Deur Zerelda Esterhuizen
Sy was al twee keer ongelukkig getroud. “My eerste man het my verkul en my tweede man was so gewelddadig dat ons moes vlug. Ek was daarna huiwerig om weer ’n verhouding aan te knoop, en het eers jare daarna iemand ontmoet. Ons het net dadelik gekliek en is nou al tien jaar saam. Ek was nog nooit so gelukkig nie, en sou nooit kon raai dat ek ware liefde sou vind nie,” vertel Jeanne (61).
Marcelle* (42) se man is vyf jaar gelede oorlede en sy is eensaam. “Ek wil graag weer iemand ontmoet, maar is ook onseker. Ek is bekommerd oor hoe my kinders gaan reageer, en ek wonder of ek werklik weer vir iemand se geite kans sien …”
Yvette Smit is ’n geregistreerde berader van Tuine, Kaapstad, en sy sê ’n ouer lewensfase word gekenmerk aan belangrike oorgange soos egskeiding of verlies, kinders wat die huis verlaat, loopbaanveranderinge of aftrede, asook liggaamlike en hormonale veranderinge.
“Baie van my werk met ouer volwassenes sentreer juis rondom die impak van hierdie oorgange – die manier waarop dit jou selfbeeld en gevoel van waarde kan ontwrig, en hoe dit beïnvloed hoe iemand hulself emosioneel in nuwe verhoudings posisioneer.”
Yvette sê mense in hul veertiger-, vyftiger- en sestigerjare het gewoonlik gevestigde lewens.
“Hulle is onafhanklik, ken hul eie ritme en het dikwels sterk gewoontes en strukture, maar daar bly ’n diep menslike behoefte aan emosionele nabyheid. Die uitdaging is om nie outonomie vir verbondenheid te verruil nie, maar om ’n gebalanseerde verhouding te bou waar albei saam en komplementêr kan bestaan.”
Sy vertel dat middel- tot later volwassenheid word dikwels gekenmerk deur ’n skuif weg van die vroeëre fokus op “bou en bewys” na “verdiep en betekenis gee”.
“Mense begin in hierdie fase om meer vrae te vra oor betekenis, vervulling en egtheid – nie net oor stabiliteit, sekuriteit of om in ’n sekere prentjie te pas nie. In verhoudings neem dit dikwels die vorm aan van ’n groter behoefte aan emosionele egtheid en minder verdraagsaamheid vir oppervlakkige verbintenisse. Tyd word kosbaarder, en mense raak meer bewus van waarin – en in wie – hulle hul emosionele energie belê. Die klem verskuif van of ’n verhouding reg lyk na of die verhouding reg vóél.”
Lees die volledige artikel in ons Mei-uitgawe. Dis nou op die rakke en propvol interessante inhoud!

Hier’s nog redes waarom jy ons jongste uitgawe in die hande moet kry.

