Soos die Kaapse winter begin toesak op Ruiterbosch lyk dit of dinge wel warm gaan word vir talle van die inwoners.
Lees ook: PAS BEKEND | Nuwe kykNET-reeks verken dramas en intriges van nuuskantoor
Wees op die uitkyk uit vir dié vyf kinkels:
- Is daar lig aan die einde van die tonnel vir die Daniels-gesin ná die nagmerrie wat Carlo (Jadon Booysen) vir hulle veroorsaak het? Dit lyk of Carlo besef hy moet die gevolge van sy dade dra terwyl die polisie ook antwoorde by hom soek. Dit het natuurlik vir Nazeem (Irvine van der Merwe) op hete kole . . .
’n Belangrike besluit word dan oor Carlo se toekoms geneem, maar gaan Lee-Ann (Portia Joel) en Wade (Dean Smith) dit net gelate aanvaar?
- Bianca (Simone Biscombe) kom tot ’n groot besef en besluit dat sy beheer van haar lewe moet neem. Siya (Gantane Kusch) bied aan om Bianca met haar nuwe verslawing by te staan en om in die proses haar te help om ’n nuwe bladsy oor te slaan.
Kate (Annelisa Weiland) plant ’n saadjie by Riaan (Daniel Coetzee) oor sy verlede met Bianca, maar hy is oortuig dat hul tydjie in die son verby is – boonop glo hy ’n verhouding is die laaste ding waarvoor Bianca nou voor kans sal sien.
Dit kan egter die begin van ’n nuwe liefdesdriehoek wees, want Siya het ook dalk meer as net vriendskapsgevoelens vir Bianca . . .
- ’n Oorlog bars uit tussen Elana (Esther van Waltsleben) en Amore (Antoinette Louw) by Pronk. Dit neem ’n lelike wending want Amore is nie ’n katjie wat jy sonder handskoene aanpak nie.
Dit hou ernstige gevolge vir Elana in . . . Sy bevind haarself in ’n baie diep gat, een waaruit sy nie sommer kan klouter nie.
- Dit lyk of Bridgette (Denise Newman) se ouderdom haar begin inhaal en sy moet ’n paar leefstylveranderinge maak. Skuil daar egter meer agter dit? Terselfdertyd sien Nazeem ’n gulde geleentheid om Bridgette se kwesbaarheid tot sy eie voordeel aan te wend.
- ‘n Vervreemde familielid van Aiden (Theodore Jantjies) en Gary (Craig Adriaanse) sterf, maar is dit dalk ’n kwessie van “die een se dood is die ander se brood” vir die Booysen-broers?
Suidooster word weeksdae om 18:00 op kykNET, DSTv-kanaal 144, en om 18:30 op kykNET & Kie, DSTv-kanaal 145, uitgesaai. Dit is ook beskikbaar op DStv Stream en Showmax.
Lees ook: Bekroonde akteur Chumani Pan vertolk rol van prins in Diepe Waters