Deur Maretha Botes
Jou welvaart word bepaal deur die aantal bates wat jy bou met die geld wat jy verdien. Hier is raad oor hoe jy steeds wys kan spandeer wanneer dinge rof gaan.
Albert van Wyk, skrywer van die boek How To Become a Millionaire At 22, sê daar is ’n paar basiese beginsels wat elke mens moet toepas, selfs al druk die ekonomie, om seker te maak dat jy vooruit boer. Volgens hom is die eerste stap om jouself elke maand te betaal voordat jy enigiets anders met jou geld doen. Hy beantwoord ’n paar vrae:
Wat beteken dit om jouself eerste te betaal?
Dit beteken dat jy geld wegsit voordat jy dit op enigiets anders kan spandeer. Jy spaar aan die begin van die maand voor enige aftrekkings in plaas van om aan die einde van die maand ná al die aftrekkings te probeer spaar. Hier is drie stappe om jouself eerste te betaal:
1) Plaas ’n debietorder op jou rekening wat afgaan sodra jou salaris inbetaal word. Besluit op ’n bedrag wat jy sak pas en pas die bedrag aan soos jy kan.
2) Kies ’n vaste beleggingsfonds waar dié geld inbetaal word. Dit moet verkieslik ’n 30- of selfs 90-dae-fonds wees sodat jy nie die spaargeld weer dadelik kan onttrek nie. Vergeet van die geld nadat dit uit jou rekening is.
3) Pas die 70/30-reël toe. Ek het van hoërskooldae af die 70/30-reël toegepas. Ek het dus 70% van my inkomste in my toekoms belê en slegs 30% op myself spandeer. Ek hou vandag nog by die reël. Wanneer kan ek ’n nuwe kar koop? Wanneer my 30% genoeg is. Wanneer kan ek ’n nuwe horlosie of paar skoene koop? Wanneer my 30% genoeg is. Jy kan begin by dit wat jou pas, al is dit 10/90 (belê 10%, spandeer 90%). Verminder dan die spandeergedeelte elke maand en vergroot die beleggingsporsie. Dwing jouself om met minder klaar te kom en jou leefstyl aan te pas. Sonder ’n reël is dit maklik om jou lewenstandaard te lig bo dit wat jy kan bekostig. Deur elke maand ’n bedrag te belê, bou jy rykdom vir jou toekoms. Sodra die beleggingsfonds groter raak, begin jy die voordeel van saamgestelde rente geniet en sodoende begin jou geld eksponensieel groei.
Jou raad is om meer bates en minder laste te koop. Verduidelik?
Bates vorm die basiese grondslag vir rykdom en kan ook jou eerste stap wees om jou eie welvaart te skep. Kom ons kyk na die verskil:
Laste is enigiets waarop jy maandeliks geld uitgee, soos jou selfoonrekening, DStv of Netflix, ’n nuwe kar (of huis), tuindienste en spa-behandelings.
Bates is enigiets waarop jy maandeliks geld verdien, soos huurinkomste uit eiendom, ’n beleggingsfonds wat maandeliks groei of selfs ’n vaardigheid waarmee jy ’n ekstra inkomste verdien.
Baie mense spandeer eerste hul geld op laste. Kom maandeinde is daar bitter min of niks geld om weg te sit nie. Só kan jy nie werklik welvaart skep nie. Hou jou las so klein as moontlik. As jy ’n huis moet huur, kry die huis of woonstel wat jy kan bekostig.
Ek het ’n gesin finansieel afgebring wat hul groot gesinshuis verhuur het en vir ’n jaar in ’n woonwa agter in die erf gewoon het om hul skuld te delg.
Jy kan altyd ’n opoffering maak om welvaart te skep. Koop liewer ’n tweedehandse kar, want ’n splinternuwe kar verloor vinnig waarde. Koop die kleinste, goedkoopste wat jy moontlik kan kry die las so klein as moontlik te hou.
My raad is altyd om eerstens jou bates te koop; iets wat jou geld sal laat groei. Dit kan selfs wees dat jy ’n nuwe vaardigheid aanleer, of jou geld in ’n hoërentekoersbelegging wegsit. Só kan jy weer bates koop en die positiewe inkomstekringloop aan die gang hou.
