In Die nuusmakers, ’n splinternuwe dramareeks wat die wêreld van TV-joernalistiek ondersoek, vertolk sy die rol van Karla – ’n geharde TV-veldjoernalis wat Roeline beskryf as iemand met “’n vuil bek, maar haar hart is op die regte plek, sy is lojaal en sy veg vir diegene wat nie ’n stem het nie”.
“Karla het ’n uitstekende neus vir nuus,” vertel Roeline. “Sy bring haar nagte deur saam met haar polisiekontak om ’n storie te jaag, of op haar bank met ’n bier in die hand en ’n bietjie afleiding aan haar sy.”
Hoewel Karla op papier heeltemal anders as Roeline se vorige karakters lyk, kon sy haar verrassend maklik met haar vereenselwig. “Sy is vinnig op haar perdjie, het ’n gesonde wantroue in gesagstrukture bloot omdat dit gesagstrukture is, en sy is effens rusteloos. Ek het wel nie Karla se aptyt vir jong lovers nie!” lag sy.
Die rol het vir Roeline soos ’n tuiskoms gevoel omdat sy self ’n honneursgraad in joernalistiek het. “Op ’n manier was hierdie ’n lekker homecoming. Die gesprekke en debatte in die fiktiewe nuuskamer het my baie laat dink aan die gesprekke wat ons as studente ook gehad het. Die verskillende fiktiewe stories wat ons in die reeks dek, het my weer laat nadink oor aktuele kwessies wat ek nie aldag uit soveel hoeke beskou nie.”
Lees ook: Nuwe kykNET-reeks verken dramas en intriges van nuuskantoor
Een van die sentrale temas van Die nuusmakers is hoe mense wat nuus maak, dikwels hul eie emosies moet onderdruk om die publiek te dien, iets waarmee Roeline eerstehands kan identifiseer. “Die TV- en verhoogbedryf is nie juis een wat af- of siekdae kan akkommodeer nie. Ek was al so siek dat ek skaars ’n stem gehad het, maar ek moes werk, want die produksie kon nie die tonele skuif nie. Of waar iemand na aan my in die hospitaal opgeneem is, maar ek nie by hulle kan wees nie, want ek is op stel.” Soms, vertel sy, speel sulke oomblikke selfs in haar guns. “Waar ek so moeg was, of my emosionele beker leeggetap was, het dit gehelp vir wat daardie karakter daardie dag moes deurgaan. Hierdie bedryf kan maar ongenaakbaar wees.”
Die nuusmakers is ’n kragtige blik agter die skerms van die nuusbedryf. Rolanda Marais vertolk die rol van Adri Joubert, die gesoute gesig van die aandnuus, wat ná ’n persoonlike tragedie steeds die land deur ’n nasionale krisis moet help navigeer. Die rolverdeling sluit ook bekende name soos Brendon Daniels, Lea Vivier, Arno Greeff, Lesley Maasdorp, Chris van Niekerk, Susanne Beyers en Dorette Potgieter in.
Karlien Meiring het meer by Roeline uitgevind oor Die nuusmakers en wat vir haar regtig belangrik in die lewe is.
Hoekom dink jy is hierdie storie belangrik vir Suid-Afrikaners om nou te sien?
Die nuus, in die vorms wat ons dit al vir dekades ken, is in krisis. Drukmedia en TV-media dra swaar en kanale en publikasies moet geweldig aanpas, of hulle sluit. En in ’n era waar almal ’n stem het, raak dit moeiliker om te weet wie se stemme meer gesag dra. Mense kla oor betaalmure as hulle aanlyn toegang tot hul nuus wil kry, maar hou nie in gedagte hoeveel werk en infrastruktuur dit verg om geloofwaardige en genuanseerde nuus te bied nie. Die joernaliste se salarisse, die vervoerkostes, die versekering, die opgradering van IT-strukture. Ek dink dis goed om weer herinner te word hoeveel bloed en sweet en passie old school journos het om te doen wat hulle doen. En hoe belangrik die checks en balances van die “ou” manier van nuus vervaardig, eintlik is.
Jy en jou man het onlangs jul negende huweliksherdenking gevier – wat is die geheim vir jul sterk verhouding?
Ons kon self nie glo ons staan al nege jaar sterk en dat ons volgende jaar ’n dekade vier nie! Om eerlik te wees, ek weet nie wat die geheim is nie. Dit verg baie deurdruk, baie vergewe, baie sag wees met mekaar. Die jin en die jang van meer gee as jy kapasiteit het, en vra as jou kersie laag brand.
View this post on Instagram
Wat is vir jou die mooiste deel van gesinslewe – en die grootste uitdaging?
Ek het onlangs my pa verloor, en toe sy drie kinders langs hom staan toe hy finaal wegsweef, het ek opnuut besef jou naastes (wie hulle ook al vir jou) is eintlik al ding wat saak maak. Dis die ooggetuies van jou lewe, die mense wat jou op jou beste en jou slegste ken. My ouers het my die meeste lief, sonder enige voorwaarde; my broers gaan my die langste ken van almal op aarde; my man bou die meeste saam met my en ons navigeer die moeilikste, ongekende waters saam; en my kinders maak liefde en respek vir die lewe wakker soos ek nooit kon verwag nie. Ek dink die grootste uitdaging is om jou naastes nie as vanselfsprekend te aanvaar nie. Elke oomblik met hulle is ’n reuse-seëning.
Het jou kinders al gesien waarin jy speel – en wat dink hulle daarvan om ’n “bekende” mamma te hê?
Hulle weet absoluut niks van “bekendwees” af nie. My oudste het my die eerste keer op TV gesien toe sy so twee jaar oud was. Ek was nie self in daardie oomblik in die vertrek nie, en sy was baie ontsteld toe sy met “my” op die skerm praat en ek nie teruggesels nie!
View this post on Instagram
Wie of wat inspireer jou op hierdie oomblik in jou lewe?
Werkende ouers. En enkelouers. Enigiemand wat dit regkry om menslike wesens groot te maak en nie heeltemal van hul sinne beroof te raak nie.
Moenie Die nuusmakers misloop nie. Die reeks begin Dinsdag 27 Mei om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.
Lees ook: Skokonthulling in Die Brug: ’n Tweede huis en nog spelers!