Op 28-jarige ouderdom leef hierdie talentvolle aktrise haar televisiedrome uit met haar vertolking van Chelsea Kannemeyer in Skemergrond – haar grootste rol tot dusver. Kykers het haar al voorheen in reekse soos Juffrou X, Suidooster en Ouma Sarie gesien, maar dis in Skemergrond waar sy nou werklik besig is om haar merk te maak.
Brutney beskryf Chelsea as “ ’n bubbly stukkie mens” wat gek oor blomme is. “Sy kom uit ’n lang lyn van blommeverkopers en nou werk sy saam met haar tannie by Gloria se stalletjie. Sy vind rêrig vreugde in haar werk met die blomme.”
Toe Chelsea aanvanklik in Gemoedsdrif aangekom het, was sy ’n buitestander. “Chelsea het as ’n vreemdeling kom bly in ’n vreemde plek. Maar sy het gou gewoond geraak aan die omgewing en die mense daar. Sy het begin besef die nuwe omgewing het ’n doel in haar lewe.”
Een van die grootste kopskuiwe wat haar karakter gemaak het, is haar siening van die liefde: “Haar perspektief op liefde het verander, en sy gee dit hierdie keer weer ’n kans.”
Vir Brutney is dit hierdie soort groei wat haar die meeste aantrek: “Ek geniet dit om Chelsea te vertolk. Sy’s ’n liefdevolle mens. Ek geniet dit om te sien hoe sy haarself toelaat om die stampe en stote van die lewe met al twee hande aan te vat en beter daaruit te kom.”
Al deel hulle sekere eienskappe, is daar ook groot verskille: “Ons persoonlikhede is soortvan dieselfde, maar haar keuses is glad nie ’n refleksie van wat ek sou doen in sekere situasies nie.”

Om deel te wees van Skemergrond se gevestigde rolverdeling en span beskryf sy sonder huiwering as “amazing”. “Almal is so gifted, en dis ’n wonderlike ervaring om daagliks te sien hoe hulle almal magic kan maak op stel.”
Die hoogtepunt van haar dag? “Eerstens, die koffie! Dis lekker sterk en help definitief met die energie om die magic te laat gebeur,” lag sy. “En dan definitief my talentvolle kollegas.” Sy beskryf die atmosfeer as iets besonders: “Soggens voel dit soos een groot familie wat saam ontbyt eet. Almal kry hulself gereed vir die dag. Dit mag soos geraas klink wanneer ons deur ons woorde gaan, maar vir ons is dit hoe ’n suksesvolle dag moet klink. Die atmosfeer is lig, en daar is liefde in elke vorm.”
Haar medespeler William Adams, wat die rol van Louis Pienaar vertolk, het ’n groot aandeel in haar ervaring op stel: “William is ’n baie gifted akteur. Die egtheid in sy spel help my om my mees outentieke weergawe uit te bring. Hy daag my uit – en dis ’n goeie ding, want dit bring die beste in my na vore.” Sy voeg by: “Ons het albei die vermoë om vinnig op ons voete te dink, en dit maak die saamwerk maklik en genotvol.”

Daar is egter ook baie lag tussen die ernstiger tonele: “Wanneer ons emosionele tonele doen en iemand sê die cliché ‘Hoe kon jy?!’, dan raak dit partykeer baie snaaks – veral met William wat die ‘funny guy’ op stel is.”
Toe sy hoor sy gaan by Skemergrond aansluit, was dit vir haar heel onwerklik. “Dit was definitief ’n pinch me-oomblik – veral vir my wat in George grootgeword het. Dis altyd maar moeilik om geleenthede te kry so ver van die bedryf se hotspots af.”
Sy sê die geleentheid het vir haar ’n dieper betekenis gehad: “Net selfs die idee dat so iets moontlik was vir my, so ver van die huis af, was ’n seëning op sy eie. Dit het my laat voel asof elke opoffering en droë seisoen nie verniet was nie.”
Sy het in George grootgeword en beskryf haar kinderdae as eenvoudig maar gevul met liefde. “Ons het nie baie gehad nie, maar daar was altyd genoeg liefde.” Sy en haar susters het saam met hul ouma – wat doofstom was – grootgeword. “Dit was altyd pret om in gebaretaal in die huis te praat en my vriende die taal te leer.” Sy onthou ook hoe haar ouers elke balletopvoering bygewoon het en hoe haar susters met plakkate in die gehoor gestaan het. “Hulle het harder geskree as wat die musiek was,” glimlag sy.
Haar eerste oudisie was vir kykNET se Juffrou X. “Ek was baie nervous, maar tog baie opgewonde.” Sy het vinnig besef sy is in die regte bedryf. “Dis baie demanding, maar so nodig – vir kunstenaars en ook vir kykers en ondersteuners. Hierdie bedryf het my laat besef hoe belangrik dit is om die mees outentieke weergawe van ’n karakter te vertolk.”
Al kyk sy nie gereeld na haar eie werk nie – “ek is heeltemal te krities wanneer dit by my spel kom” – voel elke nuwe verskyning steeds soos die eerste keer. En wanneer sy terugkyk, is een ding duidelik: “My rol in Skemergrond is definitief een van die hoogtepunte in my loopbaan.”
Van ’n jong meisie in George met groot drome tot ’n aktrise wat haar plek in een van die land se gewildste reekse volstaan – vir haar is hierdie net die begin van die storie.
Skemergrond word Maandae tot Donderdae om 19:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) uitgesaai. Die reeks is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.
Lees ook: Een keer om die son se klankbaan kom verhoog toe
