Met die aanbreek van herfs waai winde van verandering verwoestend deur Ruiterbosch, die fiktiewe Kaapse woonbuurt waar die kykNET-sepie Suidooster afspeel.
Met die afskop van Suidooster se 12de seisoen in Maart vanjaar breek daar ook ’n nuwe era aan want talle van Ruiterbosch se jarelange inwoners word deur belangrike toekomsbesluite in die gesig gestaar soos wat die tektoniese plaat van onverwagte kinkels skuif.
Soos die Suidoos deur die Kaapse strate loei, so word verhoudings getoets, ou wonde oopgekrap, harte gebreek, agterbakse gedrag geopenbaar en dan is daar ook die moontlikheid van verlies . . .
Hier is vyf kinkels waarvoor kykers hulself moet voorberei:
-
Angie, Wade en Zoe: ’n Liefdesdriehoek wat net nie verdoof nie
Net toe dit lyk of Angie (Char Carrie) en Zoë (Lauren Joseph) die strydbyl begrawe het, is die gort sommer gou weer gaar omdat Zoë sukkel om haar ware gevoeles vir Wade (Dean Smith) te verbloem.
Alhoewel Angie en Wade probeer om hul verhouding te versterk, bly wantroue soos ’n donker skadu oor hulle hang. Boonop besluit Zoë dat sy ten alle koste enigiets sal aanvang om Wade by Angie af te rokkel.
Ja, dis nie die eerste keer dat dié twee hul naels vir mekaar oor Wade wys nie, maar op die ou einde van die dag kan Wade se hart net aan een – of dalk nie een van hulle nie – behoort. Boonop speel al hierdie drama af terwyl Wade die kans van ’n leeftyd kry wat sy toekoms in ’n nuwe rigting kan stuur. Die vraag is net: Gaan dit met of sonder Angie of Zoë aan sy sy gebeur?
-
Linda se baba – wag daar babatreetjies of ingrypende groot stappe op Susan en Elana?
Linda (Melissa Willering) se wêreld stort in duie wanneer sy weer haar aanvaller raakloop en alles onthou wat gebeur het. Ná haar aanvanklike planne om die baba self groot te maak – met Bennie (Richard September) wat selfs met haar sal trou – verander sy egter van koers.
Die trauma is te vars, die pyn te groot. Wanneer haar babatjie gebore word, besluit Linda om eerder terug te keer Johannesburg toe en sy vra vir Susan (Natasha van der Merwe) en Elana (Esther van Waltsleben) om haar dogtertjie aan te neem.
Wat volg is ’n nuwe hoofstuk vol liefde, maar beslis nie sonder uitdagings nie. Susan en Elana moet hul voete as nuwe ouers vind, terwyl werk en verantwoordelikhede van alle kante druk. En dan neem die twee ’n drastiese besluit . . .

-
Rhafiek se stryd
Wat begin as ’n oënskynlik onskuldige oorontsteking vir Rhafiek (Irshaad Ally) ontaard in ’n skokkende diagnose.
Hy probeer sy toestand geheim hou, maar dit begin sy werk beïnvloed – en Nazeem (Irvine van der Merwe) huiwer nie om die situasie te manipuleer nie want vir Ruiterbosch se deurwinterde skobbejak is die een se dood immers die ander se brood.
Rhafiek se hardkoppigheid oor sy gesondheid dwing Bridgette (Denise Newman) om teen hom op te tree en (veral te danke aan Nazeem) eskaleer die situasie vinnig en dinge raak lelik.
Te midde van al die drama beleef Rhafiek ’n ernstige terugslag en dit lyk of Kaashifa (Jawaahier Petersen) haarself moet voorberei op die ergste.
-
Justin, Frankie, Riaan en ’n blondine
Justin (Eden Classens) besluit dit is tyd om die volgende stap te neem en hy vra vir Frankie (Mienke Ehlers) om te trou.
Haar antwoord ruk hom egter tot in sy kleintoontjie: sy is nie gereed vir trou nie. Haar twyfel is egter geanker in haar gevoelens vir Riaan (Daniel Coetzee) en die moontlikhede rondom dit.
Maar gou word dit duidelik dat Riaan glad nie meer op dieselfde bladsy as Frankie is nie. Dit begin al hoe meer lyk asof daar ’n vonkie tussen hom en ’n ander blondine is.

-
Amanda kom skiet wortel in Ruiterbosch
Amanda (Lindie Strydom) keer terug na Ruiterbosch en dié keer lyk dit nie na ’n blote kuier nie. Sy was nog altyd ’n sterk, uitgesproke teenwoordigheid, maar nou keer sy terug met ’n vars ingesteldheid en moontlik ’n nuwe agenda.
Die groot vraag is: Het Amanda teruggekeer om vrede te maak met die verlede, of is sy gereed om ’n nuwe blaadjie om te slaan wat die inwoners van Ruiterbosch gaan verstom?

Suidooster, wat onlangs vir ses Safta-toekennings benoem is, onder meer in die “beste sepie”-kategorie, word weeksdae om 18:00 op kykNET (DSTv-kanaal 144) en om 18:30 op kykNET & Kie (DSTv-kanaal 145) uitgesaai. Dit is ook beskikbaar op DStv Stream en Showmax.
Lees ook: 10 redes waarom jy rooi rose se Maart-uitgawe móét lees!




