kykNET se Die brug hou kykers op die punt van hul stoele met skokonthullings en onverwagse emosionele kinkels. Seisoen 2 jaag ook die spanning in die kompetisie op met ’n opwindende nuwe spelformaat: Twee huise – Noordhuis en Suidhuis – moet teen mekaar meeding en kyk wie kan die vinnigste ’n 20 m-brug in net 13 dae bou. Aan die einde sal net een deelnemer oor die brug na die R1 miljoen-prysgeld stap.
Episode 3 plaas die kollig op Wilhrisca, een van die seisoen se mees misverstaande spelers, wat van die begin af op die agtervoet was. Nadat sy uit haar oorspronklike huis gestem is, het sy by Noordhuis aangesluit, waar sy gesukkel het om by te groep in te skakel. Hierdie week is sy gekies as die eerste “waarnemende speler”, wat beteken sy is van alle brugbou-aktiwiteite uitgesluit en moes huishoudelike take verrig.
“Ek het nutteloos gevoel. Asof ek nie vertrou word nie,” erken Wilhrisca in ’n onderhoud ná die episode. “Dit het vir my gevoel asof ek as swak gesien word – iemand wat nie genoeg waarde het om in daardie oomblik ’n bydrae te maak nie.”
Terwyl sommige spanmaats – veral Lelani en Anesca – glo Wilhrisca probeer nie hard genoeg om in te pas en saam te werk nie, vertel sy ’n ander storie: “Ek het wel probeer. Ek het probeer inskakel, bydra en betrokke bly. Miskien het ek nie in hulle idee van ‘probeer’ gepas nie, maar ek het op my manier opgedaag en my deel gedoen.”
In ’n dramatiese wending het Wilhrisca se lot verander terwyl sy met die huishoudelike take besig was. Sy het ’n leerperkament ontdek waarop “lees my” gestaan het. Die inhoud het haar voor die spel se eerste morele dilemma te staan gebring: kies R10 000 vir jouself of koffie vir die span. Haar besluit? Die geld.
“ ’n Halwe brood is beter as geen brood nie,” het sy reguit gesê. “Aangesien albei spanne my as ’n swak skakel sien, is die kans baie groot dat ek volgende huis toe gestuur gaan word. So, ek gaan nie met leë hande huis toe nie. Ek het gekies wat op daardie oomblik sin gemaak het.”
Hierdie dapper keuse was dalk ’n keerpunt vir Wilhrisca – ’n speler wat onderskat is, maar nou gaan wys wat in haar steek.
Beleef al die drama van Die brug, Donderdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).
Lees ook: ’n Diamant wat ander laat skyn: Ons laaste onderhoud met Jenna Clifford