Saamgestel deur Elna Rossouw.
Maanschijnbaai 1: Jo & Sue en Maanschijnbaai 2: Nan & Jeannie deur Chanette Paul

Chanette Paul (Foto: Verskaf)
Genre: Fiksie
Prys R350 elk
Oor die heruitgawes van Maanschijnbaai 1 & 2 skryf Chanette: “Wat ’n wonderlike voorreg dat die vier Calitz-vroue ná 15 jaar kan herleef. Terwyl ek deur die manuskrip gegaan het, het ek besef wat ’n groot verskil daardie 15 jaar kan maak. Dinge wat Nan onthou uit haar kleintyd, is byvoorbeeld vandag nie meer die dinge wat ’n vyf en vyftigjarige sal onthou nie. Ek het besluit om dit net so te hou en my lesers te vra om in gedagte te hou dat die storie in 2010/2011 geskryf is toe ek self nog 55 was. Al wat ek wel verander het, is spesifieke verwysings na baie verouderde tegnologie.”
In dié boeke ontmoet jy die Calitze, elkeen in ’n ander lewensfase, elkeen met haar eie geite en ’n verlede. Die Maanschijnbaaiers sit behoorlik regop toe hulle die dorpie in oorlede Casper se pienk Cadillac binnevaar. As dit maar al was … Casper het sy afskuwelike turkoois kasarm ook aan hulle bemaak. Die dorpenaars glo dit moet platgeslaan word, maar vir die Calitze kan dit dalk uitkoms bied.
Chanette is die bekende skrywer van topverkopers soos Murasie, Marilyn en Offerlam. Anoniem, haar 50ste roman, is steeds ’n topverkoper.
- Uitgegee deur LAPA, ’n druknaam van Penguin Random House
Groete uit Skotland deur Sunet du Plessis

Sunet du Plessis (Foto: Verskaf)
Genre: Fiksie, Inspirasie
Prys R300
Frances vlug Skotland toe … na waar haar ma se mense vandaan kom. Sy wil vergeet van wat gebeur het. Daar aangekom, laat weet sy haar ouma Martie in Suid-Afrika en begin by ’n skool werk. Sy loseer by gawe Skotte, maar selfs die pragtige landskap en mense is nie altyd genoeg om haar siel te salf nie.
Vir Martie is dit moeilik om die plaas alleen te behartig, al doen sy dit met liefde en geloof. Toe Frances se broer, Deon, deur ’n skool in Pretoria gewerf word, voel sy ontredderd. Ná ’n plaasaanval, besef Martie dat sy ’n plaasbestuurder sal moet aanstel, en só betree Dillon Geduld haar wêreld.
Sunet het van 2013 tot 2019 in Skotland gewoon waar haar man ’n predikant was. Haar kortverhale verskyn gereeld in tydskrifte en sy is die mede-outeur van ’n dagstukkieboek.
- Uitgegee deur LUCA, ’n onderafdeling van LAPA Uitgewers.
Voor dit te laat is deur Quintus van der Merwe

Quintus van der Merwe (Foto: Verskaf)
Genre: Fiksie
Prys R345
Ná ’n geheimsinnige operasie in Simonstad word ’n Suid-Afrikaanse akademikus in
België opdrag gegee om betrokke te raak by ’n joernalis uit Belarus. Sy is mooi, briljant, en waarskynlik ’n spioen.
By die Europese parlement kruis Lex de Lange se pad ook met dié van Alina, ’n tolk uit die Oekraïne. Hulle raak verstrengel in ’n dodelike spel van geheime, verraad en begeerte. Met oorlogswolke wat saampak en toenemende konflik tussen Rusland en NAVO, is die wêreldorde op ’n mespunt gebalanseer. Moeilike keuses oor lojaliteit, liefde en die lewe moet gemaak word.
Quintus is ’n voormalige diplomaat en verdeel sy tyd tussen Suid-Afrika en Europa. Voor dit te laat is, is sy vierde roman. Hy skryf ook Die blou van ons hemel (2007), In landsbelang (2010) en Om te lewe, om te sterwe (2022).
- Uitgegee deur Naledi.

Antjie se storie
In Meimaand se Lekker lees-rubriek vertel die ikoniese Antjie Krog waar haar liefde vir woorde vandaan kom, som haar outobiografiese roman, Binnerym van bloed op, en verduidelik hoekom sy sê dit is haar laaste boek. Lees gerus haar storie.
Lees ook: 10 redes waarom jy rooi rose se Mei-uitgawe móét lees!
Lees ook: Wen ’n R5 000-geskenkbewys van American Swiss om ’n geskenk vir Ma te kies!







