Deur Martjie Roos
’n Kenner vertel meer oor die verskillende fases waardeur ’n ouer gaan en wat ’n ouer kan doen om dit te verwerk, te aanvaar en ’n veilige ruimte vir die kind te skep.
Die eerste oorheersende reaksie wat ’n ouer gewoonlik ervaar wanneer ’n kind erken hy of sy is homoseksueel, is skok, vertel dr Marietjie van Loggerenberg, ’n pastorale narratiewe terapeut van Pretoria.
“Die skok of trauma gaan sit as ‘t ware in die ouer se lyf. Die meeste ouers sal daardie spesifieke oomblik nooit vergeet nie, want dit is ’n oomblik van waarheid wat lewensveranderend is.”
Daarna volg ’n hele lang en tydsame proses waardeur die ouer moet gaan om die kind se onthulling te verwerk. Boonop is daar baie vrae waarmee ’n ouer worstel. “Die meeste ouers wonder eers of dit waar is en hoe seker hul seun of dogter gay is. Het daar dalk iets gebeur wat die kind se seksualiteit verander het? Is die kind dalk gemolesteer? Of is dit nie dalk net ’n modegier wat net sal oorwaai nie? Soms vermoed die ouer of ouers dit reeds lankal, maar nou bevestig die belydenis hierdie vermoedens. Nadat die ys eers gebreek is, verleen dit meer mag aan die betekenis wat geskep is.”
Ouers word dikwels met gevoelens soos woede, skuldgevoelens, ontkenning en verwyte gekonfronteer, vertel dr Marietjie. “Woede gebeur eers eintlik later in die rouproses. Vrae soos: Wat het ek verkeerd gedoen? Is dit omdat ek my seun nie wou laat rugby speel nie? Of is my dogter nou lesbies omdat my man haar altyd saamgeneem het om te gaan jag? Dalk het dit gebeur omdat ek of my man te min by die huis was, of dalk omdat ons gedurig argumenteer?” vertel sy. Die verwyte word ook dikwels tussen die twee ouers rondgeslinger.
“Sommige ouers wil hulle van die wêreld daarbuite afsonder, want hulle vrees wat die mense gaan sê as hulle uitvind hul kind is gay.”
Baie ouers vrees ook dat daar iets fout met hul kind is. “Hulle is dikwels bang dat hul kind verwerp gaan word of deur ander kinders geboelie word. Hulle vrees dat hul kind nou onder hierdie swaar juk van verwerping gebuk moet gaan.”
Wanneer ’n dogter onthul dat sy lesbies is, wonder die ouer of ouers dikwels of hul dogter ooit in ’n wit rok voor die kansel gaan staan en of sy ooit ’n gesin gaan hê.
As dit die enigste kind is, kan dit ook beteken dat die ouers dalk nooit ’n nalatenskap gaan hê nie. “Godsdienstige ouers wonder of die kerk hul kind gaan aanvaar en of daar in die hiernamaals plek vir hul kind in die koninkryk van God gaan wees. Sal God hom of haar aanvaar? Ouers vrees ook dat as hulle die kind se seksualiteit aanvaar, hulle self deur God verwerp gaan word,” sê dr Marietjie.
Stigmas, vooroordele en wanopvattings
Marietjie sê talle van dié vrae is diep gewortel en dat vooroordele en stigmatisering teenoor homoseksuele mense al ’n lang pad kom. “Homoseksualiteit is vroeër jare as ’n geestesafwyking geklassifiseer en skok/aversie-terapie is in verskeie lande en selfs in Suid-Afrika toegepas. Homoseksualiteit is wel in 1973 in die VSA van die Amerikaanse Psigiatriese Assosiasie uit hul diagnostiese handleiding (DSM) as geestesversteuring verwyder. In Suid-Afrika is dit ook in 1994 gedekriminaliseer en van toe af word enige seksuele oriëntasie se regte in die grondwet beskerm.
Wanneer baie ouers uitvind hul kind is gay, dink hulle hul kind kan “reggebid” word. Sommige ouers hoop die kind kan deur middel van die regte terapie weer heteroseksueel word. Talle ouers wat by Marietjie vir raad en terapie aanklop nadat hul kind die onthulling gemaak het, vrees dat hul kind promisku sal word en dalk MIV sal opdoen.
“Baie het ook die wanopvatting dat hul seun eintlik ’n vrou wil wees of die meisie dalk ’n man wil wees. Ander glo weer dat dit ’n kind se eie keuse is om homoseksueel te wees en dat hul kind nie so gebore is nie. Daar is ook sommige ouers wat glo dat die kind onder die invloed van drank of dwelms met lede van hul eie geslag geëksperimenteer het en toe moontlik hul seksuele oriëntasie verander het.”
Lees ook: Die leë nes: Lesers gee raad
Watter gesprek moet ’n ouer met die kind voer?
Hou jou kind eers styf vas, want dit verg baie moed vir jou kind om hierdie groot ontboeseming te maak, sê Marietjie. “Verseker jou kind dat jy baie lief is vir hom of vir haar en troos jou kind. Sê vir jou kind dat jy baie empatie het met die lang en eensame pad van worsteling wat hy of sy tot dusver moes stap om tot by hierdie punt van waarheid uit te kom. Vra jou kind uit oor hoe hy of sy oor hul seksuele oriëntasie voel, of hulle dalk iemand ontmoet het waarop hulle verlief geraak het en van wanneer het hulle besef dat hulle gay is. Vra jou kind ook watter vrese sy of hy het en wat hul behoeftes in hierdie stadium is. Deur al hierdie vrae te vra, bemagtig jy jou kind en sit jy jou kind in die ‘bestuursposisie’.”
Hoe kan ’n ouer dit vir ’n kind makliker maak?
“Ek dink ouers se eerste impuls is om hul kind te beskerm. Maar ’n ouer sal nooit sy of haar kind volledig kan beskerm nie,” meen Marietjie. “Ek dink die beste raad is om jou kind weerbaar teen al die vooroordele, stigmas en verwerping te maak. Maak hom of haar met waardes groot, oorlaai hom of haar met liefde en skep ’n veilige ruimte vir gesprek, ontspanning en laat jou kind die vrymoedigheid hê om vriende huis toe te bring. Stel gesonde grense – presies dieselfde as wat jy met ’n heteroseksuele kind sou doen.”
As julle Christene is, kan jy ook jou kind van God se onvoorwaardelike liefde as dopeling in sy Verbond oortuig, is haar raad.
Lees ook: 10 dinge wat jy nooit vir jou tiener moet sê nie
Stap-vir-stap proses om ouers mee te begelei
- Om “uit te kom” is seker jou kind se grootste besluit. Kry sy of haar toestemming met wie jy dit mag deel, anders dompel jy jou kind nog meer in ’n situasie waarin hy of sy uit beheer voel.
- Vra jou kind tyd om die nuus te verwerk. Die proses van selfaanvaarding is dalk al lankal by jou kind aan die gang en jou kind is al by die wenstreep, terwyl jy nog in die wegspringblokke is.
- Jou woorde of taal gaan self bepaal of jy die kommunikasie of gesprek tussen jou en jou kind gaan oop of toesluit en hoe jy sy of haar seksuele identiteit verder gaan ontwikkel.
- Om jou kind as gay te aanvaar, is ’n kringloop wat wissel van skok, ontkenning, pogings om hom of haar te verander, beter te verstaan, om oor drome of verlies te treur en dan uiteindelik by die punt van aanvaarding te kom wat jy kan vier. Hierdie hele proses verg tyd en energie. Gun jouself ook in ’n stadium alleentyd en rus.
DIE AKTEUR ARMAND AUCAMP OOR SY ERVARING
“Ek het eintlik twee keer uitgekom. Die eerste keer was in 2011 toe ek 24 jaar oud was en vir my ouers, familie en vriende vertel het ek is gay en die tweede keer was toe ek in 2019 dit aan die publiek bekend gemaak het en openhartig in die media daaroor gesels het.
“Ek het saam met my ouers die oggend koffie gedrink toe ek vir hulle vertel het ek is gay, maar my ma het nie mooi gehoor toe ek gesê het ‘ek is gay’ nie. Sy het gehoor ek sê ‘ek skei’ en het dadelik gesê maar sy het nie eens geweet ek is getroud nie. Toe ek haar reghelp, het dit eintlik die ys gebreek en ons het lekker oor die misverstand gelag. Ek verwag altyd die ‘worst case scenario’ om myself te beskerm, maar my ouers het my albei gedruk en gesê hulle is lief vir my. Uiteraard was dit ’n groot skok vir hulle, maar hulle het my dadelik met liefde omring. En ’n groot gewig was van my skouers af. Dit het my lank geneem om dit self te verwerk dat ek gay is en aan myself te erken, en dus het ek ook nie van mense verwag om dit dadelik net so te aanvaar nie. Ek het mense om my ook tyd en empatie gegun om dit self te verwerk.”
Armand se raad aan ander wat bang is om “uit te kom”, is: “Elkeen se omstandighede verskil. Maar as jy te bang is om dit eerste aan jou familie of ouers te breek, vertel dit dan vir ’n vriend of vriendin wat naby aan jou is. Om dit net hardop aan iemand te sê en te erken, bring soveel verligting. Om enige geheim lank te hou kan later in ’n ‘sweer’ verander wat later oopbars. Wanneer jy dit die dag vir iemand vertel, bring dit soveel ‘verlossing’, want dit beteken jy is eerlik.”
View this post on Instagram
Marietjie van Loggerenberg is ’n pastorale narratiewe terapeut in Menlopark, Pretoria. Sy spesialiseer veral in seksuele diversiteit en is die samesteller van twee boeke Gaygelowig 1 (verhale van gay mense) en Gaygelowig 2 (verhale van ouers en mense wat met gays getroud is of was).
Lees ook: Lewe jy saam met ’n beheervraat?