Saamgestel deur Elna Rossouw
Laastegoed deur Annelie Botes

Annelie Botes (Foto: Salvelio Meyer)
Vir meer as twee dekades het Annelie Botes gedagtes, opinies en insigte oor die lewe opgeteken. Laastegoed (Penguin Random House, R350) is ’n versameling van haar rubrieke wat van 2020 tot 2024 in verskeie gedrukte (ook rooi rose) en aanlyn publikasies, verskyn het. Annelie het gepraat van “bunkertyd” toe die Covid-19-pandemie die wêreld getref het. In haar wêreld was die tyd van korona ook ’n voorspel tot haar eie eindstryd met siekte, amputasie en uiteindelik, die onvermydelike seisoen van “die engele met raspervlerke”. Dié rubrieke is volgens verskillende temas, onder meer “oor kinders en kindwees”, “padkos vir die siel” en “die noute in …” gegroepeer.
Kronkelpad deur Irma Joubert

Irma Joubert (Foto: Verskaf)
Kronkelpad (Tafelberg, R370) van Irma Joubert is ’n heruitgawe van die laaste roman in die Pontenilo-trilogie wat oorspronklik in 2011 verskyn het. Twee bykarakters uit Anderkant Pontenilo en Pérsomi is die hoofkarakters in die roman.
Die jong mediese student, Lettie Louw, keer in 1947 terug na die Bosvelddorpie waar sy grootgeword het om haar pa se praktyk oor te neem. Marco Romanelli oorleef ’n konsentrasiekamp, maar kom siek by sy ouerhuis in Noord-Italië aan. Ter wille van sy gesondheid reis hy na Suid-Afrika. Só beland Marco op dieselfde dorpie waar Letttie ’n dokter is. Die liefde blom … maar dan breek die polio-epidemie van die jare vyftig uit.
Drie moorde in die baai deur Madelein Rust

Madelein Rust (Foto: Annemarie Wichman)
Drie moorde in die baai (Human & Rousseau, R350) is die laaste roman uit Madelein Rust se pen. Bianca Fabricious, hygromanskrywer en nuwe eienaar van ‘n gastehuis op St Helenabaai, het skaars haar voete gevind of die uitsig voor haar kamervenster verander in ’n misdaadtoneel. Om alles te kroon, is die slagoffer ’n blondine met wie Bianca haaks was oor dié se kaalbassonbaaiery voor gaste. Dis duidelik dat die gawe speuradjudant Meintjies haar glo wanneer Bianca verduidelik sy het bloot die liggaam ontdek, maar kaptein De Wee is ’n perd van ’n ander kleur. Bianca probeer haarself as verdagte uitskakel en die regte boosdoener aan die kaak stel, maar dit veroorsaak ’n hele reeks onvoorsiene gebeure …
Madelein (58) is op 6 Augustus kort ná dié boek verskyn het aan kanker oorlede. Sy het in 2014 krimi’s begin skryf en daarna het daar elke jaar ’n nuwe roman verskyn waarvan drie titels vir ATKV-Woordveertjies benoem is. Sy het ook twee niefiksieboeke, Kanker Schmanker! en Van vrees na vrede geskryf.
Lees ook: Meesterlike Hen spook Oktober in teaters




