Deur Rentia Mynhardt
’n Verklaring deur haar drie dogters, Shayna, Chanelle en Summer, lui dat Clifford vroeër vanjaar met kanker gediagnoseer is. “Sy het behandeling met onwrikbare moed, grasie, waardigheid, krag en eindelose dankbaarheid aangepak,” skryf hulle. “Ongelukkig was die siekte reeds te ver gevorderd, en ons het geweet ons tyd saam met haar sou beperk wees.”
Hier’s rooi rose se laaste onderhoud met die legendariese Jenna Clifford
Wanneer jy aan die legendariese Jenna Clifford dink, dink jy aan blink juwele en edelstene, klassieke styl en statigheid. Sy is egter ’n 65-jarige internasionaal bekende sakevrou wat al met die ware én nagemaakte edelgesteentes van die lewe te doen gekry het.
Lees ook: Juwelierslegende Jenna Clifford oorlede
Loop jy haar tuin binne, kom lê vrede soos ’n moskombers oor jou terwyl die klanke van ’n waterval en kwetterende voëls rondom jou weerklink. Haar kantoor verklap weer ’n ander tipe vrede. Hier glo die vrou agter die lessenaar met 44 jaar se ondervinding in die juweliersbedryf in haarself en weet sy presies wat die gehalte van die produkte is, wat sy die wêreld instuur. Teen die een muur lees jy: “Niks is toevallig nie; alles is ’n les vir my om te leer”, en teen die ander “My intuïsie is kragtig; ek moet daarna luister”.
Jenna Clifford mag wel ’n passie vir juwele hê, maar haar liefde vir mense is ewe groot. Sy het ’n dryf in haar om mense se oogklappe oor hulself te laat afval sodat hulle die edelgesteentes wat binne hulleself weggesteek is, kan raaksien. Sy glo aan geslagsgelykheid, opheffing en opleiding vir almal sodat elke mens dίt kan word wat hy of sy bestem was om te wees.

Foto: Christoph Hoffman
Hoewel sy een van Suid-Afrika se legendes in uitvoerprodukte is, was haar eie paadjie nie altyd met diamante besaai nie. Jenna se pa was ten volle disleksies en kon nie lees of skryf nie. Sy pa het hom as kind baie hardhandig hanteer, en die feit dat hy gedurig uit die skool geskors is, omdat disleksiese kinders as stout en lui beskou is, het die houe selfs nóg meer laat neerreën. Hierdie manier van grootword, het diep letsels gelaat, wat van Jenna se pa ʼn baie aggressiewe man gemaak het. Op haar beurt moes Jenna se ma hierdie aggressie keer op keer ontgeld, baie keer ten aanskoue van klein Jenna.
As vyfjarige dogtertjie moes sy alleen met die bus van die skool af huis toe ry en het die lewe haar van kleins af gedwing om vir haarself op te staan. Sy het op ses met swemafrigting begin, saam met ’n groep ouer, welaf Joodse kinders wat haar die “Christelike vark” genoem het. Sy is gedurig afgeknou en haar neus is twee keer in die swembad gebreek. “Al hierdie dinge het my net sterker gemaak. My oupa Egbert het my gedurig gemotiveer en geestelik opgebou. Hy was ook die een wat my geleer het dat twee ‘verkeerdes’ nie een ‘reg’ maak nie.”
Hierdie selfde oupa het die kunstalent in Jenna raakgesien en hy het vir haar sketsboeke, penne en kwaste gekoop. Aangesien sy self ook aan disleksie ly en onderwysers haar, nes haar pa, as dom beskou het, het sy haar gereeld na haar sketsboeke as uitlaatklep gewend. Sy wou in standerd agt die skool verlaat, maar met haar oupa se aansporing het sy deurgedruk.
Tog gebruik sy nie haar grootwordjare, oftewel die “universiteit van harde klappe” soos sy daarna verwys, as verskoning nie, maar eerder as die dryfkrag om op te staan vir dit wat reg is. Jenna het in haar laat jare dertig vrede met haar verlede gemaak, omdat sy in haar soeke om te probeer verstaan, besef het dat omstandighede jou soms ’n mens kan maak wat jy nie wil wees nie. Dit is ook sedert hierdie tyd dat sy ’n vurige aktivis vir vroueregte geword het. “Hoewel mans en vroue totaal van mekaar verskil, moet hulle steeds as gelykes behandel word.”

Foto: Christoph Hoffman
Die entrepreneur in Jenna het vroeg-vroeg na vore gekom toe sy al op 13 jaar swemlesse begin gee het. Sy het later haar kliënte ’n geldterugwaarborg gegee as hulle nie binne ’n maand kon swem nie. Nodeloos om te sê, het sy nooit nodig gehad om iemand se geld terug te gee nie! Met hierdie geld het sy net ná skool nege maande na Europa en die VSA gegaan waar sy swemlesse tydens somerkampe aangebied het en só gratis verblyf, kos en vervoer gekry het.
Terug in SA het sy as 19-jarige voltyds swem afgerig, maar dit was die jaar daarna wat haar pad met die juweliersbedryf gekruis het. Sy het terselfdertyd deeltyds as grimeerkunstenaar vir Estée Lauder gewerk. As ’n algemene werker in ’n juweliersfabriek het sy telefone beantwoord, koffie gemaak, sekuriteit hanteer en ook die verskillende borde waarmee goudsmede gewerk het volgens karaat sorteer. Terwyl sy alles van ’n afstand af dopgehou het, het die hoë temperature waarteen goud gesmelt word ook die vlam binne háár vir hierdie bedryf aangesteek. Sy het later met gietwerk begin help en die werk gedoen wat vir goudsmede vervelig was. Só het sy elke stukkie van die juweliersbedryf een vir een begin baasraak. In daardie jare was daar nog geen vroue in Suid-Afrika wat self juwele gemaak het nie, maar eie aan haar “ek-kan-ek-wil-persoonlikheid” het hierdie hindernisse haar eerder gemotiveer om alles van die bedryf te leer totdat sy uiteindelik in 1992 die Jenna Clifford-handelsmerk die lig kon laat sien. “Ek het geweet ek wil nie lángs die speelveld staan nie, maar ek het geweet as ek juwele van uitstaande gehalte wil maak, ek eers al die tegniese aspekte sou moes leer. Juwele moet mooi wees, maar dit sal ook vir ewig ’n bate wees mits dit reg gemaak word.”
Haar heel eerste ontwerp in 1981 was ’n klein paar oorbelle van geelgoud, diamante en granaatsteen. As sy ’n gunstelingsteen moet kies, kies sy sonder om te huiwer ’n saffier met diamante. Een van haar ontwerpe wat oor die jare vir haar uitstaan, is ’n ring met ’n diamant en saffiere wat sy die “Fair Lady” genoem het. Dit was ook die ring wat mense vir die eerste keer van die Jenna Clifford-handelsmerk bewus gemaak het.
Jenna se juwele is al deur verskeie bekendes wêreldwyd gedra, soos wyle Nelson Mandela, die Williams-susters, Celine Dion, Die Drie Tenore en verskeie koninginne. Sy het ook op versoek tydens ’n Statebondspele wat in Suid-Afrika aangebied is, lapelwapens vir 62 staatshoofde gemaak, waarvan koningin Elizabeth II deel was. Verder het sy ook al vele sporttrofeë gemaak, waaronder die Drie Nasies- rugbytrofee en die Nelson Mandela Invitational-gholftrofee.
Hoewel haar produkte in vele lande huise vind, lê Jenna se wortels in Suid-Afrika. “Ek reis al vir die laaste 22 jaar nie meer na ander lande nie. Jou eie land is die beste plek om in te reis. Suid-Afrika het sy eie mense nodig.”

Foto: David Dodds
Behalwe vir juweliersware, skep Jenna ook graag allerhande disse in die kombuis en is sy ’n voorslag-gasvrou wat baie graag onthaal. Haar eetgereireekse is in 2021 as uitvloeisel hiervan bekendgestel. Met hierdie reekse kan haar liefde vir rose en detail gesien word, en was haar ma, ’n demensielyer na wie Jenna tot haar dood omgesien het, die inspirasie vir die Wavy Rose-reeks. Met hierdie toevoeging tot die Jenna Clifford-produkreeks bied sy die geleentheid aan uitgesoekte vroue om agente van haar eetgereiprodukte te wees en hulself op só ’n manier te bemagtig en finansieel onafhanklik te maak. “Ek glo nie daaraan dat ’n vrou kaalvoet en swanger moet wees nie!”
Van aftrede is daar nog nie sprake nie, en wil sy steeds ’n impak maak: “Ek wil graag op my ouderdom en met die kennis wat ek oor die jare bymekaar gemaak het, alle Suid-Afrikaners aanmoedig om die plek waar ons strategies op aarde geplaas is te waardeer, hard te werk, ons hulpbronne te beskerm en lief te hê.”
Jenna vul steeds die rol as uitvoerende hoof van die maatskappy, waar twee van haar dogters ook aktief by die onderneming betrokke is. “Ek glo in families, al het ek self in ’n gebroke een grootgeword. Boonop is ek ’n trotse ouma van twee. Dis my dogter, wat in Engeland woon, se kinders.”
Vra jy haar of haar dogters hul kreatiwiteit van hul ma gekry het, antwoord sy: “Ek dink nie ons as mense het veel daarmee te doen nie; kreatiwiteit is iets wat uit die hemel kom.”
Haar raad aan entrepreneurs is eenvoudig: As jy iets doen, doen dit reg, of los dit liewer.
Die goue draad van Jenna Clifford se nalatenskap vleg nie net deur die unieke en pasgemaakte produkte wat sy al oor die jare vervaardig nie, maar ook deur haar mentorskap aan jonger mense wie sy graag leer om hul lewensgereedskapskissie met soveel moontlik kennis en ervaring vol te pak. Sy skyn waarlik soos ’n diamant, maar skyn selfs helderder wanneer sy ander óók kan laat skyn.
Hierdie artikel het oorspronklik in rooi rose se Desember-uitgawe van 2023 verskyn.
Lees ook: Totsiens Niggies, hier kom Die nuusmakers: Wie’s wie?