In verlede week se episode van kykNET se gewilde maatsoekreeks Boer soek ’n vrou moes die vyf boere deur hul eerste groot vuurdoop gaan: blitsafsprake met die pasmaats wat hulle in hul inskrywings gekies het.
Ná die eerste ronde het die boere nog harder klippe gekou toe hulle op die volgende avontuur twee van die vyf gekose pasmaats huiswaarts moes laat keer…
En daar is behoorlik kopgekrap toe almal die volgende dag by Africamps op die Doolhof-wynlandgoed aangekom het en daar ’n sak vir elke boer met sy vyf keuses neergesit is. Wie het gedink hulle gaan ’n tent moet opslaan?
’n Lieflike piekniek ná afloop van hul hande-arbeid was ’n gesellige kuier en elke boer het met sy keuses heerlik aan kos en wyn weggelê. Vrolike Reandi het ook by elke groepie gaan inloer en die goeie nuus gedeel dat elke pasmaat die geleentheid het om alleen met hul boer te gesels, sonder die frustrerende beperking van vyf minute.
Daar is diep gedelf, drome is gedeel en ’n paar onverwagte antwoorde het opgeduik. Die pasmaats het nie teruggehou met wat hulle wou deel of wat hulle graag wou weet nie want hierna sal elke boer moet besluit wie die drie pasmaats is wat vir hom op die plaas gaan kuier.
Wie gaan saam plaas toe?
Evert (38), ’n makadamia-, sitrus- en wildboer van Tshipise, Limpopo

Vir hom is daar gewoonlik ’n pistool wat afgaan vir die wegspring wanneer daar met ’n nuwe projek begin word. Maar met hierdie liefdesprojek is die stilte oorverdowend. Die finale skoot het egter geklap vir Anmari en Brümilda.
Wie gaan plaas toe? Lauren, Theresa en Elouise.
Rudi H (56), ’n boerbokboer van Windsorton, Noord-Kaap

Aanvanklik het hy elkeen op “eie meriete” beloer. Maar toe hy erken hy’s nie juis John Travolta nie, want hy het “nie genoeg ritme om aan ’n deur te klop nie”, het dit gelyk of almal baie gewillig sou wees om hom te leer langarm. Marian en Joey gaan egter nie vir hom langarmlesse op die plaas leer nie.
Wie gaan plaas toe? Paola, Ella en Lizelle.
Willie (26), ’n makadamia- en wildboer van Badplaas, Mpumalanga

Diplomaties het Willie laat hoor dat elkeen van die meisies op hul eie manier oulik is, maar Nadine en Monique gaan nie saam met hom op die plaas kuier nie.
Wie gaan plaas toe? Cilmari, Denike en Yvonne.
Rudi (47), ’n toerisme- en wildboer van Beestekraal, Noordwes

Oogkontak was vir hom die sleutel. En ook dat sy span sy pasmaat moet respekteer en andersom. Hy het gesukkel om sy emosies in toom te hou toe hy moes kies wie se pad nie verder saam met syne gaan loop nie, maar Morné en Flip moes huiswaarts keer.
Wie gaan plaas toe? Nelius, Arnold en Hannes.
Pieter (29), ’n skaapboer van Richmond, Noord-Kaap

Vir hom was die ontmoetings baie positief en het hy goed raakgesien by sy potensiële pasmaats wat nie noodwendig uit hul briewe duidelik was nie. Leoné en Altanja is die twee wat ongelukkig nie Karoo-skaaptjoppies op die plaas gaan geniet nie.
Wie gaan plaas toe? Anzelle, Elizma en Lisa.
Volgende week
Dis plaas toe – en Reandi is vol hoop en opgewondenheid oor wat vir die boere voorlê en hoe hul soektog na liefde verder gaan verloop. Soos Reandi sê: “As dit kom by die liefde, is niks eenvoudig nie.”
Inskrywings vir seisoen 18 van Boer soek ’n Vrou
KykNET soek nou ongetroude boere of plaasbestuurders, manlik of vroulik, wat reg is om ’n liefdesreis saam met Boer soek ’n vrou aan te pak.
Só kan boere inskryf:
- Besoek kyknet.tv waar jy óf aanlyn kan inskryf óf ’n inskryfvorm kan aflaai;
- Bel: 079 614 2229
- Stuur ’n e-pos na boer@wolflightsa.com
Boer soek ’n vrou saai Donderdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uit en is ook beskikbaar op DStv Stream.
Lees ook: Keeno-Lee Hector sluit aan by Skemergrond – en sorg vir hope drama!



















