Hoor jy van obsessief-kompulsiewe versteuring (OKV), kom die klassieke beeld van iemand wat hul hande oor en oor was tien teen een by jou op. Maar hierdie angsversteuring kom in baie gedaantes, sommige so subtiel dat iemand jare lank ongemerk daaraan kan ly.
Dr. Philip van Rensburg, kliniese sielkundige van Pretoria wat in angs- en gemoedsversteurings spesialiseer, verduidelik: “By OKV gaan ’n hoë angsvlak gepaard met obsessies – onwelkome, herhalende gedagtes, gevoelens of sensasies – en/of kompulsies: handelinge wat die persoon gedwonge voel om uit te voer. Die gedagtes en handelinge is ’n onbewuste poging om die onderliggende angs te verlig, maar veroorsaak op hul beurt ongemak, kommer en selfs afsku. Op ’n sekere vlak besef mense met OKV hul obsessies en kompulsies is irrasioneel, maar hulle kan dit nie beheer nie.”
Obsessies kan vergelyk word met ’n deuntjie wat meedoënloos in jou kop bly draai. Dit kan fokus op ’n vrees dat iets slegs met jou of jou geliefdes gaan gebeur; dat jy iets belangriks sal verloor; iets onvergeefliks sal aanvang; dat jy God sal mishaag, of op verbode seksuele aktiwiteite. Obsessies kan oortuigings omtrent “gelukkige” of “ongelukkige” syfers en kleure insluit.
Kompulsies kan oordrewe persoonlike higiëne of huisskoonmaakprosesse behels; om voorwerpe op ’n spesifieke manier te rangskik; aktiwiteite ’n sekere aantal kere te herhaal; spesifieke voorwerpe of liggaams-dele aan te raak; inligting oor en oor te lees; sekere items op te gaar, of om situasies te vermy wat jou obsessies kan sneller. Mense met OKV skep dikwels rituele wat hulle voel hulle móét uitvoer. Hulle is gewoonlik skaam hieroor en steek dit sover moontlik vir ander weg.
“Mense meld selde met klagtes van OKV by my aan. Hulle kom meestal weens angstigheid, eksamenvrees, ’n gejaagdheid, skuldgevoelens of omdat hulle ’nie kan stilsit nie’. As ek OKV vermoed, vra ek: ‘Tel jy? Trappe, liggies teen die dak – enigiets?’ Gewoonlik lag hulle verleë. Ek vra ook of hulle ’n skildery wat skeef hang, sal regstel, patroontjies in die mat probeer sien of sekere dinge double check. Toe ek in die weermag was, het een van my makkers soggens sy trommel gesluit, en telkens wanneer hy by die deur kom, teruggedraai om seker te maak dis gesluit. Dit het ’n heen en weer gehardloop afgegee.
“Mense met OKV hanteer dit moeilik as hul dagbeplanning onvoorsiens omver gewerp word. Hulle word ook dikwels van perfeksionisme beskuldig. In hierdie konteks beteken perfeksionisme nie dat hul kaste noodwendig almal reggepak is nie maar wel dat hulle voortdurend gedagtedruk ervaar dat hulle sekere dinge perfek behoort te doen.
“So iemand word baie keer in detail vasgevang. As sy ’n skooltaak uitwerk, is sy byvoorbeeld so begaan daaroor om niks uit te laat nie of om foutloos te formuleer, dat sy gewoon nie klaarkry nie.”
Uitstel is ’n verdere teken van OKV. “Take word uitgestel omdat hy op hierdie oomblik nie in ’n ruimte is waar hy voel hy kan die taak perfek uitvoer nie. Nog ’n kenmerk is ’n rampingesteldheid. Sodra mense met OKV verveeld raak, begin hulle wonder wat verkeerd kan gaan. Hulle beleef die katastrofe by voorbaat in kleur en geur. Dit verhoog uiteraard hul angsvlak. Maar dis ook waar dat hulle ’n taak net uitstel totdat hulle die ramp sien gebeur. Dan voltooi hulle dit.
“Wanneer ek mense oor hul simptome uitvra, is die reaksie dikwels: ‘Maar voel alle mense dan nie so nie?’ Hulle is gewoond aan die hoë angsvlak. Sowat 50% van hierdie mense ly ook aan depressie. Dié magteloosheid en hulpeloosheid lei dikwels tot uitbrandingsindroom. Iemand met OKV kan hulself binne ses maande uitbrand.”
Wanneer moet mense met OKV hulp kry? “Wanneer hulle by die huis, die skool of die werk nie normaal kan funksioneer nie – weens angstigheid, perfeksionisme, tydrowende kompulsiewe rituele, uitbranding of om ’n ander rede.”
Beheer
Obsessief-kompulsiewe versteuring gaan ten diepste oor beheer, of eerder die gebrek daaraan. “Die onderliggende floating anxiety kom ongevraag in mense se lewe. Die oorsake van die toestand word nog nagevors, maar daar is ’n sterk oorerflikheidsfaktor. As ’n kind dit het, het een ouer dit meestal ook. Niemand het dus ‘skuld’ hieraan nie.
“Mense met OKV ervaar sterk emosionele ongemak en probeer dit onder beheer kry. Dit werk nie, en die volgende stap is om hul omgewing te probeer beheer deur byvoorbeeld kompulsiewe handelinge uit te voer. Wanneer hul angsvlak steeds nie daal nie, probeer hulle weer hul innerlike gesteldheid in lyn kry. So ontstaan ’n sieldodende kringloop.
“Dit klink na ’n paradoks, maar die antwoord is dat jy meer in beheer voel sodra jy die noodsaak om in beheer te wees, laat gaan. Ek illustreer dit gewoonlik met die storie van ’n seuntjie en ’n dogtertjie op ’n strand. Die seuntjie sien eerste dat die gety inkom en sy sandkasteel gaan wegspoel. Hy bou ’n muurtjie om die water te keer. Die water vat die muurtjie weg, en hy probeer weer. Uiteindelik vat die water alles, en hy hardloop huilend na sy ouers.
“Die dogtertjie probeer ook ’n muurtjie bou, maar sodra dit wegspoel, verander sy haar strategie. Sy grawe dammetjies en geniet dit as hulle vol water spoel. Dit gaan alles daaroor om jou verwagtings aan te pas, pleks van krampagtig aan die illusie van beheer vas te klou.”
Obsessief-kompulsiewe versteuring kan nooit genees nie, maar wel beheer word. “Dit reageer die beste op ’n kombinasie van medikasie en kognitiewe gedragsterapie – terapie wat mense insig in die proses gee, asook tegnieke om dit te bestuur. Ek kan iemand binne ses sessies toerus om die res van hul lewe met OKV saam te leef. As hulle nie medikasie wil gebruik nie, respekteer ek dit, maar spesifieke anti-depressante genaamd serotonien-heropname-remmers of SSRI kan baie help; die persoon se brein stuur heeltyd boodskappe dat hy in gevaar is, al is hy nie nie. Hierdie medikasie bring die serotonienvlakke weer in balans en maak die lewe hanteerbaar.”
Hanteringswenke
- ”Wat is die ergste wat met enige mens kan gebeur? Jy kan doodgaan. Gaan jy weet jy is dood? Nee. Oor die ergste hoef jy jou dus nie te bekommer nie. Ons kan leer om in ongemaklike of angswekkende omstandighede – soms bloot ’n kussing wat skeef lê te vra: ‘Wie sal doodgaan?’
- “Humor is die oudste verdedigingsmeganisme. Ek sê vir pasiënte: ‘Jy kan maar jou ritueel gaan uitvoer, lag net eers vir jouself.’
- As ’n vrou byvoorbeeld kompulsief die huis stofsuig, vra ek watter taak sy haat. As dit is om die blare by die hek weg te vee, sluit ons ’n kontrak. Sy mag na hartelus stofsuig, maar sy moet élke slag eers die blare gaan wegvee. Dit skep nuwe keuses.
- “Ek gebruik neurolinguistiese programmering om mense onder meer te help disso-sieer. Kyk na jouself uit ’n toeskouersoogpunt. ‘Vries’ die stresvolle situasie in die vorm van ’n swart-wit foto en sit ’n goue raam daarom as jy wil. Dit verlaag die emosionele lading sodat jou brein ’n bruikbaarder hanteringsmetode kan vind.
- Taalgebruik vorm ons ervarings in ’n groot mate, byvoorbeeld: ‘Ek móét geld in my handsak hê vir ingeval iets gebeur.’ Dis nie ’n moet nie. Dis bloot goed om geld by jou te hê. Ons moet let op veralgemenings en verdraaiings. Vet woorde – woorde wat vir verskillende mense verskillende betekenisse het, soos ‘ryk’ of ‘respek’ – moet anders benader word as maer woorde met ’n eenduidige betekenis.
- Skryf jou obsessies soos ‘Ek moet ’n goeie mens wees’ neer, en bêre dit in ’n koevert op ’n sekere plek. So verplaas jy die obsessie van jou kop na die koevert.
- Gee doelbewus beheer op. As jy vas glo dat jy met enigiets kan cope, lui jou interne dialoog dat jy oral en altyd móét cope. Dit skep angs. Gaan sit stil en voel hoe dit voel om nie te cope nie. Voel jou hartklop, die drang om op te staan en op te tree, ensovoorts.
- Obsessiewe gedagtes vorm ’n sirkelgang. Jy tob byvoorbeeld oor jou mislukte verhouding. Kies twee tye per dag wat jy jou gedagtes hieroor in ’n spesiale joernaal met ’n pen neerskryf. Die res van die dag mag jy glad nie hieraan dink nie. Dit skep lineêre denke wat die kringloop verbreek.”
Dr. Philip van Rensburg 012 4600 726