Byna die helfte van volwassenes glo hul vermoë om te konsentreer het afgeneem, en in Suid-Afrika beleef mense met aandaggebrek-hiperaktiwiteitsteuring (AGHS), wat op tussen 2,5% en 4,3% van die bevolking geraam word, ’n perfekte storm. Dis ’n toestand wat reeds nie altyd herken word nie en dan word dit nou boonop vererger deur die onafgebroke aantrekkingskrag van skerms.
In Suid-Afrika word tot 75% van mense met geestestoestande, veral AGHS, nie behandel nie en dit is weens swak identifisering en beperkte toegang tot gespesialiseerde hulpbronne.
“Slimfone, TikTok en stromingsplatforms lewer ’n eindelose vloei van dopamien-inspuitings. Vir AGHS-lyers, wat reeds sukkel met impulsiewe gedrag en om aandag te gee, kan hierdie konstante stimulasie verwoestend wees,” sê prof. Renata Schoeman, hoof van die MBA in Gesondheidsorgleierskap aan die Stellenbosch Besigheidskool.
Byna die helfte (49%) van volwassenes voel hul aandagspan is korter as voorheen, terwyl 66% glo dat jongmense se fokus veral verswak het.
“Ons leef in ’n ‘aandag-ekonomie’ waar die media en platforms ontwerp is om aandag te segmenteer en fokus te fragmenteer. Wetenskaplik gesproke neem ons aandagspan nie regtig af nie; dit is die konstante ontwrigting deur tegnologie wat ons aandag aflei en ons geestelik uitput.”
Tegnologie het die noodsaaklikheid en dalk ons gewilligheid om aan lang en vervelige take te werk om ons doelwitte te bereik, verminder.
“Mense kyk baie meer gereeld op hul fone as wat hulle dink – tot 80 keer per dag teenoor die 25 wat hulle dink – en ongeveer 50% erken dat hulle nie kan ophou kyk wanneer hulle eintlik moet fokus nie. Dit is ’n probleem oor alle ouderdomsgroepe heen, nie net by jongmense nie,” sê prof. Renata.
“Al die tegnologieverbruik het ’n direkte invloed op ons konsentrasie, bui en slaap. Ons jaag voortdurend die dopamien-effek na wat deur sosiale media en kits- (maar kortstondige) beloningstegnologie soos speletjies, reekse en die eindelose blaai deur sosiale media voorsien word.”
Prof. Renata sê dat dit veral verwoestend vir mense met AGHS kan wees.
“Die konstante stimulasie vererger vergeetagtigheid, emosionele reaktiwiteit en die moeite om daaglikse lewe te organiseer, wat dikwels verhoudings onder druk plaas, angs verhoog en mense laat voel dat hulle misverstaan of as lui gebrandmerk word, terwyl hulle in werklikheid ’n steil neurologiese stryd voer.”
Prof. Renata beklemtoon dat almal, maar veral diegene met AGHS, bewus moet wees van hul afhanklikheid van en gebruik van tegnologie. “Ons moet uitwerk hoe om beter saam met die aandag-ekonomie te leef. Aandag is ’n hulpbron, net soos tyd en finansies, en ons moet versigtig kies hoe ons dit aanwend.”
Prof. Renata se praktiese strategieë om jou tegnologiegebruik in balans te hou:
- Bou digitale grense: Stel spesifieke skermtydbeperkings, dwing “tegnologievrye” tye af, en beperk foonkennisgewings.
- Prioritiseer diepte: Moedig aandagherstellende gewoontes aan soos lees, om met die hand te skryf en kreatiewe aktiwiteite sonder skerms wat gefragmenteerde stimulasie teenwerk.
- Gebruik tegnologie bewustelik: Kies platforms en hulpmiddels wat fokus ondersteun eerder as om te oorstimuleer. Byvoorbeeld, gebruik produktiwiteitsprogramme met ingeboude herinnerings of wat jou tot aksie aanspoor.
- Bevorder gesonde ontspantye: Werklike geestelike herstel lê nie in nóg meer blaai deur sosiale media nie. Aktiwiteite soos stap in die natuur, bewustelike refleksie of kuier sonder skerms is baie meer herstellend.
- Ondersteun visie en welstand: Veral vir die jeug kan die beperking van skermtyd oogspanning en gedragsimptome, wat dikwels verkeerdelik aan AGHS toegeskryf word, verlig.
- Groepeer take: Beperk die vinnige wisseling tussen e-posse, boodskappe en sosiale media deur dit in toegewyde tydblokke te groepeer.
- Bou gewoontes om diep te fokus: Oefen tegnieke soos die Pomodoro-metode, waar 25 minute van ononderbroke werk deur ’n kort blaaskans gevolg word.
- Wys tegnologievrye sones aan: Dit moet veral by die huis en tydens gesinstyd geld – oorweeg dit om slaapkamers skermvry te hou en om geen skerms tydens maaltye toe te laat nie.
- Bied ondersteuning vir jonges: Bevorder slaaphigiëne en oop gesprekke oor hoe slimfoongebruik jongmense en kinders se bui, angs en skoolfokus beïnvloed.
Lees ook: Skep ’n sterk selfbeeld

