Toe die Vrystaatse boer Frans Broeksma (Deon Coetzee) in Oktober verlede jaar in Boskruin opdaag, sou min kykers kon raai dat dit juis hý sou wees om die suksesvolle besigheidsvrou Zelda Joubert (Sandi Schultz) se voete onder haar uit te slaan.

In die kykNET-telenovela Diepe Waters is daar min verhoudings wat al so wispelturig soos dié van Zelda s’n was. Hoewel beide Zelda en Frans baie mooi op hul troudag lyk, is dit nie ’n groot affêre met ’n wit trourok en honderde gaste nie.
Nee, Zelda voel sy wil sommer by binnelandse sake hul huwelik verewig. Zelda, getooi in ’n beeldskone silwer rok met swart en goud kraledetail en sjiffon-mantel, en Frans in sy netjiese swart driestukpak en goue das is genoeg om die kykers se harte te vermurwe.
Tog word die spesiale oomblik so mooi in Frans se troubeloftes vasgevang. “Ek wil vir ewig die wêreld saam met jou sien; die koeie wat huis toe kom as die son sak, die maan wat op ’n grashalm blink. Ek belowe om jou lief te hê deur mooi en slegte weer, elke donderstorm, elke stil sonsopkoms. Ek sal jou koester. Waar jy gaan, sal ek gaan, tot die dag van my dood,” sê Frans.

Zelda was nog nooit voorheen getroud nie, want haar troudag met Gys Swarts (Justin Strydom) het in haar gesig opgeblaas. “Vir haar was om uiteindelik te trou, veel belangriker as ’n groot gedoente,” verduidelik Sandi oor haar karakter se spesiale oomblik. Soos soveel kere tevore moes kykers saam met Zelda en Gys wonder of dié twee uiteindelik bymekaar sou uitkom.
As dit nie Zelda is wat Gys se verhoudings probeer kortwiek nie, is dit weer Gys wat Frans uit Boskruin uit wil help.
Uiteindelik, ná ’n lang gewag toe Zelda vir Frans die ja-woord gee, voel Gys hy kan net nie vir Zelda deur sy vingers laat glip nie. Hierdie is nie net jaloesie nie, want hy sê reguit vir Zelda dat hy nog lief is vir haar en dat sy Frans moet los vir hom. “Volgens my sal Zelda altyd lief wees vir Gys, maar ek voel ook dit was tyd vir haar om aan te beweeg,” verduidelik Sandi.
Tog moes Zelda soveel keer vir Gys se liefde en aanvaarding veg, en nou is Frans daar om vir háár te veg. “Frans is iemand wat haar werklik sien en daar is vir haar. Sy hoef nie enigiets aan hom te bewys nie. Dis iemand wat saam met haar wil wees, en by wie sy haarself kan wees,” sê sy.

Vir Deon is dit heerlik om teenoor ’n “pro” soos Sandi te speel. “Dis altyd lekker as die skrywers jou as akteur en jou karakter vertrou om groot storielyne te doen,” voeg Deon by. “Sandi is altyd voorbereid en gee so baie in haar toneelspel, so ons werk lekker saam. Ek moet redelik op my tone wees,” lag hy.
Hoewel Frans nie van Zelda se soms duistere geskiedenis weet nie, lyk dit tog of dié paartjie vir nou gelukkig saam kan wees. “Ek glo altyd dat Zelda nie heeltemal jok nie. Daar is altyd ’n greintjie waarheid in alles wat sy sê, sodat sy dit met oortuiging en oorgawe kan sê,” vertel Sandi. “Sy is nou op ’n punt in haar lewe waar sy nie meer voel sy is dieselfde persoon as die een wat sy vroeër was nie.
En dat vorige besluite en aksies nie meer ’n houvas op haar of haar verhouding hoef te hê nie,” sê sy. Of die kinkels en draaie van Boskruin se drama dít gaan toelaat, sal kykers moet wag om uit te vind.

Kyk Diepe Waters Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144). Diepe Waters is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.
Lees ook: Christia Visser daag wéér op in Diepe Waters… gaan dié keer anders vir Rossouw uitdraai?
