Dié geliefde kat (of is dit in hierdie geval die hond?) kom weer. Die derde seisoen van Magda Louw is om die draai, en daar gaan beslis gelag word. En dalk ’n traan of twee tussendeur gepink word ook.
“Magda bevind haarself alweer in situasies wat sy nooit sou kon voorsien nie. Daar is ’n paar skokonthullings uit die verlede, ’n klomp ou gesigte en ook een of twee nuwes,” verklap Desiré Gardner oor wat kykers van die derde seisoen kan verwag.
Dié talentvolle Magda Louw-skepper verras en roer weer deur die reeks te vervleg met wat sy bestempel as “die waansin van die alledaagsheid en uiteindelik die realiteit van die kortstondigheid van die lewe en die onvoorspelbaarheid daarvan”.

Foto: Verskaf/ Gys Loubser
Met Magda Louw is daar ook altyd iets interessants agter die skerms aan’t gebeur. Desiré glo dis omdat daar so lekker voor én agter die kameras gelag word.
Elke hond kry sy dag op die stel. Letterlik in die geval van Magda (vertolk deur Desiré) en Erhard (Hannes van Wyk) se nuwe hondjie, Genis. Dié Boston-terriër behoort eintlik aan die grimeerkunstenaar Mia Liebenberg, wat deel van die produksiespan is.
“Daar was gereeld honde op die Magda Louw-stel wat dit so lekker gemaak het,” sê Desiré.

Foto: Verskaf/ Gys Loubser
Dan is daar ook Magda se kleinkind, Louw Louw (Johann Wessels), wat deur die seuntjie van een van die tegniese spanlede gespeel word.
Vir Desiré was die gemaklikheid wat op die stel geheers het, die lekkerste van alles.
“Die cast en crew – waarvan die meeste al van die eerste seisoen af die pad saamgestap het – is nou al gewoond aan mekaar. Ons geniet mekaar se geselskap. Johannes Pieter Nel, die regisseur, en sy regterhand, Corné Wessels wat die skip stuur, bring ’n kalmte wat oor ons almal vloei. Ek dink ook die inhoud van die reeks raak aan belangrike temas wat vir my lekker is, en ons almal lag wanneer ons die geleentheid kry.”

Foto: Verskaf/ Gys Loubser
Vir Desiré was daar groei in die reeks sedert die eerste seisoen omdat van die alledaagse uitdagings van die lewe in meer diepte verken word.
“Ek gesels met baie mense oor hulle vrese, die dinge wat hulle laat lag, huil, wakker hou in die nag – al daardie dinge waarvan jy nie kan ontsnap nie. Ek probeer dit meer inwerk in die alledaagsheid van Magda se lewe. Die tragedie en tydelikheid van die lewe, vervleg met die mooi en die lekker en die lag.”
Desiré glo dat die kykers aanklank vind by Magda Louw omdat hulle ’n stukkie van hulself in van die karakters herken. Sy skryf dit ook toe aan ’n tikkie nostalgie en dat kykers vir ’n wyle van alles kan ontvlug en saam kan lag.
“Die regte lewe kan soms so oorweldigend raak. Ek hoop dat kykers sal lag en terselfdertyd ook ’n bietjie oor dinge sal nadink.”
Die reeks se hoofrolverdeling bestaan weer uit Gerswin Mias as Shaun, Bennie Fourie as Baltus, Cindy Swanepoel as Getrude en André Weideman as Dr. Havenga.

Foto: Verskaf/ Gys Loubser
Die derde seisoen van Magda Louw word vanaf Maandag 14 Julie 2025 om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai.
Lees ook: Hier kom ‘n ding… Die amptelike lokprent vir Semi-Soeter is hier!