Vreesaanjaend. Ek dink nie ek was al so beangs nie.
Want hoe gemaak as een van die Kaap se voorste onafhanklike skole jou vra om op die eerste dag van die laaste kwartaal met sy hoërskoolleerders te gesels oor ’n onderwerp wat hulle waarskynlik meer van weet as jyself? ’n Saal vol blinkoog-tieners, die hoop van môre, versus ’n middeljarige ma. Jy moet praat, hulle moet luister. Die onderwerp? Sosiale media. Meer spesifiek, kuberboelies.
Dis eers toe ek stokalleen op die kaal verhoog klim, die mikrofoon van sy rusplek op die statige staanplek tel en die trappies weer ’n entjie afklim om die leerders van Curro Durbanville in die oë te kyk dat ek weet: oor vyftien jaar, dalk vroeër, is julle die jongelinge wat die mag en jeugdige wysheid gaan hê om groot besluite te neem. Een, twee, of drie van julle sal selfs my baas kon wees; die een met die mag om besluite oor my toekoms te neem. Belangrik: Daar’s nie ’n verskil tussen ons nie. Die gelykmaker is die respek wat ons vir mekaar en mekaar se wêrelde het.
Generasie X en die Millennials. Of, soos ’n vriend ons noem: Middeljariges en Millennials. Barack Obama, Jennifer Lopez en ek. Mark Zuckerberg, Serena Williams en jy. Die grootste verskil – Barack, Jennifer en ek rebelleer teen die reëls. Vir jare al. Mark, Serena en jy herskryf die reëls. Elke dag. Een-vir-een.
So wie, wie dink ek is ek om op ’n verhoog te staan en te maak of ek meer weet as jy?
Tussen die brandende chaos van die week wat ons om elke hoek en draai konfronteer, lees ek iewers hoe iemand sê “woorde skep wêrelde”. Jou wêreld, en myne.
Dus tel ek op dié dag my woorde. Trap versigtig, dalk om my eie vrees te verbloem. Maar ook om vir jou ’n prentjie, ’n wêreld, te skep waaraan jy en ek soms herinner moet word. Een waarin mense nie almal altyd is wie en wat hulle voorgee om te wees nie. Dis jou en jou generasie se werk om die reëls te maak. Dis my en my generasie se werk om so nou en dan op te kyk, teen die trappies af te klim, jou in die oë te kyk, en eerlik te wees oor wat ek, en ons, dink. Oor die wêreld, en sy boelies.
As jy nie aanhou om die reëls te maak nie, en ek ophou om te rebelleer, faal en verloor ons mekaar. Selfs meer: verloor ons die respek om mekaar se stemme te hoor. Woorde skep wêrelde. Joune, en myne.
Met die huis toe ry is die vrees weg. Jy en jou mede-millennials bly agter om die laaste kwartaal te pak met alles wat jy het sodat jy eendag my baas kan wees. En ek? Ek dink aan planne om my mede-middeljariges te motiveer om jou met die respek te lei wat jy, en ons, verdien.
It’s up to us. Die middeljariges, en die millennials.
Tot ons weer gesels,
Marí