig die belangrikste onderdeel van jou liggaam, daardie entiteit waarvoor jy so skaam is en wat jy so verwaarloos: Jou Siel.

Los maar die stigma. Laat die eerste een wat onskuldig is, die eerste klip gooi.

So, daar skuifel ons vier siele. Gang-af en vorentoe. Al singend en skeef-dansend, baaaie stadig. Op ons eie yellow brick road.

En ons kyk óp en lag vir Jack Nicholson, daardie ou cuckoo.

Ten minste mik ons gesigte na bo. Want ons, ons is op pad na hoop.

Naskrif

My sielkundige (en hy is baie kundig) sê dikwels: Mense by Denmar is nie mal nie. Hul siele is net baie seer.

Dankie William. Hierdie is aan jou en Gert opgedra.

Gert wat van die begin af geglo het ek het nie oornag of skielik gek geword nie.

Ek was net ná ’n klomp onbeheerbare gebeure baie teer, seer en buite beheer.

En dankie aan julle wat my albei gehelp het om alles weer (’n bietjie) heler te maak. Julle is my Wizards of Oz.

The post Ronel Nel: Dagboek uit Denmar appeared first on rooi rose.