Die Suid-Afrikaanse en Namibiese vermaakbedryf is in rou gedompel ná die skielike afsterwe van die gewilde televisie-aanbieder, radio-omroeper en sportkommentator Johnny Davids.
Die 49-jarige is in die vroeë oggendure van Donderdag 16 April in ’n gastehuis in Pretoria oorlede. Hoewel ’n hartaanval vermoed word, kon die presiese oorsaak van sy dood nog nie amptelik bevestig word nie.
Die nuus is deur die Afrikaanse televisiekanaal VIA (DStv-kanaal 147) in ’n persverklaring bevestig. Davids was een van die geliefde veldaanbieders van die kanaal se landbouprogram Landbouweekliks.
Davids is in Narraville, ’n woonbuurt in Walvisbaai, gebore.
Sy loopbaan het oor verskeie velde gestrek. Hy was nie net ’n TV-aanbieder nie, maar ook ’n radio-omroeper, sportkommentator, sanger, skrywer en motiveringspreker. Hy het ook as veldaanbieder op programme soos Kwêla bekendheid verwerf.
Benewens sy werk op televisie en radio, het Davids ook sy lewensverhaal gedeeltelik vasgevang in sy boek, Boytjie, waarin hy terugkyk op sy grootwordjare.
Davids laat sy vrou, Liezel, en hul drie seuns agter.

Lees ook: KKNK huppel en dans met 30ste fees

