Die afgelope paar maande is daar gehoop, in sommige gevalle ook gebid, vir die regte brief om by die regte boer uit te kom in die 17de seisoen van kykNET se gewilde maatsoekreeks Boer soek ’n vrou.
Duisende kilometers is deur die Boer soek ’n vrou-aanbieder Reandi Grey afgelê om die stapels hoopvolle briewe en pakkies aan die boere te besorg. Hulle moes toe met die hulp van twee ondersteuners elk, hetsy familie of vriende, deur daardie possakke werk om tien potensiële pasmaats vir blitsafsprake te kies.
By die Doolhof-wynlandgoed naby Wellington in die Boland het die boere hul keuses vir die eerste keer in lewende lywe ontmoet.
Hier moes die vyf boere elkeen vyf moontlike pasmaats kies vir die volgende fase van die program. Maar dit was ’n uitdagende taak – die boere het net vyf minute tot hul beskikking gehad om die kat uit die boom te kyk.
Natuurlik pas die stewel ewe goed aan die ander voet. Die briefskrywers wat opgedaag het met hoop op liefde, gaan beslis binne daardie vyf minute nie kan ophou wonder of hulle brief die kol getref het nie.
Vir ’n ysbreker het Reandi die vyf boere (wie se senuwees tog wel ’n bietjie gelol het) gevra om vir hul briefskrywers ’n danspassie op die stoep uit te voer. Evert het ewe wikkelboude weggespring, en die res het meer beskroomd gevolg – maar Rudi H het heftig sy “m**rse seer rug” blameer en ook genoem dat sy kerk nie dans nie. Sy verskonings het beslis nie almal oortuig nie.
Ná afloop van die blitsafsprake was daar een boer wat klaar sy keuse gemaak het, maar hy het gevoel hy’s dalk in die moeilikheid met nog ’n paar potensiële pasmaats wat hy daarna raakgesien het.
Die algemene gevoel onder die vyf boere is dat daar beslis vyf moontlikhede bestaan, met so hier en daar die keuse van die vyfde een in die weegskaal. Van hulle het egter erken dat hulle aanvanklike indrukke verander het tydens die blitsafsprake.

DIE KEUSES
Evert (38), ’n makadamia-, sitrus- en wildboer van Tshipise, Limpopo
Lauren, Theresa, Elouise, Brümilda en Anmari is die vyf pasmaats wat deur die sjarmante Evert gekies is.
Rudi H (56), ’n boerbokboer van Windsorton, Noord-Kaap
Hy het vir Joey, Marian, Paola, Ella en Lizelle gekies – en moenie verbaas wees as dié boer iewers sy dansskoene gaan aantrek nie.
Willie (26), ’n makadamia- en wildboer van Badplaas, Mpumalanga
Die boer met die diep kuiltjies het vir Cilmari, Denike, Yvonne, Nadine en Monique gekies.
Rudi (47), ’n toerisme- en wildboer van Beestekraal, Noordwes
Die groot man met die sagte hart het vir Morné, Flip, Nelius, Arnold en Hannes as sy topvyf gekies.
Pieter (29), ’n skaapboer van Richmond, Noord-Kaap
Watter een van sy vyf keuses het die skamerige boer se hart met die eerste oogopslag gesteel? En wie was die ander wat hom laat voel het hy’s dalk in die moeilikheid? Was dit Anzelle, Elizma, Lisa, Altanja of Leoné? Tyd sal leer.
Inskrywings vir seisoen 18 van Boer soek ’n Vrou
KykNET soek nou ongetroude boere of plaasbestuurders, manlik of vroulik, wat reg is om ’n liefdesreis saam met Boer soek ’n vrou aan te pak.
Só kan boere inskryf:
- Besoek kyknet.tv waar jy óf aanlyn kan inskryf óf ’n inskryfvorm kan aflaai;
- Bel: 079 614 2229
- Stuur ’n e-pos na boer@wolflightsa.com
Boer soek ’n vrou saai Donderdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uit en is ook beskikbaar op DStv Stream.
Lees ook: Charlotte Butler maak golwe in haar Diepe Waters-debuut












