Deur Riëtte van der Wat
Foto’s, hare en grimering: Willem Botha & Willem Botha Beauty
Simoné Pretorius is selfs nog meer petite in lewende lywe as op die kassie.
Waar ons by ’n WCafe vir koffie ontmoet, hare ’n cortado met hawermoutmelk, sit sy met ’n stylvolle oorgroottrui en haar bene in swart jeans wat sy onder haar in vou.
Behalwe vir haar liggaamsbou, is daar verder niks “kleins” aan Simoné nie. Alles wat sy sê en die manier waarop sy leef, spreek van haar sonderlinge doelgerigtheid en die erns waarmee sy haar drome aanpak.
“My hartsbegeerte om eendag vir God te kan sê ek was getrou in dit wat Hy van my gevra het. Ek was ’n getroue dienskneg en ’n goeie ma; ek het vrug gedra as iemand wat lief was vir Hom. Iemand wat eerlik en geduldig is met my kinders en met almal op stel, en dat ek ’n gesonde, gelukkige huwelik gehad het,” sê sy.
Haar geloof is haar ’n rigtingwyser: “God is die liefde van my lewe. My alles.”
Toe sy dus vroeër vanjaar die geleentheid gekry het om haar jarelange regiedroom uit te leef, het sy daaraan vasgehou dat die Here haar vir dié projek geroep het, al was haar seuntjie, James, in daardie stadium maar vyf weke oud. Haar dogtertjie, Harper, is drie.
Simoné het haar debuut in regie met die fliek Som van twee, wat in Augustus by die Silwerskermfees vertoon is, gemaak. Dié fliek gaan oor Henk (Louw Venter), ’n sielkundige wat sy vrou in ’n motorongeluk verloor en nie weet hoe om die verlies te hanteer nie. Boonop het hy en sy seun, Renier (Adriaan Havenga), ’n stram verhouding. Dan beland Henk in die sop oor ’n onbesonne ding wat hy in sy matriekjaar aangevang het en sy seun moet as sy wiskunde-tutor instaan.
Toe kykNET sowat twee jaar gelede gevra het vir voorleggings vir nuwe vollengte flieks, het Simoné, haar vervaardigingsvennoot Dries Scholtz en haar universiteitsvriendin, die skrywer Liani Janse van Rensburg, met dié projek vorendag gekom.
“Ek het in daai stadium reeds drie draaiboeke vir flieks ontwikkel wat nooit gemaak is nie en ek was baie teleurgesteld daaroor. Ek wou so graag regie doen en toe vra ek Liani om iets te skryf. Sy het die idee in ’n nuusberig gekry oor ’n Nederlandse vrou wat by haar skoolreünie gebieg het sy het ’n iologievraestel op hoërskool gesteel.
“Ons was uit die veld geslaan toe kykNET die fliek aanvaar en dít boonop nog by die Silwerskermfees wou wys,” sê Simoné. “Ek het ’n stille dood gesterf toe ek besef ons gaan so vroeg ná James se geboorte met verfilming moet begin.”
Toe Liani weens ander verpligtinge die skryfproses aan Simoné moes oorhandig, het sy die draaiboek verder ontwikkel.
“Dit was nie ’n storie wat ek uit my eie sou vertel nie, maar toe die tema van vaderloosheid en verlossing duidelik word, het ek gevoel ek hét baie om te gee,” onthou sy. “Die Woord wat ons oor James se lewe gekry het, is dat hy die harte van die vaders met die harte van hul seuns sal versoen. Pa-wees het die tema van die fliek geword en dit het my laat besef ek is met die regte ding besig.
“My hartsbegeerte met dié fliek is om vir mense te wys hoe ’n pa lyk, ten spyte van sy tekortkominge.”
Die regie het maklik gekom, amper asof sy “die regte skoene aangetrek” het.
“Die drie weke van verfilming het net reg gevoel. Ek moes baie draaie loop om hier te kom, maar my toneelspel, skryfwerk, ma-wees en huwelik is alles gereedskap wat ek as regisseur kon benut. Dis vervullend om ’n aandeel in dié aspek van die storie-wêreld te hê.
“Dis lekker om met volle oortuiging te weet waaroor jy passievol is –ek wil dié nuwe rigting bemeester.”
Duidelike visie
Veel moeiliker as die regie self was dit om werk toe te moet gaan met so ’n klein baba tuis.
“Die eerste dag toe ek Johannesburg toe moes ry en vir Jamie op skaars vyf weke by die huis moes los, het ek geruk soos ek huil in die kar. Ek was histeries en ek weet eintlik nie hoe ek veilig daar gekom het nie.
“Dit was vir my belangrik om in daai oomblik eerlik met die Here te wees en te sê ‘dié ding kos my baie, maar ek kan dit vir U gee, want U het alles vir my gegee’. Dit het baie vrede gebring,” sê sy, en sluk die trane weg.
James het refluks ontwikkel en Simoné onthou hoe sy, wanneer sy sesuur saans van stel af tuis kom, vir drie uur lank op die bonsbal met haar baba moes sit en wieg.
“Daar was nie eintlik balans nie, maar alles en almal om my het by my visie ingekoop. En ek het geweet die Here het my daarvoor geroep.”
Sy sou dit nie sonder haar man, Andries, kon doen nie.
“My man is ’n ongelooflike spanmaat. Hy het my aangemoedig om die projek aan te pak en elke keer wat ek oor die kinders skuldig gevoel het, het hy my herinner God is my vangnet en dat my werk aan die fliek ’n daad van gehoorsaamheid was. Vir drie weke was ek regisseur. Nie eerstens ma en dán regisseur nie.
“Andries het my bly herinner dít is ook ma-wees en dat die fliek soos ’n geskenk is wat ons eendag vir die kinders kan wys. Ek het die fliek ook aan James opgedra.”
Ná die verfilming voltooi is, het sy ernstige uitbranding ervaar.
“Ons moes ’n nagverpleegster kry omdat ek so moeg was. Ek het baie skuldig gevoel oor die tyd wat ek met my kinders verloor het, maar die Here vergoed nou veelvuldig daarvoor deur die baie ure, wat ek weens Jamie se voedingskomplikasies saam met hom moet deurbring.”
Sy weet nou die drie weke op stel het nie weggevat van die leeftyd van kosbare oomblikke wat vir haar en haar gesin voorlê nie.
“Die essensie is dat ek dáár moet wees as ma en dat my kinders moet weet ek het hulle onvoorwaardelik lief.”
Haar eie ma, Tinkie Nortmann, was vir haar ’n voorbeeld: “Sy moes weer ’n week ná my geboorte voltyds begin werk; ek moes ’n bottel vat, maar ek het geen ‘ma-wonde’ nie. Ek het geen tekortkominge gely nie.”
Basta met perfeksie
Toe Simoné die eerste keer ma geword het, het sy baie hoë eise aan haarself gestel, maar vandag weet sy dis onnodig.
“Ek het gesukkel om vir Harper te borsvoed en ek het baie skuldgevoelens ervaar omdat ek haar met ’n bottel moes begin voed. Met Jamie het ek geweet dis beter dat hy kos kry en ek het dadelik met die bottel begin. En dis oukei, want weens ’n voedingskomplikasie, weet niemand hoe om hom te voed behalwe ek nie.”
Dit verstom haar hoe ma’s geoordeel word.
“Mense is bereid om die swart en wit in sekere situasies uit te gooi en tevrede te wees met die grys, maar om een of ander rede is dit anders as dit by ma-wees kom.
“God het daardie klein lewetjie aan jou toevertrou met die wete dat jy nie perfek is nie. As jy dink jy moet perfek wees om ’n ouer te wees, loop jy die leerproses mis. Jy maak nie net jou kinders groot nie, hulle maak jou ook groot.
“My kinders het my lewe verander en ek is ’n beter mens sedert ek ’n ma is. Ek is minder selfsugtig; ek het meer grasie vir ander en myself.”
Haar kinders is uiteenlopende mensies – Harper is ’n rabbedoe met ’n sterk wil; Jamie is ’n vriendelike, sensitiewe baba, wat huil as sy sussie in trane is.
“Jy kan al die handleidings lees, maar elke kind is anders. Jy moet hul leiding volg én jou instink vertrou.”
Die emosies loop soms hoog in hul huishouding, vertel sy.
“Ek én Andries is baie emosioneel en as ons boonop oorgestimuleer is ná ’n lang dag en die kleuter én baba huil albei, raak dit wild. Maar ek het geleer om vir my kinders jammer te sê as ek krapperig was sodat hulle leer dis oukei om foute te maak.”
Sy en Andries vul mekaar aan en Simoné skerts sy is dikwels die strenger een.
Harper is so versot op haar pappa dat Simoné haar tweede verjaardagpartytjie verlede jaar met ’n tong-in-die-kies-pappa-tema gereël het, en Andries se gesig op alles van baniere tot strooitjies en ’n hempie vir die verjaardagmeisie laat druk het.
“Ek hoop ek sal mý gesig eendag op Jamie se T-hempies kan druk …” skerts sy.
Ook net mens
Simoné deel dikwels stories en foto’s uit haar eie lewe met haar nagenoeg 300 000 Instagram-volgelinge en tog is sy baie ongemaklik met die influencer-etiket.
“Ek beskou dit as ’n platform wat die Here my gegee het om vir ander mense te wys daar is niks spesiaal aan my nie: My kind het refluks, nes joune en ons slaap ook min. Ek wil die prentjie afbreek dat ek perfek is en dit laat my nogal weerloos voel, want ek is eintlik ’n introvert. Om so eerlik te wees, stel ’n mens bloot.
“Op sosiale media moet jy die wysheid hê om te weet wat om wanneer te deel. Ek bid veral voor ek moeilike onderwerpe, soos ons miskraam, deel en ek probeer deel uit ’n plek van oorwinning en nie vir simpatie nie. As iets nie hoop bring nie, deel ek dit nie.”
Andries ondersteun haar 100% in dié en elke ander aspek van haar loopbaan, nes sy met hom ook doen.
“Dis maklik om met Andries getroud te wees. Hy is ’n ongelooflike spanmaat en so vrygewig. Ek dink daar was ’n tyd toe ek myself vreeslik ernstig opgeneem het, maar hy is speels en vriendelik – ’n regte labrador.
“Hy pak dinge met entoesiasme aan. Ons pas goed bymekaar, want ek bring hom soms weer aarde toe; terwyl hy altyd met nuwe planne vir my loopbaan vorendag kom.”
Die twee is “amper obsessief” daaroor om ’n gelukkige huwelik te hê.
“Ons kom albei uit geskeide huise. Ek dink die Here het meer deernis met egskeidings as ons en ons het albei begrip vir ons ouers, maar dis ons begeerte dat dié patroon by ons twee moet stop,” sê sy.
Hierdie artikel het oorspronklik in ons Oktober-uitgawe van 2024 verskyn.
Lees ook: Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met Roeline Daneel wie se jongste rol jou anders na TV-nuus sal laat kyk