Verskaf deur kykNET
In die jongste episode van Lamb Champs: Die kuns van skaapboerdery (Wo. om 20:00 op kykNET) is dit Hennie se Hampshire Downs-skape wat nie net die kykers se harte wen nie, maar ook die algehele prys by die Vrystaat-weergawe van die Lamb Champs-kompetisie in Parys.
“Dié skape het ’n ontsettende vermoë om vinnig te groei; om die kos wat jy vir hulle gee, in vleis om te sit. Dis besonders,” verduidelik Hennie.
“Ek sê altyd: Dit voel of elke Hampshire ’n persoonlikheid het,” lag hy.
Van weer probeer, met jou gesin bankvas agter jou, hoef jy vir Hennie niks te vertel nie. Sedert hy in 2022 vir die eerste keer vir Lamb Champs ingeskryf het, het hy al 3de, 7de en 4de geëindig.
Dié keer was dit egter anders, toe hy en sy gesin eindelik met die louere weggestap het.
In die episode vertel Hennie roerend hoe sy pa alles verloor het toe hy 12 jaar oud was.
“Ons het baie plase gehad in Bethlehem, ons het groot geboer. Maar toe het hy alles verloor toe ’n oneerlike persoon vir hom siek beeste verkoop het,” onthou hy.
“Dit moes vir ons ’n inkomste gegee het, en ons kon toe nie ons rekenings betaal nie.”
Toe hy later weer begin boer, het hy en sy vrou, Liza-Mari, altyd grond gehuur tot hulle uiteindelik sowat sewe jaar terug ’n stuk grond van 6,6 ha. kon koop.
Hoewel dit nie die grootste stuk grond is nie, is dit hier waar hy met passie gedy.
“Vandag het ek meer as 800 skape op daai 6,6 ha. Daar is 500-600 skape in die voerkraal, waar jy min plek nodig het,” verduidelik hy.
“Maar ek is veral trots op die 300 diere wat in die stoet is. Want hulle moet éét. Jy moet vir hulle dekgewasse plant ens.”
Hennie glo werklik dat jy die beste moet maak met dit wat jy het. ’n Mens kan natuurlik groot droom, maar jy moet eers tevrede wees met die dinge wat jy reeds het.
Hennie se Zorro-stoet net buite Kroonstad is een van die grootste Hampshire Downs-boerderye in die land, aangesien nie baie mense in Suid-Afrika met dié skaperas boer nie.

Hennie Jonker en sy gesin. Foto: Verskaf
“Baiekeer is die enigste verskil wat ’n suksesvolle boer van die ander onderskei, die passie wat hy het.”
Dit is ook hierdie passie vir die boerdery en die buitelewe wat hy aan sy twee jong kinders, Liam en Miané, oordra.
“Ons het op ’n tyd so paar jaar in die dorp gebly, toe sê ek vir my vrou: ‘Ons kinders moet buite wees’,” sê hy.
“Dis baie belangrik. Ons het ook so groot geword. Jy het van kleintyd af vir die hanslammers melk gegee, ingeklim om die wol te trap. Wie het nog nie in mielies en koring gespeel nie?”
Hennie lag as hy vertel hoe Liam al op “so 4 of 5” trekker kon bestuur, maar eers ’n hele paar jaar later vir die eerste keer leer fietsry het.
“Ons wil hê ons kinders moet grootword op die platteland, soos ons grootgeword het.”
En dit is juis hierin waar soveel van Hennie se groot hart vir sy gesin en sy boerdery ontbloot word: Hy lewe voluit met ’n aansteeklike passie vir dit wat hy doen en ’n liefde vir die mense naaste aan hom.
Lamb Champs: Die kuns van skaapboerdery wys Woensdagaande om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144). Dit is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.
Lees ook: ‘n Kykgids vir Julie se kykNET-programme
