In die eerste episode van die drie episodes wat die legendariese lewe van Frank Opperman uitbeeld, het kykers saam met hom by vriende in Woodstock, naby Kaapstad gekuier voordat hy die pad Johannesburg saam met sy seun, Frankie begin aanpak het. Frankie is ook die vervaardiger van hierdie intieme en eerlike dokumentêre reeks.
Daar’s die heerlike saamlag oor toktokkie-speel en Worcester se strate wat stil geraak het terwyl Die vierde kabinet (1998) op die kassie was. Daardie pakke slae deur die hoof in opdrag van sy ma – maar wat nooit op sy boude geland het nie . . .
Dan is daar die lekker kuiertjie met die legendariese Koos Roets – en die rol van Frank se pa in sy lewe.

Wat nog gaan kykers in hierdie episode van Frank leer?
Hier is 10 van die hoogtepunte van die tweede episode.
-
‘Kyk terug’
By so vorige huis in Mellville, Johannesburg, het Frank weer deur die bokse en bokse goeters en aandenkings gegaan. Toe het hy ’n klein juweeltjie opgespoor. Destyds se VHS-videos was die voorspel tot vandag se YouTube en ander sosiale platforms waar videomateriaal gedeel kan word.
Frank het hope van daai videos, en een wat hy in die VHS-speler ingedruk het, was getiteld “Kyk terug”. Die video is saamgestel uit rolprentmateriaal wat 63 jaar gelede in alle waarskynlikheid deur sy ouma de Jager met ’n 8 mm-rolprentkamera geneem is, vanwaar dit later in VHS-formaat omskep is.
Daarin sien kykers die kleine Frank en sy ouers, met teer oomblikke waar sy pa hom lieftallig vashou. Dit het baie emosies in Frank losgeruk.
Dan is daar die foto’s van sy grootouers, sy oupa en ouma wat tussen hulle twee baie boeke die lig laat sien het. As HJ en CJ de Jager het hulle ook saam ’n boek die lig laat sien: Musiekgeskiedenis deur die eeue (1952). En sy ouma se bekendste publikasie was Trap-vir-trap Musiekboek vir klaviermusiek (1968).
“My ouma was eintlik blêrrie famous.”
Boonop was Frank se oupa destyds die rektor van die Heidelbergse Onderwyskollege.
-
Wie was Frankie Alfred Opperman?
“My pa, Frankie Alfred Opperman, hy was gebore in 1936, ’n weggooikind, arm gebore hier in Fordsburg, Johannesburg. Hulle was vyf kinders,” het Frank onthou.
En toe sy pa 2 jaar oud was, is die kinders almal weggevat en het sy pa in die Charlotte Theron-kinderhuis in Bethlehem grootgeword. Hy het daar gebly tot hy matriek geskryf het.
Frank het maar gesukkel met sy emosies toe hy vertel dat sy pa die soort mens was wat sy “hemp uittrek en vir ’n ander ou gee” waar die nood gedruk het.
“He was a good guy – en ek mis hom.”
-
Frank se ma
Sy ma, Henriëtte de Jager, was van Louis Trichardt afkomstig en het onderwys in Pretoria gaan studeer. Dit was juis daar waar sy en Frankie mekaar ontmoet het en weldra in die huwelik getree het.
Frank se ouers is geskei toe hy 8 jaar oud was. Daarna was sy ma in ’n verhouding met die skoolhoof betrokke, ’n man wat 20 jaar ouer as sy was. Na hul troue het die gesin Middelburg toe getrek.
“Dit was geen surprise nie, maar toe is daai huwelik toe nou ook verby,” het Frank vertel en glo die skrif was aan die muur omdat mense destyds skeef aangekyk is as hulle saamgebly het en nie getroud was nie. En die twee se troue vanweë gemeenskapsdruk om die seremonie te deurloop, was allesbehalwe ’n sukses.
-
Worcester toe!
En toe begin die avontuur vir Frank, sus Rina en sy onderwyseres-ma – ’n avontuur wat hom in 11 skole sou beland het. Wie sou kon raai dat Frank 52 jaar gelede die onderhoofseun van Laerskool Worcester-Oos sou wees? En dat sy kinderjare op hierdie dorp vir hom sy gelukkigste jare was?
Sus Rina was destyds op skool eintlik die bekende een – sy het Bolandkleure in gimnastiek verwerf. Maar moenie van Frank vergeet nie. Tydens sy kuiertjie by die skool, kon Frank ewe spog met sy vaardigheid op die rugbyveld.
“Ek wil nou nie windgat wees nie, ek is nou nie die windgat-tipe nie maar ek het darem in my lewe ’n paar keer agter hierdie doellyn gaan kuier,” het die laerskool se toentertydse skrumskakel en onder-12 kaptein te vertelle gehad.
En natuurlik was daar ’n meisie in die prentjie . . . ene Minkie de Wet.
-
Toneelspel in die bloed
Die skoolsaal is eers later jare gebou nadat die gesin getrek het en Frank se naam pryk nie op enige van die ererolle nie. Maar hy onthou van die operette waarin hy opgetree het: Op maat van die jaargetye. Dit was geskryf deur Rina de Jager, niemand anders nie as Frank se ouma!
Sy was baie musikaal – en dis waar Frank se loopbaan en liefde vir die teater begin het. Die operette was ’n bietjie meer suksesvol as Frank en sy band se toer deur die land rondom 2000, wat ook in die einste skoolsaal plaasgevind het.
“Dit was nie heeltemal wat die mense verwag het nie.”
-
Hallo, Hermanus
Hermanus is nog ’n plek wat Frank na aan die hart lê. Dis hier waar sy grootouers te ruste gelê is. Dis ook waar sy oom, Johan de Jager, nou woon. Skaars 12 jaar ouer as Frank en hulle het hom “Boetie” genoem. Toe het hy hulle 50 sent betaal om hom nie Boetie te noem nie.
-
Die omgee strek wyd
Dis juis met die kuier saam met Johan in Hermanus waar Frank ’n hartroerende storie gehad het om te deel. Tydens ’n onlangse vertoning in Potchefstroom het ’n vrou na hom gekom met ’n swart-en-wit foto, een waarop sy én Frank se pa verskyn. Die twee was saam in die kinderhuis.
Sy wou opsluit onderwys na skool gaan studeer, maar daar was geen ondersteuning nie. Dit het haar nie gekeer om met die bus Heidelberg toe te koers en haar saak aan die rektor te gaan stel nie. Min het sy geweet wie die rektor is.
Frank het in ’n gebroke stem vertel dat sy oupa vir die vasberade jong vrou genoem het dat sy skoonseun ook ’n weeskind was. Net daar het hy haar gehelp om al die vorms in te vul – en so het haar onderwysdroom waar geword.
-
Google die Oppermans
Alhoewel Frank homself in die eerste episode as ’n “analogue era guy” beskryf het, is hy betreklik handig met internet-soektogte.
Soos die een na die Oppermans wat Gottlieb Christiaan Opperman as een van sy voorvaders uitgewys het. Nogal oorspronklik van Pole en later in diens van die VOIC waar hy in 1729 met Maria Koster de Vries in die Kaapse Kolonie getrou het.
-
Die klein swart K-olletjie
Sy pa het aan prostaatkanker gesterf – en Frank was gedurig aangemoedig om homself ook te laat toets. Bietjie hardkoppig aanvanklik gewees, maar toe hy bes gee en die toetse laat doen het, was daardie klein swart kolletjie gewaar.
“Jôh, ek het my gat afgeskrik,” het Frank erken toe die dokter byna ses jaar gelede bevestig het dat daai swart kolletjie wel kanker was. Twee dae later was hy onder die mes en hy moedig deesdae alle mans, waaronder Frankie, aan om daai toets te laat doen.
“Ek is so fiks soos nog iets. Ek wil nie windgat wees nie, maar alles werk darem nog,” het hy skeefweg geglimlag.
Maar voor hy en Frankie die lang pad aangepak het Mellville toe, het Frank eers ’n draai by sy dokter, Deon Cabano, gaan maak om oor genetika te gesels. En net weer ’n check-up te doen.
Maar toe Frank sy baadjie moet uittrek, was hy byna in trane.
Dié baadjie het behoort aan ’n vriend “wat nie f*kken dokter toe gegaan het nie, daarom loop ek met sy baadjie rond”.
Net daar besluit Deon en Frank dat hierdie ondersoek aan sy oorlede vriend Michael Maxwell opgedra gaan word.
-
Die Oppermans van Oppermans
Êrens in die Vrystaat is daar ’n padpredikant wat eenvoudig net die woord “Oppermans” bevat. Nie afstand nie, nie roete-nommer nie. Niks. Net Oppermans. En elke wese wat hulle op pad na Oppermans raakloop, is ook ’n Opperman. Selfs die man wat sy perd bloots op die grondpad ry.
“Soos ’n cowboy-movie,” het Frank ewe droogweg opgemerk.
En toe het hulle vir Ruwine Opperman in die gemeenskap raakgeloop. Die vreugdesvure het letterlik hoog gebrand vir die roosterkoek en enorme potte vol sop is op die kole staangemaak.
Ja, die Oppermans was hartlik verwelkom deur die res van die Oppermans, ’n gemeenskap van nagenoeg 2 000 siele . . .
“Ek is bly ek is hier. Ou Frank Opperman daar bo, of daar onder, we don’t know – as hy hier kon wees, sou hy chuffed gewees het, oor ons twee hier is. Dis ’n pity dat klein Frankie nie hier kon wees nie,” het Frank oor sy pa gesê. En Frankie het plegtig belowe hy sal klein Frankie nog eendag bring.
Moenie hierdie meesleurende reis na gister en eergister deur Frank en Frankie misloop nie. Frank wys Woensdagaande om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).
Lees ook: Ma-en-dogter-kompetisie: Hier’s die eerste 10 van ons top-20-finaliste!

