Verskaf deur VIA
Bobby van Jaarsveld, Kabous Meiring, François Jacobs, Efraine du Toit en Herman Lensing is van die groot name wat in September nuwe stories na VIA (DStv-kanaal 147) bring.
· Vier splinternuwe reekse – Ons gesels gesondheid, Tafel-toere, Keyter vir almal en Padel in die bloed – begin dié maand.
· Moederskap, huisprojekte, gesondheid, gemeenskapswerk, erfeniskos, inklusiewe stories en ’n landwye padel-avontuur maak VIA jou móét-kyk vermaakbesteming in September.
Groot name kom dié lente na VIA: Bobby van Jaarsveld pak die land se dorpe aan, Kabous Meiring plaas gesondheid onder die vergrootglas, François Jacobs sit hand by met gemeenskapsprojekte en Herman Lensing dek ’n erfenistafel vol onthoukos.
Saam met Efraine du Toit, Leon Gropp, JP Keyter, Sumarie Jordaan en VIA se nuwe Landbouweekliks-aanbieder, Theodore Jantjies, bring hulle ’n September-skedule wat van die kombuis en wildtuin tot klein dorpe, gesinshuise en padelbane strek.
‘Wat ’n ma moet weet’
Die grimeerkunstenaar en Op my eish!-deelnemer (2021) Efraine du Toit het pas weer ma geword. Sy keer terug vir ’n tweede seisoen van Wat ’n ma moet weet, ’n geselsprogram waarin bekende ma’s oop en eerlik oor die uitdagings, verrassings en werklikheid van moederskap praat.
Die reeks skep ruimte vir gesprekke sonder ’n perfekte-ma-filter en herinner kykers dat elke ma se ervaring anders lyk.

· Die reeks van 10 episodes, met BestMed as hoofborg, begin op 3 September en word Donderdae om 20:00 uitgesaai.
‘Huis SOS’
Die liedjieskrywer en kitaarspeler Leon Gropp rol weer sy moue op vir ’n tweede seisoen van Huis SOS, die huis-en-tuinreeks waarin hy bekende Suid-Afrikaners met ’n selfdoen-uitdaging in hul eie huis bystaan.
Van Leon se gaste sluit in Jan Blohm, Angelique Gerber, Francois Jacobs, Hannelie Warren, Pieter Smith en sy gesin, Marno van der Merwe, en Bismarck du Plessis en sy gesin.
Elke projek bring praktiese idees, probleemoplossing en die bevrediging van ’n taak wat behoorlik aangepak en afgehandel word.
· Die reeks van 13 episodes, met INGCO Tools as hoofborg, begin op 4 September en word Vrydae om 18:00 uitgesaai.
‘Ons gesels gesondheid’
Dié maand in Ons gesels gesondheid deel vier mense hul inspirerende verhale van diagnose, behandeling en herstel. Kabous Meiring gesels met pasiënte en kundiges van Morton & Partners oor fibrome, retinoblastoom, nierkanker en voorkomende gesondheidstoetse.
Die sjef Yolani Abrahams sluit elke episode af met ’n heerlike Pink Lady-appelgereg en gesonde leefstylwenke. Dis ’n hoopvolle reeks oor moderne medisyne, ingeligte keuses en die pad na beter gesondheid.
· Die reeks van vier episodes, met Morton & Partners as hoofborg en Pink Lady®-appels as medeborg, begin op 10 September en word Donderdae om 18:00 uitgesaai.
‘Dorpie-doenlys’
Bobby van Jaarsveld neem die voortou in Dorpie-doenlys en nooi kykers saam op ’n onvergeetlike reis deur Suid-Afrika se mooiste dorpe en versteekte juwele.
Van walvisse, pikkewyne en fynbos in Gansbaai tot seekoeie in St. Lucia, Clarens se berge, die natuurlewe van Hoedspruit en Phalaborwa, Stanford se plaaslike geure en die avonture van Cullinan, Pretoria en die Limpopo-Bosveld – Bobby se kenmerkende sjarme, humor en spontane persoonlikheid maak elke bestemming ekstra besonders.
Beleef plaaslike stories, egte gasvryheid en groot avonture saam met een van Suid-Afrika se grootste sterre.

· Die reeks van 13 episodes begin op 10 September en word Donderdae om 20:30 uitgesaai.
‘Tafel-toere’
In die nuwe reeks Tafel-toere reis François Jacobs saam met Round Table Southern Africa na verskillende dorpe en gemeenskappe om hul mooi én hul uitdagings te leer ken.
Elke episode begin by dit wat ’n plek besonders maak en beweeg dan nader aan ’n plaaslike behoefte en die mense wat reeds werk om ’n verskil te maak. François kyk nie bloot van die kantlyn af nie: hy spring in, help met die projek en ontmoet die gemeenskapslede wie se lewens daardeur geraak word.

· Die reeks van vyf episodes, wat deur Round Table en SANBS moontlik gemaak word, begin op 16 September en word Woensdae om 18:00 uitgesaai.
‘Herman se erfenistafel’
As ekstra bederf kry kykers ’n spesiale bonusepisode van die baie gewilde Herman se halfuur. Herman Lensing vier Erfenismaand met Herman se erfenistafel – ’n tafel vol bekende geure,
onthoukos en vars kinkels. Op die spyskaart is onder meer komkommerstolslaai, aartappels met bier, gebraaide preie met roomsous, vark-en-pekaneutterrien, Toeka se tasselvleis en ’n plat lamsboud van die vuur af.

· Dié spesiale episode word op 19 September om 19:00 uitgesaai en dit word deur Food Lover’s Market moontlik gemaak. Met heruitsendings op 20 September om 21:00, 23 September om 20:00 en 24 September om 21:00.
‘Keyter vir almal’
Die wildtuin word ’n geselskamer in Keyter vir almal, ’n nuwe reeks waarin die nuus-en-sportaanbieder JP Keyter 13 gaste vir openhartige gesprekke in die natuur verwelkom.
Die reeks het ’n sterk Oos-Kaapse hart en bring verhale uit sport, sake, opvoeding, bewaring, gesondheid en gemeenskapswerk bymekaar. Onder die gaste tel die voormalige Bok-afrigter Peter de Villiers, renosterbewaringsaktiviste Johan en Susan Lottering, dr. Yolanda van der Merwe, die rapkunstenaar Stylo Windvogel en natuurbewaarder Justin Terblanche.

· Die reeks van 13 episodes, met Value Added Life as hoofborg, begin op 22 September en word Dinsdae om 19:00 uitgesaai.
‘Verander jou siening’
Die motiveringspreker en voormalige Mej. Dowe SA-finalis Sumarie Jordaan keer terug met ’n tweede seisoen van Verander jou siening, die menslike doku-realiteitsreeks wat bekendes nooi om iemand wat ánders bekwaam (differently abled) is, se wêreld van binne te ervaar.
Sumarie bring dié seisoen bekendes soos Liam Bosman, Francois van Coke, Cintaine Schutte en Elandré Schwartz na Suid-Afrikaners met gestremdhede, onder wie ’n Paralimpiese swemmer, mondskilder, komediant, wynkenner en onderwyseres.
Die bekende gas is nie bloot ’n toeskouer nie, maar neem aktief aan die persoon se dag deel. Só ontstaan eerlike gesprekke, humor, soms ongemak en uiteindelik groter begrip.
Sumarie se eie lewenservaring en haar besondere band met haar tweelingsuster, Elanza, gee die reeks ’n diep persoonlike hart en ’n sterk boodskap oor menswaardigheid en vermoë.

· Die reeks van 10 episodes, met Fairtree as hoofborg, begin op 25 September en word Vrydae om 20:00 uitgesaai.
‘Padel in die bloed’
Twee geslagte, een passie. In die nuwe reeks Padel in die bloed toer pa en seun Corné en Morné Liebenberg deur Suid-Afrika om ander pa-en-seun-pare op ikoniese padelbane uit te daag.
Vir Corné gaan die reis oor kosbare tyd en lewenslesse saam met sy seun; vir Morné is dit ’n toets op pad na sy groot sportdrome. Benewens die wedstryde volg kykers hul oefening, dieet, kopwerk en pa-en-seun-dinamika, terwyl elke dorp sy eie mense en padelkultuur onthul.
Die roete strek oor 13 bane, van Dullstroom en Hoedspruit tot Jeffreysbaai, met ’n Kampioen-van-Kampioene-eindronde by Zorgvliet in die Wes-Kaap.
· Die reeks van 13 episodes, met Laeveld Agrochem as hoofborg, begin op 27 September en word Sondae om 20:00 uitgesaai.
Nog soveel meer om na uit te sien op VIA
Op VIA se Vrydagaandspyskaart word die vasvraprogram Slim vang sy baas: Musiek om 17:00 en die boeiende maatsoekreeks Hart op soek om 20:30 uitgesaai.
Die braaivure bly ook brand wanneer Kom ons braai:Familie en vriende op 19 September met ’n 22ste seisoen terugkeer. Die reeks van 13 episodes, met Chimney Champs as hoofborg, word Saterdae om 20:00 uitgesaai.
En vanaf 28 September is Wie weet wat? se sesde seisoen Maandae tot Donderdae om 17:00 te sien.
Al die programme is op VIA, DStv-kanaal 147, te sien, met heruitsendings deur die week. Besoek www.viatv.co.za vir die volledige uitsaaiskedule.
