sielkunde | rooi rose

Versorging & gesonde grense
In die gang van jou besige lewe neem jy elke dag tientalle besluite. Jy bepaal wat jy gaan eet en aantrek, waarheen jy gaan en saam met wie, wat jy gaan uitrig en hoe jy dit gedoen gaan kry. Jy beweeg na willekeur tussen mense, plekke en take. Maar dis nie almal se werklikheid nie.

Lees ook oor mede-afhanklikheid. Vernietig jou liefde jou?

Daar is dié wat weens siekte, ouderdom of om ’n ander rede nie meer na hulself kan omsien nie. Hulle het versorging nodig, in sommige gevalle selfs net om uit ’n stoel op te staan of ’n slukkie water te drink.

As versorging op die een of ander manier in jou lewe figureer, weet jy waarskynlik watter delikate balanseertoertjie dit is. Die ideale uitkoms is dat die een wat versorg word, voldoende hulp kry maar ook so lank moontlik so onafhanklik moontlik funksioneer. Aan die ander kant moet die versorger ’n eie lewe hê waarop die versorgingsaktiwiteite nie inbreuk maak nie.

Neem jy in ag dat albei die betrokkenes hul voor- en afkeure, behoeftes, begeertes, persoonlike geskiedenis, emosionele wonde en ander geite na die verhouding bring – en dat derde partye baie keer ook ’n sê het – raak die situasie ingewikkeld. Dié artikel ondersoek aspekte van hierdie fyn spel.

’n Aansoekvorm … of nie

Versorgers se opleiding, werkomgewing en take verskil, sê Marna Labuschagne, kliniese sielkundige in private praktyk in Centurion. “Versorging kan tuis geskied, in ’n oord vir bejaardes, hospitaal, kliniek, rehabilitasiesentrum, hospies, plek van veiligheid – noem maar op. Gekwalifiseerde verpleegkundiges, leerling- en assistentverpleegkundiges, en versorgers of caregivers is almal by versorging betrokke. Een versorger kan na een of meer mense omsien, afhangende van die opset.

“Versorgers se take kan hulp met eet, bad, aantrek en beweging insluit; die gee van medikasie of ander basiese mediese sorg; die doen van huiswerk of aankope; om die versorgde rond te neem, of slegs geselskap te hou. Versorging lei dikwels tot ’n intieme nabyverhouding, veral oor ’n lang tydperk, en kan emosioneel en andersins ’n groot uitwerking op albei partye hê.

“In baie gevalle versorg iemand hul ouer, kind, lewensmaat of ander persoon sonder dat hulle om die ‘pos’ aansoek gedoen het, of ’n salaris ontvang. Hulle sien hulself nie in die rol van caregiver nie; dit is maar net een van hul verpligtinge. Dis allerbelangrik dat hulle hierdie rol herken en erken dat hulle as versorgers optree, want die uitdagings eie aan die situasie moet bewustelik benader en bestuur word ter wille van die gewer én ontvanger van hulp.

“’n Betaalde versorger se take en diensure is gewoonlik duidelik omlyn. Daar is afgebakende tye wanneer ’n plaasvervanger die verantwoordelikheid op hul skouers neem. ‘Informele’ caregiving lyk meestal anders. Wanneer ’n bejaarde pa byvoorbeeld by sy dogter se gesin inwoon, is sy heel moontlik elke dag vir sy versorging aanspreeklik. Dit kan so vervleg raak met haar bestaan dat sy (en ander) later nie meer tussen haar versorgingsaktiwiteite en haar normale lewe kan onderskei nie. Uitbranding is uiteraard ’n algemene probleem onder caregivers, of hulle nou ’n amptelike posisie beklee of nie.”

“Uitbranding is uiteraard ’n algemene probleem onder caregivers, of hulle nou ’n amptelike posisie beklee of nie”

Marna lys waarskuwingstekens waarop versorgers bedag moet wees omdat dit op uitbranding kan dui:

Lusteloosheid, ’n gebrek aan belangstelling in dinge wat jou voorheen geïnteresseer het, depressie.

Isolasie, omdat daar nie meer tyd is vir jou eie sosiale aktiwiteite nie.

Oormatige angstigheid.

Skuldgevoelens, selfverwyt en kommer of jou pogings goed genoeg is.

Irritasie, frustrasie, humeurigheid of woede.

Wrokkigheid omdat die situasie soveel van jou vra.

’n Onvermoë om die eise van versorging saam met jou gesin, werk, finansies en ander logistieke uitdagings te hanteer.

Jy versorg jouself nie meer soos vroeër nie.

Eet- of slaapsteurnisse.

Selfmedikasie met alkohol, pille en meer.

Fisieke simptome soos hoofpyne, spysverteringsprobleme, of beserings veroorsaak deur die hantering van ’n verswakte persoon.

“’n Familie-opset kan talle komplikasies tot gevolg hê. Versorgers deel soms hul frustrasies met ander familielede, wat nie besef hulle moet psigiese steun verskaf nie en bloot saam ‘kla’. Dan lê die antwoord in ’n onafhanklike, objektiewe buitestander, soos ’n sielkundige wat versorgers kan help om ontstellende emosies te verwerk, hulself te handhaaf waar nodig, en praktiese oplossings te bedink.

“Versorgers deel soms hul frustrasies met ander familielede, wat nie besef hulle moet psigiese steun verskaf nie en bloot saam ‘kla’”

“Dit gebeur ook dat familielede die een kritiseer wat die caregiving verskaf. Die beste stuurlui staan mos aan wal! Wanneer die versorger verdedigend begin optree, kan die aanleer van goeie kommunikasievaardighede, soos die vermoë om tussen kritiek en advies te onderskei en dit reg te hanteer, ’n positiewe uitwerking hê.

“Betrokkenheid by besluite rakende die versorgde kan moeilik wees. Dink maar aan besluite oor take wat die persoon nie meer behoort te doen nie, soos motor bestuur; of drastiese veranderings, soos die verskuiwing na ’n versorgingsentrum en of masjiene wat die persoon aan die lewe hou, afgeskakel moet word.

“Betaalde sowel as informele versorgers is dikwels te skaam om te erken dat hulle nie die mas opkom nie – jy is mos veronderstel om te cope. Boonop verwag hulle baie keer te veel van hulself, veral as hulle grootgemaak is om selfless te wees. Hulle stel onbereikbare standaarde en as hulle nie kan aanhou gee en gee nie, voel hulle hulle skiet tekort.

“Daar kan ook ’n gevoel van innerlike verskeurdheid wees. Hulle wil help, maar hulle wil ook nie omdat dit soveel van hulle verg. ’n Diep band met die versorgde kan tot angs, magteloosheid, skuldgevoelens of selfverwyt lei, veral wanneer die versorgde agteruit gaan of sterf.”

Van die wal in die sloot

Nie net die gewer van versorging nie maar ook die ontvanger kan aan die kortste ent trek. “Dis belangrik dat versorgdes steeds dié take verrig waartoe hulle in staat is: stap pleks van om in ’n rolstoel gestoot te word, toilet toe gaan pleks van ’n bedpan te gebruik, of op hul eie eet al mors hulle. Dit neem waarskynlik langer en verg meer moeite van die versorger, maar dis in die versorgde se belang. Oorhulpvaardigheid, selfs met goeie bedoelings, kan ’n versorgde se herstelproses kortwiek, of hom gouer laat verswak.

“Dis belangrik dat versorgdes steeds dié take verrig waartoe hulle in staat is”

“Sommige versorgdes verkies natuurlik minder verantwoordelikheid. ’n Op en wakker versorger sal dit raaksien en die versorgde aanmoedig om optimaal te funksioneer.

“Daar is ongelukkig ook gevalle waar versorgers in ’n kommerwekkende mate ontoepaslik optree, soms reg onder ’n toesighouer se neus. Die caregiver neem eenvoudig beheer van elke situasie sonder om aan die versorgde se wense aandag te gee. Dis wanneer caregiving – ’n geskenk wat aan die versorgde gegee word – ontaard in caretaking, wat mag oor die versorgde wil verkry.

“’n Ware caregiver is liefdevol, rustig, oop vir advies, volg die protokol, en respekteer persoonlike grense. Wanneer die versorgde ’n probleem het, luister hy of sy empaties, vra hoe die versorgde die situasie wil hanteer en verskaf dan die nodige steun.

“’n Caretaker is gejaagd, gefrustreerd en dwing sy of haar wil aan die versorgde op. So iemand hou nie daarvan dat mense van buite ‘inmeng’ of navraag doen nie, en neem alle besluite op hul eie. Daar is dikwels ’n onderliggende onsekerheid en gebrek aan eiewaarde. Om in beheer te wees laat die persoon belangrik voel en voed sy of haar eiewaarde, maar dit kan verlammend op die versorgde inwerk.

“Hierdie probleem kan ondervang word deur goeie kommunikasie met die versorgde waar die versorger nie by is nie. Vra vrae soos: Hoe gaan dit régtig met jou? Hoe ervaar jy die versorger? Voel jy jy word sterker of swakker? Word jy toegelaat om te doen wat jy wil of kan doen? Wat sou jy graag wou hê moet verander?”

Die keuse van ’n versorger

Met die aanstel van ’n versorger, nes in die geval van ander aanstellings, is die nagaan van kwalifikasies, die opvolg van verwysings en ’n onderhoud noodsaaklik. “Die uiteindelike keuse is wel subjektief, maar die regte vrae kan lig op die saak werp. Vra hoekom die aansoeker versorging as ’n beroep kies. Indien die antwoord is ‘omdat ek graag ’n verskil wil maak,’ vra wat sy of hy al gedoen het om ’n verskil te maak.

“Indien die antwoord is dat caregiving hul roeping en passie is, vra: Wat wys dat dit jou roeping en passie is? As jy wil vasstel of die aansoeker hul eie inisiatief kan gebruik, vra: Vertel hoe jy jou moeilikste situasie hanteer het. Vra uit oor hul benaderingswyse tot jy kan agterkom of hulle ’n gesonde mate van frustrasietoleransie het en uit die vuis kan dink.

“Wees bedag daarop of die persoon vriendelik is en luistervaardighede het. Is daar genoeg lewenslus? Voel jy geduld aan? Sal die persoon supervisie of advies aanvaar? Stel vas of hulle stokperdjies, buitebelangstellings en goeie, stabiele verhoudings het, sowel as die nodige mediese kennis.

“Wees bedag daarop of die persoon vriendelik is en luistervaardighede het”

“Om ’n versorger deur ’n bemiddelingsinstansie aan te stel het verskeie voordele. Die instansie behartig die keuringsproses en sorg dat die persoon behoorlik opgelei is. Indien die versorgde klagtes het, kan jy die saak met die instansie opneem, of vra dat ’n plaasvervanger gestuur word.”

Wat ma’s betref, sê Marna hoewel vroue natuurlike versorgers is, bly die langtermynversorging van ’n kind ’n groot uitdaging – veral as die supermasindroom kop uitsteek.

“Wanneer ’n ma glo sy moet oral kan keer en raakvat, deur byvoorbeeld elke oomblik by haar kind se hospitaalbed deur te bring, flikker waarskuwingsligte. Die vrees om as onbevoeg beskou te word, miskien deur haar skoonfamilie, kan die dryfveer wees. Baie keer voel sy die pa kan nie dié rol vervul nie ‘omdat ’n kind sy ma nodig het’.

“Jy kan nie gee as jy leeggetap is nie. Slaap wanneer die kind slaap. Laat die huiswerk maar ’n bietjie glip. Vra hulp – daar móét iemand wees wat jou kan aflos.

“As jy prikkelbaar en ongeduldig raak, nalatig optree deur byvoorbeeld te vergeet om medikasie te gee, of voel dat jy beheer verloor, het jy rus nodig. Ook wanneer jou kind klouerig raak en regresseer deur soos ’n jonger kind op te tree. Luister na jou man of ander nabymense se siening van die situasie, en glo die dokters wanneer hulle sê dit gaan beter met jou kind.”

Versorg ander ‘siek’

“Münchhausen-sindroom by proxy” (MSBP) is ’n geestesstoornis wat voorkom wanneer ’n versorger iemand in sy sorg siek maak of beseer, of voorgee dat die versorgde siek is. Die versorger kan ’n ma, verpleegkundige of ander rolspeler wees en die versorgde ’n kind, bejaarde of gestremde. Omdat die slagoffers kwetsbaar is, geld MSBP as ’n vorm van mishandeling.

Die versorger met MSBP kan leuens vertel rakende die versorgde se simptome, die verkeerde medikasie gee, met toetsresultate peuter sodat die versorgde siek voorkom, of die versorgde fisiek skaad om simptome daar te stel. Dié optrede is (meestal onbewustelik) gemik op die verkryging van aandag, simpatie, of praktiese hulp van mediese personeel en die gemeenskap. Mense met MSBP kan lyk of hulle hul volkome aan die versorgde toewy, en sien hul eie gedrag nie as skadelik nie.

“Die toestand het met ’n gebrek aan persoonlike mag te doen,” sê Marna. ”Dis ’n oorlewingstrategie wat spruit uit ’n swak selfbeeld, ’n onvermoë om stres of angs te hanteer, en ’n drang om te beheer en te domineer.

“Mediese personeel ruik lont wanneer ’n kind nie by behandeling baat vind nie, simptome slegs voorkom as die ma in die omtrek is, die ma toetsresultate nie wil aanvaar nie, of bly is wanneer die kind sieker word – ook wanneer ’n ander kind in die gesin onverklaarbaar siek word of selfs sterf.

“Ek het met ’n slagoffer van MSBP te make gehad wat op 12-jarige ouderdom nog nooit skool toe was nie. Sy ma is van dokter na dokter en ’n spesialis wat agterdogtig geraak het, het die rekords nagegaan en ingegryp. MSBP word moeilik genees.”

Lees ook: Ek leef saam met ’n boelie!

The post Versorging & gesonde grense appeared first on rooi rose.

Egskeiding hoef jou nie te breek nie
Dis verby. Jy is geskei. Die verhouding wat jy so blinkoog aangepak het, is amptelik beëindig.

Om die brokstukke op te tel en ’n nuwe toekoms te bou is makliker gesê as gedaan. Daar is die praktiese aspekte soos waar jy gaan woon, reëlings oor kinders en jou geldsake. Alleenloper- of enkelouerskap is dalk ’n uitdaging, en jy moet verhoudings met familie en vriende herdefinieer. Miskien wroeg jy omdat jy nie jou huwelik kon laat werk soos die samelewing verwag nie. Emosioneel moet jy vrede maak met wat tussen jou en jou eks gebeur het en die droom van ’n toekoms saam laat vaar. Intense emosies soos verwyt, selfverwyt, verwarring en wanhoop moet verwerk word. Dié spanning kan ook tot gesondheidsprobleme lei.

“Egskeiding is uiters traumaties en word saam met die dood van iemand ná aan jou as die stresvolste ervaring gemeet,” sê Nellie Prinsloo, kliniese sielkundige, mediator en meewerkende egskeidingspesialis van Alberton. “Die skade wat dit aanrig, hang baie van jou persoonlikheid af – én van hoe jy kies om dit te hanteer.”

“Die skade wat dit aanrig, hang baie van jou persoonlikheid af – én van hoe jy kies om dit te hanteer”

Nellie noem verskeie faktore wat mense se hantering van ’n egskeiding beïnvloed:

“Die twee partye is dikwels nie ewe voorbereid nie. Een dink geruime tyd reeds aan skei en het al emosioneel afstand geskep. Wanneer hy of sy dan sonder waarskuwing wil skei, word die ander een onkant betrap, en dring soms vergeefs op die voortsetting van die huwelik aan. Hulle kan selfs probeer om die een wat wil skei van plan te laat verander deur die finansiële kraantjie toe te draai.

“Persoonlikheid kleur ook egskeiding in. Onafhankliker mense aanvaar dit as onafwendbaar en stel ’n plan van aksie in werking. Afhankliker mense sal tot elke prys aan die huwelik probeer vasklou en pleit of opstandig raak. Dit kan ’n teenaanval uitlok en tot geweldige konflik lei.

“Of die paartjie gelyke rolle in die huwelik gehad het, is ook ter sake. As een die dominante, besluitnemende rol ingeneem het, gaan hy of sy nie daarvan hou dat die ander een selfgeldend optree nie. As dit ’n gelyke, respekvolle verhouding was, is die kans beter dat hulle die egskeiding ook so gaan hanteer.

“Ons vorige ervarings, hetsy as kind of in ons volwasse jare, dra tot ons belewing van stressituasies soos ’n egskeiding by. As jou ouers geskei het, gaan jy óf presies soos jou rolmodel optree óf – indien jou rolmodel jou teleurgestel het – die teenoorgestelde rigting inslaan. Jou optrede hou moontlik meer verband met jou gevoelens oor egskeiding as met die optrede van jou maat.

“Een van die belangrikste faktore is waardes en godsdiensbeskouings. As jy glo jy behoort die ander wang te draai, kan jy die egskeiding só benader. Dieselfde geld iemand wat die beginsel van ’n oog vir ’n oog voorop stel. Paartjies met dieselfde waardes en godsdiens-opvattings kan steeds intense konflik ervaar. Daarom is dit verstandig om professionele mense soos mediators, sielkundiges en prokureurs te kry om met die egskeiding te help.

“Wanneer een of albei partye voel die ander se optrede is nie regverdig en menslik nie, bemoeilik dit ’n egskeiding. As jy iemand in ’n hoek dryf, kan hulle net met weerstand uit daardie hoek kom.

“Mense het soms onrealistiese verwagtings. ’n Man kan dink sy vrou is nou vir altyd uit sy lewe, maar solank hulle kinders het, gaan hy waarskynlik steeds met haar in aanraking kom. Verwagtinge oor onderhoud kan tot baie konflik lei. Sommige ouers reken hulle kan hul kind ‘afteken’ terwyl hulle in werklikheid wettiglik vir die kind verantwoordelik is tot hul eie of die kind se dood.

“’n Slagoffermentaliteit word deur persoonlikheid bepaal en sluit baie passiewe aggressie in. As ek my in die slagofferrol plaas, moet my huweliksmaat en ander my jammer kry. Die persoon wat my los, moet skuldig voel oor dit wat hy of sy aan my gedoen het. In ’n sekere sin weier slagoffers om met hul lewe aan te gaan. Partykeer dra hulle die trauma van ’n egskeiding soos ’n kroon op die kop.”

My eks het ’n maat!

Hoe benader jy dit wanneer jou eks ’n volgende verhouding aanknoop, of weer trou terwyl jy nog in die roufase is? Dis pynlik om te aanvaar dat jul verhouding nou onomkeerbaar afgesluit is, en sy viering van die liefde beklemtoon jou hartseer en vrees dat jy alleen gaan oud word.

“Dis algemeen dat ’n paartjie op verskillende tye na volgende verhoudings begin kyk,” sê Nellie. “Dit hang af van hoe betrokke hulle was in die huwelik wat verby is. Ongelukkig is dit net in

sepies waar iemand gedwing kan word om ons lief te hê en by ons te bly.

“Ongelukkig is dit net in sepies waar iemand gedwing kan word om ons lief te hê en by ons te bly”

Die tyd wat dit neem om oor ’n egskeiding te kom wissel van mens tot mens. Hoe beter iemand se emosionele gesondheid is, of indien hulle hul vroeër reeds emosioneel afgesluit het, vind dit gouer plaas. Daar is geen ‘tydsbeperking’ nie maar wanneer die verwerkingstydperk oor jare strek, is professionele hulp nodig.”

Hoe gemaak as jy voel jou eks floreer terwyl jy krepeer?

“Die eerste stap is om eerlik aan jouself te erken jy cope nie. Tweedens moet jy besef net jy kan verantwoordelikheid vir jou lewe en lewensgehalte aanvaar. Jy het die mag om te kies hoe jy oor die situasie dink en hoe jy dit wil hanteer.

“Jy het die mag om te kies hoe jy oor die situasie dink en hoe jy dit wil hanteer”

“Dis soms vreesaanjaend om ‘voor te begin’. In een of ander stadium was jy nie in ’n verhouding nie, of het jy ’n nuwe fase aangepak. Die eienskappe wat jou toe gehelp het, is steeds daar.

“Put krag uit dié besef, asook uit die steunstelsels in jou lewe: vriende, familie, sielkundiges, beraders – maak net seker terapeute is by die HPCSA geregistreer. Daar is werkwinkels vir geskeides, asook gemeenskapsgroepe soos sadsa.co.za of divorcecare.org

“Party mense is bang dat professionele hulp in ’n hofsaak rakende ouerlike toesig teen hulle kan tel. Dis nié die geval nie. As jy verantwoordelik genoeg is om hulp te kry wanneer jy dit nodig het, tel dit in jou guns.”

Ek is daardeur

Estelle* was elf jaar getroud met twee jong kinders toe Louis*, haar man, onverwags aankondig dat hulle gaan skei.

“Daar was lank reeds ’n stramheid in ons verhouding, in so ’n mate dat ek ingestem het om saam met hom ’n sielkundige te gaan spreek. Die sessies het gefokus op maniere om nader aan mekaar te beweeg. Daar was geen sprake van egskeiding nie.

“Een aand ná ’n kuier by vriende het Louis gesê ons huwelik is verby. Dit was ’n geweldige skok. Die volgende oggend is hy na ons ouers om te sê ons huwelik is op die rotse en niks kon dit red nie. Hy het gesê dis sy skuld, maar het my pa – en my – verseker daar is niemand anders nie.

“Die kinders mag niks geweet het nie, want ons moes hulle ‘reg benader’. Weke lank het ons nog ’n bed gedeel. Louis het gesê ons moes na dieselfde prokureur gaan, maar ek het gou besef die verdeling van ons bates is in sy guns. Toe ek na ’n ander prokureur is, het hy gedreig dat dit my meer sou kos as wat ek besit het.

“Louis het die kinders vertel ons skei ‘omdat Pappa en Mamma te veel baklei’ en daarna uitgetrek. Ons het die vorige jaar van Kaapstad na Johannesburg verhuis en ek het min mense geken. Dit was ’n uiters traumatiese, eensame tyd.

Dit was ’n uiters traumatiese, eensame tyd

“Huisvriende van ons in Kaapstad was ook besig om te skei. Ons vriend het gebel en wou my kom sien. Toe Louis dit hoor, het hy gevra hoe ek ’n affair sou definieer. ‘Wanneer jy aandag wat jou huweliksmaat toekom aan iemand anders gee,’ was my antwoord. ‘In daardie geval ís daar iemand anders in my lewe,’ het hy gesê.

“Ons huisvriend het bandjies gehad van telefoongesprekke tussen my man en sy vrou wat deur ’n privaat-speurder opgeneem is. Ek het ’n angsaanval gekry toe ek besef hoe lank die verhouding reeds aan die gang is.

“Ons is in Julie geskei. Die kinders het by my gebly en was gereeld by Louis. Hulle sou die Desembervakansie saam met hom Kaap toe gaan en Kersfees by my deurbring. Toe ek die tweetjies op die lughawe kry, sien ek my dogtertjie se hare is kort gesny. Haar lang hare was haar trots. Om haar aandag van my geskokte gesig af te trek, vra ek of die blomme in haar hand vir my was. ‘Dis van Pappa se troue!’ het sy huilend gesê.

“In die motor het my seuntjie van sewe hartstogtelik begin snik en van die troue vertel. Hy het gesê: ‘Ek wil nooit weer die woord “liefde” hoor nie.’ Sy sussie se hare is afgesny omdat dit glo te veel gekoek het.

“Ek en die kinders is dadelik na my ouers vir Kersfees.

My ma was woedend om van die troue te hoor. Sy het my kinders bly vertel watter sonde hul pa gedoen het.

Ek het gevoel ek moes hom beskerm – hy was immers hul pa, en ’n goeie pa daarby. Ek kon nie my eie seer wys of oor die nuus van die troue rou nie.

“Ek was lank depressief, maar moes regop bly ter wille van die kinders. Omdat ek glo ’n kind het ’n pa én ’n ma nodig, het ek Louis na skoolgesellighede en die kinders se verjaardae bly nooi. Bitterheid tussen geskeide ouers kan ’n kind se lewe ondraaglik maak.

Bitterheid tussen geskeide ouers kan ’n kind se lewe ondraaglik maak

“Ek het besluit om my eks en my vriendin te vergewe, en terapie gekry. Dit was nie maklik nie. Dit het lank geneem om my eiewaarde en vertroue in die liefde te herstel. Ek is later weer getroud en het vandag ’n vol lewe. Dis regtig die moeite werd om jou kinders se geluk voor jou eie seer en wrokkigheid te stel.”

*skuilname

Lees ook: Beplan onderhoud vir jou kinders na ’n egskeiding

The post Egskeiding hoef jou nie te breek nie appeared first on rooi rose.

ADHD: is dit dalk jy?
Dít is die werklikheid vir baie volwassenes met ongediagnoseerde aandagafleibaarheid-hiperaktiwiteitsindroom (ADHD).

Om met verwarring te sukkel

Diegene met ADHD is gefrustreerd oor hul gebrek aan fokus en, in die langtermyn, kan hulle nie hul doelwitte bereik nie, want hul lewens is nooit heeltemal in orde nie. As volwassenes met ADHD akkuraat gediagnoseer word – selfs later in hul lewens – kan dit die trajek van hul loopbane, verhoudings en lewensdoelwitte verander.

Dr. Rykie Liebenberg, psigiater, kry dikwels volwassenes wat onwetend met ADHD saamleef en sukkel weens die gevolge van die ongediagnoseerde en onbehandelde toestand.

“Dit is nie volwassenes se skuld dat hulle met ongediagnoseerde ADHD dikwels onderpresteerders in hul akademie of in hul werk is nie,” verduidelik Liebenberg. “Hulle beweeg impulsief van werk na werk en is meer geneig om afbetaal te word. Dit laat hulle dikwels in ’n laer ekonomiese sfeer sonder finansiële sekuriteit.”

Die werklikheid

Voeg daarby ’n aansienlik hoër risiko van disfunksionele verhoudings of egskeiding, en dit is maklik om te sien hoe die lewens van volwassenes met ongediagnoseerde ADHD buite beheer kan raak, sê Liebenberg.

Die individue voel dat hulle min beheer oor die verloop van hul lewens het. Liebenberg sê voorts dat ongediagnoseerde ADHD ook kan lei tot ’n hoër risiko vir verkeersoortredings en motorongelukke, wat ander aspekte van hul lewens raak.

Jou lewe verander

Liebenberg het ervaar dat die korrekte diagnose en medikasie die voorheen onbehandelde volwassenes se lewe positief kan omkeer.

Die effekte van medikasie kan hulle in staat stel om meer gedoen te kry tydens hul werksure. Dit maak hul werk minder stresvol. Dit stel hulle ook in staat om verpligtinge na te kom wat verhoudings laat werk.

“Die fundamentele verskil wat nuut gediagnoseerdes ervaar, is so groot dat hulle deur ’n soort routydperk gaan weens die verlies van geleenthede vroeër in hul lewens,” sê Liebenberg. “Pasiënte sê soms hulle wens hulle kon die horlosie terugdraai en vroeër gediagnoseer gewees het aangesien hulle die groot verskil voel. Baie is verheug oor die gevolge van die medikasie op hul lewens.”

Hoop vir die toekoms

Liebenberg beklemtoon die belangrikste ding vir volwassenes met ongediagnoseerde ADHD is om te weet dit is nooit te laat om gediagnoseer te word nie en dat medikasie hul lewens ten goede kan verander.

“ADHD is ’n ingrypende toestand by volwassenes. Hoe gouer die persoon akkuraat gediagnoseer en behandel word, hoe gouer kan hy die vrugte pluk en positiewe veranderinge ervaar in sy werk en verhoudings,” sê Liebenberg.”Met die regte behandeling kan die persoon sy volle potensiaal bereik.”

Lees ook: Is jou kind ADHD of begaafd?

The post ADHD: is dit dalk jy? appeared first on rooi rose.

Egskeiding hoef jou nie te breek nie: 10 wenke
Niemand trou om te skei nie, maar die lewe gebeur. En of dit nou vir jou ’n verligting of ’n verplettering is om daardie egskeidingsertifikaat in jou hand te hou, die verskil tussen floreer en krepeer na ’n egskeiding lê by jou.

Ek is tien jaar gelede geskei, en weet presies hoe moeilik dit is om ’n enkelma te wees. Ek weet hoe dit voel om jou kinders se spaarvarkies te moet plunder vir brood-en-melkgeld, of om finansiële hulp van familie te moet aanvaar. Ek weet alles van nagte se wakkerlê in ’n bed wat nou te groot voel, en van kinders wat jare later steeds droom dat hulle ma en pa weer eendag onder een dak sal woon. Ek weet ook hoe dit voel om van drome te vergeet – of dit nog ’n baba is, of  ’n aftreehuisie by die see. Maar ek weet ook hoe dit voel om op ’n dag skielik te besef: ek het dit gemaak! Ek is nie net finansieel op my voete nie, maar werklik geseënd, en my kinders is nie emosionele wrakke nie maar goed aangepaste mense wat hul plekke in die lewe kan volstaan. Ek droom nie meer oor ’n prins wat dalk nooit gaan opdaag nie, maar sien uit na elke dag van die res van my lewe, of ek dit nou sonder ’n man in my lewe gaan deurbring of nie.

Ek besef terdeë dat elke geval uniek is, maar laat my asseblief toe om met jou te deel wat ek die afgelope tien jaar geleer het.

1 Aanvaar dit

Dit is die moeilikste deel, want geen mens hou daarvan om foute te maak nie. Tob gaan nie help nie. Nie oor jou foute, jou maat se foute of wat ook al gebeur het om julle hier te laat beland nie. Dit het nou gebeur, en die genadigste ding wat jy vir jouself en almal betrokke kan doen, is om dit te aanvaar.

Dit beteken nie dat jy nie kwaad of hartseer gaan wees nie, maar die eerste les wat ek as geskeide vrou geleer het, was dat jy jou energie reg moet gebruik. Om dit te mors op die verlede is sinneloos. Gebruik dit eerder om te sorg dat die toekoms beter is vir jou en jou kinders.

Gaan sien ’n kenner soos ’n sielkundige of berader om jou te help om daardeur te werk en jou nuwe situasie te aanvaar. Hoe langer jy uitstel, hoe moeiliker maak jy dit vir jouself. Ek was gelukkig – ek het besef ek moes uit my liefdelose, baie destruktiewe huwelik kom, ter wille van myself maar ook veral ter wille van my twee kinders (destyds 5 en 8 jaar oud). Maar dit was steeds moeilik. Na byna vyftien jaar was dit moeilik om te aanvaar dat my liefde nie genoeg was nie, en dat ek – met ’n inkomste wat skaars genoeg was vir die maandelikse huispaaiement – skielik finansieel op my eie bene sou moes staan. Ek het twee keuses gehad: rondsit en myself jammer kry, of my kop oplig en begin om ’n baie slegte situasie een dag op ’n slag te probeer verander.

2 Vergewe wie ook al vergewe moet word (ook jouself)

“Is jy nou mal?” vra jy. “Hoe kan ek dit wat hy/sy aan my gedoen het vergewe?” Die lewe het my egter geleer as jy dit nie doen nie, gaan die beter dae jou bly ontwyk. Jy gaan aan niks anders kan dink nie – en ek bedoel NIKS anders nie. Jou gedagtes word besoedel deur hierdie mens wat jy toelaat om gratis in jou kop te bly, en die ergste is dat hy of sy salig onbewus is daarvan. Terwyl jy bose gedagtes dink, gaan jou maat se lewe aan. Maar dit beïnvloed elke oomblik van JOU dag (en soms nag). Dit vreet al jou emosionele energie – en jy het dit nodig vir oorlewing.

Moenie te veel tob oor hoe vergifnis nou eintlik werk nie – die eerste stap is om vir jouself te sê “ek vergewe hom/haar” (of soms jouself). Daardeur maak jy die kanaal oop vir vergifnis om te kan volg. Wanneer jy dit hardop sê (jy hoef dit nie vir die ander persoon te sê nie), breek jy die eerste skakel in die ketting om jou siel. Die res volg vanself, oor tyd, en op ’n dag word jy wakker en besef die son skyn steeds en daar is steeds duisende dinge om voor dankbaar te wees.Vergewe jy nie, gaan jou bitterheid later oorspoel na jou kinders. Hulle verdien dit nie – dis swaar genoeg vir hulle om tussen twee ouers te staan wat mekaar nie kan verdra nie, om naweke ’n tassie te pak om by die ander een te gaan kuier, of om dalk nie meer die ander ouer gereeld te sien nie. Jy skuld dit aan hulle – maar ook aan jouself – om beter te word, nie bitterder nie. Vergiffenis en aanvaarding loop hand aan hand, en doen jy die een, volg die ander een makliker.

Lees ook: Stres: Gee aandag aan jou liggaam se waarskuwingstekens

3 Probeer op goeie voet bly met jou kinders se ander ouer

Let op dat ek sê “probeer”. Soms is dit eenvoudig nie moontlik nie, al probeer jy ook hoe hard, veral as dinge soos verslawings of afwykende gedrag betrokke is. Indien dit die geval is, moet jy soms moeilike besluite neem rondom wat die beste vir jou kinders gaan wees op die lange duur. As jy in so ’n situasie is (ek was) help dit om met kenners oor die beste pad vorentoe te praat. Maar dis steeds jy en jy alleen wat uiteindelik moet besluit tot hiertoe en nie verder nie (indien nodig). Jy gaan kritiek kry, maar jy weet in jou hart wie se kritiek jy ernstig behoort op te neem, en wie sŉ jy behoort te ignoreer.

Lees ook: Die ander nadraai van egskeiding

4 Aanvaar dat dinge gaan verander

Dis nou alles van jou huishoudelike begroting, tot jou vriendekring. Hoe gouer jy dit doen, hoe gouer kan jy aanbeweeg. Dit maak seer om vriende te verloor of na ’n kleiner plek te moet trek, maar wees nou eerlik: wat gaan woedende tirades jou help? Ek sê nie jy moet soos ’n doodgaangoggatjie net gaan lê nie. Allermins! Verander en voorkom wat jy kan, huil en skel en treur oor die res, maar was dan jou gesig, tel jou kop op en doen wat gedoen moet word.

As jy net een enkele wenk van my wil neem, laat dit hierdie een wees: spaar jou emosionele energie vir die regtige groot goeters. Soos dat julle heel anderkant hierdie krisis uitkom. Waar jy dit doen en saam met wie en op watter begroting, is eintlik onbelangrik.

5 Kry ’n nuwe plan

Al jou planne was tot dusver waarskynlik aan jou maat s’n gekoppel. Nou moet jy nuwe planne maak vir jou toekoms, vir alles van finansies tot ouerskap. Hoe gouer, hoe beter. MOENIE (en ek skryf dit met opset in hoofletters) jou lewe beplan om ’n potensiële nuwe maat nie. Jy MOET (ook met opset) eers vir minstens twee jaar alleen wees voordat jy dit weer in ’n nuwe verhouding kan waag. En dis nie ek wat so sê nie – dis die kenners.

In my geval was die dringendste plan wat ek moes maak om my finansies te verbeter. Ek moes ekstra werk vind, want anders sou ek en my kinders uit ons huis moes trek. Vir daardie ontwrigting en al die nuwe hartseer wat dit sou meebring, het ek nie kans gesien nie. My eerste plan was dus om meer geld te maak, en dit het my die nodige fokus gegee om my ook op emosionele vlak te help aanbeweeg. Ek was eenvoudig te besig om te oorleef om te sit en tob oor my egskeiding.

6 Doen wat vir jou en jou kinders werk

Wanneer jy skei, kry jy hope onwelkome, ongevraagde raad. Oor alles, van finansies tot ouerskap. Gebruik die nuttige raad en ignoreer die res. Jy en jou kinders moet nou jou enigste prioriteit wees. As hulle soms pap vir aandete wil hê en jy het nie tyd gehad om ’n gesonde ete te kook nie, gee vir hulle pap en moenie skuldig voel nie. Jy is net ’n mens, nie Superma nie. Dis belangriker dat daar ’n liefdevolle, ontspanne atmosfeer in die huis is as dat hulle elke aand twee groentes en vleis op hulle borde moet hê, veral aan die begin. Ek het nogal soms hiermee gesukkel, en moes ’n sielkundige gaan sien om my te help besef ek kan nie alles vir almal wees nie. Om altyd my beste ek te probeer wees was goed genoeg, en om foute te maak is menslik.

Lees ook: Vyf planne vir kwaliteittyd met jou kind

7 Roetine is belangrik, veral vir kleiner kinders

Hoe nou? Ek het dan nou net gesê hulle kan maar pap eet vir aandete. Inderdaad. Want pap af en toe vir aandete is nie waaroor roetine gaan nie. Roetine is dinge soos eettyd, badtyd, slaaptyd, tyd vir huiswerk. Wanneer jou kinders deur ’n traumatiese situasie gaan, is jou eerste instink om hulle maar ’n bietjie meer vryheid te gee, want hulle kry dan nou klaar so swaar. Maar dis ’n groot fout. Eintlik gee roetine noodsaaklike geborgenheid wat help met emosionele stabiliteit en wat ouerskap makliker maak. Kinders van alle ouderdomme het die sekuriteit van bekende dinge nodig, so verander so min moontlik aan dinge wat vir julle werk.

8 Moenie dissipline verslap nie

Hieroor het ek baie kritiek gekry. Vriendinne het gedink ek is gans te streng met my kinders na die egskeiding, maar dit het vinnig in lof verander toe hulle sien my kinders is rustig, sukkel nie op skool nie en kan hulself in enige geselskap handhaaf. Egskeiding is nie ’n verskoning vir swak gedrag nie (ook nie by grootmense nie). Daar is groter krisisse in die lewe as egskeiding.

9 Leer om dankbaar te leef

Al gaan dit hoe sleg finansieel (en by 90% van enkelma’s is finansies die grootste kopseer) is daar steeds baie goed om voor dankbaar te wees as jy net oplet. ’n Warm bed, kos elke dag, ’n motor (al is hy tien jaar oud), ’n goeie skool (al is dit nie ’n privaatskool nie), mooi klere (al is dit nie nuut of bekende handelsmerke nie) is alles redes om voor dankbaar te wees. Leer dit vir jou kinders. Sê saans dankie daarvoor as julle bid, en wys hulle op al die ellende en armoede rondom julle. Hoe meer jy dankie sê vir dit wat jy het, hoe meer besef jy hoe baie jy het en hoe onbelangrik dit is om nog meer bymekaar te maak.

As hulle groot is, gaan hulle nie onthou waar jy julle kos gekoop het nie, net dat hulle nooit honger gaan slaap het nie. Hulle gaan eerder die speletjiesaande, pieknieks en grappies onthou as hoe die huis gelyk het. So, maak dit lekker net daar waar julle nou is.

Herontdek klein vreugdes soos kaartspeel, bordspeletjies, kuier om ’n vuur (al is daar net wors om te braai en nie steaks nie) en lees (omdat DStv net te duur is). As jy positief is daaroor, gaan jou kinders ook wees.

Lees ook: Sensitiwiteit: ’n Gawe of ’n vloek?

10 Kies jou gevegte oordeelkundig

Om gedurig in konflik met jou eks te wees, is baie, baie uitputtend. Om hof toe te gaan vir iets soos meer onderhoud of waar die kinders Kersfees gaan wees, nog meer. (Boonop word prokureurs ryker en julle armer.) Konflik verteer jou, en word al waaraan jy dink. Neem nou maar iets soos onderhoud: dis byna altyd ’n twispunt tydens en soms nog jare na egskeidings. Mense aan albei kante stel dikwels onredelike eise, en ander kere probeer mense mekaar deur geld bykom sonder om te besef die kinders ly uiteindelik die meeste daaronder.

Ek het myself van die begin af voorgeneem dat ek eerder harder sal werk as om die hele tyd te baklei oor geld. Toe my kinders se pa ’n paar jaar gelede heeltemal uit hul lewe onttrek het – ook finansieel – het ek net twee keuses gehad: gevegte oor dit wat hy nie wil of kan wees of gee nie, of om daardie energie te gebruik vir my loopbaan sodat ek en my kinders uiteindelik wel sal hê wat ons weens sy besluite moet ontbeer. Ek sal jok as ek sê dat dit maklik of lekker was, maar vandag het ek meer werk as wat ek kan doen. Boonop het ek (onbedoeld) vir my kinders belangrike lewenslesse geleer: soos dat harde werk tot sukses lei, dat daar belangriker dinge in die lewe is as geld en goed, en dat jy sekere dinge maar net moet aanvaar en aanbeweeg.

Niks wat ek hier aanbeveel is noodwendig maklik nie, maar dis alles moontlik. Party daarvan het ek dadelik reg gedoen, ander het ek op die harde manier geleer. Maar dit werk beslis, en ek hoop dit maak jou stryd ’n klein bietjie makliker.

En as vandag vir jou besonder grys voel, onthou: this too shall pass.

Lees ook: Middeljare: Krisis of keerpunt?

The post Egskeiding hoef jou nie te breek nie: 10 wenke appeared first on rooi rose.

Sensitiwiteit: ’n Gawe of ’n vloek?
Deur Anys Rossouw. Foto: Pexels

Sensitiewe mense het die gawe van ’n sagte gees en ’n fyn aanvoeling en deernis vir mense, diere, die omgewing en estetika. Hul beleef, gee, leef en het die vermoë om met intensiteit lief te hê. Hul trane vloei maklik oor die mooi of oor die hartseer van die lewe. Hulle is jammer vir en het deernis met die gebrokenes. Hulle hoor reeds as kinders dikwels: “Dis nie so erg nie, dis regtig nie nodig om so te oorreageer nie – kom net daaroor. Jy sal net taaier moet word, die lewe is nie maklik nie.”

Dit beteken nie sensitiwiteit is ’n swakheid nie. Inteendeel, dis juis die vermoë om werklik fyn en intuïtief te kan voel, empatie te hê en met passie kreatief te kan wees. Sensitiewe mense ervaar groter plesier in die klein dingetjies – kos, die natuur, die kunste.

Hulle smag na outentieke, diep betekenisvolle ervarings en verhoudings. Hulle verwag respek, eerlikheid en om presies te weet waar hulle met mense in verhoudings staan. As hulle jou vertrou, gee hulle hul eerlike self met egtheid en warmte maar dubbel-boodskappe, manipulasie en onsekerhede vreet hulle op. Hulle hou mense fyn dop en lees dikwels baie en selfs te veel in ander se woorde, stemtoon en lyftaal, en indien hulle ervaar dat jy hulle verloën, verwerp, verneder of minderwaardig laat voel, sal hulle die verhouding beëindig. Dis vir hulle ’n baie pynlike ervaring en hulle sal weke en maande lank worstel met intense emosies wat wissel tussen skuldgevoelens, wrokkigheid en hartseer. Maar hulle kan nie leef met situasies wat hulle as bedreigend beleef nie.

Sensitiewe mense het die gawe van ’n sagte gees en ’n fyn aanvoeling en deernis vir mense, diere, die omgewing en estetika

Hoogs sensitiewe mense is dikwels weerlose, gemartelde siele wat swaar dra aan die gebrokenheid van die wêreld. Hulle beleef ander soms as wreed, ongenaakbaar en bar en voel maklik uitgebuit, gewond en te na gekom. Onskuldige of gewoon onnadenkende opmerkings sal as kwetsend, verwytend en onsensitief ervaar word. Ander mense kan weer glad nie verstaan hoe iemand so fyngevoelig kan wees en ’n bohaai oor ’n grappie of onskuldige opmerking kan maak nie. Dis belangrik om te besef dat wanneer ’n sensitiewe mens daardie selfde opmerking sou maak, dit met die intensie sou wees om iemand te wond of te verkleineer.

Hul senuwee-eindpunte is prikkelbaar, hul vel letterlik en figuurlik dunner en daarom is hoogs sensitiewe mense hipersensitief in die wyse waarop hulle sensoriese stimuli prosesseer. Sensoriese prosesserings-sensitiwiteit (SPS) is niks anders as ’n eienskap van iemand se temperament en menswees nie. Dis geen versteuring of afwyking nie. Hierdie mense is hipersensitief vir eksterne stimuli en prosesseer kognitiewe, fisieke en sosiale stimuli dieper en reageer emosioneel meer reaktief en intens.

Die navorsingsielkundiges Elaine en Arthur Aron het bevind dat 15% tot 20% van die bevolking sensories prosesseringsensitief is en dat hulle sensoriese data dieper prosesseer vanweë die aard van hul sentrale senuweestelsel. Hulle het ’n hoër respons op stimuli soos pyn, honger, harde geluide en skerp ligte, asook vir stimulante soos kafeïen wat hulle boonop baie makliker oorstimuleer. Hulle reageer meer intens en dikwels stadiger omdat die verwerkingsproses daarvan hulle langer neem. Hulle sal daarom dikwels versigtiger wees om risiko’s te neem. Omdat hulle makliker deur eksterne stimuli oorweldig word, ervaar hulle makliker stres, angstigheid en depressie wat tot slaap- en gesondheidsprobleme kan lei. Sulke mense het boonop dikwels ’n fyner aanvoeling vir die estetiese – die skone dinge van die lewe laat hulle beter voel en maak hulle oop en toeganklik.

Lees ook: Vier die lewe! Drie vroue vertel hoe, en waarom, dit nodig is

Hul senuwee-eindpunte is prikkelbaar, hul vel letterlik en figuurlik dunner en daarom is hoogs sensitiewe mense hipersensitief in die wyse waarop hulle sensoriese stimuli prosesseer

Madeleine* sê: “My lewe lank beskuldig almal my dat ek ’n berg van ’n molshoop maak. Mense verstaan my nie. Ek moes gereeld hoor dat ek oorreageer, paranoïes is en my dinge verbeel. Ek moet leer om nie so emosioneel te wees nie, nie alles so te ontleed nie. Ek het regtig gevoel daar is fout met my. Wat blykbaar vir ander kleinighede is, soos die voortdurende eise wat aan jou gestel word, ’n oorvol skedule en ’n raserige omgewing, is vir my een te veel en mergel my uit. Ek probeer om gaaf en sensitief teenoor ander te wees maar dit bly voel asof ander sonder rede op my trap. In ’n desperate poging om te oorleef, het ek my met verloop van tyd al hoe meer onttrek en mure om my gebou.”

Ander mense se goedbedoelde pogings om sensitiewe mense te help, het dikwels juis die teenoorgestelde uitwerking. Hulle beleef jou optrede as kritiek en verwerping – hulle glo dat ander nie werklik omgee nie en hulle eintlik as minderwaardig en ontoereikend beskou. Dit verhoog hul stres, verminder hul selfvertroue en steel hul geluk.

Johan* vertel: “My vrou is ’n moeilike, oorsensitiewe mens. Dit voel of ek heeltyd op eiers loop. Sy ervaar alles as kritiek. Ek mag nie van haar verskil nie, want dan hoor ek haar nie en wil net my sin hê. Ek word voortdurend daarvan beskuldig dat ek nie omgee nie – ek het immers die aanvoeling en sensitiwiteit van ’n vis! Kyk ek televisie, is dit te hard. Die huis is deurmekaar – alles moet silwerskoon en pynlik netjies wees. As ek nie dadelik haar teksboodskap antwoord nie, is dit ’n krisis. Raas ek met die kinders, of praat ek net ernstig met hulle, skree ek. As ek met haar oor iets wil praat, is die tyd nie reg nie. Sy reageer met ontsteltenis en woede op die kleinste goedjies.”

Lees ook: Stres: Gee aandag aan jou liggaam se waarskuwingstekens

Hoe om sensitiewe mense te hanteer

Aanvaar en hanteer hulle met deernis en nie met oordeel nie. Hul reaksies word immers bepaal deur ’n sentrale senuweestelsel wat anders as joune is.

Erken hul gevoelens; dis nie versin of oordryf nie. Hulle ervaar werklik dinge met groter intensiteit. En dis nie hulle skuld nie.

Geniet en gee ook erkenning aan die sagtheid, deernis, detail en daardie spesiale sensuele ervarings wat danksy haar sensitiwiteit deel van jul verhouding is.

Praat sagter en rustig wanneer jy naby haar staan.

Wees eerlik oor jou gevoelens. Moenie sê alles is reg wanneer dit nie is nie. Sensitiewe mense kan aanvoel wanneer dinge ’n ander loop neem en dit vreet hulle op as hulle nie weet wat die probleem is nie.

Probeer om werklik soos hoogs sensitiewe mense te luister. Sit, wees rustig, moenie advies gee of hulle probeer oortuig dat hul persepsie verkeerd is nie, of dit vir jou sin maak of nie. Luister om te verstaan wat hulle werklik ervaar.

Gun hulle die ruimte om met hul eie gedagtes en take besig te wees. Moenie hulle onderbreek, of skielik planne verander en allerhande goed op hulle stort nie. Skeduleer ’n tyd wanneer julle kan praat en sê vooraf waaroor dit gaan.

Help hulle om sensoriese stimuli, soos harde klanke en geraas, skerp, flitsende ligte en onaangename reuke wat vir hulle oorweldigend is, op ’n vlak te bestuur wat vir hulle hanteerbaar is. Sommige mense hou dalk nie van bepaalde reuke, ligte, of klanke nie, maar hoogs sensitiewe mense háát dit en kan dit nie hanteer nie.

Gun hulle die ruimte om hul omgewing en program so uit te werk dat dit vir hulle hanteerbaar is. Hulle kan vir ander veel-eisend voorkom, maar wanneer hulle voel dat daar ruimte vir hul menswees is, het hulle gewoonlik ook ruimte vir ander se behoef-tes en menswees.

Maak seker dat julle jul verwagtinge duidelik en gereeld aan mekaar kommunikeer. Jy moet weet wat die dinge is wat haar oorstimuleer en ’n emosionele reaksie gaan uitlok. Leer om saam maniere uit te werk wat albei se verwagtinge sal balanseer, of hoe om moeilike situasies met deernis en sensitiwiteit te bestuur.

Kommunikeer. Sy moet ook verstaan dat jy dit werklik anders as sy beleef, bedoel en sien. Jy moet besef dat te veel dinge wat gelyk gebeur, ’n chaos, of ’n deurmekaar omgewing tot oorstimulasie lei. Probeer saamwerk aan ’n ruimte en ’n program, maar ook ’n lewe met meer openheid en eenvoud. Gooi weg, maak minder.

Aanvaar dat al probeer jy hoe hard, daar steeds situasies gaan wees wat hom gaan ontstel en oorweldig. Hanteer dit met kalmte en skep ruimte sodat die emosie kan uitwoed. Bespreek die kwessie eers wanneer albei weer kalm is. Fokus op wat elkeen kan doen om die situasie te ontlont en ’n oplossing te kry, eerder as op wie nou eintlik reg of verkeerd is.

Onthou hulle het al soveel keer seergekry. Verseker hulle van jou liefde en bedoeling. “Niks kan ooit my liefde vir jou in gedrang bring nie. Jy sal altyd vir my spesiaal en deel van my lewe wees.”

Vra om verskoning. Ná konflik is daar altyd iets waarvoor jy om verskoning kan vra, al voel jy dit was nie jou skuld nie. Jy vra nie verskoning vir iets wat jy voel jy nie verkeerd gedoen het nie maar jy kan wel sê: “Ek is jammer dat ons baklei het”.

Wat glad nie werk nie

Kritiek, verwyte, vernederende en afbrekende opmerkings, veral rakende hul sensitiwiteit en emosies: “Jy is net oorsensitief … ” “Kom oor jouself, moenie alles so persoonlik neem nie.”

Sarkasme en grappies oor hul sensitiwiteit. Hul sien nie die humor daarin nie, maar beleef dit as bytende spot.

Speel op hul emosies en laat hulle skuldig voel: “Dis nie net jy wat gevoelens het nie … Is dit nodig om oor alles te kla?”

Neem hulle onder kruisverhoor en peper hulle met gelaaide vrae: “Hoe seker is jy dat jy jou nie net verbeel het nie?”

Probeer om hulle met leë beloftes gerus te stel: “Ag, dis nie so erg nie. Ontspan net, alles sal uitwerk.”

Beskuldig hulle daarvan dat hulle emosioneel is en nie logies redeneer nie.

Laat hulle verstaan dat daar iets met hulle fout is. “Gaan spreek iemand, jy het hulp nodig. Jy maak jou dinge wys.”

Hulle is dikwels engele wie se vlerke deur die hardheid van die lewe geskroei word, maar wat soveel het om te gee

Sensitiewe mense is meestal die kampvegters teen onregverdigheid en wreedheid en maak die wêreld ’n emosioneel veiliger plek. Hulle is dikwels engele wie se vlerke deur die hardheid van die lewe geskroei word, maar wat soveel het om te gee. Hulle kan vlieg en die son vir ander gee, en wys as hulle gemaklik in hul dun velle kan wees en geliefd en aanvaar voel. Weerlose, aanvaarde en gekoesterde sensitiwiteit is die geboorteplek van kreatiwiteit, intimiteit, liefde en die vreugdevolle gevoel van hier is ek tuis, hier hoort en behoort ek.

Is jy hoogs sensitief?

Jy ervaar emosies intens.

Jy raak maklik emosioneel en ontsteld en huil maklik oor jou eie of ander se hartseer, of wanneer jy ’n boek lees of na ’n rolprent kyk.

Onregverdigheid, of enige vorm van geweld, is vir jou ontstellend en jy kan dit nie aanskou of hanteer nie.

Jy tree uiters goedgemanierd en sensitief op.Te veel klanke, ligte, reuke, drank of sensuele ervarings kan jou maklik oorstimuleer.

Jy is ingestel op die kreatiewe.

Jy het jou eie ruimte nodig en hou nie van oopplanwerkplekke nie.

Jy verkies om alleen en in ’n rustige omgewing te oefen.

Jy kom dit dadelik agter wanneer ander ontsteld is.

Detail is belangrik en jy is oplettend.

Jy sukkel om nee te sê en probeer ander tevrede hou.

Kritiek en konflik is baie ontstellend.

Jy is meer bewus van die subtiele nuanses in geselskappe en mense se reaksies as die meeste mense.

Jy is in talle opsigte perfeksionisties en kreatief.

Die skone kunste trek jou aan. Jy hou van ’n mooi, netjiese en skoon omgewing.

Jou liggaam is sensitief en jou pyntoleransie is nie hoog nie. Jy raak maklik siek en beleef die simptome intens.

Om sensitief te wees, is nie iets wat weggesteek of reggemaak moet word nie, want dis nie verkeerd nie. Dis wel iets waarvan mense van hulself of hul maat moet weet, erken, en moet leer om te hanteer en bestuur.

Wat sensitiewe mense kan doen

Erken jou sensitiwiteit en aanvaar dit as deel van wie jy is. Dis nie ’n fout of swakheid nie, dis net hoe jy is. Kry hulp, of ontwikkel jou eie maniere om te leer hoe om hierdie eienskap te bestuur sodat dit nie jou verhoudings versuur, jou geluk steel en jou selfbeeld aftakel nie.

Besef dat jy jou grootste vyand kan wees. Kyk met sagtheid en empatie na jouself en jou hoë standaarde.

Geniet jou gawes: jou intuïsie, jou fyn waarneming en daardie aanvoeling wat jou dryf om goed en reg op te tree.

Gebruik jou kreatiwiteit as ’n uitlaatklep. Skep goeie roetines: genoeg slaap, goed en reg eet en genoeg oefening. Dit sal help om oorstimulering te voorkom.

Maak seker jy het genoeg tyd om jou batterye te herlaai. Luister na jou liggaam, anders sal jy voortdurend tussen te veel en dan weer te min stimuli fluktueer.

Skep ’n minimalistiese lewe en omgewing: minder is vir jou meer.

Besef daar gaan altyd mense wees wat jou nie kan verstaan nie. Hulle is anders en is dus nie doelbewus daarop uit om jou af te takel en te vermorsel nie.

Probeer om ’n ander perspektief, asook ’n begrip vir hul menswees te ontwikkel.

Soek ander sensitiewe mense wat jou sal verstaan en met wie jy naby-verhoudings kan bou.

Moenie emosionele mure om jou bou wat jou teen die wêreld se onsensitiewes moet beskerm nie. Leer eerder om grense te stel met inagneming van jou behoeftes en wat jy kan hanteer en kommunikeer dit duidelik aan ander.

Anys Rossouw is ’n sielkundige in Menlopark.

Lees ook: Stiefkinders maak my lewe hel! Wenke vir stiefouers

The post Sensitiwiteit: ’n Gawe of ’n vloek? appeared first on rooi rose.

Wiskunde & die wrede werklikheid
Stefan* het al die jare ’n A-simbool in wiskunde behaal. Toe word hy aan die einde van graad tien siek en die onderwyser help hom nie om die vier weke se werk wat hy gemis het, in te haal nie. Sy wiskundepunte het die volgende jaar met drie simbole teruggesak,” vertel sy ma.

Sy ouers het gedink dis net ’n tydelike insinking en Stefan het sy bes gedoen om sy punt te verbeter. Maar tevergeefs. Sy ma vertel hy was in sy laaste twee skooljare ’n emosionele wrak voor wiskundetoetse en -eksamens. Bleek, naar, bewerig en gespanne. Hy het ekstra wiskundeklasse by ’n afgetrede wiskunde-onderwyseres geneem en sy ouers het hom baie aangemoedig.

“Teen dié tyd het Stefan begin glo dat hy nie meer goed in wiskunde kan doen nie. Dit was asof hy ’n emosionele blok begin ontwikkel het; ’n vrees vir dié vak waarin hy eens presteer het. Boonop het hy ekseem op sy gesig begin kry wat volgens die dermatoloog die gevolg van uiterste stres was.

“Hoewel Stefan wiskunde met ’n E-simbool in matriek geslaag het, was hy ontevrede met sy punt en bly die vrees vir hierdie vak hom drie jaar later steeds by.”

Hoekom kry leerders angs?

“Wiskunde-angs by leerders is aan die toeneem. Hierdie leerders lyk angstig, party is bleek en bewerig. Ander se oë is groot en hulle staar. Sommige kom stadig aan die gang. Vroeër was leerders bang vir die kwaai wiskundeonderwyser. Deesdae het leerders ’n vrees vir onderprestasie of mislukking,” sê Aletta Els, wiskundeonderwyseres wat al dertig jaar onderwys aan die Hoërskool Bonnievale gee.

Aletta sê dit is dikwels die harder werkers wat angstig word. Leerders wat gewoonlik op memorisering ingestel is, voel ook baie kwetsbaar. Angs kan regstreeks met ’n vrees vir die onbekende verbind word. In ander vakke weet die harde werker hy sal kry wat hy geleer het. Maar ’n wiskundevraestel het weinig bekende vrae. Die leerder moet self oordeel en besluit wat hy moet doen en hoe.

“’n Ander rede vir angs by leerders is die vreeslike premie wat die media op die belangrikheid van wiskunde plaas. Die boodskap is dat almal wiskunde kan doen. Leerders dink dan daar is groot fout met hulle as hulle dit nie so ervaar nie. Maar wiskunde is nie maklik nie en vereis analitiese denke. Almal kan nie in wiskunde presteer nie en jy moet meestal 50% kry om ná matriek iets met die wiskunde te doen. En dit plaas al hoe meer druk op die leerders wat aan wiskunde-angs ly.”

Geboorteproses en wiskunde-angs

Daar is ’n verband tussen die geboorteproses en kinders wat aan wiskunde-angs ly, het dr. Lorna Geer, ’n voorligtingsielkundige in Centurion vasgestel.

“Vir nege maande voor geboorte voel die baba gekoester en versorg in sy ma se liggaam. Die reis deur die geboortekanaal gaan met geweldige drukking en pyn gepaard. Drukking op die naelstring veroorsaak ’n tekort aan suurstof wat ’n intense vrees en gevoel van naderende dood skep. Ná geboorte word die baba van die ma weggeneem, wat vir die onbewuste doodgaan simboliseer en aan harde geluide en opgewonde stemme gekoppel word.

“Hierdie geboortevrese kom na vore sodra iemand druk ervaar. Die onbewuste onderskei nie tussen werklike gevaar en die herinnering aan ’n bedreigende ervaring uit die verlede nie. Met wiskunde-eksamens ervaar kinders geweldige druk en is aan maats se harde, opgewonde stemme blootgestel. Geboortevrese kom na vore en die fokus word van wiskunde af verplaas na oorlewing sodat die kind alles vergeet wat hy oor wiskunde geleer het. Eers ná die wiskunde-eksamen kan hy weer op die wiskunde fokus – wat dan te laat is.”

Ander faktore wat tot angs lei

“Kinders leer 99% van voorbeeld en as ouers – wat ook met wiskunde gesukkel het – ’n negatiewe houding oor wiskunde het, gaan hul stemtoon en houding dit wys en gaan die kind ’n vrees en negatiewe konnotasie met wiskunde toon,” sê dr. Geer.

Onderwysers se kennis en begrip van wiskunde, sowel as hul empatie met ’n kind wat met wiskunde sukkel, speel ’n belangrike rol in leerders se houding teenoor en prestasie in wiskunde. ‘Jou wiskunde is hopeloos’ of ‘hoe gaan jy dit ooit deurkom?’, kan ’n kind se selfbeeld vernietig. As ’n kind eers glo hy is nie goed genoeg nie, takel dit sy selfbeeld af en ontwikkel hy ’n ‘sielkundige blok’.

Selfvertroue en wiskundeprestasie gaan hand aan hand.

“’n Kind moet sorg dat hy eers die wiskundetaal onder die knie het. Sodoende sal hy verstaan wat presies gevra word en nie sukkel om die vraag te beantwoord nie.

“As ’n leerder baie afwesig was, of emosioneel ontwrig is, raak hy maklik agter en ontstaan daar gapings in sy wiskundekennis. Hy verstaan skielik nie meer waarvan die onderwyser praat, of wat hy moet doen nie. Nou begin hy twyfel aan sy wiskundige vermoëns en ’n vrees vir wiskunde ontwikkel.”

Hoe onderwysers kan help

“Ek glo 80% van onderrig moet op die basiese vaardighede en prosedures gerig wees en daarom moet basiese vaardighede eers baie goed vasgelê word voordat moeilike vrae aangepak word,”

sê Aletta.

Daarom probeer sy reeds in die onderrigfase die leerders help om ’n “padkaart” vir elke prosedure te kry en vas te lê. Sy glo as leerders die roetineprosedures vaslê, hulle met meer selfvertroue die onbekende probleme kan aanpak. Begrip kom dikwels ná vele herhaling.

Leerders wat onvoorbereid klas toe kom, is vir Aletta een van die grootste struikelblokke. Elke les bou op die vorige en as die werk nie stuk vir stuk van onder af gebou word nie, word daardie gate nooit weer opgevul nie.

“Ek help my leerders deurdat ek een of meer vrae net so uit hul werkboeke vra. Ek gee ook ’n uiteensetting van die vraestel sodat hulle breedweg kan weet wat in watter vrae getoets gaan word. Dis bloot ’n poging om hulle te help om doelgerig voor te berei.”

Boonop vind Aletta ook dat barokmusiek party leerders rustiger maak. Maar die volume is baie belangrik – te hard of te sag steur.

*Skuilname

Lees ook: Jy kan jou kind swaarkry help verwerk

The post Wiskunde & die wrede werklikheid appeared first on rooi rose.

My storie: Nageboorte-depressie is ‘n werklikheid
My storie: Nageboorte-depressie is ‘n werklikheid deur Marizel Neethling. Versorg deur Mariette Snyman. Foto:  Alexander Grey vir Unsplash

Hierdie verhaal kom uit my hart. Ek hoop dit kan iemand help wat deur dieselfde proses gaan.

Ek is jare gelede met insulienweerstandigheid, vergrote eierstokke en polisistiese ovariumsindroom gediagnoseer. Daar was ook ’n gewas op my eierstok wat verwyder moes word. Deur genade is my eierstok nie verwyder nie. Ek het lank met die vrees gesukkel: Sou ek ooit swanger raak?

Ek het my lewe lank met my gewig gesukkel en dit ná baie harde werk en oefening gekry waar dit moes wees. Ek was gelukkig.

Na talle doktersbesoeke is my kanse om normaal swanger te raak as skraal afgeweer, en ek en my man het besluit om die Pil te los. As dit die Here se wil was, sou ons die voorreg hê om kinders te hê.

Baie gouer as wat ons verwag het, het ek op 25 natuurlik swanger geraak. Omdat my siklusse so deurmekaar was, was ons geskok. My man was dadelik opgewonde. Ek was oorweldig – hoe het dit gebeur? Ek was te jonk. My kanse was dan so skraal.

Ek kon my reaksie nie verstaan nie. Ek het vir drie aande nie geslaap nie. En dis waar alles begin het …

Ek het ’n redelik maklike swangerskap gehad, behalwe dat ek onbeheers gewig opgetel het. Ek het al my selfvertroue verloor en niks in my klerekas wou pas nie. Ek het in die spieël gekyk en net vet gesien, nie die wonderwerk wat in my gegroei het nie. Ek het elke dag vir my man gesê hoe sleg ek lyk en hoe ongemaklik ek in my eie vel voel.  ’n Goeie vriendin wat ’n ongelooflike pad met die Here stap, het dit opgetel. Sy het saam met my gebid, en baie onsekerhede en episodes uit die verlede het na vore gekom. Die Here was getrou en ek kon uiteindelik die gewig-hoofstuk afsluit.

Lees ook: Wat is nageboorte-depressie?

Dis ’n dogtertjie!

Ek het die Here gevra om my ’n seuntjie te gee. Ek was bang dat ’n dogtertjie dieselfde gewigs- en ander issues as ek sou hê, en nie daarvoor kans gesien nie.

Op 16 weke hoor ons ons verwag ’n dogtertjie. ’n Perfekte, gesonde babadogtertjie.

My man was uit sy vel, ek oorweldig. Ek het geweet dat die Here my wou leer om Hom te vertrou, in plaas van die leuen glo dat sy dieselfde paadjie as ek sou loop.

Ek wou graag normaal kraam en het my sielkundig daarop voorberei. Op 35 weke is ek opgeneem omdat ons baba se hartkloppie te stadig was. Ek was van 35 tot 38 weke aan en af in die hospitaal. Dan was die hartklop te vinnig, dan  weer te stadig. Ek was al moedeloos, maar nog glad nie reg om hierdie kleine dogtertjie in die wêreld te verwelkom nie.

Hou sou ek hierdie baba grootkry?

Ek het konstant oorweldig gevoel. Hoe sou ek hierdie baba grootkry? Ons sou nie meer kon kom en gaan soos ons wou nie. Hoekom was almal so opgewonde terwyl ek met ’n gat van vrees in my hart sit?

My uitstekende ginekoloog het my ondersoek die Vrydag voor ons baba gebore is. Omdat sy nie gesak het nie en haar hartklop so onreëlmatig was, moes ek ’n keiser kry. Ek het in trane uitgebars. Die teleurstelling was oorweldigend. ’n Datum vir haar geboorte is vasgestel.

My brein kon dit nie kleinkry dat ons oor twee dae ’n gesin sou wees nie. Die klein mensie sou uiters afhanklik van ons wees. Ek was bang. Ek het die Here gevra om my wysheid te gee en my vrees weg te vat, maar ek kon dit nie afskud nie.

Ons gesonde 3.49 kg babatjie is gebore. Ek sal nooit die oomblik vergeet toe ek haar die eerste keer hoor huil het nie. My man het gestraal en my heeltyd vertel hoe trots hy op my was. Ek het trane in my oë gehad. Ek het besef: hier is my klein wonderwerk.

Hoe maak ek nou?

Skielik het ek ’n nuwe titel gehad. My maag was weer redelik plat. My lyf was dood en verskriklik seer. Ek moes borsvoed en nie ek of hierdie babatjie het geweet hoe nie. Uiteindelik het die konsultant haar aan my bors gehad. Ons ouers sit in die wagkamer, oorgehaal om hierdie kleintjie te ontmoet. Ek besef ek moes hierdie ding nou doen, ek kon haar nie vir nog ’n maand of twee terugdruk nie. Dit was vreesaanjaend én mooi.

Jy besef eers hoe dom jy voel as jy na ’n klein babatjie moet omsien. My kolostrum was te min en sy moes formulemelk bykry. Haar suikervlakke was laag en die arme voetjies blou geprik. Hoe moes ek vir hierdie baba sorg terwyl my liggaam nie eens die basiese aan haar wou voorsien nie?

Alles was net te oorweldigend. ’n Suster het gevra of ek verlief was op my baba en ek kon nie met eerlikheid ja sê nie. Elke keer as iemand vra hoe dit gaan, het ek onbeheers begin huil. Ek het veilig gevoel in die hospitaal waar daar konstant hulp, raad en beskerming was. Ek wou nie huis toe gaan nie, want ek en my man weet ewe min.

Terug by die huis het ek nie geweet wát om te doen nie. Moes ons baba slaap, eet, moes ek haar doek ruil? Kry sy warm of koud? Sou ék ooit die nag slaap?

Ek wou haar nie vashou nie, wou haar nie troos nie

My ma het twee weke lank by ons kom bly. Ek het ’n blaasinfeksie gekry waarvoor ek antibiotika moes drink. Dit het my baba geaffekteer. Sy was huilerig, ek was paniekbevange. Ek wou haar nie vashou nie. Wou haar nie troos nie. Ek was nie honger nie en het bitter min geëet.

Ek het aan nageboorte-depressie gelei. Die dokter het reeds in die hospitaal ’n pilletjie voorgeskryf, maar toe ek sien dis ’n antidepressant het ek uit trots uit geweier om dit te drink. As ek maar net geweet het …

Dankie tog vir my ma. Sussie was drie weke oud en ek het by my ouers gekuier. Een nag het nie ek òf sy ’n oog toegemaak nie. My ma het haar tweeuur in die oggend kom haal. Ek was emosioneel gedreineer, en daarna het ek my ma in haar kamer gaan haal as my baba nie kon slaap nie.

Ek en Dr. Google

Google was my beste vriend; die fout van my lewe. As iets verkeerd was, het ek dit gaan google. Ek het letterlik mammas se worst case scenarios gelees en net angstiger geword.

Op Facebook het ander mammas met groot plesier verklaar dat hulle babatjies deurslaap en stroopsoet is. My baba wou elke drie ure drink. Ek was oormoeg en kwaad omdat ek nie sulke goed op Facebook kon skryf nie. Ek het haar pediater toe gevat en wou so graag hoor iets is fout, net om te hoor sy is gesond, en maar net ’n baba. Hulle huil. Hulle kramp. Hulle slaap nie. Hulle raak oorgestimuleer. My wyse ma het konstant gesê: “Hou op om jou baba met ander te vergelyk!” Het ek maar geluister.

Sy het ’n karstoeltjie verpes en as ons êrens heen moes ry, het ek myself oor ’n mik gestres. Sy het minute – wat soos ure gevoel het – aaneen gekla.

Vanaf agt weke het my dogtertjie (soort van) in ’n roetine gekom en ek het haar stadig maar seker begin leer om haarself aan die slaap te kry. Dit het weer goed gegaan. Ek het in beheer gevoel. Elke aand vir haar gebid. Die Here gevra vir wysheid om haar reg te hanteer. Bygesê – my wonderlike, ondersteunende man was my absolute rots.

Ek begin google watter medisyne ek vir haar kan gee om haar te maak slaap

My baba het skielik begin catnap. Ek het gedink dis normaal totdat ek gelees het dis ’n slegte gewoonte. Bedags het sy al hoe minder begin slaap en al moeër geword. Toe lees ek van fourth month sleep regression en dat baba’s deur leaps gaan. Leap five is die moeilikste. Volgens my somme moes ons amper met leap five begin. Weer die vrees. Hoe het my ouers en die miljoene ander mense hierdie ding gedoen?

My rustige roetinebaba skree elke dag. Sy wil nie drink nie. Sy slaap sleg. Sy’s moeilik. Ek is gedaan. Ek voel hoe die ou monster terugkom. My kop hardloop met my weg. Ek begin verlang na die dae voor sy gekom het. Ons sal nooit weer saans by vriende kan gaan braai nie, want hoe op die aarde gaan ek haar aan die slaap kry sonder dat sy die hele gebied wakker skree? Ek begin google watter medisyne ek vir haar kan gee om haar te maak slaap. Skrikwekkend, nè?

Dis in hierdie toestand dat my ma my een aand in die bad gekry het. My baba was vyf maande oud en ek gedink ek is oukei, maar ek was nie.

Moenie dink ek was nie onsettend dankbaar vir my dogtertjie nie,. Depressie is ’n siekte. Ek het steeds probeer om die heel beste ma vir haar te wees. Ek was gebroke dat ek, ’n bewys van God se genade en seën, só oor my wonderwerkdogtertjie voel. Ek het voor die Here gaan sit en gesê dat ek fisiek nie meer kon nie. Die Here was getrou deur my ma op die regte tyd na my toe te stuur. Sy kon sien iets is baie verkeerd en sy het my aangemoedig om die dokter te gaan sien.

Die bekentenis

Ek moes daardie aand vir my man sê dat ek swaarkry, dat ek so besig was om aan hom en ons baba en almal rondom ons te dink dat ek totaal en al van myself vergeet het. Ek was skaam om te erken dat ek hulp nodig het. Ek het ’n ongelooflike ondersteuningsnetwerk gehad – my man, ouers, skoonouers, familie, vriendinne en ginekoloog.

Toe ek na my man toe gaan, het hy my vasgedruk en gesê dis oukei. Ek het daardie dag uit my man en ouers se monde gehoor dat hulle trots was op my. Ek het medikasie begin gebruik.

Ek het hulp ingeroep toe ek weer moes begin werk. Dit gaan nou beter. Ek voel meer in beheer van my emosies en kan my baba met haar emosies help. Ek kan weer ’n vrou wees vir my man. Ek kan weer my ritme kry sonder om myself êrens te verloor. Ek geniet my baba en elke nuwe fase. Sy bly maar net ’n baba.

Ek voel steeds soms asof ek nie mooi weet wat om te doen nie. Maar een ding is seker: nageboorte-depressie is ’n werklikheid. Dis niks om oor skaam te wees nie. Dit kan met enigiemand gebeur.

Dit is seer. Dit is verwarrend. Dit is oorweldigend, maar daar is hulp. Ek eer die Here vir die pad wat ek moes stap en vir die mense wat my goed genoeg geken het om te kon sien ek kry swaar. Maar bo alles eer ek Hom vir my perfekte, gesonde, sterkwillige en pragtige babadogtertjie.

Lees ook: Nageboorte-depressie: Toets jouself

Gaan jou huwelik ’n baba oorleef?

The post My storie: Nageboorte-depressie is ‘n werklikheid appeared first on rooi rose.

Tydsbestuur: Kry meer uit jou dag
Tydsbestuur: Kry meer uit jou dag. Deur Anet Schoeman.

Ons Evasgeslag roem ons op ons talent om vele takies gelyktydig te kan doen. As jy al met ’n baba op die heup kospotte geroer het, terwyl jy vir ’n ouer kind spelling vra en met die ander hand die honger honde kos gee, weet jy hoe dit werk. Tog, sê kundiges, skiet ons ons op hierdie manier eintlik in die voet. Deur te veel te probeer doen, kry ons minder reg.

Lauren de Witt, ’n bestuursafrigter wat in tydsbestuur spesialiseer, glo jy moet eers bepaal wat jy tans met jou tyd doen voor jy werklik kan beplan om meer in ’n dag uit te rig.

“Ons almal het net 24 uur in ’n dag, maar deur die regte beplanning kan jy seker maak dat jy die beste daaruit haal. Tydsbeplanning gaan jou niks help as jy nie weet waar jy op die oomblik tyd mors nie.”

“Die groot geheim is om slimmer eerder as harder te werk sodat jy die beste uit elke minuut haal. En wees realisties. Vir my is ’n koppie koffie vroeg in die oggend die grootste prioriteit. Daarsonder kan ek nie my dag begin nie.”

Delegeer

As jy heeltyd alles alleen probeer doen, gaan jy iewers in die hek duik. Kyk eerstens watter take jy alleen doen, en kies dan die regte mense om die ander vir jou te doen. Probeer jy die huis skoonmaak, kinders grootmaak en steeds ’n voltydse werk van jou tuiskantoor af behartig? As dit belangrik is dat jy vir jou kinders beskikbaar is, kry iemand om die huis skoon te maak en kos te maak.

Moenie wag tot die kalf in die put is nie – beplan vooraf. Om net voor die sperdatum van ’n groot projek paniekerig te raak en dan die kinders in dagsorg te plaas, of werk op onervare kollegas af te skuif, is moeilikheid soek. Maak tyd om die regte mense te kry, gee duidelike opdragte en maak seker dat hulle opgewasse is vir die taak.

Wees realisties

Lauren dink altyd aan die vroedvrou wat vir haar gesê het: “Moenie superma probeer wees nie. Doen wat op daardie oomblik die belangrikste is. As jy ’n honger baba met ’n vuil doek het, is dit wat eerste jou aandag verg.”

Baken jou tyd af

Besluit vooraf hoeveel tyd jy aan ’n taak kan afstaan. As jy op ’n Saterdagoggend die huis wil skoonmaak, kan dit ’n dagtaak word as jy nie oppas nie. Gee jouself twee uur waarin jy niks anders doen nie en handel die taak af.

Doen jy navorsing vir ’n projek? Bly gefokus en moenie op ’n dwaalspoor beland en allerhande ander interessante dinge op die Internet lees nie.

Behou momentum

Kenners praat graag van die “vloei” van jou energie. Lauren verduidelik dat ’n mens maklik verskillende take kan doen as hulle verwant is. As jy na een kind se leesles luister terwyl jy ’n ander een met ’n taak help, val dit binne dieselfde raamwerk. Maar probeer jy oproepe van die kantoor hanteer terwyl jy dit doen, verloor jy fokus. “Dis beter om op een soort taak te fokus en sodra dit afgehandel is, vyf minute te rus voor jy na ’n nuwe groep verwante take aanskuif. So benut jy die vloei van jou gedagtes en energie sonder onderbrekings.

Lees ook: Mamma, help jy te veel?

’n Blaaskans

As jy een taak suksesvol afgehandel het, vat ’n blaaskans om na te dink en die res van die dag in oënskou te neem. Dit help jou om tot verhaal te kom en keer dat jy saans geestelik uitgeput by die huis instrompel. “Dis belangrik om heeltemal te stop met een taak voor jy met die volgende een begin.” Dit gee jou kans om jou gedrag te verander en gee jou brein ’n tydjie om af te skakel voor jy weer op die volgende taak fokus.”

Lees ook: Energieplanne wat altyd werk

Oefening maak jou beter

Nie almal is ewe georganiseerd nie. Tog kan jy met oefening beter raak. Neem byvoorbeeld naels verf. As dit 15 minute duur om jou naels te verf en jy oefen gereeld om dit te doen, gaan jy dit beter en vinniger regkry. Dieselfde geld ander take. Kyk na jou take vir die dag en dink hoe jy dit vinniger en beter kan doen. Soms is dit klein goedjies wat jou tyd opslurp. As dit soggens ’n halfuur duur om aan te trek omdat jy nie kan besluit wat om te dra nie, kan jy baie tyd spaar deur die vorige aand reeds jou klere reg te sit.

Lees ook: Is jy altyd laat?

Een twiet kan jou ’n halfuur kos

Ruim spesifiek tyd in wanneer jy na jou e-posse kyk, of op sosiale media-platforms doenig is, eerder as om dit die hele dag uit die hoek van jou oog dop te hou. Gloria Mark het ’n studie aan die Universiteit van Kalifornië onderneem om die uitwerking van digitale onderbrekings op konsentrasie te meet. Daaruit het dit geblyk dat elke onderbreking byna 25 minute van jou tyd steel. Dis hoe lank dit duur voor jy weer ten volle kan fokus op die taak waarmee jy besig was. Die onderbrekings van konsentrasie lei ook tot hoër stresvlakke, ’n slegte bui en laer produktiwiteit.

Vinnige wenke

Doen dit

• Kyk met ’n vergrootglas na jou tydsbeplanning en waar jy tyd mors. Kry ’n tydsbestuur-app en hou ’n week lank boek sodat jy kan sien waarheen jou tyd vlieg. Jy werk nie noodwendig doeltreffend net omdat jy besig is nie.

• Kyk waaraan jy die meeste tyd per dag bestee, en hoe jy deur ’n tydsbeperking te stel doeltreffender kan wees. Gee jouself ’n vasgestelde tyd om iets te voltooi.

• Besluit voor ’n vergadering, of selfs ’n koffie met ’n vriendin of kind, wat jy uit die interaksie wil hê. Dalk wil jy jou vriendin opbeur omdat sy deur ’n moeilike tyd gaan, of dalk is jy die een wat met ’n probleem worstel. Kort, doelgerigte vergaderings vermag meer as langes sonder rigting.

• Beplan jou week op ’n Sondag. ’n Halfuur se beplanning kan jou baie tyd spaar en sorg dat jy Maandagoggend gefokus is.

• Doen op ’n Maandag minder belangrike dinge omdat jou energie soms laag is. Dinsdag en Woensdag is goed vir kreatiewe en veeleisende take. Vergaderings werk op Donderdag as jou span begin spoed verloor, en gebruik Vrydag vir netwerk en beplanning.

• Doen jou belangrikste en moeilikste take vroeg in die oggend wanneer jou brein skoon is.

• Maak ’n “gedoen”-lysie langs jou “moet doen”-lysie om jou te motiveer. Kyk op ’n Sondag terug na wat jy alles vermag het en wens jou geluk met jou suksesse.

• Moenie op inspirasie wag nie. Pak die bul by die horings. Al begin jy wankelrig, lei een gedagte gewoonlik tot ’n volgende, wat jou later op die regte spoor plaas.

• Maak die beste van wagtyd. Lees ’n tydskrif in die motor terwyl jy op ’n kind wag. Of luister na ’n potgooi op jou foon. Lees jou e-posse terwyl jy op ’n klant wag. Draf 45 min. lank terwyl boetie sy kitaarles het.

• Dit hoef nie altyd perfek te wees nie. As jy wag tot jy genoeg tyd en inspirasie het, word dit dalk nooit gedoen nie.

• Slaap genoeg. Uit verskeie studies het dit geblyk dat die ure wat jy minder slaap, jou minder doeltreffend maak en jou deur die dag tyd laat mors.

• Oefening bring oplossings en help jou om stres op ’n gesonde manier te hanteer. As jy nie tyd het nie, koop ’n springtou en spring tien minute per dag op vrolike musiek.

• Beperk onderbrekings soos foonoproepe en e-posse as jy met ’n belangrike taak besig is.

• Kry balans. Moenie toelaat dat ’n skedule en perfekte beplanning al die vreugde uit jou lewe suig nie. Weet wanneer om hokaai te roep en aandag aan jouself en geliefdes te gee.

• Skeduleer jou werk sodat jy dit ’n dag voor ’n sperdatum kan ingee. Dit keer uitmergelende stres en verbeter die gehalte van jou werk.

Nee, wat

As jy sukkel om by ’n plan te hou, is dit dalk makliker om eerder op te hou om sekere goed te doen as om nuwes aan te leer.

• Moenie die eerste baie kreatiewe tyd van jou dag gebruik om e-posse te lees en te beantwoord nie. Jou tyd kan veel beter bestee word deur iets met ’n hoër prioriteit te doen.

• Moenie vergeet om asem te skep nie. ’n Verposing waar jy besin oor wat jy volgende moet doen, is noodsaaklik. Dit gee jou brein ’n kans om te herlaai en weer kreatief te wees.

• Moenie te veel goed gelyk doen nie. Studies toon dat dit jou streshormoon, kortisol, sowel as adrenalien verhoog wat jou brein oorstimuleer en jou swakker besluite laat neem. Jy is dalk baie besig en kry goed gedoen, maar op die lange duur mors jy tyd omdat jy minder doeltreffend is.

• Soms moet jy jou beplanning vir die dag verander. Is dit die moeite werd om nóú winkel toe te ry vir inkopies, of moet jy dit ná skool doen sodat die kinders benodigdhede vir ’n skooltaak kan koop?

Lees ook: Hoe om ’n trae kind te motiveer

The post Tydsbestuur: Kry meer uit jou dag appeared first on rooi rose.

5 maniere om depressie te bekamp
Foto Pexels

Het jy geweet een uit elke ses Suid-Afrikaners ly aan angs of depressie (met die uitsondering van meer ernstige toestande soos bipolêre versteuring of skisofrenie)?

Dr Renata Schoeman, lid van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Psigiaters (SASOP), sê nóú is die tyd vir mense om bewus te raak van ongesonde lewenstyle om sodoende hul kanse op geestesgesondheidsverwante siektes te beperk.

“Ons was almal al voorheen daar, waar dit veel makliker en lekkerder is om eerder vir ure die rusbank warm te hou as om jou hardloopskoene uit ’n stowwerige kas op te diep. Sodra jy wel die skuif gemaak het, is dit onmiskenbaar hoe fantasties jy ná oefening voel. So, hoekom wag om ’n bewuste keuse te maak om gesonder te wees? Om jou gesondheid eerste te stel, sal ’n ongelooflike positiewe uitwerking op alle gebiede van jou lewe en gemoedstoestand hê.”

Lees ook: Oefen jouself fiks en sterk

Die verband tussen fisieke fiksheid en geestesgesondheid is al oor en oor bewys. Baie mense verkies egter om op ’n besige lewenstyl te fokus eerder as om te besef dat om onaktief te wees op die langtermyn ’n negatiewe uitweking op hul gesondheid, maar ook op hul gemoedstoestand sal hê. Oefening is ’n sterk teenvoeter vir ligte tot matige depressie, dit is ’n natuurlike bui-opkikker en het ’n geweldige positiewe impak op emosies.

“Oefening stel endorfiene vry wat jou energiek hou, jou fisies moeg maak en jou gevoel van welsyn verbeter. Dit bevorder neuronale groei en verminder inflammasie van die brein. Hierdie biologiese veranderinge het ook kalmte tot gevolg. Een van die belangrikste voordele van oefening is die positiewe invloed wat dit op die handhawing van gereelde slaapsiklusse het. Gemoedstoestande en angsversteurings kan slaap negatief beïnvloed en slaapsteuring kan bydra tot die ontwikkeling van gemoeds- en angsversteurings.

Lees ook: 6 slaapprobleme, 6 oplossings

“Nog ’n voordeel van oefening is die moontlikheid wat dit skep om, op ’n gesonde manier, sosiaal aktief te wees. Dit is die beste manier om stres en spanning te verlig en angs hok te slaan. Jy fokus eerder op ander dinge as om voortdurend besig te wees met die dinge wat jou juis angstig maak.”

Lees ook: 10 wenke teen stres wat werk

Dr Schoeman sê verder diegene wat aan ADHD ly kan baie voordeel trek uit oefening aangesien dit konsentrasie en geheue verbeter deur die vlakke van dopamien wat in die brein verhoog word. Dit is ’n belangrike toevoeging tot medikasie wat gebruik word vir die behandeling van ADHD en kan selfs die pasiënt se behoefte vir medikasie verminder.

Lees ook: ADHD – Is dit dalk jy?

“Het jy geweet oefening kan jou eintlik slimmer maak? Dit wakker kreatiwiteit aan en help met vinniger probleemoplossingvermoëns, maak voorsiening vir beter fokus en konsentrasie, wat op sy beurt lei tot die toename in produktiwiteit. Dit stimuleer ook die groei van nuwe neurone in die geheue-areas van jou brein.”

Wanneer jy 30 minute se fisiese oefening vyf keer ’n week kan inpas, kan jy begin kyk na ander selfversorgingsareas in jou lewe om jou gesondheid geheel en al te verbeter.

“Om balans tussen jou persoonlike en professionele lewe te vind, moet mens ’n paar veranderinge maak. Begin klein – die idee is om jouself nie te oorweldig nie, eerder andersom. Met elke klein verandering sal jy agterkom dat ander areas van jou selfsorgreis natuurlik verbeter, omdat dit jou ingesteldheid is om gesonder te wees.”

Dr Schoeman glo dat ’n gebalanseerde dieet, opvoeding, sosialisering en voldoende slaap hand aan hand gaan met oefening om die basis te vorm vir wat nodig is vir goeie geestesgesondheid en algemene welsyn.

“Jou brein is toegerus om lewenslank te leer en hoe meer jy dink, hoe beter funksioneer jou brein, ongeag jou ouderdom. Begin dus met neurobics deur jou brein te stimuleer met aktiwiteite soos kuns, kunsvlyt, reis, om musiekinstrumente te bespeel en vrywilligerswerk.”

Lees ook: Mediteer só met inkleurboeke vir grootmense

Daar is ’n gesegde wat sê jy is wat jy eet. Dr Schoeman glo ’n gebalanseerde dieet wat vesel, Omega 3 en vitamiene B en E insluit, sal die risiko van demensie verminder, korttermyngeheueverlies verbeter, jou bui opkikker en leervermoë, energie en konsentrasie verhoog.

Lees ook: Vitamienes wat vasvat

Kan jy Alzheimer keer? Lees hier

“Die volgende stap is om te sosialiseer. Om gelukkig te wees is aansteeklik en as jy jouself omring met mense wat jou vlak van geluk verhoog, sal jy ’n afname in stres, depressie en selfs hartsiektes sien. Fisieke liefde verbeter jou gemoedstemming en lag is die beste medisyne wanneer dit by geestesgesondheid kom.”

Lees ook: Leef lig en lag ’n bietjie

Dr Schoeman glo die laaste stap is voldoende slaap. Dit gee jou immuunstelsel ’n hupstoot en behou hormonale balans wat vetsug en diabetes voorkom. Voldoende en gereelde slaap voorkom ook geestesgesondheidsprobleme soos depressie, deur emosionele welstand te verhoog. Slaap is daarby ook baie belangrik vir konsentrasie, geheue en leer en selfs voorkoming van demensie, want “afvalprodukte” wat ophoop wanneer jy wakker is, word deur slaap “weggespoel”.

The post 5 maniere om depressie te bekamp appeared first on rooi rose.

Tienerselfdoodvoorkomingsweek
– Versorg deur Mariette Snyman. Foto Pixabay

Selfdood ruk ’n gemeenskap, om nie te praat van die persoon se nabymense nie. In Suid-Afrika neem kinders so jonk as ses of agt jaar hul eie lewens. In ons land het ’n skokkende een uit vier tieners al probeer om hul eie lewe te neem. Elke 24 uur vind honderde selfdoodpogings plaas.

Hierdie tragedies maak dit duidelik dat ons kinders en tieners dringend beter gesondheidsorg en meer emosionele steun nodig het.

Lees ook: Selfdood onder kinders

Kan selfdood onder kinders en tieners voorkom word?

“Tienerselfdood is meestal impulsiewe optrede deur ’n tiener wat waarskynlik met ’n reeks probleme in hul persoonlike, gesins- of skoollewe worstel,” sê  die kinderpsigiater dr. Clarke. “Iets gebeur wat alles net te veel laat word, en dan neem hulle hierdie ingrypende stap.

“Om ’n tiener te wees is reeds moeilik. Tieners moet groot uitdagings hanteer. Hulle gaan hoërskool toe en vorm nuwe verhoudings, wat baie keer verwarrend is. Daar is baie oppe en awwe, en ander mense dink soms verkeerdelik dat dit maar net die normale buierigheid van ’n tiener weerspieël. Dit is egter nie altyd die geval nie.

“Bewustheid en eerlike gesprekke is baie belangrik. Slegs bewusmaking kan ’n einde bring aan die depressie waaroor soveel tieners stilbly. Tieners met selfdoodgedagtes sal eerder hul vriende as hul ouers daarvan vertel. Daarom besoek die South African Depression & Anxiety Group (SADAG) talle skole landwyd met hul “Suicide shouldn’t be a secret”-veldtog. Hulle gesels met die leerlinge oor wat jou te doen staan as ’n maat selfdoodgedagtes koester. Elke skool sal brosjures en polsbandjies met noodnommers ontvang.”

Lees ook: Lig jou kind uit depressie

Bewustheid en eerlike gesprekke is baie belangrik

As jy of jou geliefdes eensaam voel en geen vreugde vind in dinge wat voorheen vir jou/hulle lekker was nie, gebruik gerus die aanlyn Teen Suicide Prevention Tool Kit by sadag.org vir nuttige selfhelpwenke, video’s, plakkate en maniere om hulp te kry. Besoek gerus ook sadag.org, of gaan direk na die Facebookblad The South African Depression and Anxiety Group

Waarskuwingstekens

Wees bedag op waarskuwingstekens by jouself of iemand anders en kry onmiddellik professionele hulp. Jy kan ook The South African Depression & Anxiety Group se gratis selfdood-krisishulplyn skakel by 0800 567 567 (8.00 tot 20.00, sewe dae per week).

Hier is die tekens:

Praat oor, of dink aan doodgaan

Ervaar ’n diep depressie, mood swings of leegheid

Onttrek van nabymense

Voel hooploos en alleen

Gebruik meer alkohol en dwelmmiddels

Voel soos ’n las vir ander

Tree roekeloos op of bly rusteloos

Ervaar veranderinge in eet- en slaappatrone of energievlakke

Berei voor op die dood – gee besittings weg, of stel ’n testament op

Het geen plesier aan enigiets nie

Opmerkings soos “Niks maak meer saak nie” of “Julle sal beter af wees sonder my” moet die waarskuwingsligte laat flikker!

Lees ook: Jou kind en die dood: 9 waarskuwingstekens

The post Tienerselfdoodvoorkomingsweek appeared first on rooi rose.

Anoreksie: swaai jou kind se kop oor dieet, gewig en kos
Tienermeisies is meer vatbaar vir anorexia nervosa. As ma kan jy baie help om haar houding oor kos in ’n gesonde rigting te stuur. Ons het die tien beste antwoorde bymekaar gemaak, om jou te help.

Anoreksie is in ons gewig-behepte samelewing steeds springlewendig. En mooi, talentvolle meisies met ’n toekoms vol potensiaal sterf steeds daaraan.

Lees ook: Raad vir ’n tienervel

Dit gebeur méér dikwels as wat mens sal wil glo. Volgens ANAD (anad.org) sterf tot 20% van mense aan anoreksie, as iemand nie ingryp nie. 20% is lewenslank so ernstig geknou dat hulle nooit sal kan werk of na hulself kan omsien nie.

Waar begin dit?

Gene speel ’n rol. Maar ook jou gemoedstoestand, groepsdruk, kommersiële druk (advertensies en winkels wat die skraal figuur as ideaal bevorder) en persoonlike persepsies, wat gevorm word in die ouerhuis, vriendekring, media, en wyer gemeenskap.

Volgens die American National Institute for Mental Health ontwikkel een in drie ‘normale’ diëters eetprobleme, met 20-25% wat volledig of semi- anoreksies of bulimies raak. Lees meer hier.

Is daar oplossings? Kan jy dit keer?

As jy dink daar is ’n probleem, kry professionele hulp. Maar jy kan baie doen om te keer dat dinge so ver ontwikkel. Een van die moeilikste kwessies is om die persoon se beskouing van kos te normaliseer. Dit is waar jy inkom. Die vertrekpunt van ’n gesonde lewe begin by ’n gesonde verwysingsraamwerk oor kos. Met ander woorde, dit gaan oor ’n houding wat jy by jou kind vaslê. En dit doen jy in jul dag-tot-dag gesprekke. Om die tafel. Wanneer julle uiteet. In die motor op pad skool toe. Wanneer jy kos koop. As jy jou kind dan gesonde perspektief gee, is die stryd gewen.

Lees ook: As jy sekere kosse weier, ly jy dalk aan ‘Avoidant, restrictive food intake disorder’

Foto Pixabay

Hier is ’n paar idees vir goeie, positiewe antwoorde:

Jou tiener sê: Kos maak vet.

Jou teenantwoord: Ongesonde, verkeerde kosse maak vet.

Jou tiener sê: As ek eet, gaan ek vet word.

Jou teenantwoord: As jy eet en nooit oefen nie, gaan jy vet word.

Jou tiener sê: Niemand sal van my hou as ek vet is nie.

Jou teenantwoord: Ek sal altyd van jou hou.

Jou tiener sê: Vet meisies kry nie dates nie.

Jou teenantwoord: Baie verskillende soorte lyfies is mooi vir mans. Benerigheid is ook nie mooi nie.

Jou tiener sê: Ek is nie goed genoeg nie.

Jou teenantwoord: Vir mý is jy absoluut wonderlik, pragtig en perfek. Ek is trots op jou soos jy is.

Jou tiener sê: Ek lyk nie goed genoeg nie.

Jou teenantwoord: Vir mý is jy absoluut pragtig en perfek, so mooi soos die dogtertjie waarvan ek altyd gedroom het.

Jou tiener sê: Mense sê ek het vet geword.

Jou teenantwoord: Mense dink eintlik altyd oor hul eie gewig, selde oor ander s’n. Hulle vergeet gou van joune, en praat nie regtig ooit lank daaroor nie.

Jou tiener sê: Ek gaan goed lyk as ek nog net twee kilo’s verloor.

Jou teenantwoord: Jy gaan ook so moeg en pap voel want jou liggaam gaan verswak.

Jou tiener sê: Hoe minder ek weeg, hoe mooier is ek.

Jou teenantwoord: Jy is klaar pragtig. Ek wil niks aan jou verander nie.

Jou tiener sê: Klere lyk die mooiste aan die maerste mense.

Jou teenantwoord: Klere lyk die mooiste as dit goed gesny is en pas by jou lyfvorm.

Jou tiener sê: Niks pas my nie want ek is te vet.

Jou teenantwoord: Daardie styl is nie reg vir jou nie. Kom probeer hierdie styl, want dit vly jou.

Jou tiener sê: Ek pas nie meer in ’n nommer tien nie.

Jou teenantwoord: Jy het gegroei. Jy is mos nie meer agt jaar oud nie.

Jou tiener sê: Net skraal meisies is mooi.

Jou teenantwoord: Glad nie. Jy is so mooi soos wat jy voel. Jy is so mooi as wat jy jouself versorg.

Jou tiener sê: Mense sal my ophou kritiseer.

Jou teenantwoord: Mense kritiseer ander mense in elk geval. Dit is hoe mense is.

Jou tiener sê: Sodra ek maer is, sal ek gelukkig wees.

Jou teenantwoord: Depressie is ’n newe-effek van eetversteurings.

Jou tiener sê: Ek mag nie eet nie want ek het my gister ooreet.

Jou teenantwoord: Moenie jouself uithonger en afskeep nie. Dit maak jou gespanne en angstig, en dan gaan jy môre weer ooreet.

Jou tiener sê: Hoe kon ek so baie geëet het?

Jou teenantwoord: Kos is mos lekker. Almal het dit geniet. Jy mag kos geniet.

Jou tiener sê: Ek is simpel, sleg en useless want ek is vet.

Jou teenantwoord: Ék is gek na jou. Ek dink jy is oulik, kosbaar en dierbaar.

Lees ook: 10 dinge wat jy nooit vir jou tiener moet sê nie

The post Anoreksie: swaai jou kind se kop oor dieet, gewig en kos appeared first on rooi rose.

Hiperaktiwiteit: daar’s ’n verskil
* Aandagafleibaarheid dui op ’n gebrekkige vermoë om te fokus en/of te konsentreer

* Aandagafleibaarheid-hiperaktiwiteit behels gebrekkige fokus sowel as fisieke ooraktiwiteit

* ’n Kind kan net aandagafleibaar wees, of aandagafleibaar sowel as hiperaktief.

Dr. Rykie Liebenberg, psigiater en sameroeper van die ADHD South African Special Interest Group, sê onderwysers moet bedag wees op die verskillende maniere waarop AA/HS in die klaskamer presenteer.

“Die toestand kom meestal verskillend na vore by seuns en dogters.

• Seuns se simptome is meer ‘uiterlik’. In die klaskamer is hulle geneig om weerbarstig en lawaaierig te wees. Onbeheersde gedrag soos fisieke aggressie – om voorwerpe rond te gooi, te spring en rond te hardloop – asook emosionele uitbarstings kom voor.

• Meisies met die sindroom se simptome is meer ‘innerlik’. Hulle mag hulle onttrek en baie dagdroom of kronies moeg voel.

“Die ontwrigtende optrede van die seuns maak dit makliker om te vermoed dat AA/HS betrokke is. Ongediagnoseerde dogters, aan die ander kant, gedra hulle dikwels ‘goed’ – maar hulle sukkel om te fokus en om te onthou wat vir hulle gesê is.”

Een eienskap van AA/HS wat seuns en meisies deel, is hiperfokus. “’n Kind wat met ongediagnoseerde AA/HS worstel sal tipies op een onderwerp of item fokus en die ander skoolwerk ignoreer.”

Hoewel die klaskamer ’n sleutelomgewing is waar AA/HS geïdentifiseer kan word, moet ’n kind die betrokke simptome by die skool sowel as tuis toon voor ’n amptelike diagnose gemaak kan word.

“As ’n onderwyser vermoed dat ’n kind AA/HS het, moet die ouers onmiddellik gekonsulteer word. Die eerste stap is om seker te maak dat die kind se gedrag nie toegeskryf kan word aan faktore soos ’n egskeiding, mishandeling, of ’n broer of suster wat ernstig siek is nie. As die toestande tuis egter relatief normaal is en die kind by die skool én tuis ’n gebrek aan aandag, hiperaktiwiteit en impulsiwiteit toon, is dit die beste om ’n professionele mediese persoon te spreek.

“Die verstandige hantering van AA/HS kan ’n groot verskil maak. Dit kan ’n kind help om te fokus en sy of haar volle potensiaal te verwesenlik.”

Inligting verskaf deur Janssen Pharmaceutica

Lees ook: Supersensitiwiteite: ondersteun jou kind só

The post Hiperaktiwiteit: daar’s ’n verskil appeared first on rooi rose.

Die tekens dat jy, of iemand na aan jou in rou is
Is jy in rou?

Die meeste van ons probeer hard om aan te gaan. Maar dit is nie so maklik nie.

Suzette Venter het haar seun, Eugene, op 5 Januarie 2006 verloor. Sy glo jy moenie die tekens dat jy besig is om te rou ignoreer nie. “Mense misverstaan rou en hartseer as ’n proses wat jou uiteindelik bring by berusting en begrip.”

Maar wat is die tekens dat jy nog in rou is? Suzette lys ’n aantal wat sy self beleef het.  Evalueer jouself.

12 tekens dat jy in rou is

Jy voel nie jouself nie.

Jy voel asof jy nie dinge kan deurdink en afhandel nie. Jou gedagtes maal.

Jy voel asof jy nie meer kan werk nie, asof jy jou werksvaardighede verloor het.

Jy voel mense ondersteun jou nie.

Jy voel niemand verstaan nie.

Jy voel mense druk jou om te werk of deel te neem aan sosiale aktiwiteite.

Jy wil alleen wees.

Jou geloof wankel.

Talle verwytgedagtes maal deur jou kop: Hoekom het ek nie … As ek maar net … As die dokter …

Jy vergeet van die lewendes wat na aan jou is. Jy sien nie jou huismense raak nie. Jy vergeet dat hulle óók jou verlies voel en óók moet aanpas.

Jy sien nie kans om ander te versorg nie.

Jy soek desperaat na antwoorde, wat die hele spektrum van praktiese werklikhede tot emosionele en geloofskwessies kan dek. Baie (die meeste!) van jou ou antwoorde werk nie meer nie.

Hoe kan ek myself help? Lees gerus hier:

My manier om trauma te verwerk

Jy kan jou kind swaarkry help verwerk

Verwerk jou pyn

Jy kan trauma verwerk

The post Die tekens dat jy, of iemand na aan jou in rou is appeared first on rooi rose.

Stres minder: kyk na dié 6 denkpatrone
Stres minder: kyk na dié 6 denkpatrone. Deur Mariette Snyman.

Die kern van stres lê daarin dat ons ’n gebrek aan beheer ervaar. Ons reken ’n situasie val buite ons kontrole terwyl ons wel iets daaraan kan doen, of ons dink ons kan ’n situasie beheer wat ons eintlik nie kan nie.

So kan ons ons vakansieplanne verander, ons gedagtes beheer (natuurlik met moeite!) of meer selfgeldend wees – maar aan die weer, die verkeer, ander mense se persoonlikhede of ouer word kan ons min doen.

Soms is stres die gevolg van aangeleerde denkpatrone. Dit mag ’n onaangename oefening wees en vra ’n goeie dosis eerlikheid, maar herken jy jouself in die volgende denkwyses?

1 Jy aanvaar onnodige verantwoordelikheid

Wat doen jy wanneer dinge skeefloop? Soek jy die fout outomaties by jouself?

Mense wat hulself moeilik handhaaf is baie keer eerder oorakkommoderend as om ander te konfronteer. Hulle is geneig om hulself te blameer wanneer hulle nie die probleem veroorsaak het nie, of wanneer dit eintlik iemand anders se verantwoordelikheid is.

Beheer en verantwoordelikheid loop hand aan hand. Jy kan nie verantwoordelikheid neem vir ’n familielid se geldsake as daardie persoon die geld na goeddenke spandeer nie.

Vra jou af: Wanneer ek feitelik na die situasie kyk, wie se verantwoordelikheid is dit regtig?

2 Behoefte om te beheer

Skuil daar ’n beheervraat in jou? Wil jy byvoorbeeld elke aspek van jou huishouding of besigheid self hanteer? Daar is gewoon nie genoeg tyd en energie om alles self (goed) te doen nie.

Vra jou af: Watter take kan ek delegeer, of wanneer is 80% pleks van 100% voldoende? (Sal dit byvoorbeeld iemand se dood veroorsaak as ek die matte minder dikwels stofsuig?)

Lees ook: Asemhalingoefeninge wat jou help om minder te stres

3 Slagoffermodus

As jy glo niemand se lewe was nog ooit so moeilik soos joune nie, of gereeld dink: “Hoekom moet alles altyd skeefloop?” moet jy die moontlikheid oorweeg dat jy in poor me mode is. Dit is natuurlik geen maklike taak om hierdie modus te herken nie!

Probeer vasstel wat die kernprobleem agter hierdie gedrag is en maak werk daarvan. Dalk is dit nie so ingewikkeld nie. Indien dit is, kan professionele hulp soos ’n paar sessies by ’n knap sielkundige wondere verrig.

Vra jou af: Beskou ek my as die slagoffer?

4 Alarmistiese denke

’n Lewendige verbeelding of ’n hoë angsvlak kan veroorsaak dat jy “katastrofeer”. Dis ’n moeilike gewoonte om af te leer, veral wanneer die oorsaak angstigheid is. Ook hier kan professionele hulp van waarde wees. Sien ook ons artikel, Die onsigbare tronk

Vra jou af: Dink ek altyd eerste aan die ergste wat kan gebeur?

5 Oorveralgemening

Wye stellings wat woorde soos “altyd”, “nooit”, “niemand” of “almal” bevat kan gesaghebbend voorkom, maar in werklikheid is hulle selde in die kol. Omvorm sulke stellings om die feite van die presiese situasie oor te dra. Pleks van “Almal kyk my vandag skeef aan,” is die waarheid dalk “My man was vanoggend te ingedagte om my behoorlik te groet en my kollega het duidelik nie lus vir geselskap nie.”

Die lewensafrigter Martha Beck sê wanneer die begrip “almal” in jou gedagtes opduik, moet jy ses mense noem wat pertinent te kenne gegee het dat hulle voel soos jy dink “almal” voel. Byvoorbeeld: almal dink ek het ’n groot neus. Watter ses mense het so gesê, en speel hulle vandag ’n belangrike rol in jou lewe?

Vra jou af: Is my gebruik van “altyd”, “nooit”, “niemand” of “almal” realisties?

6 Neem kritiek persoonlik op

Plaas kritiek jou op die verdediging, en voel jy onmiddellik veroordeel of verwerp?  Dit gebeur maklik wanneer ons weerloos voel (om watter rede ookal) of wanneer iemand ’n teer punt aanraak. Luister goed na wat die persoon sê terwyl jy emosioneel afstand probeer handhaaf. Om oop te wees, pleks van op die verdediging, kan die angel uit hierdie denkpatroon haal.

Vra jou af: Wat hoor ek as ek neutraal na die kritiek luister?

Bron: “Natural Superwoman” deur Rosamond Richardson, Celestial Arts, 1999.

Hooffoto: Garon Piceli vir Pexels

Lees ook: Raad vir ongesonde vriendskappe

The post Stres minder: kyk na dié 6 denkpatrone appeared first on rooi rose.