Saamgestel deur Elna Rossouw.
Die boekengel deur Malene Breytenbach

Malene Breytenbach (Foto: Verskaf)
DIE BOEKENGEL (LUCA, R300) deur MALENE BREYTENBACH vertel die verhaal van ‘n vrou wat haar toksiese huwelik agterlaat en ‘n boekwinkel op die dorp waar sy geswot het, oopmaak. Sy herontdek ou vriendskappe en begin haar lewe stuk-vir-stuk optel. Tog sukkel sy om haar geloof weer te vind. Dié roman van MALENE − wat reeds meer as sestig boeke en verskeie kortverhale geskryf het −draai om ‘n nuwe begin en die krag wat net liefde en geloof tot uiting kan bring.
Vredemaker deur Reggie Peace

Reggie Peace (Foto: Verskaf)
Reginald Hufkie – vandag bekend as die akteur en musikant REGGIE PEACE − gaan klop as 14-jarige by ‘n kinderhuis aan omdat hy nie langer in die hok saam met sy pa en broers wou bly nie. Sy aangrypende memoir, VREDEMAKER (LUX VERBI, R280) is REGGIE se storie van swaarkry, maar ook ‘n verhaal van hoop wat wys dat uitdagings oorkom kan word en dat jy met Christus aan jou sy, sterker anderkant uitkom.
Die skuld wat bloed betaal deur Sandra Skinner

Sandra Skinner (Foto: Verskaf)
DIE SKULD WAT BLOED BETAAL (NALEDI, R275) is SANDRA SKINNER se boeiende debuut wat lesers dwing om skokkende waarhede in die gesig te staar. Hoewel die boek fiktief is, is daar elemente van gesins- en geslagsgeweld wat op die waarheid gegrond is. Die verhaal verken die leefwêrelde van Madelee en Karools en hoe hulle worstel om sin van hul bestaan te maak. En wanneer die noodlot hulle wêrelde in botsing bring, keep dit diep wonde.
In Julie se rooirose, met die pragtige Mej. SA, Mia Le Roux op die voorblad, kan jy ons onderhoud met Zelda Bezuidenhout (Quinn se jaar van kwiksilwer en Die dekonstruksie van Retta Blom) lees en loer na watter boeke op haar bedkassie lê.

Lees ook: 10 redes waarom jy rooi rose se Julie-uitgawe móét lees!




