Deur MARIETTE SNYMAN
Getroude paartjies hoor dikwels die vraag: “Wanneer begin julle met ’n gesin?” “Ons wil nie kinders hê nie,” is nie noodwendig die antwoord wat familielede wil hoor nie, maar dis ’n uitkyk wat al hoe algemener word.
“Ons onderskei deesdae tussen ‘kindervry’ en ‘kinderloos’,” verduidelik Lidalize Grobler, ’n opvoedkundige sielkundige van Pretoria. “Kinderloos verwys na mense wat kinders sou wou hê, maar nie kan nie – ongeag die rede – terwyl kindervry dui op ’n pertinente besluit om nie kinders te hê nie.
Dan is daar ‘nog-nie ouers’, wat beplan om in die toekoms kinders te hê; mense wat onseker is of hulle wel kinders gaan kry; en ambivalente mense wat nie seker is of hulle kinders wil hê nie.” Hierdie nuanses maak dit moeilik om navorsingsresultate te interpreteer, verduidelik Lidalize. “Studies wat toon hoeveel mense nié kinders het nie, ondersoek nie noodwendig die redes nie. Mense trou deesdae ook later, wat die kwessie verder kompliseer. Hoewel plaaslike statistiek moeilik bekombaar is, het ’n onlangse Amerikaanse studie aangedui dat een uit vyf volwassenes nie kinders wil hê nie.
“In my praktyk sien ek toenemend tieners, studente en ander mense wat noem dat hulle nie kinders wil hê nie,” sê Lidalize. “My indruk is dat mans en vroue wat kinders kry steeds die meerderheid vorm, maar onder 25- tot 35-jariges neem die keuse om kindervry te bly beslis toe. Studies wys dat mense wat vroeg reeds so ’n besluit neem merendeels daarby hou.”

DIE REDES
Volgens navorsers, sê Lidalize, verskaf baie van dié mense nie noodwendig ’n rede nie. Dis interessant dat mense wat kinders wíl hê selde gevra word om hul besluit te motiveer, terwyl die keuse om kindervry te bly dikwels die reaksie “Hoekom?” uitlok.
“Dis ’n baie persoonlike besluit,” sê Lidalize. “Die redes wissel. Party mense reken bevolkingsgroei dra grootliks tot ekologiese probleme by en voel dit moet verminder. Ander beskou ons leefwêreld in ’n negatiewe lig en is huiwerig om ’n kind die toekoms in te stuur, of sien nie kans om die verantwoordelikheid vir ’n ander mens se wel en wee te dra nie.” Ekonomiese oorwegings staan dikwels voorop. Wanneer twee inkomstes nodig is om die pot aan die kook te hou, vergroot kinders dié druk. Mense wonder of hulle genoeg verdien om ’n kind sinvol en gemaklik groot te maak – ook vir die kind se onthalwe.
Soms gaan dit nie oor wat mense kan bekostig nie, maar waaraan hulle hul geld wil bestee, sê Lidalize. “DINKS – Double Income No Kids – kry baie lugtyd op die internet. Dié paartjies hoef nie vir uitgawes, soos geboortes, studiegeld of ’n erfporsie te begroot nie en kan hul geld na goeddunke bestee.”
Tyd is ’n groot oorweging. Talle mense besef hoe belangrik dit is om genoeg tyd saam met ’n kind deur te bring. Faktore soos beperkte kraamverlof en veeleisende beroepe kan hulle twee keer laat dink. “Wanneer albei ouers werk, dra al twee die verantwoordelikheid om kos te maak, wasgoed te was, handyman te speel, kinders aan te ry …” verduidelik Lidalize. “Vroeër was die rolverdeling dalk anders, maar in my ervaring moet paartjies deesdae rondom verwagtinge buigsaam wees – anders benadeel dit die welsyn van die huwelik én gesin.” Party mense glo kindervryheid bied meer geleenthede vir persoonlike vervulling. Mans sowel as vroue wil dalk uitsluitlik op hul loopbaan fokus, gereeld reis, in ander lande gaan werk of hulle kreatief uitleef. Dis ’n leefstylkeuse wat groter vryheid bied.
“Mense wat kies om kindervry te leef,” sê Lidalize, “is nie noodwendig individue wat nie van kinders hou nie. Hulle help dikwels om familie of vriende se kinders groot te maak, te vier en te ondersteun.”
’n Ander vraag is of troeteldiere kinders se plek kan inneem. “Diere kan ’n waardevolle rol in jou lewe speel – die dood van ’n troeteldier tref party mense net so hard soos dié van ’n geliefde – maar ek twyfel of troeteldiere die hoofrede is hoekom mense nie kinders wil hê nie,” sê Lidalize.

MAAK SÓ JOU BESLUIT
“Om kindervry te bly, is selde ’n enkelvoudige, eenmalige besluit – dis eerder ’n deurlopende proses,” meen Lidalize. “Dit is noodsaaklik dat ’n paartjie deeglik hieroor nadink en baie eerlik met hulself en met mekaar hieroor moet wees.”
Die kwessie van ouerskap moet reeds voor die huwelik bespreek word. Dis onverstandig om te dink jy sal jou maat later oortuig om wel kinders te hê – of kindervry te bly.
“Daar is ’n algemene beskouing dat jy op iets gaan misloop as jy nie kinders het nie en later spyt gaan wees. Dit kan saamhang met die tradisionele siening dat ’n vrou biologies aanmekaar gesit is om kinders te kry en dat haar waarde eintlik daarin lê, of dat slegs ’n pa ’n volwaardige man is. Hierteenoor skryf Sue Monk Kidd in The Book of Longings: ‘A woman can birth something other than children and then mother it with the same sense of purpose, attention and care.’”
Ongeag of mense kinders wil kry of kindervry wil leef, moet hulle hul besluit deeglik motiveer en hulself afvra: Wat is mý binnebesluit?
“Niemand moet kinders hê omdat dit ‘die volgende stap’ is of hulle deur hul maat se voorkeur laat lei nie,” sê Lidalize. “Later veroorsaak dit groot ongelukkigheid.
“Ek sien individue wat met verloopvan tyd leer om hul eie besluite te neem en hul maat vir ’n vroeër besluit verwyt. Dan sê die maat: ‘Maar ek het jou nooit gedwing nie!’”
Soms beland mense in ’n ambivalente ruimte waar hulle nie kan besluit of hulle kinders wil hê of nie. Hulle leef sonder die vervulling van ouerskap, maar verpas terselfdertyd die moontlikhede wat kindervryheid bied. “Ouer mense wat kleinkinders begeer, is dikwels diep teleurgesteld as hul kind nie kinders wil hê nie,” sê Lidalize.
“Dan sê ek: ‘Onthou, die bewustelike keuse lê nie by jou nie. Hierdie besluit raak nie net jou kind se welsyn nie, maar ook jou potensiële kleinkind s’n.’
“Die keuse om kinders te hê – of nie – is in wese ’n binnevraag. Word stil, raak rustig, en neem jou eie, bewustelike besluit.”

’N KINDERVRYE PAARTJIE KYK TERUG
Frits* (60) het reeds afgetree en vertel die feit dat hy en Tilda* (62), ’n sielkundige, nie kinders het nie, was vir hom eerder ’n sameloop van omstandighede as ’n keuse. Ná tien jaar saam, is hulle getroud. Hy het nie kinders gemis nie; dit was nie deel van Tilda se prentjie nie en werk, om ’n huis te hê en hul honde het sy lewe gevul.
Toe Tilda onverwags ’n histerektomie moes kry, het Frits nie daaroor getob nie. Hy is iemand wat graag die werklikheid sien soos dit is. Soms het hy gewonder hoe dit sou wees om kinders te hê, maar met drie jonger broers het Frits alte goed geweet wat kindgrootmaak vereis. “Toe familielede se laaities begin rugby speel, het ek gaan kyk – en daarna was my Saterdae weer my eie,” sê hy. Die hoogtepunte in hul lewe, soos buitelandse reise en om ’n paar jaar lank oorsee te kon woon en terug te kom, sou nie gebeur het as hulle ouers was nie. Daarby is die kans bitter klein dat enige kind ongeskonde deur die lewe gaan. Frits sê hy is daardie emosionele pyn gespaar.
Frits was by ’n akademiese program vir hoërskoolkinders betrokke en het dit ontsettend geniet. Hy sê hy kon iets vir kinders beteken sonder dat hulle sy eie was.
Is hy bang om alleen oud te word?
“As Tilda sou wegval, sal ek noodgedwonge met my tydgenote moet integreer. Ek doen juis vrywilligerswerk by ’n ouetehuis om die omgewing en die mense te leer ken, en hopelik
’n stewige netwerk te skep. Party mense word wel meer dikwels deur hul kinders besoek, maar feit bly: Jy moet sélf jou lewe vul met dit wat jy betekenisvol vind. Kinders doen dit nie.”
“Toe ons trou, het Frits my gevra of ek eerder wou kinders hê of elke jaar oorsee gaan,” onthou Tilda. “Ek was toe 34 en nie gereed vir kinders nie. Ons was vier meisiekinders en een suster het baie aandag geverg. Ek het die ander twee help grootmaak, en genoeg was genoeg! Boonop was die politieke situasie destyds uiters onvoorspelbaar.”
Frits het haar gevra wie in hul oudag na hulle sou omsien. “Ek moes dit vir my ouers doen en wou geen kind dáármee opsaal nie. Afgesien daarvan kan kinders emigreer. As sielkundige het ek ook geweet wat alles emosioneel met kinders kan skeefloop, en boonop is daar ernstige gesondheidsprobleme in ons familie.”
Tilda vertel sy weet nou dis ’n uitdaging om vriende te maak as jy nie kinders het nie. Sy en Frits het dus meer beroepsgerig geraak, maar ook meer tyd vir diepgaande gesprekke gehad – en om tot op die been te verskil!
Tilda moes dikwels inspring om met haar susters se kinders te help, en het gesien watter uitdaging finansiële voorsiening en daaglikse versorging is. “As introvert het ek baie alleentyd nodig, maar ek is ook angstig, met gepaardgaande skuldgevoelens. Ek sou ’n helikopterma gewees het, wat nie in ouer óf kind se belang is nie. Ek dink ek het reg gekies vir wie ek is en waarvoor ek kans sien.”
*skuilname
Lees ook: 10 dinge waaroor elke paartjie moet praat vir ’n gelukkiger verhouding
