Die legendariese Suid-Afrikaanse operasangeres Mimi Coertse, is Maandagaand in die ouderdom van 93 in haar huis in Pretoria oorlede.
Volgens berigte is sy vreedsaam in haar slaap oorlede. ’n Vriendin, Lizet du Plessis, wat Coertse oor ’n lang tydperk versorg het, het die hartseer nuus bevestig.
Maria Sophia Coertse is in 1932 in Durban gebore en het internasionale roem as een van Suid-Afrika se grootste operasterre verwerf. Sy het haar loopbaan in Europa gevestig en was vir dekades verbonde aan die Weense Staatsopera, waar sy in 1956 haar debuut gemaak het as die “Koningin van die Nag” in Mozart se Die Zauberflöte (Die Towerfluit).
Sy het wêreldwyd opgetree en het veral bekend geword vir haar uitstaande koloratuur-sopraanrolle. In 1966 is sy met die titel Kammersängerin deur die Oostenrykse regering vereer , een van die hoogste eerbewyse wat aan ’n operasanger toegeken kan word.
- (Foto’s: Verskaf)
Nadat sy in 1973 na Suid-Afrika teruggekeer het, het Coertse ’n belangrike rol gespeel in die ontwikkeling van jong sangtalent en het haar latere jare gewy aan die bevordering van klassieke sang en die ondersteuning van opkomende kunstenaars.
Haar bydrae tot die kunste is wyd erken met talle toekennings en eerbewyse, insluitend ere-doktorsgrade en internasionale onderskeidings.
Coertse word onthou as ’n baanbreker wat Suid-Afrikaanse talent op die wêreldverhoog geplaas het en as ’n sleutelfiguur in die vestiging van opera in die land.



