Deur Thinus Ferreira
Rolanda Marais vertolk die rol van ’n TV-nuusleser wat op regstreekse televisie skielik hul motor met haar oorlede man daarin sien. En in Die nuusmakers, kykNET se nuwe dramareeks, word haar karakter Adri nie net skielik self die nuus nie – sy skep dit ook soos sy verbete begin om ’n bose komplot oop te vlek.
Lees ook: Radio-legende Darren Scott verloor kankerstryd
rooi rose het met Rolanda en haar medester, Lea Vivier, gesels oor hul jongste karakters – diamant-sterk TV-vroue in ’n geharde nuuswêreld – en hoe hulle as aktrises in hierdie omgewing waar die spanning van spertye hoogty vier, inpas.
Die nuusmakers wat Dinsdagaand 27 Mei om 20:00 op kykNET (DStv 144) begin, speel in die hedendaagse Suid-Afrika af op ’n Afrikaanse TV-kanaal soortgelyk aan kykNET, maar ’n fiktiewe een genaamd Almal Afrikaans.
Daar is die ontbytprogram Ontbyt Aanlyn, al die leefstylprogramme, maar dan ook, nes kykNET se eNuus saans, die Nuus om 7.
Dis hier waar Adri Joubert as ’n veteraan-joernalis die nuusanker is: Elke haartjie is perfek gekam; haar uitspraak is eksie-perfeksie; sy is getroud met ’n voormalige Springbok en haar lewe is byna beeldperfek. Behalwe dat sy nie baie by die huis is nie. Dan, een aand gedurende die TV-nuusbulletin stort haar lewe, ten aanskoue van die hele Suid-Afrika, in duie.
Die vervaardigers, Both Worlds, het met Die nuusmakers ’n storie soos die Amerikaanse reekse The Newsroom, Apple TV+ se The Morning Show en Australië se The Newsreader geskep, maar ’n verhaal wat werklik Suid-Afrikaans en Afrikaans is. Natuurlik is die hoofkarakter in Die nuusmakers ’n vrou.
“Die rol van ’n vrou is meer as net jou werk. Van jou werk af gaan jy huis toe en dan begin jou eintlike werk,” vertel Rolanda. “Dis ma-wees, dis vrou-wees. Dis om ander se emosies te absorbeer, hulle te help en ’n bykomende hoop verantwoordelikhede.
“Dit maak dit soveel interessanter om iemand soos Adri te volg en agter die skerms te sien hoe sy by haar werk is. Soveel soos ek wens ek kan sê mans dra dieselfde lading, doen hulle nie. As die hoofkarakter ’n man was, sou Die nuusmakers nie so interessant gewees het nie.
“Dit wys die uitdagings waarmee elke vrou sit wat uiters passievol oor haar werk is en haar hele lewe aan haar werk wy. En dan by die huis ook probeer om haar beste te gee.
“Die meeste huishoudings se hart wentel om die ma. In Die nuusmakers is dit interessant dat die pa-karakter die sagter een is en hy gun haar die ruimte om haar professionele droom na te streef en haar loopbaan te groei, en dit gebeur min waar die man vir sy vrou terugstaan.”
Rolanda sê kykers gaan “die konstante stryd tussen die waarheid en feite, en wat mense wil glo, of gemaak word om te glo, sien.”
Kykers sal kennis maak met die weeraanbieder, die grimeerkunstenaar, ander joernaliste, ’n vloerbestuurder en selfs ’n konsultant wat inkom om oor almal se skouers te loer en daar is om te besluit of ’n nuusprogram regtig nog nodig is.
Die konsultant word deur Lea Vivier vertolk wat as die karakter Melanie Palmer voortdurend kyk waar die nuusproduksie geld kan spaar. Haar karakter word “as Barbie ’n sluipmoordenaar was” beskryf.

Lea Vivier
“Melanie is goed daarmee om mense emosioneel te manipuleer. Sy weet presies hoe om die spel te speel met elke individu en wat elkeen se sagte plekke is.
“Sy begin op ’n punt waar al wat saak maak die finansiële sukses van die besigheid is. Dan ontwikkel sy en eindig sy op ’n plek wat kykers nooit sal raai hulle haar gaan vind nie.
“Omdat Melanie as so goed-gemanikuurd oorkom is haar snykant nie so ooglopend nie. Mense verwag dit nie. Sy vang jou onkant as gevolg van haar voorkoms. Maar Melanie is tog wel in hierdie nuuswêreld omdat sy wil hê dit moet suksesvol wees.
“Jy weet nooit lekker waar jy met haar staan nie. Jy weet nooit wat uit haar mond uit gaan kom nie. Haar voorkoms kommunikeer ’n sekere prentjie, maar dis nie altyd in lyn met wie en wat sy is nie.”
Lea sê: “Kykers gaan agterkom dat wat vir Melanie die belangrikste is in die lewe, is om suksesvol te wees in wat sy doen. Dit beteken vir haar baie. Sy wil haar aan die wêreld bewys. Daardie tye wat sy voel dat sy dit nie regkry nie, gaan jy sien hoe dit haar regtig raak.”
Lees ook: Vyf-vinnige-vrae met Roeline Daneel wie se jongste rol jou anders na TV-nuus sal laat kyk