Verskaf deur VIA
Wanneer die woord “boerbok” opduik, dink ’n mens dalk eerste aan ’n astrante bok met gekromde horings en ’n voorliefde vir kwajongstreke. In die tweede seisoen van VIA se Boerbokke verwys dit egter na voormalige Springbokke wat hul rugbystewels vir plaasstewels en trekkers verruil het.
Met die oud-Springbok Breyton Paulse as veld-en-ateljee-aanbieder, kuier die reeks elke week by ’n voormalige Bok om oor sy rugbyloopbaan, boerdery en lewe ná professionele sport te gesels. Paulse, wat tussen 1999 en 2007 in 64 toetse gespeel en 26 drieë gedruk het, ontleed ook die naweek se rugby. Die Springbokke se vaskopstut Hempies du Toit (1981-1984), deesdae wynmaker van formaat, is Breyton se eerste gas.

Breyton Paulse. Foto: Verskaf
Die reeks val saam met die eerste Rugby’s Greatest Rivalry-toer, wat ook hierdie maand in Suid-Afrika plaasvind. Dié vierjaarlikse toer word afwisselend deur Suid-Afrika en Nieu-Seeland aangebied en sluit vanjaar agt wedstryde in.
In die onderstaande onderhoud vertel Paulse meer oor die nuwe seisoen, sy ontmoetings met die voormalige Bokke en wat kykers kan verwag.
Waaroor gaan Boerbokke en hoekom moet mense dit kyk?
Boerbokke bring rugby en boerdery bymekaar. Dis egte stories en gemaklike kuiers – iets vir rugbyliefhebbers sowel as diegene wat ook in boerdery belangstel – ’n lekkerkykreeks vir ’n breë gehoor.
Elke plaaskuier tot dusver was anders en uniek, en ons pak elke dag aan soos hy kom. Dis juis die idee om regtig te sien hoe die Boerbokke elke dag se uitdagings takel, of dit nou goed of sleg, besig of stil is.
Ons vier die manne se lewens en hul loopbane. Dis lekker om te sien wat hulle oor die jare ná hul roem op die rugbyveld bereik het, en ook hoe passievol hulle steeds oor die lewe is.
Benewens plaaskuiers gaan ek ook weekliks ’n bietjie kommentaar lewer oor die Greatest Rivalry-toer met die All Blacks wat nou hier is.
Jy en die Bokke in gesprek maak sin. Het jy self ’n belangstelling in boerdery en waar kom dit vandaan?
Ek het op ’n vrugte-en-groente-plaas in die Koue Bokkeveld grootgeword – ’n plek wat na aan my hart is. Wanneer ek tyd kry, gaan kuier ek graag daar. Ek was ook destyds op ’n plaasskool, tussen sout-van-die-aarde-kinders en -mense.
My lewe deesdae is dikwels ’n dolle gejaag tussen stadions en uitsaai-ateljees. Op die plase voel dit vir my asof ek weer kan asem skep. Ek geniet die spasie en stilte. ’n Mens het nodig om soms net stil te staan en weer die natuur te waardeer.
Ons het jou al sien bollemakiesie slaan op die veld nadat jy ’n drie aangeteken het, natuurlik tot groot ontsteltenis van die afrigters, maar tot groot vermaak van die skare. Vertel vir ons ’n bietjie hoe moeilik (of maklik?) dit vir jou was om daardie uitbundige viering te demp. En wat maak jou deesdae net so opgewonde?
Vir ’n oomblik daar het ek gewonder of jy my gaan vra of ek dit nog steeds kan doen!
Die bollemakiesie kom van die plaas af – al my plaasmaats kon dit doen. Toe ek destyds my debuut teen Italië gemaak het en my derde drie gedruk het, het daardie einste plaasgevoel na my teruggekom. Dit was ’n erkenning van my wortels en die mense wat my geslyp het. Van toe af het dit maar net ’n ding geword.
Rugby is maar ’n passievolle affêre – of jy nou self speel of die spanne ondersteun soos net ons Suid-Afrikaners kan. Daardie oomblikke op die veld, wanneer ’n mens in die oomblik is – dis moeilik om dit vir iemand te beskryf. Vandag voel ek daardie selfde opgewondenheid as ek na die nuwe generasie spelers kyk.
Selfs by die Boerbokke by wie ek gaan kuier het, het ek gevind dieselfde passie is steeds daar. Ek dink nie ’n mens sal dit ooit kan demp nie.
Jy’s ook ’n raakvatter agter die mikrofoon en op die kassie. Maar hoe voel dit om nou op hierdie manier saam met die hardebaarde wat menige opponent op die rugbyveld laat les opsê het, te kuier?
Ons is almal deel van die Bokfamilie. Ons het almal iets in gemeen en daar is wedersydse respek. Ek ken ook al die manne en ons kan sommer dadelik begin gesels oor die stories wat ons onthou asook die spesiale oomblikke en staaltjies wat ons kan deel.
Wat maak hierdie Bokke ook suksesvol op die plaas? Is daar een gemene deler uit hul seisoene op die sportveld of bring elkeen hul eie unieke karakter na die boerdery?
Elkeen se storie is anders, maar ek dink wat uitstaan, is dat hulle die waarde van spanwerk, harde fisieke werk op die plaas en vasbyt sien.
Baie van hulle het al groot teleurstellings en moeilike tye op die plase gehad – dit verskil nie juis veel daarvan as om ’n rugbywedstryd te verloor nie. Jy leer om altyd weer op te staan en uit jou foute te leer.
Wat is jou verwagtinge en voorspellings vir die Greatest Rivalry-toer waartydens die All Blacks vir die volgende paar weke teen die Bokke en streekspanne te staan gaan kom?
Na my mening word ons as Springbokke gemeet teen ons aartsvyande. Die toernooi is van groot belang vir die land, die spelers en ondersteuners.
Die feit dat ons die gunstelinge is, maak dit nogal ingewikkeld en die verwagtinge is ook hoog. Baie ondersteuners is positief dat ons die reeks gaan beklink. Die All Blacks is nou in ’n bouproses, maar ons moet hulle nie onderskat nie.
Ons sal nederig moet bly en ek reken dit gaan moeiliker wees as wat ons dink. Natuurlik gaan daar drama wees – of dit nou skeidsregterbeslissings of spankeuses is – enigiets kan gebeur. Maar as ons tot ons volle potensiaal speel, kan ons die reeks wen.
Hoe voel die vervaardigers oor Breyton en die Boerbokke?
Werner Scholtz en Ronel Botha van Brand Republic is ook baie opgewonde daaroor om Boerbokke saam met Breyton te vervaardig.
“Om saam met Breyton te werk, is ’n groot voorreg. Die gesprekke is so gemaklik, en hy werk met soveel deernis vir die Boerbokke en hul families wat ons ontmoet. Die stoppe langs die pad is soms ’n bietjie uitdagend (maar spesiaal) wanneer mense hom herken en groet! En hy het altyd tyd daarvoor.
“Ons moes nou die dag ’n draai ry van die plaas af tot op die dorp in Kroonstad omdat die plaaslike slaghuis vir hom biltong en droëwors ingepak het toe hulle hoor hy is in die omgewing. Mense oraloor het respek vir hom.
“Ons hoop die kykers geniet die program net so baie soos wat ons geniet om dit te vervaardig.”
Boerbokke, wat uit ses episodes bestaan en deur Vleissentraal geborg word, begin op 11 Augustus en word Dinsdae om 19:00 op VIA uitgesaai.
