In vandeesweek se episode van kykNET se unieke werklikheidsreeks oor buitengewone kompetisies, word daar gekyk mense wat hul liggame soos gebeitelde marmerbeelde laat lyk – elke spier, elke ledemaat. Dis bloedsweet, maar vir die manne en vroue wat liggaamsbou beoefen, is dit elke druppel werd . . .
Die liggaamsbou-atlete
Die liggaambouers wat in hierdie episode van nader bekyk is, het almal ingeskryf vir 2024 se Gauteng-Noord-streeksuitdunne as deel van die Internasionale fiksheids- en liggaamsboufederasie-kompetisie (IFBB).
- Enrique Steffen
Die 22-jarige blondekop is in die verkoopsbedryf, maar sy passie is eintlik liggaamsbou. Om in te skryf, moet hy eers vir sy afrigter foto’s stuur: ’n Kwartdraai links, kwartdraai regs, agterkant en voorkant. En die terugvoer is positief. In hierdie stadium glo Enrique voorkomsgewys is hy beslis bo-aan die punteleer. Hy is deur sy pa, ook ’n liggaamsbouer, geïnspireer om hierdie dissipline te beoefen.
- Karlien Naudé
“Wys ’n bietjie boude,” vertel sy hoe daar op die beoordelaars se instruksies reageer moet word. Daarna word daar grasieus na die verskillende liggaamsposisies oorgegaan. En belangrik: glimlag! Haar pad met liggaamsbou het begin toe sy by ’n groep aangesluit het wat liggaamtransformasie wou doen. Drie maande later is haar spiere raakgesien en is die proses van liggaamsbou aan haar verduidelik. Dit sou sewe maande neem om haar spiere te vervorm en op te bou tot waar sy haarself as liggaamsbou-atleet gevestig het.
Karlien se lewenspad het met baie kronkels geloop. Op 9 April 2022, direk na ’n liggaamsboukompetisie, was die voertuig waarin sy gery het in ’n botsing met ’n bakkie en ’n vragmotor betrokke. Met haar motor afgeskryf, moes sy staatmaak op ’n taxi. Toe die bestuurder besluit hy gaan nie gehoor gee aan ’n rooi lig nie, het Karlien, wat agterin sonder ’n veiligheidsgordel gesit het, later op die sypaadjie wakker geword – met gebreekte bene en ’n ellelange snywond aan die kant van haar gesig. Sy noem dat as dit nie vir die spiere in haar nek en rug was nie, haar nek waarskynlik sou gebreek het. Frustrerende tye het gevolg met haar in ’n rolstoel tydens die herstelproses.
Sibusiso Kotelo, haar afrigter, is ’n IFBB-pro en aanlyn-afrigter. Hy raak emosioneel as hy dink aan die pad wat hy die voorafgaande 18 maande saam met haar gestap het. “Haar liggaam was fisies gebreek, maar nie haar gees nie,” sê Sibusiso.
- Adré Müller
Die inhoudskepper het ongeveer 18 maande voor die kompetisie skouer aan die wiel begin sit. Maar, erken sy, die groot ding vir haar was om wyn op te gee. “Want ek hou van wyn. Ek sal al hierdie doen, maar hoe gaan ek funksioneer sonder my wyn?”
En dan ook wyse raad: “Jy moet ryk trou as jy hierdie sport wil doen want dit is rêrig nie goedkoop nie.” Van die uitgawes wat aangegaan moet word, is vir juwele, naels, hare, baaikostuums of bikini’s en rokke. Sy sê dit kan jou tot R16 000 uit die sak jaag. Ja, lag sy, selfs haar trourok was goedkoper . . .
- Quentin Labuschagne
Die twintigjarige met sy funky weglê-snor het eers ’n jaar voor die kompetisie begin met liggaamsbou. Sy oupa het vir hom 15-kg gewigte gegee, maar hy was nie seker wat om daarmee te doen nie. Dit was sy pa, Quentin snr, wat hom aangemoedig het om meer “in die ding in te kom”.
Op skool het hy al besluit hy wil sy liggaam bou wanneer hy klaar is met skool. Maar dit verg baie dissipline. Dis vroeg uit die vere (04:40) en net na vyf soggens is hy by die gimnasium. Dan volg 50 minute se kardio-oefeninge waartydens 600 kalorieë verbrand word. Daarna gaan hy aan met sy dag-tot-dag-dinge net om sesuur saans weer by die gimnasium in te klok. Hy oefen sy bors, skouers of bene vir twee uur lank en daarna volg ’n sauna vir 20 minute. Ses dae elke week.
In die aanloop tot die streekskompetisie
Adré se ma, Estelle, sê sy is die sterretjie wat sy ontvang het, ’n sterretjie wat net al hoe helderder in haar lewe skyn. Adré se pa is tydens Covid-19 oorlede en haar ma se gesondeid is nie na wense nie. Nou bly haar ma by haar en manlief Brett.
Estelle glo Adré het die liggaamsbou nodig gehad na haar pa gesterf het. Adré onthou hoe haar ouers haar altyd ondersteun het, ook elke Eisteddfod waaraan sy deelgeneem het. Maar dis nog ’n groot seer in haar lewe want sy mis tot vandag toe haar pa se gesig in die gehoor.
Quentin vertel dat sy eerste jaar op universiteit hom byna in ’n donker diepte laat beland het, want hy kon nie meer hardloop en sport beoefen soos wat hy gewoond aan was nie. Daar was net nie tyd nie. Hy het selfs sy spiere begin verloor wat hy nog in matriek gehad het. Hy glo dat liggaamsbou hom uit daardie donker gat gered het.
Op sy beurt is Enrique besig om sy klere vir die kompetisie reg te kry. Hy verduidelik aan sy meisie, Monique Weston, dat deelnemers se kortbroeke óf net bo óf net onder die knie mag wees. En dit mag ook nie te styf pas nie.
Met die kompetisie ophande is die atlete besig om seker te maak alles is 100%. Die vroue se grimering word uitsorteer en Quentin se lyf word met ’n sonbruinmiddel gespuit, ’n tegniek wat deur liggaamsbouers gebruik word om die spiere meer gedefineerd en gedetailleerd te vertoon. Dis sy eerste kompetisie en hy’s baie opgewonde daaroor. Wel, eintlik meer opgewonde oor wat hy na afloop van die kompetisie kan eet!
Irma Botha, Gauteng-Noord voorsitter en provinsiale sekretaresse, vertel dat 49 atlete ingeskryf het vir die kompetisie. Dit is saam met die “cross-overs” waar atlete tussen verskeie afdelings kan beweeg, verduidelik sy. Sy maak dit duidelik dat die kompetisie nie net oor liggaamsbou handel nie, maar dat fiksheid ook ’n belangrike aspek is.
Janus Swanepoel, eienaar van Capitol Fitness Hub, is die ou wat as agent en afrigter vir Enrique en Quentin optree. Hy noem ook dat dit reeds Enrique se derde deelname aan die kompetisie is.
Uitslae
Karlien het nie die sukses behaal waarop sy gehoop het nie en sy word nie gekies om aan die Suid-Afrikaanse kampioenskap deel te neem nie. Maar sy glo alles werk uit soos dit moet. Haar reis is vir haar eintlik net “it’s you against you” en sy vier haar vordering tussen al die terugslae deur.
Adré is oorstelpt met haar tweede plek – verstommende resultate vir iemand wat ’n jaar gelede met liggaamsbou begin het. Sy het reeds as kind haar Springbokkleure verwerf, en nou droom sy as grootmens om daai groen Protea-baadjie aan te trek . . .
Enrique is teleurgesteld toe hy tweede kom want hy was vas oortuig dat hy op sy beste lyk en voel. Maar, belowe hy, foute sal uitsorteer word en die toekoms wink nog blink. Hy word gekies vir Gauteng-Noord se span.
Quentin kon nie breër geglimlag het nie. Hy is as wenner in die mans se fisieke voorkoms-kategorie aangewys en hy is verskriklik opgewonde om voort te gaan met liggaamsbou. Ook hy word vir Gauteng-Noord se span gekies.
Kort voor die SA-kampioenskap
Dis ’n senuweeagtige Enrique wat, met sy hoop op ’n posisie onder die top-5, by sy afrigter gaan inloer. Janus is byderhand met raad en terugvoer. Hy maak dit duidelik dat jy geen spanning in jou lewe moet hê as jy ’n sukses van liggaamsbou wil bereik nie.
“Alles wat in jou kop aangaan, het ’n effek op jou liggaam,” sê Janus.
IFBB-afrigter Terence Toet gee hom ook terugvoer oor sy posering op die verhoog. Daar moet werk van gemaak word. En Janus stem saam. Hulle voel hy het meer “iets” gehad wat werk tydens die vorige kompetisie.
“Hulle het gesê ek is te windg*t, so ek dit ’n bietjie afgeskaal. Maar dit lyk my ek het dit te veel afgeskaal,” is Enrique se reaksie daarop.
Adré is by die poseerklas en haar afrigter, Francé Price, is baie beïndruk met die vlak waarop sy poseer. Sy neem deel aan die “Fit Model”- en “Beach Bikini”-kategorieë. Die strandbikini-kategorie word net in Suid-Afrika beoordeel. Op die rusbank langs Brett maak sy dit duidelik dat haar huwelik haar eerste prioriteit is en dat dit juis dit is wat haar dryf om ’n sukses van hierdie dissipline te maak.
Quentin moet bietjie werk aan sy posering en dis Marlene Koekemoer, IFBB Physique Pro, wat hom daarmee gaan help. Janus glo hy moet ’n jaar af vat van alles en net op die ontwikkeling van sy liggaam fokus.Sy meisie, Anika Smith, is nie bietjie trots op hom nie. Wat sy veral van hom waardeer, is hoe hy sy kop op ’n ding sit en dit bereik.
Morné Hugo, liggaamstransformasie-spesialis, het ook vir Quentin onder hande geneem en hy is net so trots op sy student. Hy noem ook dat Quentin se ingesteldheid hom by verre onderskei van die ander atlete wat deur hom afgerig word.
“Jy’s net van ‘get the job done’ en die resultate spreek vanself,” loof Morné hom.
SA-kampioenskaptyd
“My seun, ek dink jy’s die frisste van hulle almal. Ek dink jy kan die ding doen,” kom dit van Quentin se trotse pa, Quentin snr., toe hy al die ander gespierdes by die kampioenskap gewaar.
“Daar’s nie meer gedagtes nie, dis net hormone,” erken Quintin.
Enrique se voorbereiding is om te fokus op al die stappe wat hy moet volg – wanneer die spiere gebult moet word en wanneer dit sy rug of maag se beurt is. . .
Op sy beurt stel Brett vir Adré gerus dat hy haar nog steeds sal liefhê, selfs al werk dinge nie uit soos waarop sy haar hoop vestig nie.
Dit was ’n waardevolle ervaring vir die vier liggaamsbou-atlete wat in hierdie episode van naderby leer ken is. Net een van die vier liggaamsbou-atlete het ’n week na afloop van die kampioenskappe ’n telefoonoproep gekry . . .
Op Skou wys Woensdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144 en DStv Stream). Episodes sal ná uitsending ook op Catch Up beskikbaar wees.