Na weke van fisieke uitputting, strategiese skuiwe en dramatiese hoogtepunte het kykers van Die brug 2 uiteindelik gesien hoe een van die mees geliefde deelnemers die wenstreep oorsteek – en meer doen as net wen. Hirome Shigeaki (28), ’n arbeidsterapeut van Worcester, is gekroon as die wenner van R720 000, maar het die land verstom deur ’n groot porsie van sy prysgeld met sy span te deel.

Hirome se reis was enigiets behalwe eenvoudig. Ná sy vroeë eliminering by Noordhuis in episode 2, het hy ’n tweede kans by Suidhuis gekry – ’n skuif wat nie net sy spel verander het nie, maar ook die groep se dinamika versterk het. Sy empatie, nederigheid en mensgerigte benadering het hom nie net ’n sterk deelnemer gemaak nie, maar ook die hart van die span.

In die laaste episode moes Suidhuis kies wie oor die brug stap – ’n besluit wat emosies hoog laat loop het. Hirome het uiteindelik met drie stemme gewen en, sonder huiwering, gekies om sy oorwinning te deel. Hy het R65 000 elk aan Melissa en Hanri gegee, R40 000 aan Johan, en R70 000 aan Jaco, en self met R480 000 weggestap.
“Aanvanklik het ek gedink ek vat alles… maar toe gebeur iets onverwags – ek het mense se harte begin raaksien.”
Nie almal was egter so vrygewig nie.
Tydens die seisoen het verskeie deelnemers vir hulself iets uit die pot geskep. Tiaan, Roscoe en Wilhrisca het elk R10 000 gekies bo ’n spanbeloning. Elsje het R50 000 gekry om Noordhuis se brug te beskadig, en Lelani het R100 000 gevat ná ’n taktiese besluit wat beide huise se bouwerk gesaboteer het. En in ’n dramatiese finale onderhandeling het Noordhuis se oorblywende vyf spelers saam R100 000 gedeel om hul brug aan Suidhuis oor te gee.
Maar te midde van al die agterdog, strategie en selfsug, het Hirome se finale daad gewys dat ware oorwinning nie net in rande gemeet word nie – maar in karakter.
Hirome vertel meer van sy reis:

Hirome, het jy ooit gedink jy kan wen?
Ja en nee. Wanneer jy vir ’n kompetisie soos hierdie inskryf, weet jy nooit regtig hoe ver jy gaan kom nie. Die waarheid is dat ek al op dag een huis toe moes gegaan het. [Hirome is in die tweede episode uitgestem by Noordhuis, maar is Suidhuis toe geskuif.] Maar tog, iets in my het geweet: Hierdie is nie net ’n spel van krag of strategie nie – dis ’n spel van mense. Verhoudings. Vertroue. En dít is waar ek, as mens én as arbeidsterapeut, sterk staan. So ja, ek het geweet ek bring iets unieks na die tafel. Ek was fisies nie die sterkste nie, maar my mensvaardighede het in my guns getel.
Wat was vir jou die grootste uitdaging?
Ek het in die spel ingestap sonder ’n idee oor hoe om ’n brug te bou. Ek het gesukkel met die toue. Ek dink ek het meer knope in my kop gemaak as op die vlotte. Maar die groter uitdaging was intern: die stemme in my kop wat gevra het of ek goed genoeg is en of ek werklik genoeg bydra? Sommige dae is jou grootste vyand nie ’n ander speler nie – dis jou eie gedagtes.
Wat het jy die meeste geniet?
Definitief die mense. Ek’s ’n mense-mens in murg en been, en ek floreer wanneer ek nuwe mense leer ken en verhoudings bou. Ek het dit ook verskriklik geniet om in die natuur te wees. Dis waar ek rus vind. Maar een van die spesiaalste oomblikke? Daardie finale stoot van die Suidhuis-span toe ons die vlotte tot by die rooi toring stoot en ons besef: Ons gaan wen! Dit was magic.
Wanneer het jy geweet jy gaan die geld deel?
Aanvanklik het ek gedink ek vat alles. Ek’s jonk, enkellopend en het finansieël ’n hupstoot nodig. Maar toe gebeur iets onverwags – ek het begin om mense se harte raak te sien. Ek het besef geld is verganklik, maar waardes en menseverhoudings? Dit hou. Ek het geweet ek gaan deel nog voor ek geweet het ek gaan wen.
Hoe het jy op die bedrae besluit?
Ek het dit eenvoudig gehou en na my hart geluister. Ek het geweet elke lid van Suidhuis verdien om deel in die oorwinning te hê. Dit het niks met wie meer of minder was te doen gehad nie. Ek wou Johan spesifiek ook eer, nie net vir sy leierskap nie, maar omdat hy die enigste Noordhuis-speler was wat nie die geld gekies het toe hy kon nie. Dit was vir my ’n daad van karakter.
Wat gaan jy met jou wengeld doen?
Dis nog iets wat ek saam met God deurtrap in gebed. Ek wil dit verantwoordelik aanwend. Dalk as ’n deposito vir my eie woonstel of huis – iets wat ek saam met my eie spaargeld kan aanpak. En dan wil ek ook iets vir my ouers, Caylin en Denver Boks, as ’n klein blyk van waardering doen. Maar ek is nog besig om dit rustig alles te oorweeg.
Wat is die grootste les wat jy uit hierdie ervaring geleer het?
Moenie op jou eie krag vertrou nie, rus in God se krag. Laat jou lig skyn, selfs al is jy bang. Wanneer jy val, staan op, lig jou ken en ken jou Lig. Wees jouself, en die regte mense sal jou vind. Vertrou jou intuïsie as dit by mense kom. Moenie bang wees om foute te maak nie – dis hoe jy groei. Ek het geleer ek is waardig, selfs wanneer ek nie so voel nie. En uiteindelik: Die brug was onvoorspelbaar – net soos die lewe. Maar dis jou reaksie daarop, jou houding en jou keuses wanneer dinge skeefloop wat die verskil maak. Wees aanpasbaar. Wees veerkragtig. En hou aan beweeg en bou.
Die hele tweede seisoen van Die brug is op Catch Up beskikbaar.

