Saamgestel deur Elna Rossouw.
Die Kubermoorde deur Dewet Bisschoff

Dewet Bisschoff (Foto: Verskaf)
DIE KUBERMOORDE (Turksvy Publikasies, R300) deur DEWET BISSCHOFF, begin in die Oos-Kaap met ’n plaasaanval. Terselfdertyd lei ’n kuberinbraak by ’n regeringsdepartement en sabotasie by ’n kragstasie tot ’n vlaag moorde in die noorde van die land. Mac, ’n rekenaarspesialis wat die kuberaanval ondersoek, ontbloot ’n internasionale komplot. Polisie-intimidasie dreig om Mac se ondersoek te ontspoor, terwyl inmenging van die Russiese Geheimediens sy veiligheid bedreig. Hy span saam met Jerome, sy werkgewer en politieke beskermengel, en Sonja, sy verlore liefde by Staatsveiligheid, om die komplot te ontrafel … maar Mac se kleurvolle verlede en sy effens donker karakter kompliseer sy speurwerk.
Nagdier deur Marie Lotz

Marie Lotz (Foto: Verskaf)
In MARIE LOTZ se nuwe spanningsroman, NAGDIER (Penguin Random House, R320), word ’n bekende sakeman laatnag in sy studeerkamer doodgeskiet. ’n Paar dae later word ’n egpaar in hul naweekhuis in die bos vermoor – die vroulike slagoffer word gruwelik vermink. Die modus operandi van die moorde toon duidelike ooreenkomste. Toe ’n bejaarde man kort daarna ontvoer word, bevind majoor Alek Strauss hom in die middel van ’n klein oorlog waarin die raaisels van die hede slegs deur die verlede opgelos kan word.
Leeumens deur Rudie van Rensburg

Rudie van Rensburg (Foto: Verskaf/ Brenda Veldtman)
In LEEUMENS deur RUDIE VAN RENSBURG (Queillerie, R365) word skatryk tweelingbroers se geraamtes in ’n veld opgediep. Op aandrang van die Wes-Kaapse polisiehoof moet Kassie en Rooi die saak ondersoek, maar dit moet in geheimhouding gebeur. Anders loop hulle ook die gevaar om soos die speurders wat by die destydse verdwyningsaak betrokke was, vermoor te word. Om die saak onder die radar te probeer oplos, blyk gou onprakties te wees. Wanneer die twee tot ’n openlike ondersoek oorgaan, beland hulle in ’n maalstroom van ongekende gevaar: ’n stikdonker onderwêreld waar antieke voorwerpe miljoen rande op swartmarkveilings behaal.
In September se rooi rose met Karlien van Jaarsveld op die voorblad, vertel Erla Diedericks in “Lekker lees” meer van haar jongste spanningsroman, Bonsai-meisies. Sy vertel ook watter boeke op haar bedkassie lê, en verklap watter soort boeke sy glad nie lees nie.

Lees ook: 10 redes waarom jy rooi rose se September-uitgawe móét lees!




