Ons bly in ’n “nimmereindigende” wêreld, sê Tony Crabble, skrywer van die boek, Busy: How to Thrive in a World of too Much. Daar is altyd nóg e-posboodskappe, nóg vergaderings, meer goed om te lees of idees om op te volg. En die tegnologie stel ons boonop in staat om net al hoe meer “moet doen”-lysies te maak, of dit nou tuis of op vakansie is.
Die gevolg is dat ons al hoe meer oorweldig voel en boonop die sosiale druk ervaar om “alles te doen”, verduidelik hy. Die uiteinde is lae energievlakke en moegheid. Die resultate van Mintel se Trends 2025 Beauty and Personal Care-navorsing wys dan ook dat vier uit vyf Britte daardie “geen energie-gevoel” verpes wat deel van hul lewe geword het. Moegheid is ook Amerikaners se tweede grootste gesondheidskwelling. Hier is raad om meer energiek te lyk en voel.
1 Eet gesond
Eet soveel moontlik skoon (sonder enige bymiddels) en vars produkte en vermy suiker en geprosesseerde kos. Probeer ons kosredakteur, Vickie de Beer, se Gatskop-groensap. Dis ’n lekker energiegewende drankie vir ontbyt.
Lees ook: Dieetwenke wat vir almal werk

Gatskop-groensap
2 Slaap meer
Daar is ’n rede hoekom daar ’n term soos ’n “skoonheidslapie” is. Te min slaap kan jou onaantreklik laat lyk, vinniger ouer laat lyk en ook siek maak. Navorsingsresultate van ’n slaapstudie aan die Karolinska-instituut in Swede dui daarop dat jy ná twee nagte van min slaap (vier uur) nie meer so aantreklik lyk nie. ’n Groep van 120 mense moes na foto’s kyk van 25 studente wat twee nagte goed geslaap het en twee nagte te min geslaap het. Diegene wat nie genoeg geslaap het nie, is eenparig as “minder aantreklik” bevind. ’n Rede hiervoor kan wees dat ons van nature geneig is om diegene wat “siek” lyk te vermy – donker kringe om die oë en ’n vaal gelaat sal jou vir seker alles behalwe gesond laat lyk.
“Navorsing wys ook dat te min slaap kan bydra tot ’n rits gesondheidskwessies, soos ’n verswakte immuunstelsel en groter risiko op oorgewig en diabetes,” sê dr. Laura Scheinfeldt, navorsingswetenskaplike aan die Coriell-instituut vir mediese navorsing in New Jersey, Amerika, en hoofskrywer van Important Associations between Genetics, Sleep Behavior identified by Study.
Net een nag se min slaap in ouer mense (61 en ouer is vir die studie gebruik) dra by tot biologiese veroudering, sê Judith Caroll, outeur van die navorsingsverslag, Partial Sleep Deprivation linked to Biological Aging in Older Adults.
Lees ook: 6 slaapprobleme, 6 oplossings
3 Kies vitamien C
Ons almal weet vitamien C is goed vir jou immuunstelsel maar het jy geweet dit verbeter ook die opname van ander voedingstowwe soos yster? As dit by velsorg kom, dra dit by tot die stimulering van kollageen en die heling van jou vel wat ’n pragtige, glansende gelaat verseker.
Dr. Judey Pretorius van die Bio-medical Emporium doen ’n vitamien C-behandeling van binne en buite deur jou op ’n vitamien C IV-drup te plaas (R1 200) terwyl sy ’n vitamien C-afskilfering (BioSyntha-C Peel, R650) op jou gesig en nek doen. “Dit is ’n wonderlike manier om jou immuniteit van binne na buite te verbeter,” meen dr. Pretorius. (biomedicalemporium.com)
Ons het dit getoets en was verras dat ons gesigte soveel helderder gelyk het. Onthou net dat sonskerm baie belangrik is wanneer jy vitamien C gebruik. As jy die vitamien by jou daaglikse velsorgroetine wil insluit, kies botteltjies wat lugdig is. Vitamien C is onstabiel en kan nie aan lug blootgestel word nie. Gebruik dit soggens, want dié vitamien is ’n kragtige anti-oksidant wat sal help om jou vel teen omgewingsfaktore soos besoedeling te beskerm.
Lees ook: 6 dinge wat jy van sonskerm moet weet
4 Laat jou oë beter lyk
“Druk ’n koue teelepel 30 sekondes lank onder jou oë – dit help met pofferigheid,” beveel Janine Rose, lektor by die Isa Carstens Academy aan. “’n Wit potlood in die waterlyn laat ook jou oë helderder lyk.”
’n Oogroom soos Lancôme Advanced Génifique Yeux het ’n masseerdertjie wat sirkulasie aanhelp en pofferigheid verminder.
Gebruik ’n verbloemer, of ’n produk met ligweerkaatsende deeltjies onder jou oë.
Grimeerkunstenaar Cheryl Parker glo aan ’n wimperkruller. “As jy jou wimpers krul, laat dit jou oë dadelik oop, groter en wakkerder lyk,” sê sy. Klamp twee tot drie keer vir so twee tot drie sekondes voordat jy jou maskara aanwend.
5 Oefen
Die gesondheidsblogger Cara (sy is ook die stigter van caralishious.com) sê: “Oefening in die oggend laat my positief en produktief voel.” Al staan jy hoe moeg op, sal ’n lewendige oefensessie (soos hardloop, touspring of HITT) dadelik jou bloed laat bruis, jou metabolisme aanwakker en jou vel laat gloei. As jy ’n af dag het en regtig nie kans sien vir oefen nie, lê net plat op die vloer met jou heupe in ’n 90 grade-hoek teen die muur. Maak jou oë toe en haal vir vyf tot tien minute diep asem. Dit sal jou sirkulasie verbeter en jou kalmeer.
6 Kulkunsies
“As my vel moeg en dof lyk, tik ek ’n bietjie vogroom oor my wange en ken aan nadat ek my onderlaag en roomblosser aangesit het. Dit gee ’n bietjie natuurlike glans en lewe aan jou vel. As die vogroom ligreflekterende deeltjies bevat, is dit ’n bonus!” Hannelie Diedericks, adjunkredakteur, rooi rose.
Grimeerkunstenaar Tamaryn Pretorius meng sonskerm en onderlaag om die helfte en tik dit met ’n kwas en sponsie aan. “Dit gee pragtige glans.”
Grimeerkunstenaar Algria Ferreira glo dit is “meer modern om nie ’n plat gepoeierde veltekstuur te hê nie. Wend ’n ligte lagie onderlaag aan en dan ’n room met ’n blink tekstuur (soos Eulactol Lipbalm, Elizabeth Arden Eight Hour Cream, SBR Repair of Avéne Cold Cream for Lips) hoog op jou wangbene, die oogbanke en die lippe aan.”
Ons hou baie van Vichy se Idéalia-reeks. Die produk gee energie en glans aan die vel en die Vichy BB-room gee pragtige, subtiele dekking. Die serum en dag- en nagroom is ewe wonderlik.
7 Kies ’n roomblosser
“Roomblosser is letterlik die produk met die beste verjongingseienskappe indien dit strategies op die volste gedeelte van jou wange gebruik word. Jy kan dit selfs op jou oë en lippe gebruik,” is Algria se raad.

Foto: rooi rose
8 ’n Gesigmassering in 60 sekondes
“Gebruik ’n vogroom ryk aan vitamien B en peptiede en masseer jou gesig vir 60 sekondes deur klein sirkelbewegings met jou vingers te maak. Dit sal sirkulasie verbeter wat suurstof na jou selle sal bring en jou dadelik glansender laat lyk. Spuit ’n terapeutiese sproei ryk aan vitamiene en minerale een tot twee keer oor jou gesig,” sê dr. Judey Pretorius, ’n bio-chemiese wetenskaplike en produkontwikkelingskundige. Sy is ook die eienaar van Biomedical Skin Emporium.
9 Speel met galvaniese golwe
Ons is gaande oor uitvindsels en ons gunsteling- nuwe speelding is NuSkin Loc AgeLOC™ Edition Galvanic Spa System II (R4 669,50) Nu Skin Galvanic Spa System Facial Gels (R647,43) nuskin.com. Wanneer jy die masseerder gebruik, voel jy ligte skokgolfies op die vel, wat onder meer help dat jou produkte beter opgeneem word. Die toestel het verskillende koppe vir jou gesig, kopvel en lyf. Ons het die masseerder op een kant van ons gesigte getoets en kon beslis sien dat dié kant gladder en fermer gelyk het.
10 Voel vroliker met sitrusgeure
Sitrusgeure het ’n vrolike en opbeurende uitwerking op die gemoed. Lemoen laat jou vrolik en optimisties voel, lemoenblomolie gee energie en bergamot laat jou jonk voel.
Lees ook: Wend jou parfuum reg aan
11 Kies kleur
Helder kleure kan dadelik jou gemoed lig, kies spatsels kleur op jou lippe, oë of naels. Warm kleure soos rooi of pienk stel dopamien vry (’n goedvoelhormoon) wat jou gemoed kan lig, en koeler kleure laat jou kalm voel.

Foto: rooi rose
12 Tintel met glikolsuur
“’n Reiniger of nagroom met glikolsuur bly een van my gunsteling-maniere om energie te gee, jy voel hoe die vel tintel,” sê estetiese terapeut, velkundige en eienaar van skin.I.D, Sonette Donker.