Deur Leandri de Kock
Almal ervaar tot ’n mate daaglikse stres, maar wanneer dit jou lewe begin oorheers, kan dit jou verhoudings, produktiwiteit en geestesgesondheid benadeel. Ons gesels met nicole jansen van rensburg oor wat ’n mens oor stres en angs moet weet.
Carmen du Toit het al van skooldae af gedink sy is dalk net oorsensitief en obsessief as dit by werk, oefening of verhoudings kom. Maar soos sy ouer geword het, het sy besef dat dit haar daaglikse lewe belemmer.
“Wanneer ek onder druk is, raak my humeur kort, ek oorreageer in die eenvoudigste situasies en dit voel heeltyd of ek wil huil. Dit alles gaan met min slaap gepaard, wat my permanent moeg en ongemotiveerd laat voel.
“Dis soos ’n put waarin jy val en later voel dit nie eens meer die moeite werd om uit dit te probeer klim nie.
“Ek het myself nog altyd as ’n ekstrovert-introvert beskou, maar ek het ’n paar jaar gelede omtrent ’n kluisenaar geword. Ek het weeksaande ná werk en oor naweke alleen agter toe gordyne gebly en min dinge het vir my werklik vreugde gebring. In plaas van om na dinge uit te sien, het dit my al hoe meer angstig begin maak en alles het soos ’n las begin voel. Insluitend ek.
“My ma het met my gepraat en ons het besluit dat dit nie meer so kon aangaan nie en dat ek hulp moes kry. Ek het toe professionele hulp gekry en met die hulp van ’n sielkundige en mediese dokter antidepressante en angsmedikasie begin gebruik.
“Die sessies met die sielkundige was vir my ’n goeie uitlaatklep en ek kon ná ’n ruk voel dat die sessies en medikasie werk.”
Finansies het haar egter gekortwiek en sy moes die sessies met die sielkundige staak. Sy het ook die medikasie ná ’n ruk gelos, maar besef nou dat sy weer dieselfde roete moet volg.
“Ek dink nie angs is iets wat jou werklik ooit verlaat nie, jy hanteer dit dalk net beter met medikasie,” sê sy.
“Ek is ’n groot voorstander van ’n positiewe denkwyse. Jy gee dit waaraan jy dink energie. Ek moes myself leer dat die probleme wat my angs veroorsaak relatief is – sodra ’n negatiewe gedagte of ’n swaar emosie oor my pad kom, is my eerste prioriteit om die oomblik te identifiseer. Sodra ’n mens dit kan uitken, is dit makliker om jouself uit die situasie te verwyder en om dit met kalmte en logika, eerder as met vrees, te benader.”
Wat is stres?
Stres is die liggaam se reaksie op gevaarlike situasies hetsy of dit werklik óf waargeneem is. As jy bedreig voel, vind ’n chemiese reaksie plaas wat jou toelaat om op ’n sekere manier op te tree wat beserings kan help voorkom. Hierdie reaksie staan as “veg of vlug” bekend.
Wat gebeur met my liggaam as ek stres?
Stres is soortgelyk aan die gevoel van bedreiging, wat dan veroorsaak dat jou senuweestelsel streshormone soos adrenalien en kortisol vrystel.
Dit maak jou liggaam reg vir noodaksie, wat veroorsaak dat jou hart vinniger begin klop, spiere saamtrek, sintuie verskerp, asem verkort en bloeddruk styg.
In noodsituasies bring dit fisieke verandering mee soos meer stamina en ’n vinniger reaksietyd. Dit verbeter ook jou fokus, wat vir baie mense voordelig is juis wanneer ’n situasie stresvol is.
Is daar ’n verskil tussen stres en angs?
Stres is iets wat alle mense van tyd tot tyd ervaar, wat dit algemener maak. Stres is geneig om op kort termyn plaas te vind en hou dikwels met eksterne snellers verband.
Angs is egter iets wat neig om meer aanhoudend te wees en nie noodwendig in die afwesigheid van eksterne snellers of stressors sal verdwyn nie.
Ervarings van stres en angs kan deur veelvuldige fisieke en geestelike simptome gekenmerk word.
Hanteer daaglikse stres só
- Oefen meer, maar kies oefening wat vir jou lekker is.
- Probeer joga vir ’n kalmerende oefening.
- As jy die heeldag voor ’n rekenaar sit, maak ’n gereelde opstaan, strek en rondbeweeg.
- Luister na strelende klanke, soos die klank van golwe of reën.
- Lees of kyk iets wat jou sal laat lag.
- Volg ’n gesonde dieet. Doen asemhalingstegnieke as jy gestres voel.
- Probeer alkohol vir ’n wyle uitsny as jy gestres is.
- Maak seker dat jy ná ’n sekere tyd in die aand nie meer na jou selfoon of e-posse kyk nie.
- Lees ’n boek.
- Begin ’n dagboek hou en skryf elke dag neer waaroor jy positief gevoel het.
- Bad met Engelse sout.
- Drink tee eerder as koffie.
- Gebruik essensiële olies soos laventel, kamille en sandelhout.
Lees ook: 14 redes hoekom jy sleg slaap en wat jy daaraan kan doen
