Windswael: Paaie deur Martie Swanepoel.
Sedert ek hier in die berghuis bly, stap ek daagliks ses tot sewe kilometer. Ek probeer elke oggend ’n ander roete op die plaas stap. Partykeer die lang kloof op tot by die waterval. Soms die kort kloof, maar dikwels die roete af Wilgerivier toe, aangesien die eerste drie kilometers bult af is, en as ek onder is, het ek geen keuse as om bult op terug te stap nie. Dan eers voel ek dat ek regtig oefen. Ek sweet soos ’n bees en my beenspiere brand.
As ek hierdie heartbreak hill gestap het, voel ek reg vir die dag.
Ek stap nie teen tyd of om ’n rekord aantal treetjies op ’n fitbit te behaal om Discovery-punte te kry nie. Ek is ’n dromer. Ek stap van blom na blom, en bekyk diere se voetspore en insekte wat nes maak. Ek luister na die visarend en hou voëls dop.
Ek dank God elke dag dat ek hier kan bly saam met my sielsmaat.
As ek stap, hardloop my brein agter dagdrome aan. Ek skryf stories in my kop.
Ek dink dikwels aan Robert Frost se gedig The Road Not Taken. Ek het dit laasjaar nog met die tweedejaars gedoen voor ek by die universiteit afgetree het. Dit gaan oor ’n man wat by ’n vurk in die pad moet kies tussen twee paaie. Hy kyk af by die een, en dit lyk vir hom by die draai effe bebos. Dan kies hy die ander een.
Dit gaan oor die keuses in die lewe. Gaan jy die hoofstroom stap, of die ander roete? Mens sal altyd ’n stadium bereik wat jy sal dink die ander pad kon dalk beter gewees het. Maar Frost se gedig beskryf dat die roete wat jy uiteindelik neem, die een is wat jou vorm. Mens kan nie beide roetes neem nie. Dit is ook nie moontlik om vooruit te bepaal wat op jou roete op jou gaan wag nie.
Ek is nou by die stadium van my lewe wat ek terugdink aan loopbaan- en lewenskeuses. Ek het ’n paar spectacular foute in my lewe gemaak, maar ek besef nou dit help nie om vas te haak by “wat as …” vraagstukke nie. Die lewe laat jou nie toe om terug te stap op ’n pad om dinge reg te maak nie.
Soos Frost, het ek the road less travelled gekies. Ek het dikwels besluite met my hart geneem en nie met my kop nie. Ek het avontuur gesoek en was nog nooit ’n hoofstroom mens nie.
Ek het ’n paar keer as jong joernalis koppe gestamp met Beeld se hoofredaksie oor my rebelsheid. Een keer het ek ’n petisie opgestel om ’n bode te help om teen sy onregverdige afdanking te apelleer. Ek is aan my oorbelle van hier tot by die Nasperssentrum in Kaapstad gesleep en met afdanking gedreig. (Ek dink “Iron Balls” Wepener was verlig om my na die span te pos wat Insig moes begin. ’n Geheul met vakbonde is nie daai dae in Naspers geduld nie.) Maar Christopher het sy werk behou en daaroor is ek niks spyt nie.
In die jare van die sanksies in die mid-tagtigs het ek gehoor dat Paul Simon sy groot Graceland-konsert buite Harare gaan hou. Ek het toestemming by die hoofredaksie gaan vra om die konsert te gaan dek. Maar die manne in die glaskantore het my verbied om Zimbabwe toe te gaan want dit was daai jare effe gevaarlik.
En, ek was ’n vrou … Ons het onder meer nie vir huissubsidies gekwalifiseer nie, en jy het dadelik ’n tydelike personeellid geword as jy trou. Weens jou baarmoeder, want sien, netnou raak jy pregnant en dan verontrief jy hulle met kraamverlof. In kort, die glasplafon was net-net bokant ons koppe. As vrou was jou waarde nie in die pers bo dié van korale nie. Maar as die pôpô die fên gestraaik het, het hulle nie omgegee om jou met ’n perskarretjie in ’n township in te stuur om bullets en klippe te dodge of om misdaadstories te doen nie.
Jy moet net nie vra om Harare toe te gaan vir die musiekkonsert van ’n leeftyd nie. As ek ’n man was, sou ek kon gaan. Rapport het Johan Pieterse gestuur sonder ’n oogknip …
Ek het my gewip, vasgesteek, verlof ingesit, my spaargeld getrek, en gegaan. My base was woedend en ek is as hardkoppig gebrandmerk. Veral na die Christopher-drama.
Die Graceland-konsert was een van die wonderlikste ervaringe van my lewe, en ek was die enigste joernalis van al die lande wat ’n eksklusiewe onderhoud met Miriam Makeba gekry het.
Hmmm … kloppie op die skouer uit die glaskaste? Die storie is darem goed gebruik.
Beeld het my darem tien jaar later vergewe en as vroueredakteur aangestel en my claim to fame was dat ek en ’n span vooruitdenkende vroue die vroueblad laat “toemaak” het. Ons het gevoel vroue hoef nie net tevrede te wees met een ou bladsytjie in die koerant vir reseppies en sosiale foto’s nie. Vroue het in daardie stadium 50% van die lesers uitgemaak en navorsing het getoon hulle dra die beursies in die huis. Ons het leefstylbylaes begin, en ketjieng … ’n paar miljoen rand advertensiekoste ingebring! Ek was dus Beeld se heel laaste vroueredakteur en dis goed so!
Daar is baie paaie wat ek gekies het wat my al in die sop laat beland het, en in een geval in aanhouding in Oostenryk. Ek het dae lank in Rome gesukkel om ’n visum te kry om net vinnig deur Oostenryk te ry. Vergeefs. Toe dog ek, as ek agter in ’n bus gaan sit, sal die doanebeamptes my dalk miskyk.
Toe nou nie.
Ek is aangehou in ’n vertrek met plakkate van Europa se mees gesogte misdadigers teen die muur. Ek het daardie dag beter Duits gepraat as in my mondeling in my tweedejaar op Universiteit voor die sexy dr. Grenz. Spyt? As enige van my twee ambisiueuse kinders eendag gaan reproduseer, het ek ’n lekker storie om aan my kleinkinders te vertel …
My ma wil die stuipe kry omdat my dogter op pad is om in Suid-Korea te gaan werk. Die Onbekende. Ek self hou my hart vas, maar ek weet, as ek jonk was, sou ek dit ook gedoen het! So, go for it, Lieneke, Mamma is trots op jou! (Skype my net elke aand om te laat weet dat jy veilig by jou woonstel aangekom het.)
Ek sing dikwels soos Edith Piaf Non, je ne regrette rien. Regrets oor dinge wat jy aangepak het, is nie naastenby so erg soos regrets oor kanse wat jy dalk verspeel het nie. Regrets kan soos ’n swaar rots om jou nek hang.
Ek kan dit nie beter stel as Frost in sy laaste stofe nie.
“I shall be telling this with a sigh
Somewhere ages and ages hence:
Two roads diverged in a wood, and I,
I took the one less traveled by,
And that has made the difference.”
Het jy al Martie se ander blogplasings vir rooi rose gelees? Loer hier:
Windswael: “’n Tiet om te kom en ’n tiet om te gaan”