Die lente breek ook in Ruiterbosch aan, maar daar hang ’n paar donker onweerswolke oor dié fiktiewe Kaapse woonbuurt waar die kykNET-sepie Suidooster afpeel.
In September is dinge in die Van Wyk-, Jacobs- en Thuli-huishoudings allesbehalwe rooskleurig. Verraad, vuilspel en selfsug skiet soos bossies op – en amper almal word daardeur geraak.
Ja, daar is stormsterk-drama wat in die komende weke in Suidooster gaan ontvou. Kykers moet veral dié vier storielyne dophou:
-
Geluk ontwyk die Van Wyks
Die Van Wyk-gesin staar ’n krisis in die gesig met die sluier wat oor Mike (Anrich Herbst) en Amanda (Lindie Strydom) se huwelik gelig word. Amanda klou verbete vas aan ’n huwelik wat lankal dood is, terwyl Mike alreeds besig is om uit te vind of die gras groener aan die anderkant van die draad by Ilse (Christia Visser)
Frankie (Mienke Ehlers) is vasgevang in die middel – sy sien haar ma se seer, ontdek haar pa se verraad en voel verpletterd oor die leuens. Wanneer Mike wel besluit om met ’n nuwe lewe te begin, bly Amanda gebroke agter. Frankie probeer haar ma motiveer om haarself weer te vind, en Amanda vertrek op ’n selfontdekkingsreis. Elke lid van dié gesin word gedwing om na ’n nuwe identiteit te soek.

-
Trouklokkies lui, maar is dit dalk eerder ‘n doodsklok?
Ruiterbosch het rede om fees te vier, want Siya (Gantane Kusch) vra uiteindelik vir Bianca (Simone Biscombe) om te trou. Dit beloof om die troue van die jaar te wees en veral die Samsodiens is in die wolke dat Bianca na alles wat met haar gebeur het, wel voor die kansel gaan staan.
Maar dit blyk dat Brendan (Caleb Arnolds), Siya se aangenome seun, nie in die vreugde deel nie. Sy vyandigheid teenoor Bianca raak al hoe donkerder. Eers begin hy met kinderagtige poetse, maar sy streke om Bianca te verneder en te ondermyn raak al hoe gevaarliker.

-
Liefde wen nie altyd nie…
Shandy (Kay Smith) se desperate poging om deur die Jacobs-gesin aanvaar te word, loop liederlik skeef wanneer sy ’n armband verpand wat eintlik aan Lee-Ann (Portia Joel) behoort.
Dit het ’n onkeerbare kettingreaksie tot gevolg, veral as Shandy begin twyfel of Nazeem (Irvine van der Merwe) se gevoelens vir haar eg is en of hy steeds haar oorlede suster Laylla as sy groot liefde sien.
Sy beplan ook om wraak te neem teenoor Bridgette (Denise Newman), wat haar steeds as nie goed genoeg vir Nazeem sien. Shandy besef egter dat sy dalk dinge te ver vat, maar spyt kom soos gewoonlik ’n bietjie te laat en dit het ’n dramatiese nadraai.

-
Kom die naels uit?
Angie (Char Carrie) besluit sy het ’n assistent nodig by haar naelsalon, Nail’d It en natuurlik is dit nie sommer enige Jan Rap en sy maat wat sy wil aanstel nie.
Wanneer die flambojante Tino (Cole Wessels) sy opwagting maak, weet sy dadelik dat dit ’n match made in heaven is. Op ’n manier is hy ’n spieëlbeeld van Angie: uitgesproke, selfversekerd en talentvol. Is daar egter ruimte vir twee sterk persoonlikhede by Nail’d It?

Suidooster, wat vanjaar sy tiende verjaarsdag vier, word weeksdae om 18:00 op kykNET, DSTv-kanaal 144, en om 18:30 op kykNET & Kie, DSTv-kanaal 145, uitgesaai. Dit is ook beskikbaar op DStv Stream en Showmax.
Lees ook: Charl Arangies gesels oor Vaal Riviera se verrassings en sy liefde vir motorsport
