Verskaf deur Tribeca Public Relations
Suid-Afrikaanse vroue leef langer as mans. Volgens Statistiek Suid-Afrika is die lewensverwagting vir vroue tans ongeveer 69,6 jaar, vergeleke met 64 jaar vir mans. Maar om langer te leef, beteken nie noodwendig om gesonder te leef nie.
Kundiges verwys hierna as die “morbiditeit-mortaliteit-paradoks”: vroue leef gewoonlik langer as mans, maar bestee dikwels ’n groter deel van hul latere jare daaraan om chroniese gesondheidstoestande te hanteer soos hoë bloeddruk, diabetes, hartsiektes en osteoporose. Kankersoorte soos bors- en servikskanker kan ook sonder duidelike simptome ontwikkel, wat gereelde gesondheidsondersoeke belangriker as ooit maak.
Die goeie nuus is dat baie van hierdie toestande voorkom, vertraag of meer suksesvol behandel kan word as dit vroeg opgespoor word.
“Dit is hier waar ’n begrip van ‘gesondheidsduur’ (healthspan) belangrik word,” sê dr Themba Hadebe, die kliniese uitvoerende hoof by Bonitas. “Lewensduur verwys na hoe lank jy leef. Gesondheidsduur gaan oor hoeveel van daardie jare in goeie gesondheid deurgebring word – jare waarin jy aktief en onafhanklik bly en die lewe kan geniet. Ons doelwit behoort nie bloot te wees om jare by ons lewe te voeg nie, maar om gesonde jare by te voeg.” En hier is hoe dr. Hadebe voorstel dat jy dit kan bereik.
Maak voorkoming deel van jou roetine
Baie van die gesondheidstoestande wat met ouderdom meer algemeen voorkom, ontwikkel geleidelik en veroorsaak dikwels nie wesenlike simptome totdat komplikasies ontstaan nie. Daarom is gereelde voorkomende siftingstoetse een van die beste maniere om jou gesondheid op die duur te beskerm.
Pleks daarvan om te wag totdat jy sleg voel, kan jy jou jaarlikse ondersoek gebruik om potensiële gesondheidsrisiko’s vroegtydig te identifiseer en op te tree voordat dit ernstiger raak.

Jy kan jou jaarlikse ondersoek gebruik om potensiële gesondheidsrisiko’s vroegtydig te identifiseer en op te tree voordat dit ernstiger raak. Foto: Mart Production, Pexels
Gesondheidstoetse waarvan elke vrou moet weet
Namate jy ouer word, moet jy met jou gesondheidsorgverskaffer praat oor die siftingstoetse wat by jou ouderdom en risikofaktore pas. Dit kan die volgende insluit:
- Toetse vir bloeddruk, cholesterol en bloedglukose vanaf die ouderdom van 40.
- Sifting vir servikskanker (papsmere) soos deur jou gesondheidsorgverskaffer aanbeveel.
- Mammogramme vanaf die ouderdom van 40, afhangende van jou persoonlike en familiegeskiedenis.
- Beendigtheidskanderings ná menopouse, of vroeër indien jy ’n verhoogde risiko vir osteoporose het.
- Jaarlikse welstandbeoordelings om jou algemene gesondheid te evalueer en enige veranderinge of bekommernisse te bespreek.
“Ons vermy dikwels siftingstoetse omdat ons dink dat dit wat ons nie weet nie, ons nie kan skade doen nie,” sê Hadebe. “Ongelukkig is die teenoorgestelde dikwels waar. Sifting help om gesondheidsprobleme op te spoor voordat dit moeilik raak om te hanteer, wat jou meer behandelingsopsies en ’n beter gesondheidsuitkomste bied.”
Gesonde gewoontes is ook belangrik
Gereelde siftingstoetse is slegs een deel van gesonde veroudering. Vroue behoort ook voorkeur te gee aan:
- Gereelde fisieke aktiwiteit, insluitend krag- en weerstandsoefeninge.
- ’n Gebalanseerde, voedsame dieet.
- Slaap van goeie gehalte.
- Die hantering van stres.
- Die vermyding van tabak en die beperking van alkoholinname.
“Die lewe hoef natuurlik nie vervelig te wees nie,” voeg Hadebe by. “Om jouself af en toe so bietjie te bederf, doen meer goed as kwaad.”

Gesonde gewoontes kan jou jonk hou. Foto: Vlada Karpovich, Pexels
Maak gebruik van voordele vir voorkomende sorg
Baie mediese skemas bied voordele vir voorkomende gesondheidsorg wat lede aanmoedig om op hoogte van hul gesondheid te bly. Dit sluit dikwels jaarlikse welstandsondersoeke in, sowel as ouderdomsgepaste voorkomende sorg soos papsmere, mammogramme, beendigtheidstoetse en ander aanbevole gesondheidstoetse. Bonitas bied ook welstand- en vrouegesondheidsprogramme aan wat ontwerp is om lede deur verskillende lewensfases te ondersteun.
Aangesien Augustus Vrouemaand is, is daar geen beter tyd om jou eie gesondheid eerste te stel nie. Moenie wag totdat simptome verskyn voordat jy optree nie. Deur jou jaarlikse welstandsondersoek te bespreek en op hoogte te bly van aanbevole gesondheidstoetse, kan jy help om potensiële probleme vroegtydig op te spoor, behandelingsuitkomstes te verbeter en jouself die beste kans te gee op meer gesonde, aktiewe jare.
Jou toekomstige gesondheid begin by die besluite wat jy vandag neem. Reël jou ondersoek, ken jou gesondheidsgetalle en maak voorkomende sorg deel van jou roetine.
