Deur Maryke Roberts
Veelsydigheid is vandag die wagwoord in die Suid-Afrikaanse teaterlandskap. Akteurs vervaardig, regisseer en open selfs hul eie teaters omdat die staatskrane lankal vir die kunste toegedraai is.
Een van die mense wat die teaterwêreld onselfsugtig dien, is die akteur, vervaardiger en entrepreneur, Sue Diepeveen. As eienaar van The Drama Factory in die Strand, het sy in 2017 ’n onontbeerlike platform vir kunstenaars geskep.
Sy het pas haar eerste speelvak by die Vrystaat-kunstefees met ’n nuwe solovertoning, Ms. B-haved, agter die rug en staan nou reg as gasvrou van die eerste Teater op Toer, ’n reisende teater wat van 12 tot 23 Augustus eers in die Strand en dan op Paternoster te sien sal wees.

Johan van der Merwe en Sue Diepeveen by die opening van die eerste Teater op Toer by The Drama Factory. Foto: Verskaf
Die produksie, met Natasha Sutherland in haar debuutrol as regisseur, sny tot op die been van onderwys se uitdagings. Sue speel mev Sally Burkett, ’n geliefde veteraan-onderwyseres met 30 jaar se ondervinding, wat skielik geskors word. Dis ’n skreeusnaakse maar menslike kykie na die chaos van nuwe-era-ouers, veranderende skoolbeleide en die hel van Zoom-lesse.
Hierdie rol is die perfekte uitvloeisel van Sue se eie waarnemings uit haar vroeëre onderwysdae. Sy het haar dramastudies in die laat jare tagtig begin by die Performing Arts Workshop (PAW) – die land se eerste nasionale nie-rassige teaterskool – waarna sy haar tegniek in Engeland aan die London Academy of Performing Arts en Trinity College of London gaan verfyn het.
Met haar terugkeer na Suid-Afrika het sy haar passie vir die bedryf uitgeleef deur ’n reuse- dramastudio met honderde skoliere te bestuur en jong talent vir nasionale eisteddfods af te rig. Hierdie jare lange intieme verbintenis met die onderwyswêreld as kurrikulum-onderwyseres sou later as ’n ryk bron van inspirasie vir haar eie kreatiewe werk dien.
Op 40 het sy besluit om voltyds toneel te speel en lesers sal haar in onder meer Skoonheid (2011), Honey 3: Dare to Dance (2016) en Projek Dina (2020) gesien het. Sue is ook ’n gesogte stemkunstenaar.

Sue Diepeveen. Foto: Verskaf
Sy het nege jaar gelede The Drama Factory gestig, en wat aanvanklik net ’n droom was van ’n bekostigbare, intieme en professionele teaterruimte in die Helderberg, is vandag een van die gewildste onafhanklike teaters in die streek. Dit bied verskeie opleidingsgeleenthede, waaronder ’n teater-beligtingsprogram. Haar verbintenis met organisasies soos die Anna Foundation en Masikhule, help skep geleenthede vir jong teatergangers en sy skep ook produksies soos What Did The Fox Say? wat deur die departement van sport, kuns en kultuur geborg is.
Haar werk agter die skerms het reeds hoë lof en amptelike erkenning ingepalm. Sy het die Standard Bank Ovation-toekenning twee maal ontvang as regisseur van die produksie Your Perfect Life (vervaardig deur F Creations) – die eerste vir die lewendige debuut in 2019 en die tweede vir die aanlyn aanbieding in 2021. Haar gewilde kinderproduksie, Die keiser se nuwe klere, wat sy self geskryf, geregisseer en vervaardig het, is ná ’n uitverkoopte speelvak in 2024 vir ’n gesogte Woordtrofee by die Stellenbosch-woordfees benoem.
As teater-eienaar en vervaardiger sonder sy ’n hoogtepunt in Junie 2021 – te midde van die streng Covid-inperkingsregulasies – uit, toe sy haar teater as tuiste aangebied het vir die wêreldpremière van The Unlikely Secret Agent – The Eleanor Kasrils Story. Die stuk is op Ronnie Kasrils se gelyknamige boek gegrond en vir die verhoog deur Paul du Toit aangepas. Dit het agt Fleur du Cap-benoemings ontvang.
Die afgelope jaar is sy te sien in die bekroonde stuk Prooi/Prey wat op mensehandel fokus. Sy speel die rol van Imelda, die sindikaatbaas. Dit het ’n Naledi-toekenning saam met Leftfoot Productions gewen.

Prooi/Prey se plakkaat. Foto: Verskaf
In Grenslig wat ook by die Vrystaat-kunstefees gedebuteer het, speel sy die rol van die ma wat haar hele gesin verloor het. Een is dood, die res is onbekend.
Teater op Toer is nou haar fokus. Prooi/Prey sal opgevoer word, maar sy is veral opgewonde oor nog ’n Naledi-bekroonde stuk, Trans/Vaal, wat op die program is. Sy bied Teater op Toer in ’n kruisprovinsiale samewerking tussen Left Foot Productions van Gauteng (onder leiding van Johan van der Merwe, Ignatius van Heerden, Lihan Pretorius en prof Marié-Heleen Coetzee) aan.
Vrae aan Sue:
In ’n bedryf waar staatsondersteuning skaars is, is jy naas akteur ook teater-eienaar en vervaardiger en medestigter van Teater op Toer. Wat beteken dit vir jou as vrou in dié teaterlandskap om self die stuurstang vas te hou en ruimtes vir ander te skep?
Toe ek The Drama Factory begin het, souek nooit droom dat dit so ’n spesiale plek word nie. Ek wou bloot ’n plek hê om die soort werk waarvan ek hou aan te bied. Stel jou dus my verbasing voor toe dit ’n veilige hawe vir kunstenaars geword het! Ons is bekend daarvoor dat ons werk van hoë gehalte aanbied van sowel gevestigde kunstenaars en dié wat nog hul loopbane bou. Ons personeelkorps bestaan ook hoofsaaklik uit vroue, en ek is baie trots daarop. Ek het inspirasie geput by ander vroulike kreatiewe denkers. Baie teaters en feeste word deur vroue bestuur, en mense soos Daphne Kuhn (Sandton On The Square), Margit Rödenbeck-Meyer (Die Boer), Hayley Evan (PopArt) en Cornelia Faasen (Nati) was só vrygewig met hul tyd, raad en ondersteuning, dat ek nooit eens getwyfel het of dit moontlik sou wees nie.

Sue Diepeveen in Prooi/Prey. Foto: Verskaf
As iemand wat onselfsugtig veg vir die kunste, hoe sien jy die huidige stand en toekoms van onafhanklike teater in Suid-Afrika?
Ek dink ons teaterlandskap is só ryk en veelsydig in aanbiedings dat dit ’n ideale omgewing skep waarin almal kan deelneem. Hoewel produksies met groot begrotings vanselfsprekend ’n voorsprong het, sien ons baie vertonings met beperkte begrotings wat tog suksesvol is. Dis belangrik om werk te skep wat vir jou persoonlik betekenisvol is, eerder as om bloot te maak waarvoor die publiek bereid is om te betaal.
As daardie twee doelwitte saamval, het jy die ideale situasie. Suid-Afrikaners was nog altyd mense van aksie, en die teaterwêreld is geen uitsondering nie. Dit is ontmoedigend om te sien dat fondse – wat talle mense in die kunste kon ondersteun – eerder vir die bywoning van sokkerwedstryde aangewend word. Hoewel daar wel befondsing beskikbaar is, is dit dikwels onvoorspelbaar; soms word dit eers agterna toegeken, wat groot onsekerheid laat: Sal die geld wel betaal word, of het die kunstenaar moed opgegee en nie aan die fees deelgeneem nie?
Die aansoekproses vir befondsing verg baie tyd, en ek sien dikwels hoe kunstenaars alternatiewe maniere vind om hul werk te finansier: ’n Proses wat tegelykertyd bemoedigend én frustrerend is. Ek hoop dat kunstenaars voortaan meer uitgesproke oor hul regte sal wees, en ek loof organisasies soos die South African Guild of Actors, wat daagliks vir ons belange veg. Elke kunstenaar behoort deel te wees van ’n organisasie, wat in die parlement vir hulle in die bres sal tree.

Sue Diepeveen in So You Want to Be A Trophy Wife. Foto: Verskaf
Jou nuwe solovertoning Ms. B-haved put inspirasie uit jou eie vroeëre onderwysdae. Hoe het jou eie ervaring in die klaskamer hierdie rol gevorm, en wat maak hierdie verhoogstuk vir jou so spesiaal?
Ek sou ’n hele reeks kon skryf oor my eie ervarings ná soveel jare in die tuig, maar ek het ook met onderwysers gesels wat steeds in die klaskamer staan. Ek het besef dat daar baie mense is wat desperaat probeer byhou by nuwe neigings en praktyke, in die klaskamer en tuis. Covid was ook ’n ware openbaring; ek het gesien hoe onderwysers wêreldwyd ’n onmiddellike transformasie ondergaan om die kinders deur die pandemie te kry – en steeds hul verstand te behou!
Ons is ons onderwysers baie verskuldig en dit het my laat dink: Wat as jy nie tegnologies vaardig is nie, en daar 30 kinders én 60 ouers is wat wag dat jy Zoom bemeester en jou skerm deel met ’n les wat jy op wonderbaarlike wyse op Canva aanmekaargeslaan het? Ek beskou onderwysers as superhelde, en hierdie produksie is ’n huldeblyk aan hulle. Ek en my wonderlike regisseur, Natasha Sutherland, hoop dat diegene wat tans in die “loopgrawe” van ouerskap met jong kinders verkeer, dit sal geniet. Dit verg immers ’n gemeenskap om kinders groot te maak.

Sue Diepeveen in Ms. B-haved. Foto: Verskaf
Jy het op 40 die brawe besluit geneem om voltyds te begin toneelspeel en sedertdien ’n indrukwekkende lys rolle opgebou. Watter raad het jy vir vroue oor die waagmoed om op enige ouderdom ’n nuwe hoofstuk aan te pak?
Vroue volg dikwels ’n pad wat deur ander bepaal word. As deel van die “toebroodjiegenerasie” – vasgevang tussen kinders en bejaarde ouers – bly daar min tyd oor vir selfsorg. Ek het my kinders jonk gehad, maar danksy baie energie en ’n hardwerkende ingesteldheid, het ek my passie gevolg toe hulle ouer geword het. Dit het onverwagse sukses behaal.
Hier is my raad:
- Neem klein treetjies: Toets eers die water in die onbekende sodat die uitdaging minder oorweldigend voel.
- Rus jouself toe en kry ondersteuning: Leer nuwe vaardighede aan en kry jou familie se ondersteuning. Ek het self beligting aangeleer en skroom nie om selfs toilette skoon te maak nie. Dis goed om elke aspek van jou onderneming te verstaan.
- Glo in jouself: Skryf jou doelwitte in ’n joernaal neer en gun jouself genade. ’n Mislukking in een gedeelte maak jou nie ’n totale mislukking nie.
- Bou ’n finansiële veiligheidsnet: Hou ’n bietjie kontant eenkant vir finansiële onafhanklikheid sodat dit makliker is om die groot sprong te neem.

Sue Diepeveen in Grenslig by Vrystaat Kunste Fees 2026. Foto: Verskaf
Met Teater op Toer wat nou in die Strand onderweg is en dan na Paternoster reis, met ‘n ryk verskeidenheid produksies op die program, waaroor in die lewe en in jou loopbaan is jy tans die mees opgewonde?
Beslis die toneelspel. Dis tegelykertyd angswekkend én opwindend, maar baie bevredigend om die uitwerking op ’n gehoor te sien. Ek beskou dit as ’n gawe wat ek kan deel, en ek is dankbaar dat ek deel van hierdie beroep kan wees. Ek is ook baie lief vir regie en hoop om ’n projek aan te pak waarin ek dit meer kan verken. Hoewel ek die afgelope tyd wel ’n bietjie geskryf het, dink ek voortdurend nuwe projekte uit en moet ek net tyd vind om dit neer te pen.
- Bespreek jou kaartjies vir Teater op Toer in die Strand en Paternoster by The Drama Factory – www.dramafactory.co.za en Die Koelkamers – www.diekoelkamers.com
- Bespreek kaartjies vir Ms. B-haved by Sandton On The Square 15-19 September
https://www.webtickets.co.za/v2/event.aspx?itemid=1596710096 en die Toyota Stellenbosch Woordfees 4, 5 & 6 Oktober by https://www.quicket.co.za/events/380026-ms-b-haved/#/
